Ons Kerkgebou

Argiewe

By die Here ons Verbondsgod is daar altyd lewe

Lees: Genesis 22 (53-vertaling)

Inleiding:

Die Here praat met ons. Dit is genade. Hy praat met ons in ‘n hoofstuk soos Genesis 22. Hy vertel vir ons dat Hy die God is by wie daar altyd lewe is. Dit is genade om te hoor wat ons Verbondsgod vir ons sê.

Tema: By die Here ons Verbondsgod is daar altyd lewe

  1. Die Here is alwetend en volmaak in wat Hy doen in sy genadeverbond

Genesis 22 begin met ‘n opdrag van die Here aan Abraham: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moria en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat ek jou sal aanwys” (Gen.22:2).

Van Abraham se kant af gesien, was hierdie ‘n verskriklike opdrag. Daar was geen twyfel oor wat Abraham moes doen nie. Die manier waarop die Here vir Abraham gesê het om Isak te gaan offer, het dit vir Abraham baie duidelik gemaak wat die Here van hom verwag het en dat daar nie plek vir redeneer met God was nie.

Die opdrag was ook ‘n baie vreemde opdrag wat van Abraham se kant gesien, glad nie sin gemaak het nie. Isak was dan die kind wat die Here belowe het, sodat daar baie nasies uit Abraham sou voortkom.

Wat moet ek met ‘n hoofstuk in die Bybel soos hierdie maak?

Waneer die Bybel oop is by Genesis 22 is dit baie belangrik dat elkeen wat lees of luister ‘n hele klomp baie belangrike dinge sal besef.

  • Die eerste: God het hierdie hoofstuk in hierdie eerste boek doelbewus deel van sy Woord gemaak. Die Here wou hierdie geskiedenis van die begin af in sy Woord gehad het, vir ons om te lees. Daarom kan ons vanoggend in ons erediens na Genesis 22 luister.
  • Die lewende God praat met elkeen van ons in Genesis 22. Wanneer die Here praat, kan mens nie net die deel lees en dink dit gaan oor Abraham wat Isak moes offer en dat die Here op die ou einde ‘n bokram voorsien het wat Abraham toe in die plek van Isak geoffer het nie. Die Here praat in hierdie geskiedenis oor Homself. Daarom noem ons die geskiedenis in die Bybel, OPENBARINGSGESKIEDENIS!!! God maak openbaar Homself, of in ander woorde gesê, Hy maak Homself in hierdie geskiedenis bekend.
  • Wanneer ek met Genesis 22 besig is, sal ek vrae aan myself moet vra en antwoorde op die vrae moet kry. Daar is ‘n hele klomp vrae wat ek moet vra en waarop ek antwoorde moet kry. Vanoggend kyk ons net na twee:
  • Wat sê God van Homself?
  • Wat verwag Hy van my?

Dit is nodig dat ons hierdie baie belangrike dinge sal weet. Waarom? Sonder om dieper te lees en te luister, sal ons net by Abraham bly en die Here nie leer ken nie. Wie die Here nie ken nie, het nie die ewige lewe nie. Wie die Bybel ken, het die kennis wat verlossing kan gee deur geloof in Jesus Christus. Dit is daarom regtig noodsaaklik om God in Genesis 22 te leer ken en nie net vir Abraham nie.

Met hierdie agter die rug, kan ons nou na die hoofstuk self kyk.

Die kernvers vir die preek is die volgende woorde: “So het hulle twee dan saamgeloop” (Gen.1:8b). Die woord “So” is nou belangrik. Abraham en Isak was in die genadeverbond. Hulle het onder die opdrag van ons Verbondsgod so saamgeloop.

Vir Abraham was die opdrag baie vreemd en baie erg. Isak het nie geweet wat die volle opdrag van die Here was nie. Maar die Here het alles geweet. Hy het voorheen vir Abraham as mens ook die vreemdste dinge gesê. Hy het vir Abraham gesê om heeltemal weg te trek uit sy bekende omgewing en van al sy familie af. Hy het ook gesê dat Abraham en Sara ‘n groot verbondsnageslag sou hê, al het hulle geen kinders gehad nie. Die Here het verder gesê Abraham en Sara sou op ‘n baie hoë ouderdom toe hulle menslik gesproke glad nie meer kinders kon hê, ‘n eie seun hê. Die geskiedenis gaan baie verder. Die Here het Isak laat bly lewe. Vir Hom is Jakob gebore. Jakob het twaalf seuns gehad. Uit hulle het die twaalf stamme van die verbondsvolk ontstaan. Die verbondsvolk het gegroei tot duisende. Uit Juda is die Verlosser gebore. Die Verlosser het apostels gestuur om nie net aan die Jode nie, maar tot aan die uithoeke van die aarde God se Woord van genade uit te dra. Vandag kan ons sê dat die nageslag van Abraham is soos die sand van die see en die strre in die hemel, te veel om te kan tel. Uiteindelik sal die nageslag van Abraham, ‘n ontelbare skare gelowiges ewig by  God in die hemel wees.

Wat leer ons van God in hierdie geskiedenis?

Die Here is alwetend en volmaak in wat Hy doen in sy genadeverbond.

‘n Laaste saak onder die eerste kerngedagte: Die Here vertel ons nie hierdie geskiedenis vanuit Abraham se oogpunt en hoe hy gevoel het nie. Die Here vertel ons hierdie geskiedenis van sy kant af.

Leer ons nie hieruit ‘n baie belangrike ding nie? Wanneer ons swaarkry, of dit ‘n gevaarlike virus is waardeur ons baie ingeperk word, of dit siekte is of enige terugslag wat ons baie swaar laat kry, is ons geneig om wat gebeur net van ons kant af te sien en net die swaar raak te sien. Ons vra ook dikwels: Here waarom gebeur hierdie vreeslike swaar met my?

Die Here leer ons in Genesis 22 om wanneer ons swaakry eintlik eerste te vra en uit te vind wat die alwetende en volmaakte Here se plan met my swaarkry in die genadeverbond is.

  1. Hy vra van my allesoorheersende geloof

Ons kyk met hierdie kerngedagte na die vraag: Wat verwag die Here van my wanneer Hy met my in Genesis 22 praat?

Voor ons by die vraag self kom, eers die volgende: Onthou ek is in die genadeverbond. ‘n Ander woord vir verbond is testament. Ek luister daarom as kind en erfgenaam in die genadeverbond na wat God vir my sê. Dat ek in die Here se genadeverbond is, is wonderlike genade in my lewe.

Die Here het sy genadeverbond met Abraham en sy nageslag gesluit. Abraham het by God geloof gekry en deur sy geloof het hy in die genadeverbond geleef.

Die vraag is nou: Hoe kom ek in die genadeverbond?

Jesus Christus bring my in die genadeverbond. Hy neem my sonde op Hom. Hy sterf vir my aan die kruis op Golgota. Hy betaal deur sy dood al my sondeskuld, verlos my van die mag wat sonde oor my gehad het en bring my weer by God. Hy staan vir my op uit die dood en gee aan my nuwe lewe, die ewige lewe. Deur sy kruisiging en opstanding het Christus elkeen wat in Hom glo, syne gemaak. Ek het die Heilige Gees in my. Die Gees gee aan my geloof in Christus en deur my geloof behoort ek aan Hom. Omdat ek aan Jesus Christus behoort, is ek deel van die nageslag van Abraham (Gal.3:29) en in die genadeverbond.

Wat verwag die Here van my in die genadeverbond?

Ons begin by wat Hy van Abraham verwag het. Dit is op die oog af ‘n moeilike vraag. Die vraag is net moeilik wanneer ek die antwoord net in Genesis 22 soek.

Die Bybel is ‘n Biblioteek van 66 boeke en twee testamente, maar is die een Woord van God. Al die boeke vorm ‘n hegte eenheid. Daar is ‘n belangrike reël, wat ons een van die goue reëls vir die lees en verstaan van die Bybel kan noem. Wanneer een deel vir jou onduidelik is, soek ‘n ander deel in die Bybel wat jou hierdie deel duidelik maak. Vir die openbaringsgeskiedenis waarin die Here van Abraham vertel, kan mens na Romeine 4 of Hebreërs 11 toe gaan.

Vir die offer van Isak, is Hebreërs 11 die deel wat ons help.

‘n Mens lees in Gen.22 dat Abraham niks vir die Here gevra of gesê het nie. Hy het alles gereed gemaak en na Moria vertrek soos die Here hom beveel het.

Abraham was nie ‘n volmaakte mens nie. Sy sonde word in Genesis vertel. Hy het in sy lewe baie groot foute gemaak. Wat het dan gemaak, dat hy die Here sonder enige teëstribbeling gehoorsaam het?

Ons kry die antwoord in Hebr.11:17-19 – :” Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is:” Uit Isak sal jou nageslag gebore word” het gereed gestaan om sy enigste Seun te offer. Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel terug ontvang het”.

Die Here het van Abraham in die genadeverbond verwag om te glo dat God die mag gehad het om Isak uit die dood te laat opstaan. Ons kan sê die Here het van Abraham geloof verwag wat bo sy verskriklike omstandighede uitgestyg het. Abraham het hierdie geloof gehad, is die getuienis in Hebr.11.

Wanneer Abraham en Isak saam geloof het na Moria toe, het Abraham met opstandingsgeloof in sy hart geloop.

Wat verwag die Here van my in Genesis 22?

Die Here verwag dat ek ‘n opstandingsgeloof sal hê. Dit is ‘n vaste geloof dat Hy vir my lewe uit die sondedood waarin ek was, gegee het. Hy het vir my lewe gegee deur sy Seun wat vir my gesterf en opgestaan het. Met die geloof wat die Heilige Gees vir my gee, staan ek elke dag op en leef ek as nuwe mens in die genadeverbond naby God en vir Hom. Ek leef in die genadeverbond met liefde vir God. Omdat ek Hom liefhet, gehoorsaam ek Hom.

Die Here verwag verder ‘n vaste geloof oor die opstanding van my ligggaam wanneer Jesus Christus weer kom. Hy verwag dat ek met opstandingsgeloof oor my eie dood sal dink, sodat ek nie in vrees sal leef nie, maar met die geloof in my hart dat die lewe vir my Christus is en die dood ‘n wins, soos Paulus gelowig bely het.

  1. Hy gee aan elke ware gelowige in die genadeverbond ewige lewe

Die Here verwag van my opstandingsgeloof in die genadeverbond, omdat Hy die God is wat opstanding en lewe gee.

Hy het vir Abraham en Sara ‘n kind gegee waar lewe nie meer moontlik was nie, omdat hulle lank reeds verby die ouderdom was waar hulle kinders in die wêreld kon bring.

Soos Abraham en Isak saamgeloop het Moria toe, het Abraham in werklikheid reeds vir Isak as offer aan die Here afgestaan. Die Here het vir Isak aan hom teruggegee, as’t ware uit die dood uit.

Ons wat in die Nuwe Testamentiese tyd leef, na Jesus Christus se koms na die aarde toe, weet en glo dat God deur Jesus Christus ewige lewe uit die dood gee.

  • Jesus Christus self het gesterf en Hy het weer opgestaan en na die hemel opgevaar.
  • Ek self was dood in die sonde en onder die mag van die duiwel. Deur my geloof in Christus wat vir my gesterf en opgestaan het, het ek nou nuwe lewe, die ewige lewe.
  • Die Heilige Gees wat in my leef, lei my om as verloste gelowige in die ewige genadeverbond nuut te lewe.
  • Ek het die vaste geloofsekerheid dat ek nadat die Here my lewe op aarde beëindig het, ek by Hom ewig in die hemel sal leef.

Met die eerste oogopslag lyk Genesis 22 na ‘n hoofstuk met ‘n vreemde geskiedenis. Wanneer ek dieper kyk, laat die Heilige Gees my raaksien dat die hoofstuk oor ons Verbondsgod gaan by wie daar altyd lewe is.

Dawid en Rispa: Verootmoediging…liefde…geloofskrag

Lees: 2 Samuel 21:1-14

Inleiding:

Hierdie nuutste Koronavirus veroorsaak dat elkeen van ons onder moeilike omstandighede in ons land leef. Die swaakry wat ons reeds voor die virus in ons lewe gehad het, het nou net meer en moeiliker en duideliker geword.

Wat moet ‘n Christengelowige in so ‘n tyd doen?

Wat sê die Here vir ons hieroor?

Tema: Dawid en Rispa: Verootmoediging….liefde….geloofskrag

  1. Buitengewone moeilike omstandighede vra verootmoediging

Op ‘n keer het Israel deur ‘n baie moeilike tyd gegaan. Vir drie jaar aanmekaar was dit baie droog. Bitter min, indien enigiets kon geplant word. Israel het ‘n hongersnood beleef, wat buitengewoon erg was.

Soms is droogte en hongersnood die algemene gevolg van die sondeval in die paradys. Wanneer die moeilike tyd buitengewoon is, behoort mens daaroor na te dink en dieper te kyk na wat gebeur.

Dawid het die Here gevra. Hy het waarskynlik, soos hy dikwels gedoen het, die hoëpriester gevra om by die Here uit te vind wat die rede vir die verskriklike droogte was.

Die Here het Dawid geantwoord. Die rede vir die buitengewone droogte en die gevolglike hongersnood was dat Saul die verbond voor die Here met die Gibeoniete gebreek het. ‘n Mens kry die verbond in Josua 9.

Saul het van die mense van Gibeon laat doodmaak. Hy het daardeur eiewillig opgetree en die Naam van die Here in oneer gebring.

Mens wil dink, maar dit het met Dawid niks te doen gehad nie en Saul was reeds dood. Die Here kyk anders na sonde. Israel se koning het gesondig. Die sondeskuld was ook op Israel. Die Here laat sonde nie net verbygaan nie. Hy het teen Israel opgetree. Hy het ‘n baie ernstige droogte oor die land gebring wat die land met te min kos gelaat het en in hongersnood.

Sonde het gevolge, baie erger as wat ons dink.

Wat is sonde?

  • Om die doel te mis waarvoor God jou op die aarde geplaas het.
  • Sonde is ongehoorsaamheid aan God, wat gehoorsaamheid aan sy groot teenstander, Satan beteken. Daar is nie neutrale plek in die heelal nie. Dit is of God of Satan.
  • Sonde vervreem jou van God en het gevolge langer as wat jou lewe duur.

Soms beskik God buitengewone omstandighede om ons by dit wat Hy in sy Woord sê, tot inkeer te bring.

Hoe sal ons die jaar 2020 beskryf?

