Ons Kerkgebou

Net Christus versoen sondige mense met die heilige God

Lees: Levitikus 16 (53 vert)

Inleiding:

Op ‘n oggend soos vanoggend 16 Mei 2021 is ons met Nagmaal in die teenwoordigheid van die heilige God. Om voor God te kan kom en te bly leef, is dit baie belangrik dat elkeen van ons met Hom versoen sal wees. Kyk saam met my  na hierdie belangrike waarheid in Levitikus 16.

Tema: Net Christus versoen sondige mense met die heilige God

  1. Ons is in die teenwoordigheid van die heilige God

Israel het ‘n tabernakel gehad volgens die opdrag en voorskrifte wat die Here vir Moses gegee het. Die rede vir die tabernakel of tent was:

  • God het vir Israel wou wys dat Hy by sy verbondsvolk was.
  • Israel moes gereeld in die tabernakel op ‘n spesiale manier met offers en godsdienstige feeste in die heilige God se teenwoordigheid wees.

Die tabernakel het uit drie dele bestaan – die Voorhof, die Heilige en die Allerheiligste.

In die Voorhof was die koperaltaar. Daarop is die brandoffers gebring. Daar was ook die koper waskom of wasbak waar die priesters hulle hande gewas het.

In die Heilige was die volgende:

Die kandelaar met sy sewe arms was ‘n simbool van lig wat God vir gelowiges gee.

Die tafel met die toonbrode wat simbool was vir die lewe wat God onderhou.

Die reukofferaltaar wat die simbool was van die gebede van die gelowige verbondsvolk.

In die Allerheiligste was die verbondsark.  Die ark was die simbool dat God regeer. Ander volke het ook sulke arke gehad met ‘n beeld van ‘n afgod bo-op die ark. Die Here se verbondsark se bokant was leeg, want die God van Israel kan nie en mag nie afgebeeld word nie.

Bo-op die ark was die versoendeksel wat op die Versoendag met bloed besprinkel is. Die bloed het na die versoening met God gewys.

Twee goue gerubs het ook bo-op die ark gestaan. Hulle was die simbool dat die toegang tot God bewaak is, omdat sonde die toegang tot Hom afgesny het.

In die ark was die twee kliptafels wat die tien gebooie bevat het, vir bewaring. Die kliptafels was die simbool dat God sy verbondsvolk regeer deur sy Wet.

Later is die kruik met manna en Aäron se staf wat gebloei het voor die ark gelê.

Net die hoëpriester mag een keer in ‘n jaar in die Allerheiligste ingegaan het en dit was op die Versoendag, om daar te offer.

Die heilige God van Israel is vandag nog net so heilig. Wanneer ek na die erediens toe kom, kom ek in die teenwoordigheid van die heilige God. Wanneer ek soos vanoggend Nagmaal toe kom, is ek hier in die teenwoordigheid van die heilige God. Ek is saam met ander gelowiges hier, omdat God dit wil hê.

  1. Versoening met God is noodsaaklik om te kan lewe

Die tabernakel, met alles daarin het twee betekenisse gehad:

God se heiligheid en afstand, maar ook sy nabyheid.

Wanneer die verbondsvolk daar aanbid het, moes hulle met heilige eerbied aan die eenkant voor die Here kom. Aan die anderkant moes hulle in geloof in sy teenwoordigheid kom.

Op die Versoendag moes Aäron, die hoëpriester ‘n jong bul as sondeoffer en ‘n ram as brandoffer bring.  Uit Israel moes hy twee bokramme as sondeoffer en een skaapram as brandoffer kry.

Nadat hy die bul vir homself geoffer het, moes hy die twee bokramme na die ingang van die tabernakel bring.

Daar moes Aäron loot oor die twee bokke. Die een bok was vir die Here en die ander vir Assasel. Die bok vir die Here was die sondeoffer. Die bok vir Asasel moes daar bly staan. Die vraag is: Wie was Asasel? Die beter vraag is waar of wat is Asasel? Die woord het ten minste twee betekenisse: Om weg te stuur, te verwyder of om te vernietig. Asasel is dan die plek waarheen die bok met die sonde op verwyder is.

Terug na die offers.

Hierdie offers moes Aäron eers vir sy eie en die priesters se sonde bring.

Hy moes spesiale klere aantrek, gewyde linneklere. Voor hy sy klere aangetrek het, moes hy hom eers gewas het.

Hy moes die bul slag.

Hy moes ‘n vuurpan vol gloeiende kole van die altaar af vat.

Hy moes ‘n dubbele handvol wierook in teenwoordigheid van die Here vat en op die kole gooi, sodat dit ‘n rookwolk maak wat die deksel van die ark bedek. Dan sal hy nie sterf nie.

Hy moes van die bloed van die bul  met sy vinger op die deksel se voorkant en sewe keer op die grond  voor die deksel sprinkel.

Wanneer hy die ram vir die volk slag, moes hy dieselfde daarmee doen as wat hy met die bul se bloed gedoen het.

Op hierdie manier moes hy die Allerheiligste reinig van al die onreinhede van die Israeliete, van hulle oortredings en al hulle sondes.

