Ons Kerkgebou

God is die sentrum van alles

1.   Die troon: (Openb 4: 3)

Die woordjie kom 11 maal voor. Vyf maal staan daar “Rondom (die troon)”. In Grieks is dit “kuklos / kukloo” wat ‘n wiel, sirkel of iets ronds beteken. Die son en maan is ‘n “kukloon”.
Ons het dus ‘n ronde troon. Johannes sien hier iets totaal vreemds vir sy tyd. Hy het dit dus nie uitgedink nie – dit is aan hom geopenbaar.
Die kleur van die troon word vergelyk met edelgesteentes waarin rooi domineer. Bybelvertalings stem nie ooreen met watter gesteentes nie.

2.   Die weerligte: (Openb 4: 5)

Reg om die troon is daar weerligte en donderslae.

Dit toon hoe onaantasbaar die troon is.

3.   Die sewe fakkels: (Openb 4: 5)

Ons plaas die sewe fakkels, wat die Heilige Gees is, as eerste sirkel om die troon. Die Gees se teenwoordigheid word in een asem met die weerligte genoem. Die Gees word afsonderlik genoem net soos die Seun (Lam) in hoofstuk 5. Dit doen niks afbreek aan die Drie-Eenheid nie.

4.   Reënboog van smarag: (Openb 4: 3)

Die kleur van smarag is groen. Dit is nie ‘n gewone reënboog afkomstig uit Noag se tyd nie. Hierdie reënboog simboliseer veel eerder die veelvoudigheid van God genadeverbond. God se liefde, vrede, barmhartigheid en goedheid straal uit die voorkoms van die besondere reënboog om die troon.

Daar is selfs genade vir die sondige wêreld.
Hy laat sy son opkom oor slegtes en goeies.

5.   Die vier lewende wesens: (Openb 4: 6 – 8 )

Die groot heelal is gevul met dooie materiaal, maar mooi soos die son en planete wat bestaan uit waterstof, helium, metale, strale ensovoorts. Maar baie besonders vir God is sy lewende skepping. Die organiese, biologiese, fisiologiese wêreld. Die plaas God digby sy troon. Die vier wesens is ‘n bul, ‘n leeu, ‘n mens en ‘n arend. Die leiers op aarde. Hulle verteenwoordig dus die mens en dier. Dit is nogal ‘n verrassing omdat ons altyd net aan die mens dink as iets besonders. Vir God is sy hele skepping ‘n voorwerp van vreugde. Hy verlustig Hom in sy werke. Elkeen het 6 vlerke en is vol oë. Hulle vul dus die ganse aarde. Oral is organismes. – tot diep in die see en selfs by die pole.

6.   See van glas: (Openb 4: 6)

Rondom die troon so ver as wat jy kan kyk is daar ‘n see – of vloer – van kristal. Vlekkeloos soos ‘n volmaakte spieël. Dit skitter na alle kante en beklemtoon die heiligheid en reinheid van God se werke. Wie op daardie heilige vlekkelose spieëls staan, sal diep bewus wees van hoe onrein ons is in teenwoordigheid van die hoog heilige God.

7.   Vier en twintig trone van die ouderlinge: (Openb 4: 4)
Ons sou die term “angelos” (leraars) soos by die sewe briewe hier verwag. Verrasend nie, maar “presbiteros” – dit is ouderlinge. Of beter die oudstes en regeerders. Van die paradys se tyd af het die mens opdrag ot beheer en regeer. Hulle is 24 in getal! Te dikwels eindig die regering by een persoon wat dikwels uitloop op magsmisbruik soos by die konings. God gebruik nie een leier nie, maar ‘n span. ‘n Span bereik veel meer as een persoon. Let ook op die goue krone. Hulle het mag omdat hulle deur Christus met gesag beklee is.

8.   Miljoene engele: (Openb 5: 11)

In hierdie visioen word hemel en aarde een. Die grens tussen mens en engele val weg. Die fisiese en metafisiese; die sigbare en onsigbare smelt saam.

9.   Die groot Heelal: (Openb 5: 13)

Uiteindelik sien Johannes hoe ook die enorme makrokosmos inskakel om die prentjie volledig te maak. Die hemelliggame – soos melkweë en komete – prys God op ‘n heel ander wyse as ons met stemme. Hulle sing as te ware saam by wyse van hul glansverskynings. Die hele skepping word in sy lofprysing aan God en die Lam een groot simfonie met onbeskryflike harmoniese klanke. En u en ek is deel daarvan.

Boodskap
Hierdie is ‘n geestelike prentjie – en jy kan dus net daarna geestelik kyk. Dit is soos om deur ‘n mikroskoop na sneeu of ‘n smeersel bloed te kyk. Jy sien ‘n totaal ander wêreld. En wat jy sien en hoor word saamgevat in die laaste vers:

“Here ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskape het…”.

Hierdie versie sê in kort twee dinge:

a)   God is die Skepper van alles.
*    Alles is gesentreer om hom (soos ons planete om die son).
*    Alles is van Hom afhanklik vir voortbestaan.

b)   Hy moet van ons ontvang:
*    Heerlikheid: Heerlik beteken “pragtig, voortreflik, verruklik, groots, majestieus, glansryk” – soos by die Kersnag toe die engele verskyn het. Die Bybel sê dat die heerlikheid van God rondom die herders sigbaar was. Op aarde is daar ook glansgeleenthede: Oscar, Nobelprys, staatsbanket, koninlike huwelik. Die boodskap is: Dit word totaal oordoen – so iets kom net God toe. Ons week se hoogtepunt moet wees om heerlikheid aan God te bring. Dit is seker net moontlik in ‘n besonderse diens. Ons moet almal help dat ons eredienste nog veel meer luister gee aan God, die Lam en die Gees.

*    Eer: Die Hebreeuse woordjie vir “eer” is afgelei van die gedagte om iets swaar te maak. Jy eer dus iemand as jy jou gewig by syne voeg. Die mensdom behoort allereers hul gewig by die kerk van Christus in te gooi. Soek eers die koninkryk en al die ander sal bygevoeg word. Kom ons gooi almal elke dag ons gewig by God se groot saak in.

*    En mag: God beskik oor alle mag en beheer, maar Hy wil dit nie afdwing nie. God is nie ‘n despoot nie, maar ‘n selfopofferende wese. Daarom behoort ons alle mag en beheer waaroor ons beskik gewilig en met vreugde aan Hom oor te dra. Dit is noodsaaklik sodat daar nooit weer opstand teen God moontlik sal wees nie.

Amen