Is die Koronavirus eintlik maar net soos ‘n griepvirus en niks ernstig nie?

Maak die politici en die media die virus erger as wat dit is?

Of het ons in 2020 te doen met buitengewone beproewing?

Die inperking, die simptome, die uitwerking op die kerk, die ekonomie, die mediese sektor van die land, die gebrek aan ‘n teenmiddel wys op ‘n virus wat nie gewoonweg is nie.

Dit is nodig dat ons dieper oor 2020 sal nadink.

Pasop vir kitsantwoorde soos:

  • Die Here wil die wêreldbevolking minder maak. Dit is ‘n maklike antwoord vir die rede van die Koronavirus, want die rede vir die virus is ver van ons af.
  • Die wetteloosheid in die land is nog ‘n rede. Eweneens is dit ‘n rede ver van ons af. Om vinnige antwoorde ver van jou af te soek, bring ‘n mens nêrens.

Die Here het vir Dawid die rede vir die droogte en hongersnood gegee: Saul en Israel se sonde.

Dawid het die Here se Woord gegelo. Hy het besluit om geregtigheid vir wat Israel verkeerd gedoen het. Te laat geskied. Die geregtigheid het uitgeloop op sewe mans uit Saul se familie se dood. Die mans moes gedood word en voor die Here opgehang word in Gibea waar Saul gebly het. Die stad waar Saul in die begin van sy regering gebly het, het ‘n stad geword waar die Here sy oordeel oor sonde gewys het.

Dit mag vir ons verskriklik klink dat die sewe mans doodgemaak is. Sonde is nie iets klein nie. Die Here is baie ernstig oor sonde. Hy straf sonde nie ligtelik nie. Ons bely in die Kategismus, Sondag 4 dat die Here Hom verskriklik oor sonde vertoorn. Hy straf sonde met die dood. Die Here het in sy verbond met Noag bepaal dat die mens wat ‘n lewe neem, met sy lewe sal betaal. Op pad na Kanaän het party Israeliete by Sittim saam met Moabitiese vroue die afgode van Moab vereer. Die Here het Moses beveel om die leiers van daardie mans in die openbaar op te hang (Num.25:4).

Ons het genoeg rede om ons oor sonde voor die Here te verootmoedig.

  • Ek het self sonde. Indien daar enigiemand van ons is wat nie weet watter sonde ek het waarvan ek my moet bekeer nie, ken ek die Bybel en die Here nie goed genoeg nie.
  • Indien enigiemand dink my gesin en familie het nie sonde waaroor die Here baie ernstig is nie, moet ek maar weer dink.
  • Indien ek dink ons gemeente is nie ‘n gemeente met sonde nie, is dit hoogtyd dat ek saam met die ander gelowiges in die gemeente die Bybel baie beter leer ken en die Here baie beter leer ken.
  • Dan leef ons in ‘n sondige land met baie sonde. Die meerderheid mense in ons land ken die ware God nie en leef nie uit liefde vir Hom gehoorsaam aan Hom nie. Hierdie land en sy mense sondig baie.

Onder buitengewone omstandighede is verootmoediging nodig.

Verootmoediging is–

  • Luister na God se Woord.
  • Sien deur die Gees die sonde in jou, hou gesin en familie, jou gemeente en jou land raak.
  • Verootmoedig jou in gebed. Bely al jou sonde openlik voor die Here. Erken dat jy en ander saam met jou baie gesondig het en vra vir genade en vergifnis.
  • Jy mag so bid op grond van Christus.
  • Verootmoedig jou deur anders te begin lewe.
  • Wie in Christus glo, breek deur die Gees met die ou sondige mens en leef nuut vir God.

Wanneer ek voor die Here kom met ‘n hart vol berou, sal Hy my nie wegwys nie.

Maskers, sanitering en afstand help teen die virus.

‘n Teenmiddel sal ook help.

Wat eintlik nodig is, is verootmoediging voor die Here.

  1. Liefde en geloofskrag is ‘n gelowige se antwoord in ‘n swaarkrytyd

Nou gee ons aandag aan Rispa. Haar ma was Aja. Rispa was ‘n byvrou van Saul. Sy is verskriklik swaar getref deur die sonde wat Saul gedoen het. Rispa het twee seuns by Saul gehad. Hulle name was Armoni en Mefiboset. Dawid het Rispa se twee seuns en vyf seuns van Saul se dogter Merab aan die Gibeoniete uitgelewer. Die Gibeoniete het hierdie vyf mans doodgemaak en hulle voor die Here opgehang.

In hierdie geskiedenis was Rispa magteloos oor wat in haar lewe gebeur. As vrou het sy in ‘n primitiewe tyd geleef waar ‘n vrou weerloos teen die samelewing was. Sy was magteloos teen Saul, teen Abner, teen die Gibeoniete. Sonde in die sondige en stukkende wêreld het vir Rispa baie hartseer gebring.

Wat het sy met haar verskriklike hartseer gedoen?

Rispa het rouklere gevat. Sy het die rouklere op ‘n rots naby waar die sewe mans opgehang is, gegooi. Sy het hulle liggame opgepas. Roofvoëls kon bedags nie naby die liggame van die jongmans kom nie en snags ook nie die roofdiere nie. Rispa het haar lewe opgeoffer van die begin van die oestyd tot die reëntyd aangebreek het. Gewoonlik was die tyd tussen die oes en die eerste reën ses maande.

Hoe moet ons verstaan wat Rispa gedoen het?

Sy het in liefde opgetree. Liefde wat die Here in sy genadeverbond vra, is liefde waar jy jouself verloën, jou self opoffer vir die Here en vir jou medemens. Die liefde wat die Here in die genadeverbond van Israel verwag het, het Rispa gegee.

Sy het met geloofskrag opgetree. Rispa het haar nie deur daardie verskriklike terugslag en hartseer laat onderkry nie. Sy het met geloofskrag opgetree. Sy het nie eerste aan haarself en haar swaakry gedink nie, maar onselfsugtig aan ander gedink en aan hulle goed gedoen.

Waar kry mens soveel liefde?

God wys hierdie liefde deur Jesus Christus. Hy gee sy Seun uit liefde. Jesus neem ons sonde op Hom en gee aan die kruis sy lewe uit liefde vir ons. Hy verlos my van die sonde van eiewilligheid en selfsug. Hy maak my nuut, sodat ek God en my medemens lief kan hê. Hy staan vir my op uit die graf en maak my nuut. As nuwe mens leef ek met liefde vir God en liefde vir ‘n ander.

Waar kry mens soveel krag?

God werk die krag in ‘n mens. Hy werk in elke gelowige dieselfde krag wat Hy gewerk het toe Hy Jesus Christus uit die dood laat opstaan het. Die Heilige Gees wat in my is, gee vir my krag en liefde en selfbeheersing.

‘n Lewe van liefde en geloofskrag, is wat God wil sien by ‘n gelowige en ‘n gemeente in die genadeverbond.

Ons beleef baie moeilike omstandighede met die virus en al die gevolge van die virus, soos inperking van ons beweging, die inkrimping van ons land se ekonomie, die verlies aan werk en inkomste, die druk in skole en universiteite, die gevaar waaraan ons almal elke dag blootgestel is. Die Koronavirus is nie die enigste wat baie moeilike omstandighede veroorsaak nie. My eie gesondheid met al die probleme wat ek met my gesondheid het, kan my eweneens baie swaar laat kry.

Die Here vra in sulke moeilike omstandighede liefde vir Hom en vir mekaar.

Die Here vra geloofskrag van elkeen van ons. Deur geloofskrag sal elkeen van ons in die genadeverbond kan leef soos God van ons vra.

Wat is die uiteinde van verootmoediging…liefde…geloofskrag?

  1. Die Here gee uitkoms binne die genadeverbond

Aan die einde van hierdie openbaringsgeskiedenis staan die woorde: “Daarna het God weer gebede vir die land verhoor” (2 Sam.21:14).

Hierdie is sulke belangrike woorde. Israel het deur ongehoorsaamheid, gebrek aan liefde en eiewillige geloof die genadeverbond gebreek. Israel, die verbondsvolk, het nie meer in die verbond geleef, soos God verwag het nie. Die gevolg van die breek van die genadeverbond was die groot droogte en ernstige hongersnood wat God laat uitbreek het.

Nadat die Here weer verootmoediging, liefde en geloofskrag in Israel gesien het het Hy die swaarkry verander. Toe Israel weer in die genadeverbond naby God en vir Hom geleef het, het hulle weer in die genade en seën van die verbond gedeel.

Waar laat dit ons?

  • Wanneer ek, my gesin, my gemeente of my land sondig, breek ons die Here se genadeverbond. Dit is sonde. Wie sondig kan nie verwag om in die seën van die Here in die genadeverbond te leef nie.
  • Wanneer ek, my gesin, my gemeente, my land ons voor die Here verootmoedig en ons die liefde en geloof in die genadeverbond wys, wat God verwag, leef ons binne die genadeverbond naby Hom en vir Hom.
  • Wanneer ek, my gesin, my gemeente en my land naby God leef, kan ons uitkoms uit moeilike omstandighede en seën in die genadeverbond verwag.

Dit is met hierdie moeilike omstandighede waarin ons ons bevind, regtig nodig om ‘n hoofstuk soos 2 Sam.21:1-14 ter harte te neem en met geloof in Christus deur die Heilige Gees, so in die genadeverbond te leef soos die Here van ons verwag.

Ek behoort vir ewig aan my Verlosser, Jesus Christus

Lees: 1 Petrus 1:3-21

Inleiding:

Elke verloste Christen het troos nodig. Ek wat in Suid-Afrika, ‘n sondige en stukkende land bly, het troos nodig. Veral in ‘n jaar soos hierdie het ek nodig dat my God my troos. En…Hy doen deur sy Woord en sy Gees juis dit. Hy troos my.

Tema: Ek behoort vir ewig aan my Verlosser, Jesus Christus

  1. Ek leef getroos, want ek is seker ek is losgekoop

Petrus het sy brief geskryf aan “vreemdelinge in die wêreld wat verspreid gewoon het”        (1 Pet.1:1).

Vreemdeling is iemand;

  • Wat op pad is,
  • Wat tydelik vertoef,
  • Sonder burgerskap,
  • Sonder eiendom.

Die eerste lesers van die brief was sulke vreemdelinge in die wêreld. Hulle was Christene wat oral in Klein-Asië gebly het. Hulle was gewoonlik ‘n klein minderheid omring van ‘n groot heidense wêreld. Die mense in die heidense omgewing het dit baie moeilik vir die Christene gemaak. Die Heilige Gees het Petrus die brief laat skryf om die Christene moed in te praat vir hulle lewe in die sondige en moeilike wêreld.

Aan hierdie mense het Petrus geskryf: “Julle weet tog” (1 Pet.1:18). Wanneer ‘n Christen weet, is die kennis helder in duidelik in jou verstand en vas en seker in jou hart.

Petrus het geskryf dat die Christene destyds geweet het “dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinnelose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus…” (1 Pet.1:18).

Die Here, deur Petrus se brief, herhinner die Christene destyds wat onder baie moeilike omstandighede geleef het, aan Jesus Christus. Hy herhinner hulle aan die wondergenade van Christus in hulle lewe en wat Hy vir hulle gedoen het. Hy het hulle losgekoop. Petrus kon dit skryf, want Jesus se woorde aan die kruis net voor Hy gesterf het:” Dit is volbring” (Joh.19:30) beteken presies dit: Heeltemal losgekoop.

Verlede jaar nog het ons soos al die jare ‘n gewone lewe gehad. Ons het ons huise gehad, ons werk, winkel toe gegaan wanneer nodig, as familie bymekaar gekuier en elke Sondag die Here in ‘n erediens ontmoet. Kersfees verlede jaar was min van ons bewus van ‘n vreemde virus wat in China opgemerk is. Op die 26e Maart het ons lewe baie verander. In die meer as vyf maande sedert die grendeltyd begin het, het die meeste van ons seker al besef, die wêreld waarin ons woon is nie die veilige, goeie, maklike plek waar ‘n mens net rustig kan lewe nie.

Al die plekke waarheen ons vroeër sommer maklik gegaan het, het nou deur ‘n onsigbare virus gevaarlike plekke geword. Ons kerkgebou, ons medegelowiges, ons familie en vriende hou nou vir ons gevaar in. Ons beweeg oral met maskers en gesaniteerde hande.

Sommige van ons se werksomstandighede het baie verander. Daar is werke wat toegemaak het, met inkomste wat opgehou het. Ander se werksure het verminder met inkomste wat minder geword het.

Die sonde van geweld en bedrog en ook drankmisbruik in ons land was nog altyd daar. Hierdie sonde het met die grendeltyd net nog duideliker gewys.

Die ergste gevaar waaraan ons almal blootgestel is en wat mens soos die virus ook nie kan sien nie, is God se grootste vyand, die duiwel. Die duiwel werk met verleiding. As ons hom toelaat, beïnvloed hy ons, sodat ons gedagtes weg van God na die verkeerde toe dwaal. Die duiwel hits ons aan, sodat die begeerte na die verkeerde groter word. Wanneer ons toegee aan die verkeerde begeerte, word die begeerte ryp. Die vrug van ‘n begeerte wat ryp geword het, is sonde. Sonde is vyandskap teen God. Vyandskap teen God loop uit op die ewige dood.

Al hierdie dinge is die moeilike omstandighede waarin ons almal is. Die Here wys vir ons in 2020, soos min kere te vore, dat ons vreemdelinge in die wêreld is.

In hierdie omstandighede sê die Here ook vir ons: Julle weet tog, dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van Christus. Daar is net een uitweg onder moeilike omstandighede. In hierdie stukkende en sondige wêreld enland, kan die omstandighede baie keer baie moeilik raak. Hoe moeilik en hoe swaar ookal, daar is ‘n Uitweg. God het vir ons ‘n uitweg.

Die Uitweg is Jesus Christus!

Niemand wat geloof in Christus by die Heilige Gees gekry het, hoef met twyfel en onsekerheid te leef nie. Luister weer na wat ons Here sê: “Julle weet tog”.

Met hierdie sekerheid klink die woorde van ons geloofsbelydenis so: “My enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort” (Hk, Sondag 1). Die Heidelbergse Kategismus is nie net vir katkisante tydens katkisasie nie. Die Kategismus is deel van ons geloofsbelydenis my hele lewe hier op aarde, en juis in ‘n jaar soos 2020.

In hierdie vreemde en moeilike tyd kan ek getroos lewe, want ek is seker ek is losgekoop.

