Ons Kerkgebou

Die stam van Dan stel eie belange eerste

Die naam beteken iets soos:
“God het in my guns regspraak gelewer”.

Nou wie sou die kind so ‘n naam gee en waarom? Dit lyk of die naamgewer haar op God beroep het vir regspraak – dat sy ‘n stryd/geveg met iemand anders aan het.

Inderdaad. Die naamgewer was Ragel. Sy kon die regsaak in haar gemoed gehad het met die volgende:

1.   Eerstens met Bilha, die slavin, wat die seuntjie Dan gebaar het. God moet in Ragel se guns uitspraak gee dat die kind eintlik aan Ragel behoort – en nie aan Bilha nie.

2.   Tweedens met God wat haar tot voor Dan kinderloos gelaat het. Ragel kon nie wag nie – sy wou dadelik ‘n seun vir Jakob gee. Omdat Lea al 7 jaar met Jakob getroud was, kon sy al vier seuns vir Jakob in die wêreld bring. Ragel se groot behoefte was om nie agter te raak nie. Die jong bruid wou haar suster in alle opsigte uitstof as dit by bevrediging van Jakob kom. Hierdie selfgerigtheid het haar waarskynlik so gespanne gemaak dat sy eenvoudig nie kon swanger raak nie. Later toe sy begin ontspan het, het kinders wel uit haar skoot gevloei.

3.   Derdens met haar suster Lea – haar groot opposisie. God moes nou in Ragel se guns regspraak lewer, want Jakob wou tog met Ragel, en nie met Lea, getrou het nie. Sy behoort die eerste vrou te wees – en dit moet God duidelik bevestig deur vir haar hierdie en ander seuns te gee.

In hierdie atmosfeer van eie behoeftes eerste het die seuntjie Dan waarskynlik opgegroei. Later sou die stam van Dan hierdie sondige ingesteldheid tot sy volle konsekwensie voer. Die boek Rigters verhaal ons nogal veel daarvan.

a)   In die tyd van Debora was daar ‘n deurslaggewende geveg (die groot en finale slag van Armageddon het sy oorsprong hier – vgl Openb 16) vir die toekoms van al die stamme. Maar die stam van Dan het sy eie behoeftes en belange eerste gestel en nie deelgeneem aan die geveg nie.

b)   Een van Dan se groot seuns was Simson wat altyddeur op soek was na geleenthede om sy eie drange te bevredig. Eie behoeftes en belange het sy optredes bepaal.

Wat gebeur met iemand wat altyd sy eie behoeftes allereers wil bevredig? Watter gevolge of optredes vloei voort uit hierdie sondige geneigdheid om jouself altyd eerste te stel?

Vader Jakob het op sy sterfbed van Dan geprofeteer:
“Dan is ‘n slang op die pad, ‘n horingslang op die groot pad. Hy pik die perd aan die hakskeen, die ruiter val agteroor”.

Die selfgerigte mens word in sy optredes ‘n slang. ‘n Slang wat onverwags pik. Hy val nie die opponent direk aan nie, maar iets waarop die opponent sterk leun – soos ‘n perd. Die selfsugtige mens is ‘n lafaard. Hy knoop nie ‘n geveg direk aan nie, maar voer sy stryd teen iets wat vir jou belangrik is. Byvoorbeeld:

*   Saul wat telkens na Dawid gepik het soos ‘n slang omdat hy gemeen het dat sy belange bedreig word. Elke keer sê Saul dat hy jammer is net om weer, slu soos ‘n slang, Dawid onverwags aan te val – soos die geleenthede toe hy spiese na Dawid gegooi het.

*   Die Slang in die paradys. Sy stryd is uit en uit teen God, maar hy waag nie om direk God aan te val nie. Daarom gaan hy na die skepsel wat vir God die dierbaarste is – wat na Sy beeld en gelykenis geskape is. In ‘n sluwe poging om God se belange te probeer kelder gaan hy berekend te werk om Adam en Eva tot ‘n val te bring.
*   Die dien van eie belang hou meestal in dat jy die belange van ander moet beveg.

Selfgerigtheid staan lynreg teenoor die groot gebod van liefde tot God en die naaste.

Moses is baie kort oor die stam van Dan. Hy het gesê:
“Dan is ‘n jong leeu, hy bespring sy prooi van Basan af”. Basan was ‘n gebied oorkant die Jordaan waar leeus voorgekom het. Die kern woord hier is “bespring”.

Die selfgerigte mens word ‘n aggressiewe persoon wat sy teenstanders bespring en aanval. Hy val soos ‘n jong leeu – roekeloos, onervare en blindelings – aan.

Van ‘n persoon wat net op homself en sy drange en begeertes ingestel is, kan jy net die ergste verwag. Byvoorbeeld:

*   Rowers, verkragters, moordenaars en intimideerders.

*   Die Daniete van Rigters 18 wat eers die huis van Miga beroof en daarna ‘n volk – wat “sonder agterdog en houtgerus” in Lajis gewoon het – oorval en uitvermoor het.

*   Absalom wat sy vader se troon bespring soos ‘n jong leeu. Sy hele lewe getuig van net een ding: eie belang en eie behoeftes. Die belange van sy vader en die volk tel hoegenaamd geen punte nie.

“Maar julle byt en verskeur mekaar; pasop dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.”

Vir talle is daar nie begrip of ruimte vir ander se behoeftes en sieninge nie. Net hulle behoeftes, denkwyse en Skrifuitleg is geldend – al die ander dwaal.

Mense sê dikwels: Jy moet eers na binne regmaak voordat jy na buite kan help. Ek moet eers my huis bou, my finansies regkry, my sake in orde kry voor ek na buite kan help. Dit is tog logies – beweer hulle. Maar as jy by jouself wil begin gaan jou behoeftes al jou geld, tyd en energie opeis. Jy gaan nooit van jouself wegkom nie. Jy gaan gly na die vlak waar die stam van Dan geëindig het.

Die selfsugtige leef net vir homself en die ryk dwaas het net vir homself skatte vergader. In Judas 16 staan:
“Hierdie mense kla gedurig en is altyd ontevrede met hulle lot. Hulle lewe net volgens hulle eie begeertes, praat groot en sê vleiende dinge van mense om daaruit vir hulleself voordeel te trek.”

Jy begin nie by jouself nie, maar by jou doel op aarde. En jou doel op aarde word in die groot gebod uitgespel: Liefde tot God en jou naaste. Dit alleen sal jou lewe sin en betekenis gee. En die vrugte of gevolge gaan duisend maal heerliker wees.

Jesus het nie by homself begin nie, maar by sy taak en doel op aarde. Hy het dit so uitgedruk:
“Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee …” .

Onse Here het nooit sy eie belang eerste gestel nie, maar altyd dié van sy Vader en van sy uitverkorenes. Hy was bereid om sy lewe in hulle belang af te lê. Hierdie gesindheid moet ook by elkeen van ons wees.

En die uiteinde?

Hy het Koning van die heelal geword!

Wie net vir homself lewe gaan ‘n baie eensame mens word. Daarby gaan hy aan homself behoort en dus totaal van homself afhanklik wees. Vir so ‘n mens kan daar geen toekoms wees nie – nie nou nie en tot in ewigheid nie.

Wie egter volgens die groot gebod lewe en die wysheid van Rom 14: 7 – 8 (“Niemand lewe tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. Of ons dan lewe en of ons sterwe ons behoort aan die Here.”) ken, sal baie liefde en ondersteuning op aarde ontvang – en daarby die ewige lewe verkry.

Amen