Ons Kerkgebou

DIE HEERLIKHEID VAN DIE ONVERKLAARBARE GOD WAT HOM AAN MENSE OPENBAAR

Lees:  ESEGIËL 1:1-5, 26-28

TEMA: DIE HEERLIKHEID VAN DIE ONVERKLAARBARE GOD WAT HOM AAN MENSE OPENBAAR.

  1. God openbaar Homself aan mense deur sy Woord
  2. Sy werk is onkeerbaar
  3. Sy wese en sy optrede is onverklaarbaar
  4. Sy heerlikheid is oorweldigend!

Geliefdes in die Here,

  1. Een van die foute wat die mens deur die eeue gemaak het, was om blind te word vir die heerlikheid van die Here, om te dink dat ‘n mens God en sy werke kan verstaan, om te dink dat God se heerlikheid beperk en aards is. Omdat mense so gedink het, het hulle ook maklik die Woord van die Here verwerp en was hulle doelbewus ongehoorsaam aan God en sy Woord.

Dit is presies ook wat gebeur het in Esegiël se tyd. Die volk het geen begrip meer gehad van God se heerlikheid nie. Daarom het hulle God nie meer gehoorsaam nie. Ten spyte van vele waarskuwings het hulle aangehou om afgode te dien en is hulle, net soos wat God hulle gewaarsku het, weggevoer in ballingskap. Hulle is weggevoer uit Juda na Babel.

Sommer reg aan die begin van die boek Esegiël word hierdie foute van die mens, om klein te dink van God se sy heerlikheid, om daarom ook doelbewus ongehoorsaam te wees aan God en sy Woord, aangespreek.

Oor Esegiël self weet ons nie baie nie. Sy naam beteken God se krag of God versterk. Hy was self ‘n balling in die tyd van die Babiloniese ballingskap. Hy was ‘n priester en daarom was die tempel van God in Jerusalem so belangrik vir hom. Sy pa se naam was Busi. Maar sy heel belangrikste eienskap was dat hy ‘n profeet van die lewende God was.

Sy profesieë rig hy aan die volk van God wat in ballingskap in Babilonië is en aan die deel van die volk wat nie in ballingskap weggevoer is nie, maar in Juda agtergebly het.

Soos in ons teks, sê Esegiël ook op ander plekke in sy profesie wanneer hierdie dinge plaasgevind het. Hy gee dag en datum, sodat ons sal besef dat dit wat hy beskryf, hy regtig gesien het. God se Woord, God se openbaring, breek deur op ‘n spesifieke dag, in spesifieke omstandighede en dit word tot spesifieke mense gerig.

Esegiël beklemtoon dit dat dit nie sy boodskap is nie, maar God se boodskap:

“1 Op die vyfde van die vierde maand, in die dertigste jaar, was ek tussen die ballinge aan die Kebarrivier. Die hemel het oopgegaan en ek het gesigte gesien wat van God af kom. 2 Dit was op die vyfde van die maand en dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jojagin. 3 Die woord van die Here het tot die priester Esegiël seun van Busi gekom. Dit het gebeur aan die Kebarrivier in Galdeërland. Die mag van die Here het vir Esegiël daar in besit geneem. Ja, dit was baie duidelik God se Woord, God se openbaring aan mense: Die hemel het oopgegaan en ek het gesigte gesien wat van God af kom … 3 Die woord van die Here het tot die priester Esegiël seun van Busi gekom. God maak die hemel oop om met sy kinders te praat deur sy profeet. Ja, Esegiël beklemtoon dit dat die boodskap van God af uit die hemel kom.

Geliefdes, dit is uiters belangrik dat ons dit nooit sal vergeet nie. Die Woord, dit wat ons in die Bybel het, is Godsopenbaring. Dit is God se openbaring aan spesifieke mense, in ‘n spesifieke tyd, in spesifieke omstandighede. Dit is God wat die hemel oopmaak om met ons te praat. Hy is die oorsprong van die Woord. Dit is nie mensewoord nie, maar God se Woord wat tot mense kom. Waar mense dit vergeet, word hulle maklik ook ongehoorsaam aan die Woord, soos in Esegiël se tyd, soos in die tyd voor die ballingskap.