  1. Jesus Christus het die volle prys betaal

Jesus Christus het my losgekoop. Hierdie woord “losgekoop” kom uit die Ou Testament. Die gelowige in Israel moes ‘n offerdier na die tempel toe bring. Die dier, dit kon ‘n bees, ‘n bok, ‘n skaap of selfs ‘n duif wees, is geslag. Die vet van die dier is op die altaar verbrand. Die bloed van die dier is teen die altaar en in die tempel gesprinkel. Van die bloed is op die gelowige gesprinkel. Die dier wat gesterf het en die bloed wat gesprinkel is, het daarop gewys dat die gelowige losgekoop is. Eintlik moes die man of vrou in Israel gesterf het, maar nou het die dier gesterf. Die dier wat gesterf het, het in die Ou Testament gewys op die Verlosser wat sou kom om elkeen wat aan God behoort het, los te koop.

Die woorde “Christus, die Lam wat vlekloos en sonder gebrek is”, is baie belangrik. Vir ‘n dier om geoffer te kon word, sodat die gelowige in Israel sekerheid kon kry dat hy of sy losgekoop is, moes vlekloos en sonder gebrek wees. So het die heilige God dit self bepaal. Alleen so ‘n offer was vir Hom aanvaarbaar.

Ek hoef nou nie meer soos Israel van ouds ‘n offerdier tempel toe te bring nie.

Ek het ‘n offer. Ek het nie self die offer gebring nie. Die offer is vir my gebring.

My offer is Jesus Christus, die Seun van die lewende God!

Jesus was die volmaakte Lam om geoffer te word.

Sy lyding en sy dood aan die kruis was die volmaakte offer vir my, vir elkeen van ons.

Daar aan die kruis op Golgota, buite Jerusalem, het Jesus Christus my straf en oordeel volmaak gedra. Hy het met sy lewe my sondeskuld voor God alles heeltemal betaal.

Hy het my volmaak losgekoop.

  1. Ek behoort aan my Verlosser en deur Hom aan God

Jesus het my met sy kosbare bloed losgekoop van “my oorgeërfde sinlose bestaan”            (1 Pet.1:18).

Elke enkele mens op hierdie aarde het hierdie sinlose doodsbestaan van ons eerste ouers in die paradys geërf. Dit is ‘n bestaan ver van God af, sonder Hom, sinloos, met net een rampspoedige einde.

Van hierdie bestaan het Jesus Christus my losgekoop. Hy het al die mag wat die duiwel en sonde oor my gehad het, met sy bloed gebreek.

Ek is nou Christus s’n. Ek is vir ewig syne. Ek behoort met my liggaam en met my siel aan my Verlosser. Ek behoort aan Hom terwyl ek hier op aarde leef. Ek behoort aan Hom wanneer ek hier op aarde sterf. Ek behoort aan Hom wanneer ek by Hom in die ewigheid leef.

Hy bewaar my. Hy is my ewige Koning wat my lewe regeer. Hy is my ewige Koning wat my beskerm teen al my vyande.

Wat beteken dit vir my dat Jesus Christus my losgekoop het en dat ek nou vir ewig aan Hom behoort?

  • Ek is geestelik verlos en vry van die mag van die duiwel en sonde oor my.
  • Ek behoort vir ewig met my liggaam en my siel aan my Verlosser.
  • Ek is nie bloot oorgelewer aan die moeilike omstandighede in hierdie wêreld en hierdie land van ons nie, want my Verlosser bewaar my, dat sonder die wil van my Vader nie een enkele haar van my kop sal val nie.
  1. Ek rig my hart op my ewige Vader in die hemel

Lewe op aarde vra baie van my. God se woorde aan Adam “in die sweet van jou aangesig, sal jy jou brood verdien” (Gen.3:19), is nog vandag net so waar. Indien ek nie met ‘n gelowige hart nugter en versigtig nie, sal die verdien van my brood my hele lewe oorneem. Werk en al die ander verantwoordelikheid in my lewe kan my gedagtes en my hart oorneem.

Die Koronavirus wat lyk asof hy die wêreld oorgeneem het kan eweneens my gedagtes en my hart oorneem, as ek nie daarteen veg nie.

Die Here leer elkeen van ons hoe om as losgekoopte Christene in 2020 in ons stukkende en sondige land te leef: “Julle geloof en hoop is op God gerig” (1 Pet.1:21).

Hoe leef ek so op God gerig?

Met die Heilige Gees in my –

  • Laat ek nie toe dat ‘n vreemde en gevaarlike virus in 2020 my gedagtes en my hart beheer nie.
  • Veg ek daarteen dat die aardse dinge en verantwoordelikhede vir my die belangrikste in my lewe word.
  • Leef ek doelbewus met die gedagtes in my kop en geloof in my hart, dat God vir my die heel belangrikste Persoon in my lewe is.
  • Leef ek bereid en gewillig om Jesus Christus met oorgawe te dien.
  • Maak ek my elke dag gereed om my Verlosser te ontmoet wanneer Hy my kom haal.

Ek weet ek het troos nodig.

My hart is vol dankbaarheid teenoor die Here, want ek is nie soekend in die donker nie.

Ek het deur die Heilige Gees die sekerheid dat Jesus Christus my losgekoop het en dat ek vir ewig aan Hom behoort.

Hierdie geloofsekerheid in my hart, maak dat ek getroos lewe selfs in ‘n moeilike jaar soos 2020.

Leef in die koninkryk van die hemel deur te wag vir Christus se Wederkoms

Lees: Matteus 13:24-30, 36-43

Inleiding:

‘n Mens kan so besig wees met alles wat in hierdie wêreld gebeur, dat jy nie besef en omtrent nooit daaraan dink dat jy in die koninkryk van die hemel leef en dat Jesus Christus weer kom nie. Jesus is ons Hoogste Profeet en Leraar. Hy praat met ons oor hierdie twee baie belangrike geestelike waarhede in die gelykenis van die goeie saad en die onkruid.

Tema: Leef in die koninkryk van die hemel deur te wag vir Christus se wederkoms

  1. Die koninkryk van die hemel is ‘n werklikheid!

 Dit is die tweede gelykenis waarvan Jesus die betekenis verduidelik het.

Die gelykenis gaan oor die koninkryk en die toekoms van die koninkryk.

Die agtergrond waarteen Jesus die gelykenis vertel het, was dat die Jode ‘n heeltemal ander koninkryk verwag het, as waarvan Jesus gepraat het. Vir hulle was die koninkryk die beloofde land wat die Here aan Israel beloof het. Ten tye van Dawid en Salomo se regering was Israel ‘n baie voorspoedige land op elke gebied. Ten tye van Jesus se koms na die aarde was die Romeine die wêreldheersers. Van die verbondsvolk in die beloofde land, die koninkryk van Israel, het omtrent niks oorgebly nie. Die dissipels en die res van die Jode het van Jesus verwag om Israel weer te laat word soos in die tyd van Dawid en Salomo.

Wanneer Jesus oor die koninkryk van God gepraat het, het die dissipels en die Jode met so ‘n oor geluister en verstaan. Hulle het verwag dat Jesus op ‘n almagtige manier die Romeinse ryk oorwin en so sou wys dat Hy die Verlosser van Israel is.

Wat hulle tot dusver gesien het, was die teenoorgestelde. Daarom het dit dikwels gebeur dat die mense wat Jesus met entoesiasme gevolg het, gou verflou het en hulle van Hom weggegaan het. Dink maar aan die dag by die See van Galilea en Jesus se wonder met die vyf brode en twee vissies. Toe Hy die dieper betekenis van daardie wonder begin verduidelik het, dat enigeen net by Hom as Verlosser kon uitkom, as die Vader in die hemel so iemand na Jesus toe stuur, was dit vir daardie duisende uit Juda net te veel. Almal het omgedraai en weggegaan, almal behalwe die twaalf dissipels (Joh.6:66).

Die dissipels het in Jesus geglo, maar van sy koninkryk het hulle niks verstaan nie, selfs nie eers na sy kruisiging en opstanding nie.

In Matteus 13 kry ons sewe gelykenisse van Jesus, almal oor die koninkryk van die hemel. Jesus het hierdie gelykenisse oor die koninkryk van die hemel vertel, om sy dissipels en die Jode te leer dat die koninkryk van die hemel ‘n werklikheid is.

Hierdie gelykenis is ook vir ons wat die Bybel het, bedoel. Jesus Christus leer ook vir ons dat lewe nie net oor hierdie aardse bestaan gaan nie, maar dat die koninkryk van die hemel ‘n werklikheid is!

  1. Christus het vir my ‘n doel in die wêreld

Daar was ‘n man. So het Jesus hierdie gelykenis, die tweede van sewe in Mt.13, oor die koninkryk van die hemel begin. Die man was ‘n saaiboer. Hy het koring gesaai, goeie saad en ‘n goeie oes verwag.

Die dissipels het Jesus gevra wat die gelykenis beteken. Jesus het geantwoord:

Die man wat die goeiesaad saai, is die Seun van die mens.

Die saailand is die wêreld.

Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk van die hemel.

Hoe saai Jesus Christus goeie saad in die wêreld?

  • God het my lewe op aarde gegee – Hy het my gebore laat word.
  • Voor my geboorte, reeds voor die skepping het Hy besluit dat ek in die koninkryk van die hemel sal wees.
  • Hy het sy Seun gestuur om my oor te bring van die ryk van die duisternis na sy koninkryk, die ryk van die lig.
  • Jesus Christus het my geleer van God se verlossingsplan vir my.
  • Hy het my sonde op Hom geneem en in my plek die straf en oordeel oor my sonde gedra en vir my aan die kruis gesterf.
  • Hy het vir my opgestaan uit die dood en aan my nuwe lewe gegee.
  • Hy het sy Vader gevra en na sy hemelvaart het sy Vader en Hy die Heilige Gees gestuur.
  • Die Heilige Gees, die Gees van Christus lei my om deur geloof en bekering in die koninkryk van die hemel vir Christus te leef.
  • Deur God se Woord te ondersoek en al beter te leer ken, leer ek Christus al beter ken.
  • Ek leef al meer volgens Christus se wil vir my lewe.
  • Deur sy wil al beter en al meer te gehoorsaam, leef ek al meer en al beter na sy beeld en tot God se eer.
  • Hier is Christus se doel vir my lewe: Hy wil dat ek na sy beeld en tot die eer van God sal leef.

Dit is hoe Christus die goeie saad in die wêreld saai.

  1. Die duiwel probeer om hierdie plan te verongeluk

Jesus het verder met die gelykenis gegaan. Een nag, na ‘n dag se harde werk, het die man en sy werkers geslaap. Die vyand van die man het gekom en onkruid tussen die koring gesaai. In die nag het ‘n vyand van die man gekom en onkruid oral op die land gesaai. Die onkruid was giftige gras. Die probleem met hierdie gras is dat dit aan die begin baie soos die goeie saad lyk. Eers wanneer die are ryp geword het en die tyd vir oes aangebreek het, kon mens die verskil sien. Die koringare was groter as die giftige gras. Die koringkorrels was wit en die giftige gras se korrels swart. Die koring sou voedsame brood gee. Die onkruid sou iemand bedwelm en vergiftig.

Hierdie vyand wat die onkruid gesaai het in die gelykenis, het Jesus verduidelik, is die duiwel.

Die duiwel is die vyand van God. Hy het dit al openlik gewys –

  • Met sy verleiding van Eva en Adam om te sondig in die paradys – Gen 3.
  • Met sy versoeking van Jesus in die woestyn – 4.
  • Toe hy Petrus gebruik het om die kruis te probeer verhoed – 16.

Hy werk nie openlik nie. Van die begin af is hy die skelm wat homself versteek soos die vyand wat in die nag toe almal geslaap het, die onkruid gesaai het.

Voorbeelde, daar is baie in die Bybel, van hoe hy sy onkruid skelm saai –

Die vals profete in die paleis van koning Agab van Israel – 2 Kron.18.

In die kring van die dissipels was Judas Iskariot – Joh.6:70.

Annanias en Safffira in die gemeente van Christus in Jerusalem – Ha.5.

In die gemeente in Korinte het mense hulle as Christene voorgedoen, maar hulle lewe het heeltemal die teendeel gewys– 1 Kor.5:11-13.

In die loop van die geskiedenis het hy sy onkruid onvermoeid aangehou saai.  Die onkruid wat die meeste geestelike skade gedoen het, was binne-in die kerk.

  • Sy onkruid het die kerk op ‘n stadium in die geskiedenis laat glo jy kan deur ‘n bedrag geld betaal jou vrykoop van jou sonde.
  • In die geskiedenis was daar leraars en lidmate in die kerk wat nie geglo het God is Drie-enig nie, nie geglo het Christus is self God nie.

Die duiwel saai tot vandag steeds sy onkruid. Die ontstellende in hierdie gelykenis is dat die onkruid, die giftige gras amper net soos die goeie saad, die koring lyk.

Die onkruid is die aanhangers van die Bose. So het Jesus die gelykenis verduidelik. Daar is in die wêreld mense wat aan die Bose behoort. Die Bose is die duiwel, God se groot vyand. Die duiwel saai sy aanhangers tussen die gelowiges in die koninkryk van die hemel. In hierdie gelykenis leer Jesus ons dat ‘n aanhanger van ddie Bose en ‘n gelowige in die koninkryk van die hemel baie dieselfde kan lyk.

Elkeen van ons moet maar by Jesus leer: Nie almal wat lidmate van die kerk is, is met hulle hart deel van Christus se kerk nie –

In die kerk kan daar lidmate wees wat Christus nie regtig ken nie. Dit is nog voordelig om aan die kerk te behoort, want mens hoef geen lastige vrae te antwoord nie. Om Christus te ken, beteken vir so iemand om niks te doen wat openlik lelik en verkeerd is nie en om kerk toe te kom. Lidmaatwees eindig vir so iemand by die uitwendige erediens. Lewe vir Christus met ‘n opreg gelowige hart en volgens God se Woord en die opbou van Christus se gemeente, gebeur in die week nie in hierdie lidmaat se lewe nie.

In die kerk kan daar lidmate wees wat in die geheim gierig is. Iemand wat gierig is, mag byvoorbeeld nie nagmaal gebruik nie, want ‘n gierige lidmaat het nie deel aan die ryk van Christus nie. ‘n Gemeente behoort nie te sukkel om die Here se werk in die wêreld te doen nie. Hoekom is daar dan soveel artikels, soveel briewe, soveel oproepe oor dankoffers wat in gemeentes gedoen word? Is dit nie dalk gierigheid nie? Ons kan miskien antwoord, nee dit is gierigheid nie. Die vraag is: Hoe sien die Here dit?

