Ons Kerkgebou

Die sondeval van die mens Ps. 51 en Sondag 3

Tema: Die sondeval van die mens

Inleiding:

In die Heidelbergse Kategismus Sondag 2 bely die Gereformeerde gelowige onomwonde dat ‘n mens nie die eis van God se Wet kan nakom nie. Trouens, in plaas daarvan dat ek God en my naaste lief het soos God in sy Wet vereis, is ek eerder van nature geneig om God en my naaste te haat.

Sondag 2 is die eerste Sondag in die eerste deel van die Kategismus, die deel oor die ellende van die mens. Sondag 3 bou voort op Sondag 2 en daarin bely ons die oorsprong van hierdie sondigheid in elke mens. Die tema vir vanaand se erediens is: Die sondeval van die mens.

Tema: Die sondeval van die mens

  1. Die hoë posisie van die mens voor die sondeval

Die eerste vraag in Sondag 3 is: “Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep?” Dit is soos ons in Sondag 2 bely.  In hierdie vraag sien ons die soeke na die oorsprong van die sondigheid van die mens. Ons kan die vraag ook anders formuleer: Is God die oorsaak van die mens se sondigheid?

Vir die antwoord op hierdie vraag gryp die Kategismus terug na die skepping van die mens.

In Psalm 51 bid Dawid ook dat God vir hom weer ‘n rein hart sal skep (Ps.51:12). God is dus die Een wat ‘n rein hart skep. Hy is die God wat ‘n welgevalle het aan waarheid in die binneste van die mens (Ps.51:8). Hy is die Een wat welbehae het in offers van geregtigheid (Ps.51:21).  Lees ‘n mens hierby die openbaringsgeskiedenis van die skepping van die mens in Genesis 1, staan die volgende daar helder en duidelik: “En God het die mens geskape na sy beeld…” (Gen.1:27) en verder “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed…” (Gen.1:31).

Geen wonder nie, dat Gereformeerde gelowiges in Sondag 3 van die Kategismus bely dat die oorsprong van die sondigheid van die mens nie, by God te soek is nie, “Nee, God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: In ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys”.

Op die laaste dag het God die mens geskep. Hy het die mens baie goed en na sy ewebeeld geskep. God het die mens as die hoogtepunt, die kroon van sy skepping gemaak. Die mens is na die beeld en gelykenis van God geskep. Die Kategismus verklaar hierdie uitdrukking na God se beeld en gelykenis soos volg: Die mens is geskep in:

Ware geregtigheid – Dit beteken die mens is geskep om te weet wat goed en reg is volgens God se wil. Verder het die mens die vermoë ontvang om volgens God se wil te leef.

Ware heiligheid – Dit beteken die mens is rein en sonder sonde geskep, in staat om aan God toegewy te leef.

Hierdie geregtigheid en heiligheid waarin die mens geskep is, het die mens in staat gestel om God reg te ken, Hom van harte lief te hê en ewig met Hom te leef.

Die mens het verder in die skepping ‘n hoë, ‘n besonder hoë posisie ontvang. Uit die Woord van God weet ons dat die mens ‘n heersersposisie van God ontvang het. Hy het die mens geskep om “te heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Gen.1:26).

Uit die Woord van God en die Gereformeerde Belydenis op grond van die Woord, is dit baie duidelik dat God die mens nie sondig en verkeerd nie, maar goed en na sy beeld geskep het.

2. Die sondeval van die mens self

Luister na Dawid se woorde in Psalm 51:7: Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” Dawid se sondigheid het dus vroeër begin as sy owerspel met Batséba.

Waar het Dawid se sondigheid vandaan gekom? Maar, nie net Dawid was sondig nie, elke mens is van nature sondig. Ons het reeds gesien dat God nie die mens sondig en verkeerd geskep het nie. Waar kom die verdorwe aard van die mens dan vandaan?

Die antwoord in die Kategismus op hierdie vraag neem ‘n mens terug na die tragiese dag in die tuin van Eden, die paradys. Ons verdorwe aard en natuur kom “van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys. Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.”

