Ons Kerkgebou

Met God in my lewe het ek altyd hoop

Lees: Klaagliedere 3:1-33

Inleiding:

Verlede jaar was ‘n vreemde en moeilike jaar. Baie dinge wat in ons oë sleg en swaar en seer was, het in 2020 gebeur. Die ergste was waarskynlik die uitbreek van die nuutste Koronavirus met Covid-19, die siekte wat die virus veroorsaak. Nou  is ons al in die tweede week van 2021. Nie net is Covid-19 steeds hier nie. Daar is nou ‘n variant van die virus wat aggressiewer en gevaarliker is.

Wat leef in ons gedagtes en ons harte? Vrees vir wat mag gebeur, twyfel oor die toekoms, moedeloosheid, onsekerheid oor die Here se sorg en sy liefde, opstandigheid? Die Here praat met ons vanoggend hieroor in sy Woord, Klaagliedere 3.

 

Tema: Met God in my lewe is daar altyd hoop

 

  1. Swaarkry is deel van die stukkende wêreld

Jerusalem was ‘n baie mooi stad. Jerusalem was die stad van Dawid, die hoofstad van die verbondsvolk in die verbondsland. In die noordooste van die stad het die tempel van Dawid gestaan, gebou van gekapte klip en sederbalke met fyn houtsneewerk uit Olyfhout en ornamente van suiwer goud – ‘n pragtige tempel.

Daar in die die stad het ‘n groot deel van die verbondsvolk gebly. In die tempel het hulle daagliks offers gebring en die Here aanbid.

Maar…..op ‘n dag in 586 vC het alles verander. Die stad het verlate gelê, verwoes. Die tempel is afgebreek, die huise vernietig. Inwoners is doodgemaak. Jongmense en oumense het dood in die strate gelê. Kinders en babas is sonder ouers gelaat.

In hoofstuk 3 ontmoet ons ‘n gelowige man, ‘n Israeliet wat hierdie inval oorleef het en deur die stad stap en na die slagting kyk. “Ek is die man wat ellende belewe het”, is sy woorde (Jer.3:1.)

Suid-Afrika is ‘n baie mooi land. Die natuurskoon is uniek, met so ‘n verskeidenheid. Die Krugerwildtuin, die Drakensberge, die blommeprag van die Karoo, die sonsondergange, ons uitgestrekte strande en Tafelberg met sy bekende vorm, is maar ‘n paar voorbeelde van alles wat mooi is.

Ons bly in Pretoria met die Magaliesberge en sy Jakarandas. Dit is ‘n mooi stad met ‘n aangename klimaat hier aan die noordekant van die berg.

Maar…..in hierdie mooi land en hierdie mooi stad is daar ook baie swaarkry en pyn. Covid-19 maak baie mense siek en baie mense dood. Hier waar ons bly, is nou ‘n brandpunt van die virus. By hierdie gevaarlike siekte is daar nog ander gesondheidsomstandighede in ons gemeente – kanker en diabetis is twee ander baie ernstige toestande. By hierdie omstandighede kom nog die geweld in ons land, die onverskilligheid op paaie en die openlike bedrog en korrupsie wat die lewe baie moeilik maak.

Swaarkry is deel van die stukkende wêreld waarin ons leef. In werklikheid is die vraag “waarom gebeur hierdie dinge?” nie moeilik om te beantwoord nie. Die wêreld waarin ons leef en sy mense het nog te doen met die gevolge van die sondeval in die paradys. In Rom.8:22 lees ons dat die hele skepping sug in die verwagting om ook van die gevolge van die sonde verlos te word. Al die swaar en seer in elkeen se lewe, kan teruggevoer word na daardie dag in die tuin van Eden, toe Adam en Eva hulle rug op God gedraai het.

Israel het Adam en Eva se voorbeeld gevolg en ook weg van die Here geleef. Die Here het hulle aan koning Nebukadnesar van Babel in ‘n oorlog oorgegee. Die heidense soldate van Babel het die land ingeval, Jerusalem verwoes en die tempel gestroop.

Dis sonde en die gevolge daarvan wat maak dat mense deur onverskilligheid op die pad sterf. Soms is pyn en swaarkry direkte gevolge van een of ander sonde. Die bestuurder wat onverskillig ry se sonde veroorsaak die ongeluk.  Vir die versigtige bestuurder is die ongeluk wat gebeur, deel van die gebroke wêreld waarin ons leef as gevolg van die sondeval.

Ja, elkeen van ons en elke enkele ding in die skepping is blootgestel aan die gevolge van Adam en Eva se sondeval daardie dag in die tuin van Eden.

 

  1. Die Here is genadig en getrou en altyd in beheer

Vanoggend is ons by die tweede Sondag van die jaar. Voor ons lê 2021 met moeilike omstandighede wat nie in die nuwe jaar weggegaan het nie en steeds deel van ons lewe is. Hoe kyk ons na die jaar? Hoe dink ons oor die jaar?

Die skrywer van die lied in Klaagliedere 3 het diep nagedink. Hy het op ‘n punt gekom dat hy gedink het dit is klaar met hom. Mens maak mos maar so. Die sleg wat met jou gebeur, neem al jou gedagtes op en mens se gedagtes bly net daarom maal. Dit was asof die Skrywer van hierdie treurige lied se gedagtes vasgedraai het, terwyl hy oor sy ellende gedink het (Kl 3:20.)

Uiteindelik het  het hy aan die Here begin dink. Luister wat het met hom gebeur: “Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom” (Kl.3:24.)