Elke enkele mens op aarde moet besef: Daar is nie neutrale grond nie. Enige mens is of met jou hele hart gelowige in die koninkryk van die hemel of jy is ‘n aanhanger van die duiwel.

Dit is ‘n baie ernstige probleem dat ‘n gelowige in die koninkryk van die hemel en ‘n lidmaat wat nie aan Christus behoort nie, maar aan die duiwel, dieselfde uiterlike lewe in die kerk kan leef. Dit is ‘n ontstellende gelykenis hierdie.

Vir ‘n lang tyd was die werk van die slegte vyand onsigbaar. Dit was eers toe die koring in die aar begin kom, dat die werkers die verskil kon sien en agtergekom het dat daar onkruid in die land was.

Met oestyd amper op hande, het die onkruid gewys. Die werkers het verbaas gevra oor die gehalte van die saad en waar die onkruid vandaan sou kom. Die boer het geweet waarvandaan. Dit was sy vyand.

  1. Met sy wederkoms sal Hy finaal veroordeel en verlos

Die werkers wou weet dadelik die onkruid tussen die koring uittrek. Die boer het gesê hulle moes wag, want hulle kon die koring saam met die onkruid uittrek. Met die oes sal dit maklik wees om die onkruid uit te trek en te verbrand. Die werkers sal die koring dan kan uittrek en in die skuur stoor.

Die oes is die voleinding van die tyd soos ons dit ken. Jesus Christus kom weer. Wanneer Hy weer kom, sal Hy sy engele uitstuur. Die engele sal die oes insamel. Christus sal die mense in twee groepe verdeel. Die een groep aan sy linkerkant is die aanhangers van die duiwel. Hulle het geweet hulle het gesondig. Hulle het hulle nie bekeer nie. In die groep van die duiwel sal mense wees wat gepreek het, wat wonders gedoen het in in Jesus se Naam duiwels uitgedryf het. Maar, hulle het Hom nooit geken nie en Hy het hulle nie as sy gelowiges geken nie. Almal in die groep van die duiwel sal Hy in die ewige vuur van God se verskriklike oordeel laat beland.

In die ander groep sal Christus die ware gelowiges laat staan. Elkeen in hierdie groep sal besef dit is onverdiende genade. Hierdie mense se geloof in Christus het vir hulle verlossing, vergifnis en vryspraak gebring. Christus het deur sy kruisiging en opstanding hulle sonde heeltemal weggeneem. Hy sal almal by Hom in die hemel opneem om ewig in heerlikheid by Hom te wees.

In elke gelykenis is dit belangrik om by die saak of die punt van vergelyking uit te kom. Waaroor gaan die gelykenis eintlik? Wat wil Jesus tuisbring?

Leef met opregte geloof in die koninkryk van die hemel deur te wag op Christus se wederkoms.

Jesus Christus leer ons in hierdie gelykenis hoe om op sy wederkoms te wag:

  • In die koninkryk van die hemel gaan dit nie in die eerste plek oor wat ‘n mens doen nie, maar wie en wat jy is. Die vraag waaroor elkeen sekerheid moet kry, is: Is ek goeie saad of is ek onkruid? Onthou, niemand van ons is vanself goeie saad nie. Gaan lees weer die preek hoe Christus goeie saad in die wêreld saai. Dink goed en eerlik deur die Heilige Gees hieroor en kom by die antwoord uit: Is ek goeie saad of onkruid?
  • Omdat die aanhangers van die duiwel tussen die ware gelowiges leef en nie maklik uitgeken kan word nie, moet die ware gelowiges soveel meer geestelik nugter en wakker wees. Dit is nie goed genoeg om net uiterlik gebooie na te kom nie. Die mense wat Jesus laat doodmaak het, het al die wette van die Ou Testament stiptelik nagekom. Praat met mekaar oor Christus, sodat ons mekaar se harte kan sien.
  • Wag geduldig op Christus se wederkoms. God kan aanhangers van die duiwel tot bekering laat kom, sodat hulle ware Christengelowiges word – die misdadiger aan die kruis, Paulus self is baie goeie voorbeelde. Bid hiervoor!
  • Leef deur die Gees met die vaste sekerheid: Die aanhangers van die duiwel sal die kerk nie afbreek nie, want Jesus Christus self beskerm sy gelowiges wat vir Hom en saam met Hom in die koninkryk van die hemel leef.

Die Here verander vrees in vertroue

Lees: Psalm 27

Inleiding:

Ek het vrees wanneer ek onveilig en onseker voel oor iets of iemand wat my bedreig. Wanneer hierdie gevoel van onveiligheid en onsekerheid my lewe oorneem en aanhou oorneem, kan vrees my liggaam en gees baie seer maak.

Wat doen ‘n mens met vrees?

Dawid was ‘n gelowige wat vrees geken het. Hy het met sy vrees na die Here toe gegaan. Die Here het hom gehelp en vir hom uitkoms gegee.

Tema: Die Here verander vrees in vertroue

  1. Die donkerte van vrees

Dawid het ‘n vol lewe gehad. Daar was groot hoogtepunte – gesalf tot koning, Goliat, belofte van ewige koningskap. Daar was diep laagtepunte – sonde met Batseba en haar man Uria en die lewensgevaar waarin hy dikwels was met Saul, tussen die Filistyne en die opstand van sy seun Absalom.

Met die skryf van Psalm 27 was hy in groot gevaar. Mense wou hom om die lewe bring.

Dit het verskeie kere in sy lewe gebeur – Saul, die Filistyne, Absalom Sy eerste reaksie was vrees en vlug. Lees weer die geskiedenis in 1 Sam.18-27. Keer op keer moes Dawid vir sy lewe vlug.

Lewensgevaar is nie vir ons onbekend nie. Die nuutste Koronavirus wat Covid-19 veroorsaak is ‘n lewensgevaarlik virus. Maklike simptome, wat reeds baie sleg is, is hoofpyn, koors, moegheid en smaak en reuk wat jy vir ‘n rukkie verloor. Die erger simtome is ontsteking in die rugmurg wat jou verlam, wat ‘n dokter oorgekom het. Hy moes van vooraf weer leer loop. Dan is daar die mees algemene en gevaarlikste simptoom, asemnood wat jou laat sterf.

Die virus was so onbekend en het so onverwags gekom. Op Woensdag 19 Augustus het 596 060 mense in ons land reeds die virus gehad. Van hierdie mense het 491 441 herstel. Van hierdie mense het 12 423 aan die virus gesterf.

Naas die onbekendheid van die virus is die ander ernstige probleem dat daar nie ‘n teenmiddel bestaan nie en waarskynlik ook nie gou gemaak sal kan word nie.

Ons land het ook ander lewensgevaarlike omstandighede: Die aanrander en moordenaar wat met soveel geweld teen ouer mense, vroue, kinders, plaasboere en plaaswerkers toeslaan, maak van ons land ‘n baie gevaarlike land om in te bly en te werk.

Hierdie geweld maak dat baie van ons met onsekerheid en vrees leef.

Wat van vrees wat nog nader is?

Vrees kan leef in die skoolkind en student se hart oor die min tyd wat nog oor is om die jaar se leer- en studiewerk klaar te maak?

Wat van vrees in die jongmens se hart wat vorentoe moet kyk en ‘n lewe in hierdie land moet maak?

Vrees is in hierdie stukkende land ‘n werklikheid ook in gelowiges se lewe.

  1. Ek het die Here in my lewe

Dawid het die Here geken. Hy het die Here in sy lewe gehad. Die Heilige Gees was in Hom (1 Sam.16:13).

Met die Heilige Gees in hom, het Dawid nie by vrees gebly nie.

Luister weer: Die Here is my Lig en my Redder, vir wie sou ek vrees?

Dawid het gevra: Vir wie sou ek vrees? Hy het die vraag so gestel dat die antwoord moes wees: Vir niemand nie. Ek hoef vir niks en niemand bang te wees nie. Dawid het baie rede gehad om bang te wees. Hy was ook bang. Hy het meer as een keer vir sy lewe gevlug.

Hy het nie by vrees gebly nie, want Hy het die Here as sy lig en sy Redder gehad. Dink aan Dawid se woorde in Ps.23:4Selfs al gaan ek deur donker dieptes, die dal van doodskaduwee, sal ek geen onheil vrees nie, want U is met my. In u hande is ek veilig.

Dawid was nie die enigste wat kon sê: Die Here is my Lig en my Redder nie. Ek het ook die wonderlike genade van ‘n Redder in my lewe. Van Hom skryf Johannes: “Die Lig skyn in die duisternis en die duisternis kon Hom nie uitdoof nie” (Joh.1:5).

Johannes het van Jesus Christus geskryf.

Jesus Christus het deur ‘n almagtige wonder mens geword. Hy het al my sonde op Hom geneem en in my plek voor sy Vader, die Heilige God gaan staan om my straf op my sonde te dra. Jesus was mens en God tegelyk, daarom het Hy geweet hoe erg sy lyding en sy dood sou wees. Hy het vir Petrus, Jakobus en Johannes verder in die tuin van Getémané saam met Hom geneem. Daar het Jesus vir hulle gesê:” Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My” (Mt.26:38). Jesus het alleen verder gegaan om te bid. Terwyl Hy gebid het, het ‘n doodsangs Hom oorval en sy sweet het soos bloeddruppels geword en op die grond geval (Lk.22:44).

Daardie vrees het Jesus vir my in Getsémané beleef.  My Verlosser het in my plek die ergste vrees en eensaamheid beleef toe sy Vader Hom aan die kruis verlaat het. Deur sy dood aan die kruis het Jesus my van sonde verlos en die skuld wat ek tussen my en God opgehoop het, alles heeltemal betaal. Hy het my aan die kruis weer onder die liefdevolle sorg van sy Vader gebring. Hy het ook vir my opgestaan. Deur sy opstanding het vir my die nuwe lewe, die ewige lewe met God gegee.

Jesus Christus is my Lig en my Redder, want deur Hom leef ek onder die regering, die beskerming en die sorg van die lewende God.

Hy is my Lig en my Redder, want deur sy kruisiging en opstanding het Hy my ook van die vrees vir God se straf op sonde verlos. Deur Jesus Christus is God nie meer die God wat my sal straf en oordeel nie. Hy is die God wat my reeds al my sonde vergewe het, my nou met liefde versorg en my nooit sal verlaat nie.

Na Jesus se hemelvaart het die Heilige Gees na my toe gekom om ewig by my en in my te wees. Ek het die Heilige Gees in my. Die Gees is nie ‘n Gees van vreesagtigheid nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing (2 Tim.1:7).

Dit is die wondergenade in jou lewe: Jy het die Here in jou lewe. Hy verander alles. Vrees hoef nie jou lewe te beheer nie. Jou God en Vader beheer jou lewe deur sy Heilige Gees.

  1. Die lig van die Here laat my in vertroue leef

Behalwe dat Dawid in lewensgevaar was en baie keer bang was, moes hy ook nog weg van die tempel af vlug.

Die tempel was destyds baie belangrik vir elkeen in Israel, veral vir ‘n opreg gelowige soos Dawid. In die tempel het Dawid sy offers aan die Here gebring, offers wat op verlossing en vergifnis gewys het. In die allerheiligste deel van die tempel was die verbondsark. Soms het die Here in ‘n wolk in die allerheiligste gekom. Israel het dan geweet die Here is by hulle. Dawid het geweet die Here is hier teenwoordig.

Daar in die tempel kon Dawid reken op die goedheid en die beskerming van die Here. Daarom het hy so na die tempel verlang. Sy verlange was nie na die gebou met sy drie dele en alles binne-in nie. Inteendeel! Hy het na God en die innige geloofsgemeenskap wat hy in die tempel met God gehad het, verlang.

In die tempel was Dawid by die Here, sy Lig en sy Redder wat vrees laat verdwyn het en vertroue in die plek daarvan aan Dawid gegee het.

Ons het vandag nie meer die tempel nie. Ons is by die Here op ‘n Sondag in ‘n erediens.

Wat gebeur in ‘n erediens?

Hier is elkeen van ons en ons almal saam in die Here se teenwoordigheid. Deur sy Woord en sy Heilige Gees beleef ons die Here se goedheid soos nêrens anders nie –

  • Hy gee vir elkeen van ons sy genade, barmhartigheid en vrede,
  • Hy verseker ons deur sy Woord van sy genade, sy liefde en sy vergifnis,
  • Deur sy Heilige Gees is die Here hier teenwoordig en beleef ons sy nabyheid, sy genade en sy liefde,
  • Hier is ons veilig onder die beskerming van ons God en Vader wat ons met alles na liggaam en gees versorg.
  • Tydens die erediens verseker die Here my ook dat Hy by my sal wees om my te beskerm wanneer ek van die erediens af weggaan.

Ek kan elke keer uit ‘n erediens stap, met die sekerheid dat die Here my Lig en my Redder is, sodat ek niks en niemand hoef te vrees nie.

Voor ons lê ‘n week voor, as die Here wil en ons leef. Dit is nog ‘n week in ‘n sondige en stukkende land. Dit is nog ‘n week met soveel lewensgevaar. Die dinge wat my so kan laat vrees, sal steeds daar wees.

Maar…God het my vanoggend verseker Hy is my Lig en my Redder.

Leef deur die Heilige Gees met hierdie vaste geloof in jou hart: Die Here is my Lig en my Redder, ek hoef vir niks en niemand bang te wees nie!

Niks mag ons verlange na God demp nie

Lees: Psalm 137

Inleiding:

In Psalm 137 het ons ‘n ballingskappsalm. Juda, die verbondsvolk is onder ernstige geestelike druk. Vanoggend het ons ‘n erediens in ‘n grendeltyd. Hierdie tyd plaas Jesus Christus se kerk, ons gemeente, onder geestelike druk. Daarom pas hierdie Psalm en vanoggend se erediens so goed bymekaar.

Tema: Niks mag ons verlange na God demp nie

  1. Verlange om saam met God te wees

In Psalm 137 kry ons Juda die verbondsvolk in ballingskap. Die Tigris en die Eufrat was riviere in Babel. Die Babiloniërs het Wilgerbome langs dele van die riviere geplant. Die bome het baie mooi vertoon so langs die riviere. Ons ken dit self in ons land. ‘n Wilgerboom langs ‘n rivier is altyd groen en altyd mooi.