En dan begin Esegiël om die visioen te beskryf: 4 Ek het ’n gesig gesien. Daar het ’n storm uit die noorde gekom, ’n groot wolk. Vlamme het heen en weer geflits en daar was ’n helder skynsel om die wolk. Van binne uit, uit die vuur uit, het dit geblink soos gloeiende wit metaal. Esegiël sien ‘n storm wat ‘n mens se asem wegslaan. Op ‘n hele paar plekke in die Ou Testament openbaar God Homself in ‘n storm. Waar God se heiligheid en sy heerlikheid die aarde binnedring, moet daar ‘n storm wees! ‘n Storm wat enige verwaande mens na sy asem sal laat snak in die besef dat hy nou met die lewende God te doen het wie se heiligheid onbeperk is.

2.  En dan begin Esegiël om vier wesens te beskryf wat uit die storm kom. Dit is belangrik om raak te sien dat hulle uit die storm kom, dat hulle as’t ware in die storm teenwoordig was. In hoofstuk 10:20 sê Esegiël dat hierdie wesens gerubs is. Gerubs is hemelwesens, soos engele, en hulle moet die heiligheid van God beskerm. Hulle taak is om toe te sien dan niks onheilig naby God kom nie. Dit is dan eintlik verstommend dat die heilige God na die onheilige mens toe kom en Homself aan die mens openbaar!

Die storm wat Esegiël sien is eintlik die ballingskap wat die volk getref het. Maar in die gebeure van die ballingskap openbaar God sy heerlikheid. Die wesens wat Esegiël sien, kom uit die storm uit. Die gloeiende blink metaal wat hy in die storm sien, word weer aan die einde van die hoofstuk genoem en dan is dit duidelik: dit is die glans van die heerlikheid van God! So God is in die storm! Hy laat sy heerlikheid skitter in die storm.

Met ander woorde, al het ‘n groot deel van die volk gedink God het van hulle vergeet, sê die gesig: God is aan die werk in die storm, in die ballingskap. In die storm toon Hy sy heerlikheid! Al kan ons as mense nie verstaan wat Hy doen nie, moet ons steeds besef: Hy is in ons beproewings aan die werk. In ons beproewings sal Hy sy heerlikheid laat skyn.

God sal ook sy heerlikheid op ‘n verrassende manier laat skyn in ons storms: Die pandemie, die ekonomie van die land, die politiek in die land, die rassespanning in die land, die geestelike afvalligheid in die land, die misdaad, die plaasmoorde, noem maar op. Esegiël 1 sê: God laat sy heerlikheid skitter in elke storm.

Dit bring ons by die beskrywing van die wesens en die wiele. En hier moet ons versigtig wees! Net soos met die boek Openbaring, moet ons nie probeer om vir elke eienskap van hierdie onbeskryflike wesens ‘n finale verklaring te probeer gee nie, maar moet ons eerder probeer om uit die geheel van die visioen afleidings te maak. Dit gaan dus nie daaroor om vir die fynste besonderhede van die gesig verklarings te probeer gee nie, maar eerder daaroor dat ons die geheel-boodskap van die gesig sal probeer verstaan.

Die boodskap van hierdie gesig beklemtoon God se heerlikheid en heiligheid aan mense wat dit vergeet het en vasberade in hulle sonde volhard het. Die boodskap van hierdie gesig beklemtoon ook God se onverstaanbaarheid en die ondeurgrondelikheid van sy wese en sy optrede in ons lewensstorms.

