Ons Kerkgebou

Jesus se brief aan Efese

Die brief begin met die woorde:
“Ek ken of weet alles wat julle doen.”

Ja, Jesus, onse Here, ken elke gemeente.

Hy weet presies wat alles in elke gemeente gebeur. Hy weet van die dinge wat hom verheug, maar ook van die dinge wat Hy moet bestraf.

Hierdie briewe aan die sewe gemeentes is bedoel om elke gemeente vandag te lei tot insig in hoe die Koning van die kerk sy gemeentes evalueer. Dit moet weer lei tot dankbaarheid aan die een kant, maar ook tot deeglike selfondersoek en doen wat Hom behaag.

Daar is sewe dinge wat hier genoem word wat Jesus behaag. Dit kan omskryf word in sewe wette vir alle gemeentes. Dit is die volgende:

Eerstens noem Jesus hulle “werke”.

‘n Mens dink hier aan wat in Handelinge 19 staan: hoe hulle vir Christus gekies het en 50,000 silwerstukke se towerboeke verbrand het.

Dit was ‘n grootse daad wat dekades lank effek op die gemeente en stad sou hê. Daar was sekerlik ook ander monumentale dade wat verrig is:
*  dalk ‘n kerkgebou,
*  ‘n kragtige sendingaksie, asook
*  ‘n liefdesdiens onder die armes en slawe van die stad.
Jesus se saak is monumentaal.

As dit by die redding van sondaars kom, mag nie klein gedink word nie.

Die saak (of visie) wat van God kom, is baie groter as ons. Maar hoe groter die saak hoe meer gaan Jesus se soendood verheerlik word.

By die“werk” gebruik Jesus ook die woordjie “arbeid”.

Dit druk uit hoe gereeld en intensief dit moet wees. Daar is seker baie gelowiges wat Christus wil dien, mits dit sonder inspanning is en nie te veel offers vra nie.

Maar Christus verwag toewyding en inspan van kragte vir die groot saak.

Al word baie dae net gebruik om mekaar te motiveer, beplanning te doen en daaroor te bid. Maar soveel as moontlik moet gedurig daaraan dink en daarvoor bid en daarmee besig wees.

Verder noem Jesus die “volharding” van Efese.

Dit is nou 50 jaar later – en hulle bly steeds brandend vir die saak van hulle Verlossser. Hulle het hulle nie maklik laat ontmoedig nie. Hulle het begryp dat die kerk vreemd is in die wêreld en dus altyd strydend sal wees. Maklik en voorspoedig sal dit nooit gaan nie. Die duiwel sal alles wat tot eer van Christus gedoen word op allerlei wyses probeer onderdruk of vernietig.

Hierdie punt was belangrik en het swaar geweeg, want Jesus verwys twee maal daarna – in verse 2 en 3. In hierdie arbeid van hulle het hulle nie moeg geword nie.

Moenie dat teleurstelling, teëspoed, terugslae, negatiwiteit, vrese, twyfel of wat ook al die groot saak skade berokken nie.

In die gemeente van Efese is slegte mense nie verdra nie.

Sondaars is nie omhels en dié met ‘n verkeerde gesindhede nie gepaai nie. Vir die skynheilige, lakse en wêreldse mens was daar nie plek nie. Tug is toegepas waar nodig om in liefde lidmate onder die juk van Christus te bring – tot eer van God en tot die saligheid van die sondaar.

Slegte mense is verwyder sodat die vrot perskes nie die ander sal aansteek nie. Jy ken vrot perskes uit aan sy vrot kolle (“bruin vrot”). Dit steek ander aan en bederf al die ander.

Tug is een van die merktekens van die ware kerk. Vrot appels in die kerk ken jy uit aan selfgerigtheid, ongehoorsaamheid aan Jesus se opdragte, eie wysheid, negatiwiteit en ontduiking of vlug vir die groot saak en werk wat voorlê.

Voorgangers is ook op die proef gestel.

Sekere aanmatigende broeders wat beweer dat hulle van die apostels is, is ontmasker as leuenaars. Valse leraars was daar altyd. Hulle is die wolwe in skaapklere. Hulle is net daar vir eie belang. Hulle doen hulle dus voor as komende van God, maar is dit nie.

“Baie sal …sê: ‘Here, Here het ons dan nie in u Naam gepreek nie …’. Dan sal Ek openlik vir hulle sê: ‘ Ek het julle nooit geken nie’.”

Die duiwel sal die werk probeer keer. Daar sal altyd mense wees met eie agendas en opinies. Baie daarvan is om die aandag van die groot saak af te trek. So was dit destyds in Efese, so in die Ou Testament – en so vandag. Daarom hierdie wet!

Die werke van die Nikolaïete is in Efese gehaat.

Dit het waarskynlik verband gehou met die afgodstempels se feeste en hoerery. In sekere stede was daar waarskynlik gelowiges wat geredeneer het: as ek afgodsvleis mag eet kan ek seker ook die feeste bywoon en geniet wat daar aangebied word – soos die prostitute!

In Efese was hierdie siening nie geduld nie – hulle het dit met mening verafsku!

Fokus op die groot saak is nie genoeg nie. Want die duiwel fokus ook daarop – en slaag te dikwels daarin om die gemeentes van God te infiltreer. Liefde vir ons Koning, beteken terselfdertyd haat van alles wat sy groot saak benadeel. Wie nie vir Hom is nie, is teen Hom.

Hulle het baie vir Jesus se Naam verduur.

Diskriminasie teen gelowiges was aan die orde van die dag deur die ganse Romeinse ryk. Periodiek het selfs vervolgings uitgebreek. Gelowiges moes dikwels vlug en alles net so agterlaat. Maar hulle het getrou gebly aan hulle Koning wat self een maal sy lewe vir hulle afgelê het.

Verduur soos Efese veel ter wille van van Christus. Toets jouself: wie weinig opoffer is ook weinig gefokus op die groot saak van Christus in hierdie wêreld.

Teenoor die 7 aanprysings is daar net een klag:
“…dat jy jou eerste liefde verlaat het.”

Ons moet nou nie tel: Dit is sewe teen een nie, want Jesus vervolg:
“Dink daaraan hoe ver julle agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin (50 jaar gelede) het …anders sal Ek julle lamp van sy plek wegvat.”

Die een klag kan uiteindelik ‘n streep deur al die goeie dinge trek! Selfs ons liefde vir Christus en sy groot saak.

As ‘n kerk nie meer die lig laat skyn nie – of nie meer as sout ontsmet nie, het dit waardeloos geword!

Amen.