Dan was Babilonië ‘n vooruitstrewende land met ‘n baie goeie administrasie. Babel was ‘n indrukwekkende stad en Nebukadnesar ‘n baie goeie en indrukwekkende leier.

Maar Juda was nie oorweldig deur die prag en praal van die heidense Babel nie. Hulle het met trane langs die riviere gesit.

Die woord “sit” beteken nie net dat hulle fisies langs die riviere gesit het nie. Die woord in die oorspronklike Hebreeus wys eerder dat hulle al lank daar in Babel was en gedink het dat hulle nog lank daar sou wees.

Hulle trane, was trane van verlange na Jerusalem, na Sion, na die tempel en na God. Hulle was in die heidense land, ver van alles en almal wat vir hulle geestelik kosbaar was.

In Juda se geheue was Edom, ‘n nasie wat hulle daarin verlekker het toe Juda in ballingskap weggevoer is. Edom was baie bly toe hulle gehoor het dat die Babiloniërs Jerusalem verwoes het.

Dan het Juda ook te doen gehad met die spottende heidene wat met leedvermaak keer op keer gesê het: “Sing vir ons ‘n lied oor Sion” (Ps.137:3).

Ons leef in ‘n pragtige land. Hierdie is ‘n land met baie moontlikhede en daarby is dit ‘n baie mooi land.

Tans het ons land baie probleme. Een van die ernstigste probleme is die nuwe Koronavirus. Saam met die uitbreek van die virus het wetgewing oor ramptoestande gekom en ‘n tyd van ernstige inperking. Hierdie grendeltyd se wetgewing maak dit moeilik om ‘n erediens te hê soos God in sy Woord verwag.

Dit bring elkeen van ons by die vraag:

Verlang jy in hierdie grendeltyd na God?

Lidmate sê maklik “ek kyk sommer na ‘n diens op die tv” of “ek luister eerder na die diens oor die radio. Die radio se uitsending kan nog gaan, maar die gehalte op die tv is dikwels van ‘n lae standaard.

Selfs gelowige lidmate is verder lief om te sê in die Bybel staan dat waar twee of drie saam is, daar is die Here ook.

Met hierdie argumente wil gelowiges sê “ons hoor mos die Here se Woord. Die erediens is nie so belangrik nie”.

Wel, elkeen wat so dink en sê, het nie die waarheid beet nie. ‘n Boodskap oor die radio of tv is hoogstens ‘n noodmaatreël, wanneer ‘n mens nie anders kan nie.

‘n Erediens is baie meer as om net die Here se Woord te hoor. ‘n Erediens is ‘n uitsonderlike gebeurtenis. Elke erediens elke Sondag is ‘n uitsonderlike geleentheid.

Nêrens is God en almal wat aan Hom behoort so bymekaar nie. Nie by die huis nie, nie op Sondag voor die TV nie en selfs nie in ‘n Bybelstudiegroep is God en sy gelowiges so bymekaar soos in ‘n erediens nie.

Nêrens anders vind so ‘n ontmoeting tussen die lewende God en sy gelowige kind plaas soos in ‘n erediens nie.

‘n Baie goeie voorbeeld is sommer aan die begin van elke erediens. Met die votum, die verklaring aan die begin sê die gemeente vir die Here dat al die gelowiges saam nou voor die Here kom in ‘n amptelike geleentheid. Die gelowiges is sondige mense wat die afgelope week gedoen het wat verkeerd vir die Here was. Eintlik behoort die Here vir sy gemeente te sê, soos Hy vir Juda gesê het “As julle kom om voor my te verskyn, wie het julle gevra om my voorhowe te kom vertrap?” (Jes.1:12).

Maar wat sê God aan die begin van elke erediens? Sy gemeente hoor “genade, barmhartigheid en vrede vir julle” in die seën aan die begin. Daardie woorde beteken dat God sy gemeente nie wegstoot nie, maar aanvaar. Hierdie versekering kry jy nêrens anders as net in ‘n erediens nie.

In elkeen van ons se hart behoort daar in hierdie tyd ‘n verlange na God te wees wat in my hart brand.

  1. Struikelblokke om by God te wees

Twee groot struikelblokke het Juda verhinder om naby God te wees.

Die eerste struikelblok was die heidense Babiloniërs. Hulle het Juda binnegeval, Jerusalem platgevee en die tempel gestroop en verwoes. Die weermag van Babel het Juda met geweld in ballingskap weggevoer.

Daar waar Juda by die riviere in Babel gesit het, het hulle ook besef dat hulle deur hulle aanhoudende sonde die ballingskap self oor hulle gebring het. Dit het verskriklik in Jojakim se tyd as koning in Juda gegaan. Lees maar Jeremia 22:13-19 en Habakuk 1:2-4 om agter te kom hoe verskriklik erg Juda se sonde was.

Die Koronavirus wat omtrent die hele wêreld oorgeneem het, is ‘n groot struikelblok om by God te wees as sy gemeente in ‘n erediens. Ons mag selfs in fase 2 van die inpertyd net 50 lidmate in ‘n erediens wees. Ons mag nie tydens die erediens God loof met ons sang nie. Ons mag nie ons skuldbely of om vergifnis vra in ons gemeentesang nie. Ons mag as gelowiges ook nie bymekaar wees en met mekaar gesels nie. Ons mag ook nie nagmaal vier of doop om ons geloof sterker te maak nie.

Maar, die virus is die enigste en selfs nie die grootste struikleblok wat ons keer om saam met God te wees nie. Ons eie sondigheid wat die wêreld aanloliker vind as die erediens en ontmoeting met die lewende God, is die grootste struikelblok.

Ons sonde wat ons verhinder het om ons op ‘n Sondag met ander dinge as die Here in ‘n erediens besig te hou, is die grootste struikelblok.

  1. Nuutgemaak deur Christus

Juda moes wag om weer in Jerusalem in die tempel naby God te wees. Hulle moes wag totdat koning Kores van Persië hulle laat teruggaan het.

Ons hoef nie te wag nie.

Waarom nie?

Ons het reeds vir Jesus Christus.

Hy het ons nuwe mense gemaak. Hy het vir ons aan die kruis gesterf. Hy het vir ons uit die dood opgestaan.

Deur sy kruisiging het Hy ons van al ons sonde verlos en ons sonde wat tussen God en ons opgehoop het, heeltemal en volmaak weggeneem. Deur sy opstanding het Hy aan ons nuwe lewe gegee, ewige lewe met God.

Gelowiges wat deur Christus nuutgemaak is, soek mekaar op en kom bymekaar. Kyk na wat gebeur het met die uitstorting van die Heilige Gees. Drieduisend mense het in Christus geglo en hulle by die ander Christengelowiges gevoeg. Christus bring mense met ‘n ware geloof in Hom bymekaar.

Ons is hier nie omdat dit Sondag is en kerktyd is nie. Ons is hier omdat ons nuut is.

Ons wil hier by God en by mekaar wees, omdat ons verlos en nuut is met Christus in ons lewe.

  1. Geestelike krag in moeilike omstandighede

Die Koronavirus, siekte, ouderdom, en ander omstandighede maak dit moeilik om by God en by ander gelowiges te wees.

Maar….

In ‘n Christen se lewe is daaar altyd hierdie “maar….”. Dit is die maar van die Heilige Gees, die Gees van Christus wat in elke Christengelowige is. Die Gees is in my. Hy bly in my. Hy werk in my.

Hy gee my geestelike krag.

Hy maak my geestelik sterk.

Hy laat my na Christus aan die regterhand van sy Vader kyk. Solank ek na Christus kyk, bly ek sterk. Ek is hier saam met ander gelwoiges voor God, omdat die Gees ons almal sterk gemaak het.

Ons kan nie nagmaal gebruik nie, maar die Heilige Gees is almagtig genoeg om ons geloof deur die Woord sterk te maak.

Ons gaan die swaar tydens die virus gelowig hanteer, omdat die Gees ons sterk maak.

Ons gaan elke ander swaar deurstaan met die krag wat die Heilige Gees ons gee.

Ons gaan vir mekaar bid en mekaar aanmoedig om geestelik sterk te wees omdat Christus ons nuut gemaak het en ons sy Gees in ons het.

Op ‘n dag het Martin Luther voor ‘n gehoor van ampsdraers wat hom wou veroordeel gestaan en gesê: Hier staan ek, ek kan nie anders nie, mag God my help.

Ons kan en ons moet dit eintlik ook sê vir mekaar en vir die wêreld waar ons bly en werk.

Hier is ons in die erediens. Ons kan nie anders nie, want God het ons gehelp en Christus is in ons lewe!

God gesoek…God gevind

Lees: Psalm 42

Inleiding:

2020 is tot dusver ‘n onseker jaar in ‘n onseker land. Onsekerheid is nie goed nie en doen nie goed nie. Hoe sal ons daarby kan uitkom, dat onsekerheid verdwyn en in die plek daarvan sekerheid kom?

Die Here gee ons die antwoord op hierdie vraag in Psalm 42.

Tema: God gesoek…..God gevind

  1. Verlange (na God)

Die Koragiete het hierdie psalm geskryf. Hulle was gelowige Israeliete wat vir die sang en musiek in die tempel gesorg het. Of een van hulle het die psalm geskryf oor wat hyself beleef het of hy het die psalm aan koning Dawid opgedra.

Die belangrike wat ons moet weet, is dat hierdie psalm uit die hart van ‘n gelowige kom.

Die gelowige in Psalm 42 is nie in Jerusalem naby die tempel nie. Hy kan om een of ander rede nie na Jerusalem terug gaan nie. Dit sou kon wees in die tyd toe Absalom teen Dawid in opstand gekom het en baie Israeliete teen Dawid gedraai het. Sy vyande wat hom dood wou hê, hou om uit Jerusalem en weg van die tempel.

Die tempel was vir elke opregte gelowige in Israel baie belangrik. In die allerheilgste deel het die verbondsark gestaan. Partrykeer was daar ‘n wolk in die allerheiligste, wanneer die Here vir Israel gewys het Hy was by hulle.

In die tempel het Israel op godsdienstige feesdae offers gebring wat afgebeeld het dat God ‘n Verlosser sou stuur wat met sy lewe elkeen wat aan God behoort het, sou verlos.

Die tempel het beteken – God is hier. Hier is baie getuienis van verlossing en vergifnis. In die verlede het’n groot skare Israeliete op feesdae na die tempel toe gegaan. Die psalmdigter was deel daarvan. Trouens, hy het voorgeloop. Die skare was bly en hulle het die Here geloof op pad tempel toe.

Maar, alles was anders. Die psalmdigter was naby Hermonberg en naby die Jordaanrivier. Hy moes soontoe vlug. Hy was ver van die tempel af. Hy het homself ver weg van God af gevoel en na God gesmag.

Die verlange na God wat in hom gebrand het, het hom aan ‘n wildsbok laat dink wat na wtaer smag. Die somer in Israel is ‘n warm droë seisoen sonder reën. Baie van die strome wat in die reënseisoen water gehad het, droog op in die somer. Die psalmdigter het in sy lewe al ‘n wildsbok wat baie dors was gesien loop, soekend, smagtend na water.

By die swaar wat hy verduur het om nie naby God te kan wees nie, het die mense wat die oorsaak van sy swaarkry was, hom spottend gevra waar sy God in Wie hy so geglo het.

Iets van die psalmdigter se omstandighede beleef ons tans. Ons vyand is ‘n onsigbare en gevaarlike virus. Saam met die virus het wette gekom wat ons inperk. Hierdie wette verhoed ons om eredienste te hê soos die Here in sy Woord van ons vra. Ons mag net vyftig gelowiges op ‘n keer wees. Ons mag net ‘n sekere tyd saam met die Here en saam met mekaar wees. Een hele boek in die Bybel gaan oor liedere wat gelowiges sing om God te loof, sonde voor Hom te bely, vergifnis te vra en vir sy lig en leiding te bid. Gelowiges mag nou nie tydens ‘n erediens sing nie.

Buite die erediens en weg van die Koronavirus is daar ook ‘n ander lewe. In ons land is daar ‘n lewe van geweld, roof, aanranding, moord en ‘n lewe van steel, bedrog en korrupsie. Al hierdie sonde verniel hierdie mooi land van die Here waarin ons bly.

Die Here het die noodkrete van Israel in Egipte gehoor en Israel se swaarkry ter harte geneem en besluit om hulle uit Egipte te verlos (Eks.3:7,8).

  • Dit het tyd geword om na die Here te smag en na sy Woord te soek soos daardie wildsbok in die droë seisoen in Israel. Die wildsbok het met sy hele liggaamshouding gewys hoe hy na water gesmag het. Elkeen van ons sal daarom met ons lewe moet wys dat ons na God smag. In ons huise sal ons besigwees met die Bybel wys of ons na God smag. Wanneer ons weer op ‘n Sondag ‘n erediens het, sal ons opkoms wys of ons na God smag.
  • Dit het tyd geword om te erken dat dit nie goed met ons land gaan nie en by God te pleit vir uitkoms. Ons gebede en ons gesprekke sal wys of ons na God smag vir uitkoms vir ons land.
  1. Hoop (op God)

‘n Gelowige is nie bloot ‘n gewone mens nie. Ons sien dit so duidelik in Psalm 42. In die digter se swaarkry en terwyl hy oor so baie dinge twyfel, kom die woorde uit sy hart en oor sy lippe: “Vertrou op God!” (Ps.42:6). Later in die psalm sê hy weer:” Vertrou op God!” (Ps.42:12).

Die woord vir vertrou is in werklikheid “hoop”.

Die psalmdigter het baie moeilike omstandighede gehad. Hy was in gevaar. Hy het baie vyande gehad voor wie hy moes vlug. Sy hele lewe was ontwrig.

Maar….in sy hart het hoop geleef.

Hoop waarvan ons in die Bybel lees, is om iets te verwag en seker te wees van wat jy verwag.

Voor ons by die psalmdigter se hoop, sy verwagtig kom, kyk ons na ons eie hoop.

Eers die Koronavirus – Wat hoop ons?

Dat iemand in een of ander land so gou moontlik ‘n teenmiddel sal ontdek?

Dat die virus sy piek sal bereik en dan baie minder mense siek sal word?

Dat die inperkings verlig sal word?

Dan die diefstal, bedrog en korrupsie en die aanrandings en moorde – wat hoop ons?

Dat iemand die geweldenaars sal begin vervolg en in die gevangenis laat beland?

Dat daar ‘n ander regering sal kom wat minder korrup sal wees?