Ons lees: “5 Daaruit (dit is uit die storm) het vier wesens te voorskyn gekom. Hulle het ’n mensvormige voorkoms gehad, 6 maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. 7 Hulle bene was reguit en hulle voete was soos beeskloue en het geblink soos koper wat opgevryf is. 8 Onder hulle vlerke aan elk van die vier kante van elkeen was daar menshande. Al vier wesens het gesigte en vlerke gehad. 9 Die een se vlerke het aan die een langs hom s’n geraak. Die wesens het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie. Elkeen het reg vooruit beweeg. 10 Elkeen het vier gesigte gehad. Die vorms van hulle gesigte was so: voor dié van ’n mens, regs dié van ’n leeu, links dié van ’n bul, en agter dié van ’n arend. Elke wese het dus vier gesigte gehad. 11 Sy twee boonste vlerke was oopgesprei en het aan dié van die wesens weerskante geraak; met die twee ander vlerke het hy sy lyf bedek. 12 Die wesens het reg vooruit beweeg in die rigting waarin die Gees dit wou, en hulle het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie. 13 Die vorm van die wesens, hulle voorkoms, was soos dié van gloeiende kole vuur; hulle was net soos die vlamme wat heen en weer tussen hulle beweeg het. Die vuur het helder geskyn en blitse het uit die vuur geskiet. 14 Die wesens het soos weerlig heen en weer geskiet.

Ja, ons kan ons nie indink hoe hierdie wesens moes lyk nie! Dit is duidelik dat Esegiël eintlik na woorde soek om te kan beskryf wat hy sien. Een ding blyk baie duidelik uit die beskrywing: God se wese en sy werk in onverstaanbaar en onverklaarbaar en dit skitter van heerlikheid wat geen perke ken nie.

Daar is nog ‘n verdere aspek wat ek wil uitlig. Vers 12 sê: “Die wesens het reg vooruit beweeg in die rigting waarin die Gees dit wou, en hulle het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie.” God, deur sy Gees, bepaal in watter rigting die wesens moet beweeg. Die feit dat hulle nie van koers verander nie, dui op die onkeerbaarheid van God se werk. Sy werk, wat dikwels binne in ‘n storm plaasvind, is onkeerbaar en Hy sal sy doel daarmee bereik. So behoort ons ook eintlik onkeerbaar te wees as ons die rigting ingeslaan het wat God vir ons aangedui het en as ons God se werk in die wêreld doen.

3.  En dan beskryf Esegiël die wiele by die voete van die wesens: “15 Terwyl ek so na die wesens kyk, sien ek ’n wiel op die grond langs elke wese met sy vier gesigte. 16 Die voorkoms van die wiele en hulle afwerking was soos dié van edelstene. Hulle het eenders gelyk en al vier was so gemaak dat daar ’n wiel dwars binne ’n wiel was; 17 hulle kon in die rigting van enige van hulle vier kante beweeg, maar hulle het nie van koers verander as hulle beweeg nie. 18 Die wiele was groot en indrukwekkend en al vier se vellings was rondom vol oë. 19 Wanneer die wesens beweeg het, het die wiele saam met hulle beweeg, en wanneer die wesens van die grond af opgestyg het, het die wiele ook opgestyg. 20 Waarheen die Gees ook al wou, het hulle beweeg, en die wiele het saam opgestyg, want die wesens se gees was in die wiele. 21 Wanneer die wesens beweeg, beweeg die wiele; wanneer die wesens staan, staan die wiele; wanneer die wesens van die grond af opstyg, styg die wiele saam op, want die wesens se gees was in die wiele.”

Weereens moet ons nie probeer om vir elke eienskap van hierdie wiele by die wesens se voete ‘n finale verklaring te probeer gee nie, maar moet ons eerder probeer om die geheel-boodskap te verstaan. Dit gaan dus weer nie daaroor om vir die fynste besonderhede van die gesig verklarings te probeer gee nie, maar eerder oor die daaroor dat ons die doel van die gesig sal probeer verstaan.

Die boodskap van hierdie gesig beklemtoon God se heerlikheid en heiligheid vir mense wat dit vergeet het en vasberade in hulle sonde volhard het. Die boodskap van hierdie gesig beklemtoon ook God se onverstaanbaarheid en die ondeurgrondelikheid van sy wese en sy optrede.