Hy moes die tent van ontmoeting ook so reinig, want die tent staan by Israel en hulle sondes.

Terwyl Aäron in die tabernakel is, mag niemand ingegaan het nie. Hy alleen het versoening vir homself, die priesters en die hele Israel gedoen.

Hy moes die bloed van die bul en die ram rondom al die horings van die altaar smeer en met sy vinger die bloed sewe keer op die altaar sprinkel.

Nadat Aäron die Allerheiligste, die tabernakel en die altaar gereinig het, moes hy die lewende bok nader bring. Hy moes sy twee hande op die bok lê en al die oortredinge en opstandigheid en al die sondes van Israel oor die bok bely. Dit was ‘n teken dat al Israel se sonde op die bok oorgedra is. Iemand moes die bok die woestyn injaag. Dit het gewys op die bok wat al Israel se sonde die wildernis indra.

Daarna moes Aäron weer in die tabernakel in en sy linneklere waarmee hy in die Allerheiligste in is, uittrek en die klere daar neersit.

Hy moet hom op ‘n gewyde plek gaan was en sy hoëpriesterlike klere aantrek.

Hy moet dan uitgaan en die brandoffer vir versoening van al sy sonde bring, en die brandoffer vir versoening van Israel. Hy moes die vet van die sondeoffer op die altaar verbrand.

Die man wat die bok na Asasel toe gejaag het, moes homself en sy klere was voor hy na die kamp toe terugkom.

Die bul en die bok van die sondeoffer, waarvan die bloed gebruik is om versoening in die Allerheiligste te doen, moes buite die kampplek verbrand word.

Die man wat die bul en die bok verbrand het, moes eers homself en sy klere was voor hy na die kamp terugkom.

Hierdie godsdienstige handelinge moes Israel handhaaf, Israel self en al die vreemdelinge by hulle.  Almal moes vas en ophou werk op die tiende dag van die sewende maand.

Israel en die vreemdelinge by hulle moes gereinig word van sonde in die teenwoordigheid van die Here. Hierdie dag is die dag van versoening en moes ‘n plegtige rusdag wees. Hierdie vaste instelling moes elke jaar gebeur.

Wanneer ons al hierdie voorskrifte vir die Versoendag vir Israel lees, is dit baie belangrik om Jesus se woorde te onthou dat Hy nie gekom het om die Ou Testament tot niet te maak nie en dat nie een letter van die wette wat die Here gegee het sal wegval voor sy wederkoms nie.

Dit beteken:

  • Die sondigheid van die verbondsvolk, die kerk van Christus, dit is ons gemeente is steeds ‘n werklikheid. Die gelowiges in die besondere dienste van predikant, ouderling en diaken en die res van die gelowiges is steeds sondaars in die teenwoordigheid van God.
  • God is steeds die heilige wat sonde nie een enkele oomblik verdra nie.
  • Sonder dat elkeen van ons skoongewas is, sal ons nie voor God kan bly leef nie.
  • Dit is lewensbelangrik dat al die gelowiges met die heilige God versoen sal wees op die manier wat God self voorgeskryf het en nie op ons manier nie.
  1. Jesus Christus versoen ons met God, daarom vier ons nagmaal

Hoe word ons met God versoen op sy manier?

Deur al die eeue het die feesdae, die tempeldiens, die altaar en al die offers gewys na die werklike Verlosser wat God sou stuur om sondige mense wat sy vyande was, weer met Hom te versoen. Op die tyd wat God bepaal het, het Hy sy Seun na die wêreld gestuur.

Jesus Christus is die werklike Verlosser wat ons met God versoen. Niks van die wette en voorskrifte in die Ou Testament het net verdwyn nie. Jesus Christus het gekom om elkeen te vervul, dit is sy diepste betekenis te gee.

Ons het God se Seun as Tussenganger tussen ons en God nodig. Jesus Christus reinig ons van al ons sondes – predikant, ouderling, diaken, gelowige lidmaat. Hy maak ons skoon van sonde deur ons sonde op Hom te neem en aan die kruis te sterf. In die Ou Testament was daar twee bokke. Een is geoffer om te wys dat ‘n lewe gegee moes word om sonde weg te neem. Die ander bok is die sonde van die verbondsvolk opgelê en uit Israel verwyder die wildernis in. In die Nuwe Testament was daar net een Offer. Jesus Christus het ons sonde op Hom geneem en Hy het sy lewe gegee om ons sonde voor God weg te neem.

Net die gelowige wat met ‘n opregte hart glo dat Jesus Christus alleen ons met God versoen, kan met Nagmaal in die teenwoordigheid van die heilige God kom.

Elkeen van ons moet daarom deur die Heilige Gees ons baie goed voorberei en deeglik selfondersoek doen voor ons Nagmaal gebruik

Wie dit nie doen nie, eet en drink ‘n oordeel oor hom- of haarself. God se oordeel oor sonde is die ewige dood.

Kom daarom met ‘n goedvoorbereide hart Nagmaal toe.

Hoor en glo die boodskap dat Jesus Christus, net Hy, jou met God versoen het.

Kry by die Heilige Gees weer die sekerheid van jou versoening met God.

Gaan met ‘n sterker geloof van hier af die lewe verder in.