Ons Kerkgebou

Hoe sal ek weet?

Abram het eers saam met sy mense by Ur gewoon.

God het hom egter daar weggeroep sodat ‘n nuwe en skoon begin – weg van sy ouers en hulle gode – gemaak kon word.

Daarom moes hy na die vreemde trek waar hy ‘n bywoner sou wees. Daar sou Abram geen eie grond of sekuriteit geniet nie. En dit spreek vanself dat hy juis behoefte aan bestendigheid en sekuriteit sou hê. Dit beloof die Here nou aan Abram opnuut. Maar let op dat dit nie dieselfde is as om ‘n plaas of ‘n stukkie grond te ontvang nie.

Nee, God beloof die hele land aan Abram – dit sal tot in die verste toekoms aan Abram se nageslag behoort.

In die Nuwe Testament word die Beloofde land die hemel self. Aan die gelowige beloof God veel meer as aardse grond. Deur sy Seun berei Hy vir ons ‘n plek in die hemel – inwoning in die ewige paradys. Dan word die aardse kortstondige bestaan omskep in ‘n verheerlikte ewige lewe.

Hoe kan ek hiervan seker wees?

Watter bewys het ek dat die ewige paradys wel bestaan?

Op Abram se vraag hoe hy sal weet, antwoord die Here dat Abram vir Hom ‘n vers, ‘n bok, ‘n skaapram (almal drie jaar oud) asook ‘n tortelduif en ‘n jongduif moet bring.

Abram het dadelik daarmee besef dat God ‘n verbondsluiting in gedagte het. Daarom het Abram alles middeldeur gesny (behalwe die duiwe) en die helftes teenoor mekaar neergelê.

Abram het geweet dat: beide partye betrokke by verbondsluitings moet tussen die stukke deurstap. Daarmee sou beide hulself tot die dood toe verbind om die verbond staande te hou. Abram het al seker met ander nomade en vorste sulke verbonde gesluit – en toe het hy geweet wat om te doen.

Maar nou is dit ‘n heel ander Party – dit is ‘n verbond met God.

God bepaal wat gebeur en daarom kon Abram net wag.

Slaap het hom oorval en angs en donkerte (depressie?) het oor hom gekom. Die mens se bestaan is nietig en so onseker. Sonder God se verbond van versekeringe leef die mens op die rand van ineenstorting, angs en die dood. En terwyl Abram slaap toon God hom die toekoms: sy nageslag wat slawe sal word. Die wreedhede, magsug en oorlewingstryd hier op aarde maak die angs en donkerheid net soveel groter – en dit neem daarby alle sekerheid weg.

Dit is asof Abram dit nou wil uitgil:
“Hoe sal ek weet?”

Op daardie oomblik verskyn daar in die donker nag ‘n rokende oond en ‘n fakkel wat brand – lig wat die donker verdryf. Die oond en fakkel gaan op die bloedbevlekte paadjie tussen die stukke deur.

Die heilige God, gesimboliseer deur die oond en fakkel, was besig om die verbond te teken.

(God laat Abram diep slaap sodat hy nie sy eie doodsvonnis teken nie. Daarom word dit ‘n genadeverbond genoem).

1.   Abram het nie die verbond geteken nie – hy het geslaap. As hy dit sou teken sou hy as sondige mens die verbond binne minute oortree en gedood moes word. God sorg – deur die diep slaap – dat die mens (ook ons) homself nie tot die dood toe verbind nie. God sorg dat dit nie gebeur nie. Daarom word hierdie verbondsluiting die genadeverbond genoem. Dit geld net vir die gelowige. Vir alle ander geld die werkverbond. Daar volgens sal elke volgens sy werke geoordeel word.

2.   Die verbond is net deur God geteken.
Wat egter vreemd is, is die feit dat daar ‘n oond en fakkel deur die stukke is. Waarom die “en”? Is God dan twee? Alle vertalings en kommentare is dit eens dat dit “en” is, maar niemand waag ‘n mening nie. Daarom waag ek ook nie.

Ek wonder maar net – in die lig van 1 Timoteus 2: 5 – 6 – of die Vader en die Middelaar nie hier saam optree nie?
“Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het…”

Die moontlikheid dat die Seun hier namens die mens teken, verdien seker oorweging.

Net soos die Seun verrassend dikwels in die Ou Testament as “Engel (met hoofletter) van die Here” optree. Die onderskeid tussen Vader en die “Engel” val in daardie gedeeltes byna weg!

As “Engel” tree God op as verlosser van eers Isak en daarna die volk. Waarom dan nie ook in Genesis 15 nie? Dit is tog ook verlossingswerk om namens die sondige Abram (en ons) vir die verbond in te staan.

3.   Bloed is opsigtelik die oorheersende substansie by die verbondsluiting. En dan nie ‘n paar druppels bloed nie, maar soveel bloed dat die diere gedood is – hulle is dan middeldeur gesny!

Die feit dat God deur die stukke gegaan het, bevestig dat Hy bereid was om sy eie bloed te laat vloei.

Hy sou dus enigiets doen solank die verbond net staande bly.

Dit moes vir Abram as ‘n totale verrassing gekom het. Sou God werklik so ver gaan? Sou Hy my so liefhê dat Hy bereid was om sy eie lewe op die spel te plaas?

Dit is eenvoudig ondenkbaar!

Hoe kan ‘n God Homself op die altaar (kruis) plaas ter wille van sondige mense? Dit kan eenvoudig nie waar wees nie. Dit moet ‘n evangelie uit ‘n fantasie wêreld wees!

En tog is dit waar! Die Nuwe Testament bevestig dit mos in die woorde:
“So lief het God die wêreld gehad ….enigste Seun gegee het …”.

Sy bloed sou vloei tot in die dood sodat ons saam met Hom deur die dood heen ewig kan lewe!

Amen