Ek lig net enkele sake uit. Vers 18 sê: “Die wiele was groot en indrukwekkend en al vier se vellings was rondom vol oë.” Die oë op die vellings dui aan dat God alles sien en dat niks vir Hom weggesteek kan word nie. Hy kan sien wanneer daar nie meer ontsag in ons harte vir sy heiligheid en heerlikheid is nie.

Vers 20 sê verder: “Waarheen die Gees ook al wou, het hulle beweeg …” Soos by die wesens se beskrywing, kan ons ook by die beskrywing van die wiele sê: God, deur sy Gees, bepaal in watter rigting die wesens en die wiele moet beweeg. Die feit dat hulle nie van koers verander nie, dui op die onkeerbaarheid van God se werk. Hy voer sy raadsplan ongehinderd en ongestoord deur, ook in storms. So behoort ons ook eintlik onkeerbaar te wees as ons die rigting ingeslaan het wat God vir ons aangedui het.

As Hy sy halsstarrige volk in ballingskap laat wegvoer oor hulle sonde en as Hy later ‘n gelouterde oorblyfsel wil laat terugkeer, sal niks of niemand Hom kan stuit nie.

4.  Die visioen bereik dan ‘n hoogtepunt in vers 22-28: “Bokant die wesens se koppe was iets wat gelyk het soos ’n gewelf, blink en skrikwekkend soos ’n ysberg. Die gewelf was bokant hulle koppe oopgespan. 23 Onderkant die gewelf het hulle vlerke gestrek, die een teen die ander, en elkeen het met twee vlerke sy lyf bedek. 24 Ek het die geruis van hulle vlerke gehoor. Wanneer hulle beweeg, was dit soos die geruis van ’n sterk waterstroom, soos die stem van die Almagtige, soos die gedruis van ’n menigte mense bymekaar, soos die gedreun van ’n leërmag. Wanneer hulle tot stilstand kom, het hulle hulle vlerke laat sak. 25 Daar het ’n stem gekom van bokant die gewelf bo die wesens se koppe af. Hulle het hulle vlerke laat sak wanneer hulle tot stilstand kom. 26 Bokant die gewelf bo hulle koppe was daar iets soos saffier met die vorm van ’n troon, en daarop was ’n gestalte met die voorkoms van ’n mens, hoog daarbo. 27 Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan boontoe, het dit vir my gelyk na die glans van gloeiende wit metaal, na iets soos vuur met ’n rand rondom, en van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, het dit vir my gelyk na vuur met ’n helder glans rondom. 28 Die glans rondom was soos dié van die reënboog in ’n wolk na die reën. Dit was soos die magtige verskyning van die Here. Toe ek dit sien, val ek plat en ek hoor ’n stem praat.”

So: Bokant die ingewikkelde wiele was die onbeskryflike wesens. Bokant die wesens was daar ‘n gewelf, of ‘n uitspansel. En dan sê vers 26: Bokant die gewelf bo hulle koppe was daar iets soos saffier met die vorm van ’n troon, en daarop was ’n gestalte met die voorkoms van ’n mens, hoog daarbo. En dan vat Esegiël die hele gesig saam met: Dit was soos die magtige verskyning van die Here. Letterlik: So het die verskyning van die heerlikheid van die Here gelyk.

In die Ou Testament, soos hier in Esegiël, word dit in die Hebreeus genoem die Kebod Jahwe. Dit kan vertaal word met die gewigtigheid van die Here, sy heerlikheid, sy glorie, eer, sy oorvloedigheid, sy rykdom, sy magtige teenwoordigheid, sy grootheid.

In die Nuwe Testament word dit in Grieks genoem die doxa Deo. Dit kan vertaal word met die heerlikheid, die voortreflikheid, die eer, die glorie, die helderheid, die grootheid van die Here. En al sou ons al hierdie woorde gelyk gebruik, sou dit nog nie genoeg wees om die Kebod Jahwe, die heerlikheid van die Here, te beskryf nie!

