Ons Kerkgebou

God dink in genade aan ons, sodat ons in gehoorsaamheid aan Hom sal dink

Sang vooraf met die oog op die verootmoediging: Ps.36:1,2,3 en Ps.69:1,3,12

Votum: Ps.124:8

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: Ps.66:1,2

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang:Sb.12-3:1,2

Die Wet: Deuteronomium 5 en Mt.5:19

Antwoord op die Wet: Ps.32:3

Gebed

Sang: Ps.34:1,2,4

Lees: Psalm 8

Kernvers: Ps.8:4-6

Tema: God dink in genade aan ons, sodat ons in gehoorsaamheid aan Hom sal dink

Sang: Ps. 66:1,2; Sb.12-3:1,2; Ps.32:3; Ps.34:1,2,4; Sb.10-2

Inleiding:

Dawid was ‘n gelowige wat God geken het. Hy het Psalm 8 geskryf om aan God as die Skepper van die hemel en die aarde die eer te gee. Ons het die Heilige Gees in ons. Ons is as gelowiges saam om aan God al die eer te gee in ‘n erediens waar ons ons voorberei met die oog op nagmaal, as die Here wil en om ons voor die heilige God te verrootmoedig.

Tema: God dink in genade aan ons, sodat ons in gehoorsaamheid aan Hom sal dink

  1. Genade in die skepping

Dawid het baie oor God die almagtige Skepper in hierdie psalm geskryf. Kom ons kyk en luister na wat Dawid alles geskryf het.

Vs 2 – Die Here is die Skepper van die aarde. Sy Naam is wonderbaar (83 vert) of heerlik (53 vert) oor die hele aarde. Die woorde beteken dat die aarde getuig van Wie God Is – die almagtige en volmaakte Skepper.

–  Die Here het ales in die hemelruim geplaas. Dit getuig van sy almag en sy volmaaktheid as God.

Vs 3 – Jong kinders, babas getuig, eintlik het Dawid geskryf, hulle sing oor die magtige werk van God. Dit is sy almag.

Vs 4 –  Die hemele, met die maan en die sterre wat God geskep het, getuig van sy almag en terselfdertyd van sy genade. Die almagtige Skepper van die hemel en die aarde het Hom in genade aan nietige mense gebind. Hierdie baie belangrike waarheid lê opgesluit in die tweede en die tiende vers waarin die volgende woorde voorkom:“Here, ons Here”. Die Naam wat Dawid vir God in hierdie psalm gebruik is sy Naam as Verbondsgod.

Vs 6 – God het die mens net minder as ‘n hemelse wese gemaak. Dawid skryf hier in psalm 8 oor die mens wat God as hoogtepunte van sy skepping gemaak het, toe Hy die mens na sy beeld geskep het (Gen.1:27).

Vs 7 – Die Here het die mens as heerser oor die skepping aangestel om sy skepping te bewoon en te bewerk en op te pas.

Wanneer ‘n mens so na die almag van God in die skepping kyk en jy dink diep daaroor na, kom ‘n mens by een belangrike waarheid uit: Ons kry in die skepping God se genade vir ons. Daar is baie meer hieroor te sê as wat Dawid in psalm 8 oor geskryf het. Wanneer ‘n mens die openbaringsgeskiedenis van die skepping in Gen.1 en 2 lees, kom mens onder die diep indruk van God se genade vir ons in sy skepping. God het in genade aan ons gedink tgoe Hy alles in die begin geskep het.

  1. Die sondige mens verniel die skepping

Die afgelope week was daar baie berigte in die media oor ‘n verslag oor klimaatverwarming. Wat ‘n mens gehoor het, was dat die tyd vir die mensdom min raak om die vernieling van die aarde te stop en om te keer.

Dit is belangrik dat ons hier versigtig sal wees en sommer met ons menslike gedagte ‘n is-gelyk-aan-teken te sit tussen die vuur en swael waardeur die hemel en die aarde sal vergaan en klimaatverwarming. ‘n Mens word dan gerus en dink dit is maar hoe die aarde aan sy einde moet kom. Waar in die Bybel kry ons dit dat ons as mense moet eintlik die hemel en die aarde laat vergaan? Waar kry ons dit dat ons as mense die vuur en die swael moet veroorsaak? Die almagtige en heilige God sal op sy tyd en sy manier self, sonder mensehulp sy einddoel met die hemel en die aarde bereik en dit alles laat vergaan.

Intussen is die mensdom besig om die aarde, God se skepping wat aan Hom behoort te verniel.

Regerings van die lande in die wêreld praat reeds vir dekades oor die omkeer van die koolsuurgasspoor wat te groot en te erg en te swaar is. Ongelukkig bly dit hoofsaaklik by praat.

Nader aan ons – Dele van Pretoria is baie vuil. Papier en plastiek lê in die strate. Dit is nie skadeloos nie. Om die stad se strate vuil te mors, verniel die skepping. Nog nader aan ons – Die ligte van ‘n vertrek wat ons saans aan los, selfs al is ons van plan om ‘n hele ruk uit die vertrek weg te wees, is om die skepping te verniel. Daar is nog baie om hieroor te sê, maar hierdie is reeds genoeg, sodat elkeen wat wil hoor, sal besef dat ons voor God skuldig staan met die manier waarop ons met sy skepping omgaan. Ons probeer as gemeente om die skepping nie te verniel nie, maar dit is nog te min.

  1. Genade in God se Woord

Dawid het na die skepping gekyk en God se genade in sy skepping raak gesien. Maar, Dawid het ook God se Woord geken. Hy het die boeke van Moses geken. Hy het geweet van die genade ook in God se Woord.

Dawid het aan die begin en die einde so oor God gepraat: “Here, ons Here” (Ps.8:2,10). Hy het hier van die Here as ons Verbondsgod gepraat.

