Ons Kerkgebou

God verlos die mens wat sonde opreg besef en bely – dank Hom daarvoor! -Rom.7:24,25

Inleiding:

Ons sondebesef is nie wat die Here wil hê dit moet wees nie. Ons dankbaarheid is ook nie wat die Here wil hê dit moet wees nie. Die Here praat vanoggend in Romeine 7 met ons oor ons sondebsef en ons dankbaarheid. Luister saam met my na wat God sê, sodat ons ons reg kan voorberei vir nagmaal, as die Here wil volgende Sondag.

Tema: God verlos die mens wat sonde opreg besef en bely – dank Hom daarvoor!

  1. Besef en belydenis van sonde

‘n Christengelowige kan nie sonder ‘n opregte sondebesef en opregte belydenis van sonde leef nie. Jesus, God se Seun het in die gebed wat Hy sy kerk geleer het, een deel juis aan die besef en belydenis van sonde afgestaan: “Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (Mt.6:12). In Johannes se eerste brief, leer God ons hoe belangrik dit is om ons sonde te besef en te bely: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh.1:8,9).

Juis hier lê ons wat vanoggend hier in die erediens is se probleem. Ons leef in ‘n moderne tyd tussen moderne mense wat nie van die idee van sonde hou nie. Sonde word gesien as outyds en iets waarmee predikante lidmate bangmaak en skuldig wil laat voel, sodat lidmate kerk toe kom. Hierdie tydsgees wat nie regtig meer van sonde wil hoor nie, het ‘n baie sterk invloed op Christengelowiges, ook op die hedendaagse kerklidmaat.

Voorbeelde van hoe die moderne tydsgees ons beïnvloed:

  • Ons sal maklik sê “ons het almal sonde”, maar ons sê dit asof ons oor iets alledaags praat. Of ons sê “ons het almal sonde” of “iemand klop aan die deur”, dit klink dieselfde. Dit is asof ons nie besef hoe ernstig sonde is nie.
  • Ons hoor gereeld elke Sondag die Here se Wet, ons hoor preke wat ons op sonde wys, maar dis asof die Here se Woord ons nie raak nie en ons hou aan met ons sondige manier van dink en praat en doen. Ons praat na ons die Wet en ‘n preek oor die negende gebod gehoor het, nog net soveel agteraf van ander as voor ons die die Wet en die preek gehoor het.
  • Ons is verder ook baie huiwerig om iets wat verkeerd is, sonde te noem. Ons gee allerhande verduidelikings om die idee van sonde weg te praat. Dit is wat ons in die tyd waarin ons leef, doen.

Die vraag is nou, wat hoor ons wanneer God in sy Woord met ons oor sonde praat?

Ons hoor in Romeine 7 die volgende:

Vs 9“toe die gebod gekom het, het die sonde begin lewe, en ek het gesterwe.”
Vs 11“die sonde wat deur die gebod ‘n vastrapplek gekry het, het my deur die gebod mislei en my doodgemaak.”
Vs 19“Die goeie wat ek wil doen , doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.”
Vs 23 – My verkeerde doen en late “maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.”

Aan die einde van die beskrywing van sy sonde, is Paulus so ontsteld, hy roep as’t ware uit: “Ek ellendige mens!” (Rom.7:24.) Hierdie is die woorde van ‘n gelowige wat ontsteld is oor sy sonde en dit met ‘n hart vol berou voor God bely.

Wanneer jy die Bybel oor sonde lees, word daar nie weggeskram nie of gepraat asof sonde iets alledaags is nie. Inteendeel! Wanneer jy die Romeine 7 oor sonde lees, kry jy ‘n baie diep en ernstige besef van sonde en ‘n belydenis uit ‘n stukkende hart: “Ek ellendige mens!”

Wat meer is, hierdie woorde is Paulus se belydenis nadat hy Jesus ontmoet het en tot bekering gekom het. Hierdie besef van sonde en belydenis van sonde kom uit die hart en die mond van ‘n Christengelowige!

Wie van ons is bereid om dieselfde erkenning te maak en ons sonde werklik te besef en te bely? Wie is daar wat vandag nog ontsteld word oor jou sonde?

Die mens wat sonde wil ontken of maak asof sonde nie so erg is nie of net met sonde aangaan, is besig met ‘n lewe weg van God af en dit is ‘n lewe wat afstuur op die ewige dood!

Breek daarom met die moderne tydsgees. Word klein voor die lewende God. Besef jou sonde voor Hom. Bely jou sonde met ‘n opregte hart.

  1. Soeke na uitkoms

Sonde maak ‘n mens dood. Paulus het dit besef en het daarom het hy so dringend na uitkoms gesoek.

Luister na die woorde van ‘n mens wat na uitkoms soek: Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” (Rom.7:24.) Paulus se eintlike woorde in Grieks was “Wie sal my verlos van die liggaam van  hierdie dood?”

Sonde maak ‘n mens dood. Jy leef liggaamlik, ja. Jy loop en gesels en lag, maar met sonde in jou lewe waarmee jy net aanhou, is jy geestelik dood! Jy is geestelik op die pad van die ewige dood, al lyk dit asof jy leef. Sondebesef en sondebelydenis is daarom lewensnoodsaaklik. Daarsonder kom jy nie af van die pad van die dood nie!