Hierdie hoop is in werklikheid hoop op mense.

Hoop op mense gee nie sekerheid nie.

Terug by die psalmdigter – Hoop op God! het uit die psalmdigter se hart en oor sy lippe gekom.

God is ons sekerheid.

Wanneer die hoop wat in jou hart leef, hoop op God is, dan het jy sekerheid.

Wanneer jy jou hoop op mense stel, kan jy eintlik niks anders doen as om te wag en met onsekerheid te bly leef nie

Wanneer jy op God hoop, verander onsekerheid in vaste en ewige sekerheid.

  1. Gebed (tot God)

Die gelowige wat Psalm 42 geskryf het, se hoop op God het hom laat bid. Hy het gebid tot die God van sy lewe.

God is die Bron van ‘n gelowige se lewe.

Hy het alle lewe, ewige lewe.

Hy gee lewe. Hy is die almagtige Skepper wat alles en almal geskep het.

Hy gee nuwe lewe deur Christus.

By God is daar lewe, daarom is daar by Hom uitkoms.

In hierdie tyd wat hierdie vreemde en gevaarlik virus ons lewens so bedreig, is dit tyd vir elkeen van ons om uit jou hart te bid. Bid dan;

  • Vir beskerming teen die virus.
  • Vir jou geliefdes wat die virus gekry het of in kontak met mense was wat die virus onder lede gehad het.
  • Vir die mediese personeel in hospitale wat onder dikwels onder haglike omstandighede en onmoontlike druk moet werk.
  • Dat God uitkoms sal gee, soos Hy wil.

Met die statistiek van misdaad wat onlangs bekend gemaak is, het dit duidelik geword dat die polisie besig is om die stryd te verloor. Die tyd vir baie ernstige gebed het nou aangebreek. Bid dan:

  • Vir die eerbare polisiebeampte wat sy of haar lewe daagliks in gevaar stel.
  • Dat die korrupte polisiebeampte se sonde tot ‘n einde sal kom.
  • Dat die owerheid tot inkeer sal kom en alles moontlik sal doen om die misdadiger te stuit en misdaad minder te maak.

Ons gebede sal elke keer gebede van verootmoediging moet wees, want sonde in hierdie land is so baie en so groot.

Ons sal in ons gebede ons eie wil op die agtergrond moet skuif en pleit dat God sy wil sal laat geskied.

Saam met ons gebede sal ons as gelowiges, in ‘n onbekeerde en sondige land wat God nie ken nie, elkeen ‘n lewe van bekering moet leef. Dit is so belangrik, want bekering en gebed gaan altyd saam.

  1. Sekerheid (by God)

Die gelowige wat na God smag, op Hom hoop en tot Hom bid, sal by sekerheid uitkom.

God self gee hierdie belofte: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer” (Ps.50:15).

Die digter van Psalm 42 het hierdie sekerheid self beskryf: “Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my helper en my God” (Ps.42:6,12).

Hoe kom ons met die Koronavirus en die misdaad wat ons land en lewens so ontwrig by sekerheid uit?

Hoe weet ek my gebede sal nie op niks uitloop nie?

Buite Jerusalem was daar ‘n heuwel met die naam Golgota.

Op ‘n sekere Vrydag was daar drie kruise met drie veroordeeldes aan.

In die middelste kruis was Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser.

Hy het die ergste lyding verduur en die verskriklikste dood vir ons gesterf.

Deur sy dood het Hy al die sonde wat ons self tussen God en ons opgehoop het, weggeneem.

Deur vir ons te sterf, het Hy ons weer onder die liefdevolle sorg van sy Vader gebring.

In die tuin van Josef van Arimatea was daar ‘n oop graf die Sondag na die Vrydag.

Jesus Christus het uit die dood opgestaan.

Hy het aan ons die ewige lewe, die lewe met God gegee.

Wanneer ek bid, bid ek op grond van Jesus Christus wat vir my die pad na God oopgemaak het en aan sy Vader se regterhand sit en vir my intree, elke keer wanneer ek bid.

Jesus Christus, my Verlosser, is my SEKERHEID!

Glo deur die Heilige Gees met jou hele hart in Jesus Christus, jou enigste Verlosser.

Bid en pleit deur die Gees by God vir uitkoms, op grond van Jesus se kruisiging en opstanding.

Hoop deur die Heilige Gees net op God met die sekerheid wat Jesus Christus jou gee!

Vrede met God laat my geestelik groei wanneer ek swaar kry

 

Lees: Romeine 5:1-11

Inleiding:

Ons kry dit in die Here se Woord dat Hy swaarkry gebruik om ons geloof beter te maak (Ps.119:71, 1 Pet.1). Hoe doen die Here dit? Hoe maak Hy my geloof beter? In Rom.5:3,4 gee God die antwoord.

Die Bybel is bedoel om ‘n mens se lewe te verander. Dit is baie belangrik. Jy kan nie die Bybel lees en jou lewe verander nie. Waarom nie? Wanneer ek Bybel lees, praat God met my. Hy vertel my Wie Hy is, wat Hy doen en wat Hy wil hê ek moet doen. Om vir God iets te doen, is om my lewe te verander. Die verandering kom nie vanself nie. Ek is die een wat geestelik sal moet werk om te verander en my lewe in ooreenstemming met die Bybel te bring.

Bring nou hierdie twee waarhede bymekaar. God gebruik swaarkry om my geloof beter te maak en Hy wil dat ek deur sy Woord my lewe verander. Bymekaar beteken hierdie twee waarhede dat ek my hart en my gedagtes oor swaarkry sal verander. Die verandering is die tema vir vanoggend se preek:

Tema: Vrede met God laat my geestelik groei wanneer ek swaarkry.

  1. Ek het vrede met God

Elkeen van ons kom van ‘n lewe van onvrede met God af. Waarvan ons in Gen.3 lees, is deel van elkeen van ons se lewe. Onvrede met God werk deur na onvrede tussen mense onder mekaar. Onvrede hou niks goed in nie en bring net geweld. Daar is soveel voorbeelde in die Bybel:  Kain en Abel, Moses en die Egiptenaar wat die Israeliet aangeval het, Dawid en Goliat. Daar is soveel voorbeelde in die daaglikse lewe in ons land: Bendes op die Kaapse vlakte, aanvallers en moordenaars van die boere en hulle werkers.

Geweld lei tot die dood.

Die heel ergste onvrede is tussen God en mens. Die geweld van God se woede maak elke mens ewig dood. God dink nie ligtelik oor sonde nie. Inteendeel! Luister hoe bely ons in die Kategismus:” …sy toorn is verskriklik, sowel oor die erfsonde as die oor die sonde wat ons self doen” (HK, Sondag 4).

Maar….die onvrede tussen God en mens is verby. God het die onvrede beëindig.

Hy het sy Seun gestuur om in ons plek die geweld van sy straf te verduur. Jesus het ons sonde op Hom geneem. Hy het in ons plek bitter swaar gely en ‘n verskriklike dood aan die kruis gesterf. Deur sy dood het Jesus God se straf op ons sonde volmaak en enduit gedra. Hy het aan die kruis al die onvrede tussen God en ons weggeneem. Deur sy opstanding het Hy aan ons nuwe lewe gegee, lewe in vrede met God.

Vrede in die Bybel beteken eenheid, gebind wees aan en gebind leef aan. Vrede met God beteken ons is deur Christus aan Hom gebind in ‘n ewige verhouding met Hom.

Hierdie vrede met God is vir elkeen wat opreg in Jesus Christus as ons enigste Verlosser glo. Vrede met God het gebeur uit genade…..Genade wat nooit weer weg sal gaan nie.

  1. Hierdie vrede maak my bly

Vrede met God is vrede wat ‘n mens se verstand te bowe gaan. Dit is vrede wat jou bly maak met ‘n blydskap wat gekom het om te bly. Dit is blydskap wat die Heilige Gees jou gee.

Ek is bly oor die heerlikheid wat vir my wag.  Ek gaan die hemel betree. Ek was nog nooit daar nie. Ek het so baie van Christus gehoor. Ek gaan Christus sien soos Hy werklik is en ek gaan self verheerlik te wees. Dit nie moeilik om hieroor bly te wees nie.

In Romeine 5 lees ons ook van ‘n blydskap wat nie so maklik is nie.

Ek is bly oor swaarkry. Hierdie is ‘n boodskap wat meer as eenkeer in die Bybel baie duidelik en sterk is.

  • 1:2 – Hy begin sy brief hiermee: “ My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings julle oorval”.
  • 1 Pet.1:6 – gelowiges is verheug oor ons saligheid al is dit nodig om beproef te word.
  • 2 Kor.12:10 – Paulus is bly oor swaarkry.
  • 119:71 – Dit is goed dat ek swaargekry het.

Ons kry vreugde oor swaarkry in die Bybel as opdrag van die Here en as belydenis van gelowiges.

Ek is bly oor God self. Uiteindelik is my diepste blydskap oor God in my lewe.

Hierdie blydskap, hierdie vreugde kom van die Heilige Gees af. Dit is deel van die vrug van die Gees wat Hy in my werk. Blydskap wat van die Heilige Gees af kom, hou nooit op nie.

  1. Ek is met goeie rede selfs oor swaarkry bly

Hoekom sal ek bly wees oor swaarkry?

In Rom.5:3 en 4 gee die Heilige Gees deur Paulus se brief aan die gemeente in Rome, ‘n baie volledige en duidelike rede waarom ek kan bly wees oor swaarkry.

In teologiese opleiding leer studente verskillende lewensuitkyke ken. Een van die baie is Eksistensialisme. As student het ek altyd nog gewonder wat die sin is van al die denkrigtings wat so verkeerd is. ‘n Predikant is tog in die kerk van Christus besig en sal tog nie met hierdie denke te doen kry nie. Toe nou nie. Eksistensialisme gaan oor eksistensie, dit is my bestaan hier en nou. Wat belangrik is, is hier waar ek nou is. Nie die toekoms of die verlede maak regtig saak nie.

Ons as gelowiges moet baie versigtig wees vir hierdie sondige lewensuitkyk, veral wanneer dit by swaarkry kom. Swaarkry kan veroorsaak dat ook ‘n gelowige se lewe so verander dat al wat saak maak die hier en die nou is.

Gebeur dit? Ja, ongelukkig gebeur dit. ‘n Voorbeeld: Wanneer ek slegte tyding kry, verander my lewe byna in ‘n oogwink in ‘n lewe van hartseer en bekommernis wat ek hier en nou beleef. Hartseer en bekommernis kan my gedagtes, my gesprekke en selfs my hele lewe oorneem en maak dat ek God eenkant skuif.

God praat met ons juis hieroor. Hy wat alles weet, wat alle wysheid het, Hy praat met ons. Hy wys ons die pad weg van die hier en die nou in Rom.5:3,4. Die pad wat Hy ons wys, is die pad na Hom toe –

Swaarkry kweek volharding. Hoe? In swaarkry beleef ek my gevoelens van hartseer en bekommernis, ja! Maar ek gaan met my hartseer en bekommernis na God toe. En nie eers wanneer ek weer beter voel nie. Hier is dit so belangrik om baie goed te besef, dat wanneer ek voel ek kry te swaar en ek hou vir eers op om Bybel te lees en te bid, gaan staan ek nie op neutrale grond tot ek beter voel nie. Inteendeel! Wanneer ek ophou om na God te luister en ophou om met Hom te praat, beweeg ek weg van Hom af. Daarom is dit so belangrik om juis wanneer ek baie swaarkry dadelik na God toe te gaan. Oor hartseer sal God vir my sê dat Hy niks vir my gee, wat ek nie kan dra nie (1 Kor.10:13) en dat Hy oral by my is (Jos.1:9). Oor bekommernis sal Hy vir my sê, om alles vir Hom te gee, want Hy sorg vir my (1 Pet.5:7). Wanneer ek elke dag van swaarkry nie my gevoelens my laat oorheers nie, maar na God toe gaan, dan volhard ek, hou ek aan om in Hom te glo en Hom met my lewe te vertrou.

Volharding kweek egtheid van geloof. Wat gebeur wanneer ek aanhou om met my hartseer en bekommernis na God toe te gaan? Swaarkry toets ‘n mens se geloof. Dit is baie maklik om te glo, wanneer dit goed gaan. Maar is geloof wat net wys wanneer dit goed gaan, regtig eg? Egtheid wys wanneer jy swaarkry en jy steeds na God toe gaan en al jou vertroue in Hom alleen stel (1 Pet.1:6,7). Wanneer ons Ps.146:3 sing:” Salig hy wat in die lewe, sonder hulp en sonder raad, as hom alles wil begewe, vlug tot God, sy toeverlaat”, sing ons juis hiervan dat volharding egte geloof kweek. Wanneer ek in my swaarkry na God toe gaan, wys dit die egtheid van my geloof.

Egtheid van geloof kweek hoop. Hoe werk dit? Hoop in ons gewone taalgebruik is ‘n woord met baie onsekerheid in. Hoop in die Bybel is presies die teenoorgestelde. Hoop in die Bybel is om iets te verwag waarvan ek seker is. Iemand met ‘n egte geloof, hoop op God. Dit is: So iemand verwag van Hom alles. So ‘n gelowige is seker oor God dat Hy die beste weet, die beste beskik en dat sy manier en sy tyd altyd die beste is.

 Hoop beskaam nie, maar kom tot volheid. Wanneer ek op God hoop, sal ek nie teleurgestel word nie. God is volmaak. Hy sal alles laat gebeur volgens sy volmaakte wil, op sy volmaakte manier volgens sy volmaakte tyd.

  1. Ek weet swaarkry loop uiteindelik uit op ewige heerlikheid

God wil my deur swaarkry by hoop bring.

Waarop hoop ek?

Anders gestel: Wat verwag ek van God?

Die gelowige wat met die voorspoedgeloof of welvaartgeloof leef, dit is ‘n geloof wat baie vinnig uitbrei iin Suid-Afrika, verwag van God ‘n beter finansiële lewe – beter werk, beter salaris, beter huis, beter kar en alles wat daarmee saamgaan.

God praat ernstig met elke mens hieroor: “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense” (1 Kor.15:19). Hierdie woorde is ‘n waarheid met ‘n waarskuwing. Maak dan baie seker dat jy nie jou hoop op God hoofsaaklik op hierdie lewe vestig nie. Dit is ‘n vergeefse hoop!