Daardie dag in die paradys het Adam en Eva van die hoogste heersersposisie in die skepping geval tot die laagste posisie, tot in die doodsgreep van Satan en die sonde. Daardie dag het Adam en Eva slawe van die sonde en die dood geword.

Adam en Eva het God se opdrag, daardeur hulle verhouding met God, daardeur God self en daardeur lewe met God prysgegee. In plaas van lewe met God, het hulle die woorde van die duiwel, daardeur ‘n verhouding met die duiwel, daardeur die duiwel self en daardeur die dood saam met die duiwel aangehang.

Hierdie gebeurtenis het plaasgevind omdat Adam en Eva aan God ongehoorsaam was.

Nou is dit baie belangrik om daarop te let dat nie net Adam en Eva alleen deur hulle sondeval geraak is nie. Nee, Adam en Eva was die eerste ouers van die mensdom. Hulle was inderwaarheid die verteenwoordigers van die mensdom. Wat met Adam en Eva as mense gebeur het, het gebeur met elke mens. Daarvan skryf Paulus aan die gemeente in Rome: “…soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het…” (Rom.5:12).

Die moderne mens, of dan die mens van die postmodernisme wil nie juis weet van iets soos die sondeval nie en die effek daarvan op die ganse mensdom nie. Dit is natuurlik nie ‘n nuwe dwaling nie. Heelwat vroeër in die kerkgeskiedenis was daar ook al dwaalleraars wat geleer het dat die totale mensdom darem nie deur die sondeval van die eerste twee mense geraak word nie of dat mens darem nie moet leer dat die mensdom dood in die sonde is nie.

Hierdie dwaling bring ons nêrens nie, maar vererger eerder die ellende van die mens, want wie sonde ontken, sal in sonde bly.  Hierteenoor bely die Gereformeerde gelowige op grond van die Woord van God dat die ganse mensdom se natuur na die sondeval van Adam en Eva in die paradys so verdorwe geraak het dat ons almal in sonde ontvang en gebore word en dat ons menslike natuur deur en deur sondig is: “…my sonde is altyddeur voor my” (Ps.51:5). In hierdie antwoord bely ons die ontsaglike ellende van die mens.

Ons sondigheid het dus nie by God sy begin nie, maar by onsself, by die mens, by Adam en Eva ons eerste ouers.

3. Die verdorwenheid van die mens na die sondeval

 

Presies hoe verdorwe is die mensdom na die sondeval? Wat was die effek van Adam en Eva se sonde op ons almal? Die vraag in die Kategismus klink so: “Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is?”

Die antwoord op die vraag is ongelukkig bevestigend: “Ja, behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word”.

Die ganse mensdom, elke mens is deur Adam en Eva se sondeval heeltemal verdorwe. Elke mens is so diep in die sonde dat niemand in staat is om iets goed te doen nie. Elke mens is so sondig dat ons tot alle kwaad geneig is. Elke mens staan in hierdie toestand van ellende voor God. Die ellende is so diep en groot, dat ‘n nuwe lewe nodig is. Die mens sal weer gebore moet word.

In ons self  is daar net een moontlikheid en dit is om in die mag van die sonde en die dood te bly. So ‘n lewe is geheel en al uitsigloos en stuur op ‘n doodloopstraat af met die einde die ewige verderf in die hel.

Ten spyte van hierdie ellende is daar vir die mens tog genade. Elke mens staan in hierdie ellende voor God. God is die Skepper van lewe. Hy is die Skepper van nuwe lewe. Hy skep ‘n nuwe rein hart. Hy skep ‘n nuwe vaste gees.  Hy gee nuwe lewe deur Christus.

Ken jou ellende en nood voor God.

Ken God en sy genade in Christus.

Soek genade by Hom en vind genade in Christus wat gekruisig is en opgestaan het, sodat jy nuut gebore kan word. Jy het hierdie wonder in jou lewe nodig. Die Heilige Gees bewerk die wonder van wedergeboorte.

Amen