Nou is dit ook so dat geen mens vanself jou sonde sal besef en bely nie.

God maak ‘n diep sondebesef in jou wakker. Dit is nie uit sy eie dat Paulus uitgeroep het: “Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos nie?” God het die opregte sondebesef in hom wakker gemaak.

God laat my besef hoe groot en hoe erg my sonde is. Hy laat jou na uitkoms smag.

Besef jy dat sonde jou doodmaak en is daar by jou ‘n smagting na uitkoms?
Indien jy regtig besef hoe groot en hoe erg jou sonde is, sal jy na uitkoms smag. Jy sal daarna smag om elke dag die Bybel oop te maak en die Evangelie van verlossing te ontdek. Jy sal daarna smag om elke Sondag in die erediens te wees om te hoor dat daar vir jou uitkoms is.

  1. Sekerheid van verlossing

Paulus het ‘n vraag gehad wat in sy hart gebrand het: “Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” (Rom.7:24.) Hierdie vraag beskryf sy soeke, sy smagting na uitkoms.

Sonder God, is daar nie ‘n antwoord op hierdie vraag nie. Sonder Hom bly jou lewe ‘n doodsbestaan. Maar….met God, verander alles.

Paulus was ‘n baie voorbeeldige kerkmens. Hy sê van homself dat hy die wet van God onbesrispelik nagekom het. Maar…sy hele godsdienstige lewe het niks beteken nie, omdat hy sonder Christus was! Hy het uitkoms dringend nodig gehad.

Paulus se lewe het heeltemal verander daardie dag oppad na Damaskus toe. Hy het met ‘n groep soldate daarheen gegaan om Christene te gaan vang en in die tronk te gooi. Naby Damaskus het ‘n lig uit die hemel Paulus omstraal. Die Here Jesus Christus het in sy lewe ingekom.

Paulus het Jesus Christus deur die verskyning van ‘n helder lig uit die hemel ontmoet. Nie elke mens ontmoet Christus so nie. God het met die koms van Christus opgehou om so aan mense te verskyn. Hy sê dit self in sy Woord. Luister na wat die Here in Hebr.1:1 sê: “In die verlede het God baiekeer op baie maniere met ons voorvaders deur die profete gepraat, maar nou, in hierdie laaste dae het Hy met ons deur sy Seun gepraat.” God maak Homself deur sy Seun bekend. Jy ontmoet en ken God dus deur Jesus Christus. Jy ontmoet en ken Jesus Christus deur die Bybel. Daarom is die Bybel so ‘n kosbare boek…die een boek waarna jy elke dag van jou lewe moet smag! Deur die Bybel, die lewende Woord van God, ontmoet jy God se Seun, Jesus Christus jou Verlosser!

Paulus het sekerheid gehad dat Jesus Christus ons Here sy Verlosser is. Elke Christengelowige wat Jesus Christus ontmoet het en ken, het die sekerheid dat Hy die Verlosser is wat God vir ons gegee het.

In die Bybel leer jy Christus ken as jou Verlosser wat vir juou sondes gesterf het en vir jou uit die dood opgestaan het. Deur sy sterwe en opstanding het Christus jou verlos van hierdie doodsbestaan en het Hy aan jou die ewge lewe gegee. Die Heilige Gees gee jou die geloofsekerheid dat Christus jou Verlosser is. Hy is die een wat vir jou, ellendige mens, uitkoms gee.

  1. Dank vir genade

Hoe ver neem die Bybel jou nie op jou geestelike pad nie! Van “Ek ellendige mens” na “Aan God die dank, wat my verlos deur Jesus Christus.”

Wanneer jy, Christengelowige, jou sonde besef en bely en sekerheid van verlossing deur Jesus Christus het, sal jy nie anders kan nie, as om God met jou lewe te dank.

Paulus het sy dank aan God openlik bely. Hier in sy brief aan die gemeente in Rome het hy God gedank. In baie van sy briewe aan gemeentes het hy God openlik gedank. In wat hy gedoen het, dit is die Evangelie van Jesus Christus uitgedra het, selfs onder moeilike omstandighede, het hy God gedank. Ons kan sê Paulus se hele lewwe het van dankbaarheid getuig.

Wees jy dan ook dankbaar vir die genade van verlossing deur Jesus Christus. Dank God dan openlik met jou hele lewe. Dit is:

  • Dink met dankbaarheid aan God en hoe Hy uit liefde vir jou, net uit genade, sy Seun gegee het om jou te verlos.
  • Praat oor jou dankbaarheid. Praat, sodat ander kan hoor jy dank God. Bid gebede van dankbaarheid, sodat ander kan hoor hoe jy vir God uit jou hart uit dankie sê vir sy genade.
  • Doen dade van dankbaarheid. Sê vir God dankie vir sy genade deur te help om die gemeente op te bou en uit te bou. Wees ‘n aktiewe lidmaat wat gereeld saam met ander lidmate werk tot opbou van hierdie kerk van Christus.

Dit is groot genade om te kan besef en te kan bely: Ek ellendige mens!
Dit is eweneens groot genade om te kan besef en te bely: God verlos my deur Jesus Christus.

Wys dan dat jy hierdie genade in jou lewe het, deur God met jou lewe te dank!