Laat die Heilige Gees jou lewe beheers. Hoop deur die Heilige Gees net op Christus en deur Christus net op God, jou Vader in die hemel. God self is jou Enigste Ewige Sekerheid en ‘n lewe deur Christus by Hom en vir Hom, is die enigste lewe wat ewige sekerheid bied.

Uiteindelik sal God my bring by die heerlikheid in die hemel wat Hy voor die skepping van die wêreld al vir my bestem het. Niks wat hier op aarde gebeur, nie die slegste tyding of die pynlikste hartseer, sal kan keer dat God my op die tyd wat Hy bestem het, by Hom in sy Vaderarms sal neem nie.

Hierdie woorde in Rom.5:3,4 behoort ‘n Christen heeltemal anders na swaarkry in hierdie stukkende wêreld te laat kyk.

Die mens wat God nie ken nie, leef met baie verwyte oor die swaarkry in die lewe. Hierdie verwyte bied ‘n verskoning om nie tot bekering te kom en God regtig te leer ken en die ewige lewe deur Christus te kry nie. So ‘n mens bly met verwyte en al buite die koninkryk van die hemel en gaan verlore.

Dit is so belangrik dat ek juis in tye van swaarkry heeltemal anders as die wêreld sal leef. Swaarkrytyd is tyd om nog ernstiger te bid dat God deur sy Gees my sal help dat hartseer en bekommernis nie my gedagtes en my hart sal oorneem nie.

Dit is ook tyd om te bid dat God sal help dat verwyte en opstandigheid nie in my gedagtes en hart sal kom nie.

Dit is veral tyd om te bid vir volhardig, egtheid van geloof en hoop in my hart en gedagtes.

Wanneer ek in swaakrytye so na God toe gaan, sal ek geestelik nader na Hom toe groei. Dit maak dat swaarkry ook goed is en nie net sleg nie.

God sal dat alles volmaak goed eindig

Inleiding:

Maskers, sanitering en afstand tussen mense het ons manier van leef geword. Moet alkohol verkoop word of nie, skole oopmaak of nie, provinsiegrense weer oopgestel word of nie? Hierdie vrae is nou deel van ons lewe. Ek mag nie na nege in die aand nog op pad na my huis wees nie. Ek mag nie by familie kuier nie, onder geen omstandighede nie. Daar is wette wat my verbied. Dieselfde wette bepaal: Net 50 mense mag by ‘n begrafnis wees. Net 50 mense mag gelyktydig in ‘n erediens wees. Hospitaalbesoektye bestaan nie meer nie, want besoeke aan pasiënte word nie langer toegelaat nie.

Die eerste drie weke was dit maklik. Die volgende maand was moeiliker. Nou, na vier maande van inperking, met die vooruitsig van die res van die jaar en selfs dalk ‘n deel van volgende jaar, kry mense regtig swaar. Angs het in ons lewe ingekruip. Onsekerheid het in ons gedagtes en harte posgevat. Moedeloosheid het oor ons begin neersak.

Die nuwe Koronavirus het ons lewe oorgeneem.

Ons almal het nodig om die woorde te hoor wat God vanoggend vir ons in Rom.8:28 sê.

Tema: God sal dat alles volmaak goed eindig.

  1. Ons het God nodig

Julle het dit seker al baie in preke gehoor dat ons in ‘n stukkende wêreld leef. Ekself het dit al heelwat kere in preke gesê. Vanoggend is ons by ‘n deel in die Bybel waar God dit self sê. Die deel is Romeine 8:22“Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting”.

Baie kere kon ‘n mens dalk gedink het die dominee is darem net te negatief, veral wanneer dit in jou lewe baie goed gegaan het.

Wel, in 2020 het daardie woorde op ‘n vreemde manier skielik baie naby aan ons almal gekom. Die virus is ‘n Koronavirus. Die meeste van ons het in ons lewens nog nie die hele wêreld so onseker en aan die skarrel gesien nie. Ons beleef die vreemdste dinge. Saniteerder met alkohol is in ons almal se huise. Ons moet maskers dra wanneer ons iewers heen ry. Ons moet een-en-‘n-half tot twee meter van mekaar af loop en staan. Ons mag nie by ons familie gaan kuier nie. Ons mag net 50 mense in ‘n erediens wees. Soos julle weet, is daar nog meer van hierdie nuwe wette wat ons moet nakom.

Tussen al hierdie beperkings word baie mense siek. Ten tye van die skryf van die preek was daar net meer as 381 000 mense in ons land wat die virus opgedoen het met meer as 5 368 al wat aan die virus gesterf het. Die arme mediese personeel in ons land en dan veral in Gauteng en die Oos-Kaap waar die regering a.g.v. onbekwaaheid en korrupsie nie genoeg fasiliteite voorberei het nie, kry baie swaar. Hulle werk in onmenslike en uiters gevaarlike omstandighede. Elke dag moet hulle kyk hoe mense wat hulle na die beste van hulle vermoë, probeer help het, sterf. Al word mense nie self siek van die virus nie, het familielede wat siek word en selfs sterf en die inperking ‘n baie slegte invloed op baie inwoners van die land. Angs en moedeloosheid het deel van baie se lewe geword. Van ons lidmate se familie het al die virus opgedoen en iemand is oorlede aan die virus.

Daar is nog twee ander pandemies ook in ons land. Geweld teen vroue en kinders en mense op plase is om net een woord te gebruik: Verskriklik. Daar is geen keer aan die moordenaars in hierdie land en hulle wreedheid nie. Die marteling wat ou mense en veral ook dogters en vroue moet ondergaan, ruk mens in jou hart. Soveel gesinne het soveel skokkende verhale om te vertel.

Dan is daar die droogte waarvan ons hier in die stad nie so op hoogte was en is nie. Ons sal ons nie kan indink hoe dit moet wees om in sewe jaar nie een druppel reën te kry nie. Daar is in hierdie land kinders reeds in die laerskool wat nog nooit reën gesien en beleef het nie. Mens wil vra; Hoe kan dit wees? Tog is dit so. In die Noordkaap, die Karoo, Noordwes, Vrystaat en Oos-Kaap is daar soveel dele wat ontsettend droog is.

Dan is dit nodig om ook oor ons land se Ekonomie iets te sê. Die inperkings waarvan sommige nodig was en ander waarskynlik nie, het die ekonomie ‘n baie ernstige knou gegee. Baie mense het hulle werk verloor en daarmee saam hulle inkomste wat ‘n dak oor die kop en brood op die tafel gesit het.

Ons sien die stukkende wêreld ook in siekte, pyn, aftakeling van ‘n mens se liggaam.

Wanneer mens so na alles kyk, verstaan jy Paulus se woorde dat die skepping ook na uitkoms verlang.

In hierdie stukkende wêreld staan daar ‘n baie bekende vers in die Bybel: “Ons weet dat God alle dinge ten goed laat meewerk, vir die wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” (Rom.8:28).

Ek sien die swaar in my en ander se lewe. Die Here sê in sy Woord alles werk ten goed mee vir die wat Hom liefhet. Hoe bring ek swaar en goed bymekaar? Ek sal ‘n antwoord moet kry, want ek kan nie my oë toemaak vir die swaar in die wêreld nie. Ek kan ook nie maak asof hierdie woorde nie in die Bybel staan nie.

  1. God praat met ons

“Ons weet” – Paulus het geweet. Die gemeente in Rome het geweet. Die brief en die woorde is vir ons bewaar, sodat ons ook kan sê: Ons weet. Dit beteken: Ons het sekerheid. Waar kry ons hierdie sekerheid? Dit kom nie van wat ons kan sien en waarvan ons hoor nie. Die meeste wat ons sien en hoor is nie goed nie, maar swaar en sleg en bring eerder onsekerheid.

Wat maak dat ‘n gelowige saam met ander kan sê: Ons weet en dan sê hoe goed dit gaan?

Paulus het hierdie brief nie uit sy eie geskryf nie. Ons weet dat die Heilige Gees op ’n spesiale manier van hom besit geneem het en hom die brief aan die gemeente in Rome laat skryf het.

Hierdie sekerheid kom met ander woorde van God af. Die alwetende, almagtige en alomteenwoordige God gee deur sy Heilige Gees sekerheid aan elkeen wat in Christus glo.

Kom ons kyk nou na hierdie sekerheid wat God vir ons gee.

Ons maak eers die volgende belangrike waarheid vas. God vertel nooit net verskillende dinge nie. Hy is presies, volmaak, ordelik. Kyk maar hoe het Hy geskep, in presies die regte volgorde elke ding op die regte tyd op die regte plek. Soos Hy geskep het, so praat Hy ook.

Geen woord, geen vers, geen hoofstuk staan ooit los van ander woorde, verse en hoofstukke nie. Romeine 8:28 is deel van die res van die hoofstuk. So, ons moet uitvind waaroor die hoofstuk of dan die deel waarin vs 28 voorkom, gaan, om seker te maak ons verstaan die vers reg.

Waaroor gaan die deel in Romeine 8?

Daar is ‘n maklike manier om uit te vind.

Kyk na die begin en die einde van ‘n groep verse. Indien dieselfde saak aan die begin en die einde genoem word, gaan die deel daaroor. Om dieselfde saak aan die begin en einde te noem, is ‘n kenmerk van die Griekse styl waarin die Nuwe Testament geskryf is.

Kom ons kyk nou na vs 18 en vs 30.

In vs 18 kry ons die heerlikheid wat God vir ons sal laat aanbreek.

In vs 30 lees ons dat God die wat Hy bestem, geroep en vrygespreek het ook verheerlik.

“Heerlikheid” in vs 18 en “verheerlik” in vs 30 is sterk getuienis dat hierdie deel oor die heerlikheid gaan wat met Christus se wederkoms sal aanbreek.

Kyk ook na die ander verse. Indien dieselfde tema wat aan die begin en einde voorkom, ook in die res van die verse voorkom, dan is dit die kern van die deel. Kom ons kyk of ons iets oor die heerlikheid aan die einde raakloop.

Vs 19 – die skepping sien uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is.

Vs 21 – Die heerlikheid waaraan die kinders van God sal deel hê.

Vs 23 – ons sien daarna uit dat God bekend sal maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het. Hy sal ons van die verganklikheid bevry.

Daar is nog ander woorde in ander verse wat ook wys op die toekoms – hoop, wag, volhard en bestem.

Met hierdie manier van doen, het ons nou sekerheid dat hierdie deel oor die heerlikheid met Jesus se wederkoms gaan.

Dat God alles ten goede laat meewerk, beteken nie alles sal môre beter wees of die ergste sal een of ander tyd verbygaan nie. Die woorde beteken ook nie ‘n mens moet maar net uithou nie.

Jy kan wel jouself of iemand anders troos met die gedagte dat daar ‘n doel agter alles is, maar jy kan beter doen. Jy kan meer sê, want God sê meer.

God laat alles ten goede meewerk, beteken God laat alles wat gebeur, meewerk na die heerlikheid wat op gelowiges wag wanneer Jesus weer kom.

  1. Hy versterk en troos ons met die ewige heerlikheid wat op ons wag

Luister eers weer na die hele sin:” Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet”.

In die Grieks staan “vir die wat Hom liefhet” eerste, daarom kyk ons in die preek eerste daarna. Met hierdie deel van die vers neem God ons na die kruis op Golgota.

Nêrens het die haat van die mensdom duideliker gewys as aan die kruis op Golgota nie.

  • Die wêreld het uit die mond van Pontius Pilatus erken dat Jesus onskuldig is. Trouens, Pontius Pilatus se woorde was “ek vind geen skuld in Hom nie” (Joh.18:38). Teen sy eie regsbeginsels en sy bevinding in, het hy Jesus eers laat gésel en daarna oorgegee om onskuldig die ergste dood te sterf, die kruis.
  • Die kerk van daardie tyd het deur vals aanklagte op te maak en bloeddorstige wraak soos barbare vir die heidense regter Pontius Pilatus geskree:” Kruisig Hom, kruisig Hom” (Joh.19:6).
  • Die gelowiges heel naaste aan Jesus het Hom heeltemal in die steek gelaat. Petrus het Hom verloën toe hy gevloek en gesweer het dat hy Jesus nie ken nie (Mt.26:74).

Wanneer die Romeinse soldate Jesus aan die kruis vasspyker, bid Hy: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lk.23:34). Later aan die kruis, wanneer Jesus die straf op sonde ten volle gedra het, sê Hy:” Dit is volbring” (Joh.19:30). Die straf is gedra. Die sondeskuld betaal.

Jesus se gebed aan die kruis en sy volle betaling van ons sondeskuld met sy lewe, het ons verlos van die sonde van haat wat elkeen in ons gedra het omdat Adam en Eva daardie dag in die paradys God gehaat het. Jesus het ons verlos van die haat, sodat ons God kan liefhê.

Met die woorde in Rom.8:28 neem God ons ook na die oop graf. Daardie Sondag na sy kruisiging was Jesus se graf leeg. Hy het uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy vir ons die nuwe lewe, lewe met God gegee. Die nuwe lewe is ‘n ewige lewe van liefde vir God.

Volgende neem God met die woorde “vir hulle wat Hom liefhet” (Rom.8:28) ons ook na die dag in Jerusalem toe die Heilige Gees in Christus se kerk, dit is in elkeen wat in Hom glo, uitgestort is. Die Heilige Gees het gekom om in ons te leef en te werk, sodat ons God kan liefhê. Die eerste deel van die vrug wat die Heilige Gees elke gelowige laat dra, is juis liefde (Gal.5:22).

Nou kom ons by ‘n baie belangrike waarheid. Alles werk nie ten goede mee vir almal nie. Hierdie woorde is net bedoel vir die mens wat met sy of haar hele hart in Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, glo met ‘n opregte geloof wat van die Heilige Gees af kom. Hierdie gelowige is die mens wat vir God liefhet en vir wie alles ten goede meewerk.

Dan neem God met die woorde “alles laat meewerk” ons harte en gedagtes na sy regterhand in die hemel waar sy Seun is. Wanneer die Heilige Gees in die Bybel laat skryf “alles”, dan bedoel Hy alles. Met “alles” bedoel die Heilige Gees die goeie en mooi dinge wat ons gelukkig en dankbaar maak. Hy bedoel ook die dinge wat ons seermaak en swaar laat kry. Kom ons bly net by die Koronavirus(SARS Cov-2). Die virus het ‘n vernietigende uitwerking op die hele wêreld. Met die skryf van die preek was daar al 15 116 900 pasiënte met die virus, 5 360 500 het die virus steeds onder lede met 620 000 mense wat gesterf het.

