Ons Kerkgebou

God gesoek…God gevind

Lees: Psalm 42

Inleiding:

2020 is tot dusver ‘n onseker jaar in ‘n onseker land. Onsekerheid is nie goed nie en doen nie goed nie. Hoe sal ons daarby kan uitkom, dat onsekerheid verdwyn en in die plek daarvan sekerheid kom?

Die Here gee ons die antwoord op hierdie vraag in Psalm 42.

Tema: God gesoek…..God gevind

  1. Verlange (na God)

Die Koragiete het hierdie psalm geskryf. Hulle was gelowige Israeliete wat vir die sang en musiek in die tempel gesorg het. Of een van hulle het die psalm geskryf oor wat hyself beleef het of hy het die psalm aan koning Dawid opgedra.

Die belangrike wat ons moet weet, is dat hierdie psalm uit die hart van ‘n gelowige kom.

Die gelowige in Psalm 42 is nie in Jerusalem naby die tempel nie. Hy kan om een of ander rede nie na Jerusalem terug gaan nie. Dit sou kon wees in die tyd toe Absalom teen Dawid in opstand gekom het en baie Israeliete teen Dawid gedraai het. Sy vyande wat hom dood wou hê, hou om uit Jerusalem en weg van die tempel.

Die tempel was vir elke opregte gelowige in Israel baie belangrik. In die allerheilgste deel het die verbondsark gestaan. Partrykeer was daar ‘n wolk in die allerheiligste, wanneer die Here vir Israel gewys het Hy was by hulle.

In die tempel het Israel op godsdienstige feesdae offers gebring wat afgebeeld het dat God ‘n Verlosser sou stuur wat met sy lewe elkeen wat aan God behoort het, sou verlos.

Die tempel het beteken – God is hier. Hier is baie getuienis van verlossing en vergifnis. In die verlede het’n groot skare Israeliete op feesdae na die tempel toe gegaan. Die psalmdigter was deel daarvan. Trouens, hy het voorgeloop. Die skare was bly en hulle het die Here geloof op pad tempel toe.

Maar, alles was anders. Die psalmdigter was naby Hermonberg en naby die Jordaanrivier. Hy moes soontoe vlug. Hy was ver van die tempel af. Hy het homself ver weg van God af gevoel en na God gesmag.

Die verlange na God wat in hom gebrand het, het hom aan ‘n wildsbok laat dink wat na wtaer smag. Die somer in Israel is ‘n warm droë seisoen sonder reën. Baie van die strome wat in die reënseisoen water gehad het, droog op in die somer. Die psalmdigter het in sy lewe al ‘n wildsbok wat baie dors was gesien loop, soekend, smagtend na water.

By die swaar wat hy verduur het om nie naby God te kan wees nie, het die mense wat die oorsaak van sy swaarkry was, hom spottend gevra waar sy God in Wie hy so geglo het.

Iets van die psalmdigter se omstandighede beleef ons tans. Ons vyand is ‘n onsigbare en gevaarlike virus. Saam met die virus het wette gekom wat ons inperk. Hierdie wette verhoed ons om eredienste te hê soos die Here in sy Woord van ons vra. Ons mag net vyftig gelowiges op ‘n keer wees. Ons mag net ‘n sekere tyd saam met die Here en saam met mekaar wees. Een hele boek in die Bybel gaan oor liedere wat gelowiges sing om God te loof, sonde voor Hom te bely, vergifnis te vra en vir sy lig en leiding te bid. Gelowiges mag nou nie tydens ‘n erediens sing nie.

Buite die erediens en weg van die Koronavirus is daar ook ‘n ander lewe. In ons land is daar ‘n lewe van geweld, roof, aanranding, moord en ‘n lewe van steel, bedrog en korrupsie. Al hierdie sonde verniel hierdie mooi land van die Here waarin ons bly.

Die Here het die noodkrete van Israel in Egipte gehoor en Israel se swaarkry ter harte geneem en besluit om hulle uit Egipte te verlos (Eks.3:7,8).

  • Dit het tyd geword om na die Here te smag en na sy Woord te soek soos daardie wildsbok in die droë seisoen in Israel. Die wildsbok het met sy hele liggaamshouding gewys hoe hy na water gesmag het. Elkeen van ons sal daarom met ons lewe moet wys dat ons na God smag. In ons huise sal ons besigwees met die Bybel wys of ons na God smag. Wanneer ons weer op ‘n Sondag ‘n erediens het, sal ons opkoms wys of ons na God smag.
  • Dit het tyd geword om te erken dat dit nie goed met ons land gaan nie en by God te pleit vir uitkoms. Ons gebede en ons gesprekke sal wys of ons na God smag vir uitkoms vir ons land.
  1. Hoop (op God)

‘n Gelowige is nie bloot ‘n gewone mens nie. Ons sien dit so duidelik in Psalm 42. In die digter se swaarkry en terwyl hy oor so baie dinge twyfel, kom die woorde uit sy hart en oor sy lippe: “Vertrou op God!” (Ps.42:6). Later in die psalm sê hy weer:” Vertrou op God!” (Ps.42:12).

Die woord vir vertrou is in werklikheid “hoop”.

Die psalmdigter het baie moeilike omstandighede gehad. Hy was in gevaar. Hy het baie vyande gehad voor wie hy moes vlug. Sy hele lewe was ontwrig.