Die genadeverbond getuig van God se ewige liefde en ewige genade vir sondige mense. Ons wat die Nuwe Testament het, weet dat elkeen wat aan Jesus Christus behoort, die nageslag van Abraham is en ‘n kind en erfgenaam van God in sy genadeverbond is.

Ons weet ook ons behoort aan Jesus Christus, omdat Hy ons syne gemaak het. Hy het ons sonde op Hom geneem. Hy het bitter swaar vir ons gely. Hy het vir ons ‘n verskriklike dood aan die kruis gesterf. Deur sy kosbare bloed en liggaam aan die kruis, het Hy ons syne gemaak. Hy het ook vir ons opgestaan uit die dood. Deur sy opstanding het Hy aan ons die nuwe lewe, die ewige lewe met God gegee.

Dit is dan die genade in God se Woord: God het uit liefde sy Seun vir ons gegee (1 Joh.4:9). Jesus Christus het uit liefde sy lewe vir ons gegee (Joh.15:13). Ons behoort nou met liggaam en siel tydens ons lewe op aarde en in ons lewe hierna aan Jesus Christus, ons Verlosser (Die Heidelbergse Kategismus, Sondag 1) en deur Jesus Christus aan God.

  1. Die sondige mens is ongehoorsaam

Soos Dawid destyds was toe hy psalm 8 geskryf het het hy baie genade en liefde van God ontvang. Soos ons vandag hier is, kan ons van dieselfde getuig. Ons het baie genade en liefde van God ontvang. Dat ons gelowiges in Christus se kerk mag wees, getuig reeds van soveel genade en liefde vir ons – die genade van die kruis, die oop graf, Christus se hemelvaart en die koms van die Heilige Gees na Christus se kerk toe.

Die sondige mens se antwoord op al hierdie genade en liefde, is om God lief te hê met my hele lewe. Liefde vir God bestaan daarin dat ons sy gebooie sal gehoorsaam. So het Johannes deur die Heilige Gees in sy eerste brief geskryf ( 1 Joh.5:3).

Maar…..daar is heeltemal te min liefde vir God in hierdie land. Sy gebooie word elke dag deur miljoene mense oortree. En dit is nie oordrywing nie – die eerste gebod oor die enige ware God, die tweede gebod oor eiewillige godsdiens, die derde gebod oor God se heilige Naam, die sesde gebod oor doodmaak, die agtste gebod oor steel en so kan mens elke gebod opnoem. Elkeen word elke dag deur baie oortree. Ons leef in ‘n sondige land waar die mense God nie gehoorsaam nie, omdat die mense Hom nie liefhet nie.

Daar is ook heeltemal te min liefde vir God in sy kerk wat aan Hom behoort. Ons kan maar weer gebod na gebod opnoem wat die gelowiges elke dag oortree. Omdat daar te min liefde vir God in sy kerk is, is daar te min gehoorsaamheid aan Hom in sy kerk.

  1. Verootmoediging met berou en belydenis is nodig

Waar laat God se genade en liefde aan die eenkant en ons sonde aan die anderkant ons nou?

In die eerste plek mag niemand van ons ontken dat ons sonde voor God het nie. Ons sonde is nie vae en algemene dinge nie. Ons het gedagtes wat ons dink, woorde wat ons sê en dinge wat ons doen wat direk teen God se wil is. Ons het ook gedagtes wat ons behoort te dink, woorde wat ons gereeld behoort te sê en dinge wat ons openlik behoort te doen, omdat God dit alles verwag; maar ons laat al hierdie dinge na en doen dit nie. Dit is ook sonde voor die heilige God.

In die tweede plek, het ons nodig om te doen wat die Here ons wys om te doen. Ons kry hierdie pad wat die Here ons wys in die Ou en die Nuwe Testament –

Ps.51:19“Die offer wat U wil hê, o God is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.”

1 Joh.1:9“Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

 Wat nou nodig is, is berou in ons gedagtes en hart oor ons sondes, belydenis van ons sondes en ‘n lewe van verootmoediging waarin ons erken dat God almagtig en heilig is en ons nietig en sondig.

  1. Op grond van Jesus Christus kan ons na God toe gaan

Wanneer ‘n mens jou voor God verootmoedig, is dit baie belangrik en baie nodig om met nederigheid en berou na Hom toe te gaan.

Die rede hiervoor is: Ons verdien nie die genade van vergifnis nie, want ons is sondig. Nou vra ons juis vergifnis wat ons nie verdien nie.

Hoe sal ons dan na God toe kan gaan met ons berou en belydenis en verootmoediging?

Toe Jesus Christus aan die kruis gesterf het, het die voorhangsel van die Allerheiligste, die gordyn wat gewys het op die skeiding tussen God en mens van bo tot onder middeldeur geskeur. Dit beteken dat Jesus Christus deur sy dood die pad na God oopgemaak het.

Op grond van Jesus Christus, ons Verlosser wat vir ons gesterf en opgestaan het, kan ons na God toe gaan met harte vol berou en verootmoediging. Ons kan ons sonde voor Hom bely en om vergifnis pleit. Omdat sy Seun vir ons by sy Vader intree en vir ons bid, sal die heilige God ons hoor.

Vandag en as die Here wil, volgende Sondag, het ons twee dae van verootmoediging. Wat hierna nodig is, is dat ons elkeen ook ‘n lewe van verootmoediging sal leef. Met die Heilige Gees in ons, is so ‘n lewe voor God moontlik. Die Gees gaan ons juis elke keer met nagmaaal versterk om ‘n lewe van gelowige verootmoediging voor die Here te leef.

Gebed: Die gemeente sing Sb.10-2

Gebed om die seën van die Here

Amen