Ons kan nie sê God is die oorsaak van die virus nie, want Hy is nie die oorsaak van ellende en probleme nie. Wat ons wel kan sê is dat Hy hierdie vreemde en gevaarlike virus gebruik. Hy staan nie magteloos en toekyk nie. Inteendeel! God laat ook hierdie virus meewerk na die goeie.

Dit bring ons by die “ten goede”. Van die begin van die skepping af het God die ewigheid in die oog gehad. Hy is self ewig. Hy het die eerste mense na sy beeld geskep, sodat hulle Hom kon ken, Hom kon liefhê en ewig met Hom kon leef. Van die begin tot nou toe, het God nie verander nie. Hy sal ook nooit verander nie. Hy het steeds die ewigheid in die oog.

Dat Hy alles ten goede laat meewerk kan ons in die volgende woorde sê: Hy laat alles na die ewige heerlikheid meewerk. Die “ten goede” wys op die ewige heerlikheid in die hemel. In alles wat gebeur, lei God die mense wat Hom liefhet, na die ewige heerlikheid in die hemel.

Die vraag is nou: Hoe help hierdie woorde? Watter troos kry ek in hierdie amper onmoontlike tyd?

  • Die Koronavirus beheer nie die wêreld nie, ook nie my lewe nie. Ek is nie in die mag van ‘n vreemde en gevaarlike virus vasgevang, sodat ek met angs en moedeloosheid moet saamleef nie. God beheer my lewe, want Hy is die almagtige en alomteen-woordige en ewige God. Hy gebruik hierdie virus om my te laat besef om nie vir hierdie wêreld so lief te word dat ek my lewe net hier beplan en leef en bou nie. Partykeer het God nodig om my gedagtes en my hart in die regte rigting te dwing. Met die Koronavirus dwing Hy my om te sien en te besef dat ek nie vir die res van my lewe op hierdie stukkende aarde wil leef nie.
  • Die virus bepaal nie my of enige gelowige se toekoms nie. God bepaal my toekoms, want ek is sy kind en sy erfgenaam. Hy het vir my plek in die hemel by Hom. Al sou die Here die Koronavirus gebruik om my te laat sterf, is my dood weens die virus, nie die einde van my lewe nie. My sterwe sal dan die manier wees hoe God my kom haal om in die hemel by Hom te wees. Niks, ook nie die koronavirus nie, sal my kan keer om by my plek in die hemel by God en by Jesus Christus my Verlosser uit te kom nie.

Met sy Heilige Gees en sy Woord bring God jou hart en jou gedagtes in hierdie vreemde tyd weer op die plek waar jy na die wederkoms van jou Verlosser verlang.  Die woorde in Rom.8:28 word dan jou geloofsbelydenis: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk, vir dié wat Hom liefhet”.

‘n Lewe wat die beeld van God wys

Lees: Genesis 1

Kernverse: Gen.1:26,27

Inleiding:

Wat is my doel in die lewe? Het jy hierdie vraag al vir jouself gevra, en belangriker nog, het jy al ’n antwoord op die vraag gekry? Die Here se Woord is die lig op my pad en die lamp vir my voet. In die heel eerste hoofstuk van Bybel kry ek die antwoord op die vraag na die doel van my lewe.

Tema: ‘n Lewe wat die beeld van God wys

  1. God het die mens geskep

“In die begin het God” so begin die Bybel. Hy was voor alles daar, selfs voor die begin. Net Hy was daar. Geen lewe nie. Geen materiaal nie. Net Hy. Hy leef voor alles. Hy doen. Hy skep. Die Hebreeuse woord vir skep beteken om uit niks uit, iets te maak.

Nadat God die hemel en die aarde geskep het, was daar net ‘n onbewoonbare, leë en donker aarde, woes en leeg.

Stap vir stap op die wonderlikste manier het God die hemel en aarde begin vol maak. Hy het net ‘n woord gesê en dit was daar – land en see; son, maan en sterre; visse en voëls; bome en plante; al die diere en uiteindelik die eerste mense.

Wanneer ons na die skepping van die mens kyk, is dit baie anders as al die dinge wat God reeds geskep het.

  • Voor Hy die mens geskep het, het God eers met Homself gepraat (beraadslaag). Die naam van God in Genesis is Elohim, wat die meervoud is. Reeds in die heel begin, maak God dit duidelik dat Hy besonders en heeltemal anders is. Die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees praat eers met mekaar, met Homself oor hoe Hy die mens wil skep.
  • Na elkeen van die ander dae het God gesê wat Hy geskep het, was goed. Na die skepping van die mens, het God eers niks gesê nie. Dit wys dat die mens nie dieselfde is as die res van die skepping nie. Daar is afstand tussen die mens en die skepping, al leef die mens in die skepping. Nadat Hy met die mens gepraat het oor sy werk op aarde en alles wat moet gebeur, het God na die skepping gekyk en gesê dat wat Hy geskep het, baie goed was. Die mens is baie goed geskep.
  • God het die mens ook man en vrou geskep. Hy het dus twee mense geskep. Die man moes oor die skepping heers, maar alleen kon hy nie doen wat God van hom verwag het nie. Daarom het God vir die man ‘n hulp gegee om by hom te pas, sy steunpilaar, sy regterhand in die uitvoering van die werk wat God aan hom opgedra het. In Gen.1 het die Heilige Gees Moses laat skryf dat God die mens geskep het, nadat Hy al die ander dinge gemaak het. In Gen.2 het die Gees Moses laat fokus op die skepping van die mens, die man en die vrou. Daar was nie twee skeppings nie. Die mense waarvan ons in Gen.1 lees en die mense in Gen.2, is dieselfde, Adam en Eva.
  1. Die mens se doel is om God se beeld te wys

God het in sy skepping van die hemel en die aarde die mens uitgesonder. Hy het die mens uitsonderlik en heeltemal anders as al die ander dinge gemaak. Bo die son met sy geweldige energie, die aarde wat met ondenkbare spoed om sy eie as en om die son draai, lig wat teen duiselingwekkende spoed beweeg, bo die miljoene sterre, het die almagtige God die mens uitgesonder. Hy het die mens na sy beeld geskep. Beeld beteken afbeelding, skadubeeld.

Wat beeld nie is nie – Net soos jou skaduwee nie jy is nie, is die mens glad nie God nie.

Wat beeld wel is –

  • Die mens is ‘n persoon. Elkeen mens is ‘n individuele persoon, anders as die res van die skepping. Elke mens, man en vrou, is beeld van God.
  • Die mens is heerser oor die skepping wat die aarde moet bewoon en bewerk. Die skepping is baie goed gemaak. Die mens moet deur sy optrede die skepping so beheers dat die skepping baie goed bly.
  • Elke mens is beeld van God met insig en kennis van die skepping, wie die mens is en wie God is om in die regte verhouding met God te leef – gehoorsaam aan Hom. Wat God verwag, dit doen die mens soos God wil.
  • Die mens leef in gemeenskap met God tot in ewigheid en met liefde vir Hom.

Hierdie hele lewe as beeld van God, leef elke mens in afhanklikheid van Hom en aan Hom gebind. So het die Skepper van hemel en aarde dit in die begin bedoel.

  1. Hoe lyk die beeld wat die mens vandag wys?

Ons begin by lewe in ‘n innige verhouding met God. Hier het die lewe van die mens baie sleg skeef geloop. Daar is soveel gode en soveel gelowe in ons stad en ons land. Daar is die Moslem, Hindoe, Boeddhis, Jehovagetuie, Mormoon, Scientoloog en baie ander wat nie naby die ware God leef nie. Hierdie afstand van God wys in elke geloof se oortuiging en manier van leef.

Die geloof wat nog die Bybel gebruik, lees die Bybel dikwels met mensgemaakte idees. ‘n Voorbeeld is: Baie kerke wat hulleself Christelik noem het in ons land ‘n verhouding met God wat vir hulle deur ‘n beter werk, meer geld sal gee vir ‘n beter huis, beter kar en alles wat met geld gekoop kan word. Jesus se woorde: Jy kan nie God en Mammon dien nie, jy sal die een aanhang en die ander een verag, is heeltemal vergete, asof Hy dit nooit gesê het nie.

Die vraag waarvoor elkeen van ons ook staan, is: Hoe innig is my en God se verhouding? Ek sal God se beeld net wys, indien ek ‘n innige en lewende verhoduing met Hom het.

Beeld van God beteken ook kennis van Wie God is om in die regte verhouding met Hom en gehoorsaam aan Hom te leef. Gehoorsaamheid aan God, is nie woorde wat die mens vandag wil hoor nie, wat nog te sê in die lewe wys. Die moderne mens wil vry wees om uitdrukking te gee aan emosie en gedagtes om gelukkig te voel. Selfs Christelike kerke wil van die wet van God nie weet nie. Christus het die tien gebooie in twee gebooie saamgevat: Liefde vir God met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en al jou krag en jou naaste soos jouself. Dit wil die mens glad nie.

Liefde is daar dalk, ja, maar dan het die mens ‘n eie liefde geskep, liefde vir myself en wat ek wil. Suid-Afrika is ‘n land wat lief is om te veel te drink. Deesdae kan die hoeveelheid alkohol wat ‘n mens drink per jaar gemeet word. Die wêreldgemiddelde is 6,4 l per jaar per persoon. Suid-Afrika se gemiddeld is 11,5 l, amper dubbeld die van die wêreld. Ons land drink asof die Here nooit gesê het: Moenie dronk word van wyn nie (Ef.5:19). Die sprekende voorbeeld is die krisis wat die hospitale moes hanteer, nadat die drankverbond in fase drie van die grendeltyd opgehef is.

Ek sal alleen God se beeld kan wys, indien ek sy wet baie goed ken en Hom met my lewe gehoorsaam.

Is die mens besig om die skepping so te bewerk en te bewaak dat die skepping goed bly, soos God alles in die begin gemaak het? Toe die mense wêreldwyd streng ingeperk is weens die Koronavirus, het dit goed met die skepping gegaan. Water was weer skoon, koraalriwwe het begin lewe kry, diere het weer natuurlik begin optree.

Noudat die mens weer met sy ekonomiese aktiwiteite begin soos die inperking opgehef word, sal die aarde weer baie swaar begin kry. Steenkool is Eskom se grootste bron van kragopwekking. Eskom is die verskaffer van elektrisiteit vir ons ligte, ys- en vrieskaste, ons verwarmers in die winter en ons televisies en selfone. Maar steenkool besoedel lug, maak baie mense ernstig siek, verniel die aarde en laat diere vermink gebore word.

Die vraag bly: Hoe wys ek God se beeld? Is ek daarop uit om die Here se skepping so te bewoon en so te bewaar dat die skepping goed bly en beter word? Ons gemeente het al begin om die Here se aarde te beskerm, maar ons kan en behoort regtig baie meer te doen.

Elke mens is deur God geskep. Elke lewe behoort aan Hom. Watter beeld vertoon ‘n land se mense wanneer daar elke dag 58 mense vermoor word? Vrouens en kinders word erger as diere behandel en aangerand en vermoor. Waag dit vandag en bly en werk op ‘n plaas. ‘n Plaas het ‘n gevaarsone geword.

Hoe vertoon ek God se beeld? Ek maak niemand met my hande dood nie, maar ek kan ‘n ander met my gedagtes en my woorde doodmaak. Dit mag nie. Om die geweld in ons land teen te werk, is bekering, verootmoediging en gebed baie nodig.

En as ons kyk wat maak hierdie land en sy mense met die verhouding tussen man en vrou, besef jy hoe ver Suid-Afrika van God af weg is. ‘n Man en vrou wat trou voor God het bykans die uitsondering geword. Al die ander verhoudings is heeltemal anders as hoe God dit in die begin bepaal het.

Wie die beeld van God wil vertoon, sal by die Here se Woord moet bly ook wanneer dit by die verhouding tussen man en vrou kom.

  1. Net Christus kan regmaak wat so verkeerd gegaan het.

Die wêreld lyk so stukkend en verkeerd, omdat die mense in die wêreld so verkeerd leef. Op hierdie trant gaan die wêreld homself vernietig. Dit is reeds besig om te gebeur.

  • Die mens gaan met sy besoedeling die wêreld weer onbewoonbaar maak. Dit gebeur reeds.
  • Die mensdom se grootste kenmerk gaan wees bebloede hande.
  • Gesinslewe wat een van die fondamente van ‘n gemeenskap is, is so versplinter en so afgebreek, daar van ‘n gelowige standvastige samelewing nie meer sprake is.
  • Die ergste is dat die mensdom na soveel eeue steeds weg van God is en nog verder van Hom leef. Sonder God en weg van Hom wag daar die duiwel en saam met hom God se verskriklike ewige oordeel in die hel.

Daar is net een wat kan regmaak wat so verkeerd gegaan het.

Paulus skryf oor Hom: “Die Seun is die beeld van God” (Kol.1:15).

Die Seun is die beeld van God. Hy kan ons verander om weer God se beeld te wys.

Hy wys vir ons gemeenskap met God aan die kruis selfs in sy diepste ellende en pyn “My God, my God waarom het U my verlaat” (Mt.27:46).

Hy wys vir ons gehoorsaamheid aan sy Vader deur enduit die straf op sonde te dra, daarom kon Hy sê “Dit is volbring” (Joh.19:30).

Hy wys wat liefde is deur vir hulle wat Hom onskuldig kruisig te bid “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lk.23:34).

Deur sy dood aan die kruis in ons plek, het Christus ons sondeskuld betaal en die straf op ons sonde volmaak gedra. Hy het die verwydering tussen my en God weggeneem, sodat ek weer ‘n innige verhouding met God kan hê. Hy het my verlos van die haat vir God en my naaste, sodat ek lief kan hê. Hy het my verlos van die sonde van ongehoorsaamheid, sodat ek God kan gehoorsaam.

Hy het uit die dood opgestaan om vir my nuwe lewe, die ewige lewe met God te gee.

Deur sy kruisiging en opstanding leer Jesus my weer hoe die beeld van God lyk wat ek gemaak is om te wys – gemeenskap met God, liefde vir Hom en gehoorsaamheid aan Hom.

Jesus maak my deur sy kruisiging en opstanding nuut, sodat ek as beelddraer van God kan leef.

In ons direkte omgewing sien ons veels te min hoe gelowiges die beeld van God wys.

God het jou geskep om sy beeld te wys!

Dit is jou doel in die omgewing waar jy woon en werk!

Wees jy dan deur die Heilige Gees die gelowige wat in jou lewe God se beeld wys!

Antwoord op die Woord: Ps.139:12

Gebed