Maar….in sy hart het hoop geleef.

Hoop waarvan ons in die Bybel lees, is om iets te verwag en seker te wees van wat jy verwag.

Voor ons by die psalmdigter se hoop, sy verwagtig kom, kyk ons na ons eie hoop.

Eers die Koronavirus – Wat hoop ons?

Dat iemand in een of ander land so gou moontlik ‘n teenmiddel sal ontdek?

Dat die virus sy piek sal bereik en dan baie minder mense siek sal word?

Dat die inperkings verlig sal word?

Dan die diefstal, bedrog en korrupsie en die aanrandings en moorde – wat hoop ons?

Dat iemand die geweldenaars sal begin vervolg en in die gevangenis laat beland?

Dat daar ‘n ander regering sal kom wat minder korrup sal wees?

Hierdie hoop is in werklikheid hoop op mense.

Hoop op mense gee nie sekerheid nie.

Terug by die psalmdigter – Hoop op God! het uit die psalmdigter se hart en oor sy lippe gekom.

God is ons sekerheid.

Wanneer die hoop wat in jou hart leef, hoop op God is, dan het jy sekerheid.

Wanneer jy jou hoop op mense stel, kan jy eintlik niks anders doen as om te wag en met onsekerheid te bly leef nie

Wanneer jy op God hoop, verander onsekerheid in vaste en ewige sekerheid.

  1. Gebed (tot God)

Die gelowige wat Psalm 42 geskryf het, se hoop op God het hom laat bid. Hy het gebid tot die God van sy lewe.

God is die Bron van ‘n gelowige se lewe.

Hy het alle lewe, ewige lewe.

Hy gee lewe. Hy is die almagtige Skepper wat alles en almal geskep het.

Hy gee nuwe lewe deur Christus.

By God is daar lewe, daarom is daar by Hom uitkoms.

In hierdie tyd wat hierdie vreemde en gevaarlik virus ons lewens so bedreig, is dit tyd vir elkeen van ons om uit jou hart te bid. Bid dan;

  • Vir beskerming teen die virus.
  • Vir jou geliefdes wat die virus gekry het of in kontak met mense was wat die virus onder lede gehad het.
  • Vir die mediese personeel in hospitale wat onder dikwels onder haglike omstandighede en onmoontlike druk moet werk.
  • Dat God uitkoms sal gee, soos Hy wil.

Met die statistiek van misdaad wat onlangs bekend gemaak is, het dit duidelik geword dat die polisie besig is om die stryd te verloor. Die tyd vir baie ernstige gebed het nou aangebreek. Bid dan:

  • Vir die eerbare polisiebeampte wat sy of haar lewe daagliks in gevaar stel.
  • Dat die korrupte polisiebeampte se sonde tot ‘n einde sal kom.
  • Dat die owerheid tot inkeer sal kom en alles moontlik sal doen om die misdadiger te stuit en misdaad minder te maak.

Ons gebede sal elke keer gebede van verootmoediging moet wees, want sonde in hierdie land is so baie en so groot.

Ons sal in ons gebede ons eie wil op die agtergrond moet skuif en pleit dat God sy wil sal laat geskied.

Saam met ons gebede sal ons as gelowiges, in ‘n onbekeerde en sondige land wat God nie ken nie, elkeen ‘n lewe van bekering moet leef. Dit is so belangrik, want bekering en gebed gaan altyd saam.

  1. Sekerheid (by God)

Die gelowige wat na God smag, op Hom hoop en tot Hom bid, sal by sekerheid uitkom.

God self gee hierdie belofte: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer” (Ps.50:15).

Die digter van Psalm 42 het hierdie sekerheid self beskryf: “Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my helper en my God” (Ps.42:6,12).

Hoe kom ons met die Koronavirus en die misdaad wat ons land en lewens so ontwrig by sekerheid uit?

Hoe weet ek my gebede sal nie op niks uitloop nie?

Buite Jerusalem was daar ‘n heuwel met die naam Golgota.

Op ‘n sekere Vrydag was daar drie kruise met drie veroordeeldes aan.

In die middelste kruis was Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser.

Hy het die ergste lyding verduur en die verskriklikste dood vir ons gesterf.

Deur sy dood het Hy al die sonde wat ons self tussen God en ons opgehoop het, weggeneem.

Deur vir ons te sterf, het Hy ons weer onder die liefdevolle sorg van sy Vader gebring.

In die tuin van Josef van Arimatea was daar ‘n oop graf die Sondag na die Vrydag.

Jesus Christus het uit die dood opgestaan.

Hy het aan ons die ewige lewe, die lewe met God gegee.

Wanneer ek bid, bid ek op grond van Jesus Christus wat vir my die pad na God oopgemaak het en aan sy Vader se regterhand sit en vir my intree, elke keer wanneer ek bid.

Jesus Christus, my Verlosser, is my SEKERHEID!

Glo deur die Heilige Gees met jou hele hart in Jesus Christus, jou enigste Verlosser.

Bid en pleit deur die Gees by God vir uitkoms, op grond van Jesus se kruisiging en opstanding.

Hoop deur die Heilige Gees net op God met die sekerheid wat Jesus Christus jou gee!