Wanneer jy oor hierdie jaar dink wat voorlê, as die Here wil, dink eerste aan die Here. Maar dink dit wat waar is. Wanneer ons swaarkry, dink ons dikwels aan die Here wat straf en oordeel. Maar sulke gedagtes bring mens nêrens. Dit vererger eerder die omstandighede. Swaarkry het ook nie met straf te doen nie. Die Here leer ons in Klaagliedere om aan sy liefde en sy genade en sy trou te dink. “Maar dit sal ek ter harte neem”, lees ons in Kl.3:21, “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie. Daar’s geen einde aan sy ontferming nie” (Kl.3:22.)

 God is nie straf en oordeel nie! Nee! Hy is liefde! Hy is genadig en getrou! Selfs in die donkerste oomblikke in ‘n mens se lewe is die Here by jou. In die Hebreeus klink die kernvers vir die preek so “Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop” (Kl.3:24.) Hierdie uitdrukking kom van die Leviete wat nie grond gekry het om op te bly nie. Hulle het van die opbrengs van die tempel hulle deel ontvang. Die Here het gesorg dat hulle hulle deel kry. Hy was hulle deel. Die woorde beteken dus: Die Here sorg vir my. Hy is in my lewe. Hy is my lewe.

Die Here is in jou lewe, ongeag jou omstandighede. Die kruis op Golgota en die oop graf in die tuin van Josef van Arimatea is die duidelike bewys dat die Here in jou lewe is. Hy is in jou lewe met sy liefde en sy genade en sy trou. Hy het sy Seun uit liefde vir jou geoffer om jou uit genade van sonde te verlos en jou syne te maak. Jy sal altyd syne bly. Hy sal jou nooit los nie, want Hy is ewig getrou. Daar is regtig niks wat die liefde wat God deur Christus vir jou het, kan laat ophou of dit uit jou lewe kan wegneem nie. Die Here sê self so. Gaan lees maar weer Rom.8:38,39.

Wanneer ‘n mens pyn en selfs ellende in die lewe ervaar, beteken dit nie die Here het jou nou nie meer lief nie en Hy sorg nie meer vir jou nie. Nee, die Here is altyd in beheer. In alles wat met jou gebeur, selfs die baie swaar en baie seer, is die Here besig met sy koninkryksplan in jou lewe.

Sy groot koninkryksplan met jou is om jou veilig by jou hemelse bestemming te bring. Deur Jesus Christus is jy sy kind. Jou naam staan in sy ewige testament, die genadeverbond, geskryf. Jy is saam met Jesus Christus erfgenaam van die ewige hemelse lewe. Die Here sal jou erfdeel in die hemel vir jou bewaar en Hy sal jou deur alles bewaar, sodat jy jou erfdeel sal ontvang. Omdat Hy jou liefhet, sal die Here sorg dat jy jou erfdeel kry. Jou erfdeel is die ewige lewe in die hemel by Christus en by God ons Vader.

 

  1. Elke Christengelowige het daarom altyd hoop

Wanneer mens swaarkry beleef, voel dit of die Here mens verstoot het. Dit voel of Hy iets teen mens het. Wanneer mens so voel wil jy in opstand kom of jou terugtrek van die Here af. Maar…..dit is ‘n doodloopstraat. In plaas daarvan om in tye van swaar en seer aan die Here te begin twyfel en dalk selfs weg te draai van die Hom af, draai deur die Heilige Gees nog meer na Hom toe. Soek Hom nog meer. Leef nog nader aan Hom. Leef die woorde van Ps.42:1Soos ‘n hert in dorre streke, skreeuend dors van die genot van die helder waterbeke, skreeu my siel na U, o God. Ja, my siel dors na die Heer, na die Lewensbron.”

Met die Here in jou lewe, het jy altyd hoop. Hoop is nie om onseker te wees en maar te wag en sien wat gebeur nie. Hoop is om alles van die Here te verwag.

Wat kan ek van die Here verwag?

Daar is so baie. Ek noem net ‘n paar verwagtings. Ek kan van die Here verwag:

  • Dat Hy elke oomblik my God en Vader sal wees wat my lewe beskik en my versorg.
  • Dat Hy my elke oomblik van hierdie jaar in sy liefdevolle Vaderhand sal hou.
  • Dat Hy die swaarkry van hierdie jaar sal gebruik, sodat dit vir my die beste sal wees.
  • Dat sy genade vir my in 2021, ongeag wat gebeur, altyd genoeg sal wees.
  • Dat Hy in alles met my op pad sal wees na die ewige heerlikheid wat op my wag.

Wanneer jy aan 2021 kyk en jy dink aan al die dinge wat jou lewe so onveilig, so onseker en so swaar maak, dink deur die Heilige Gees op ‘n geestelike manier, ‘n gelowige manier oor die jaar wat voorlê. Dink aan die Here wat ook in hierdie jaar sy koninkryksplan in jou en almal om jou se lewe sal deurvoer.

Jy het die Heilige Gees in jou.

Kyk na 2021 deur die Heilige Gees.

Sê deur die Heilige Gees dankie dat die Here in jou lewe is.

Leef deur die Heilige Gees hierdie jaar nog nader aan die Here, want dis waar Hy jou wil hê, by Hom!

By die Here ons God, sal dit vir jou in 2021 altyd die beste wees.

Hou deur die Gees vas aan hierdie woorde: “Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom”.

 Gebed