En Esegiël het die verskyning van die heerlikheid van God gesien! Dit was vir hom asof hy God self gesien het. Meer nog: Hy sien Hom in die gestalte van ‘n mens! Die visioen hou dus die profetiese belofte in dat God mens gaan word, dat Jesus Christus eeue later as mens gebore sou word. En as Nuwe Testamentiese gelowiges weet ons dat Jesus nou aan die regterhand van God sit, in die bestuursposisie van die heelal! Hy wat self storms op aarde kon stilmaak, regeer nou en tot in ewigheid.

En in die Here Jesus openbaar God sy heerlikheid. Met ander woorde, in ons lewensstorms is ons Here Jesus ook teenwoordig en sal Hy die heerlikheid van God laat skitter.

Hy sit immers in die visioen op ‘n troon! Met ander woorde: Hy regeer, Hy is in beheer, Hy bepaal wat gebeur. Al lyk dit vir ons na ‘n vernietigende storm: Deur Christus regeer God die wêreld, laat Hy sy wil geskied, laat Hy sy heerlikheid skitter!

En Esegiël se reaksie was om plat te val op die grond toe hy dit alles sien. Ja, geliefdes, dit behoort ook ons reaksie te wees as ons in aanraking kom met  die heiligheid en die heerlikheid van die Here!

Die volk daar in ballingskap het van God en sy heerlikheid en sy heiligheid vergeet. Daarom het hulle in afgodediens volhard en daarom is hulle in ballingskap weggevoer. Die feit dat hulle, die volk van God, nou in ballingskap gesit het, het verder hulle gedagtes deurmekaar gekrap. Party het gedink God bestaan nie regtig nie. ‘n Heidense volk het hulle dan oorwin. Ander het gedink: As God bestaan, is Hy nie so magtig soos die gode van die Babiloniërs nie. Hulle, die volk van God, sit dan in ballingskap! Soos ons ook maklik deesdae in al die storms kan dink dat God nie bestaan nie of dat Hy nie in beheer is nie.

Dit is in hierdie omstandighede wat God aan Esegiël hierdie visioen, wat sy almag en sy heerlikheid en sy heiligheid beklemtoon, laat sien. Die volk moet weet: Die feit dat hulle in ballingskap sit, bewys juis dat God almagtig is en dat Hy sy plan sal deurvoer, en dat Hy ontsaglik heilig is en dat sy heerlikheid onbeskryflik is.

In ons tyd vra mense ook maklik: Maar waar is God dan? Hy doen dan nie wat ons dink Hy moet doen nie. Hy lyk so afwesig, so magteloos teen die onreg van hierdie wêreld! Dit is juis in sulke omstandighede dat Esegiël 1 so ontsettend troosryk is! God is in die storm aan die werk en besig om Homself te openbaar. Hy voer sy plan onkeerbaar deur. Hy sal uiteindelike sy heerlikheid laat skitter. Nou al kan ons glimpsies daarvan kry deur die geloof, maar wanneer die Here Jesus weer kom, kom Hy in skitterende heerlikheid! Dan sal ons die doxa Deo sien!

Die hemel het ook oopgegaan toe Hy mens geword het, toe Jesus Christus gebore is as mens. En Hy het onder ons kom woon. Johannes (Joh. 1:14) skryf: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.” En in Hebreërs 1:3 lees ons oor ons Here Jesus: “Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. En ons sal weer sy heerlikheid sien, want Titus 2:13 sê oor die wederkoms van Jesus: “Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn.” Ja, die hemel sal nog eenmaal oopgaan en dan sal ons Here Jesus in heerlikheid kom en dan sal alle storms beëindig word.

En in Openbaring 21:23 staan daar: “Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.”

Geliefdes, mag ons elke dag so onder die indruk van die heerlikheid van die Here wees, dat ons Hom in alles sal gehoorsaam, dat ons in storms op God alleen sal vertrou en dat ons geloofsoë sal oophou vir die verskyning van die heerlikheid van die Here in die storm, maar ook met sy wederkoms.

Mag ons so onder die indruk wees van die heerlikheid van die Here, dat ons onder leiding van die Heilige Gees self ook sy heerlikheid sal uitstraal in ons leer en lewe!                                   Amen.