Ons Kerkgebou

My dankoffer aan die Here

My dankoffer aan die Here

1. Inleiding

Elke Gereformeerde gelowige behoort te weet dat dankbaarheid ‘n wesenlike deel van ‘n mens se lewe uitmaak. Een van ons Belydenisskrifte, die Heidelbergse Kategismus, is ingedeel volgens ons sonde voor God, ons verlossing deur God en ons dankbaarheid aan Hom. ‘n Derde deel word aan dankbaarheid afgestaan.

Jy kan as ware gelowige jou dankbaarheid op baie verskillende maniere uitleef en bewys. Hierdie stuk handel oor die dankoffer in terme van stoflike middele, dit is geld, wat elke gelowige aan God verskuldig is.

2. Die tiende in die Ou Testament

2.1 Die opdrag

Israel, die gelowige verbondsvolk het by herhaling opdrag t.o.v. die tiende en ander offergawes ontvang. Enkele voorbeelde hiervan is:

Lev.27:30,32: ” (30) Een tiende van al die produkte van die land behoort aan die Here, of dit nou graan of vrugte is. Dit is aan die Here gewy. (32) Een tiende van die beeste behoort aan die Here. Die diere moet getel word, en al om die tiende dier wat verbykom, moet vir die Here afgekeer word.”

Deut.12:5,6: (5) Julle moet na die wil van God gaan vra op die plek wat die Here julle God sal kies uit al julle stamgebiede om sy Naam daar te vestig en daar te woon. Daarheen moet julle gaan (6) en julle brandoffers en ander offers bring, ook julle tiendes en ander bydraes, julle gelofteoffers en vrywillige offers, die eerstelinge van julle groot- en kleinvee.”

Mal.3:8-10(8) Sal ‘n mens werklik God beroof? Tog beroof julle My. Julle vra: ‘Waarvan beroof ons U ? ‘ Van tiendes en offergawes. (9) Daar rus alreeds ‘n vloek op julle en tog bly julle My beroof; die hele nasie doen dit. (10) Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe, sodat daar iets te ete in My huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here, die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.”

Ons leer uit hierdie dele dat:

  • Die gee van die tiende nie ‘n vrywillige saak was nie, maar ‘n opdrag van die Here. Om die tiende nie te gee nie, is om die Here te beroof!
  • Die tiende nie ‘n vae begrip was nie, maar ‘n duidelik omlynde hoeveelheid, elke tiende dier moes byvoorbeeld uitgekeer word.
  • Die tiende nie die enigste offer was nie, maar saam met ander vrywillige offers en bydraes deel uitgemaak het van die totale offers wat aan die Here gebring is.

Die groot vraag is natuurlik of die opdrag om ‘n tiende te gee soos in die Ou Testament nog geldig is. Om die vraag te antwoord, is nodig om die beginsel agter die gee van die tiende vas te stel.

2.2 Die beginsel agter die opdrag

Waarom moes Israel die tiende gee?

  • God is die Skepper van hemel en aarde. Alles behoort aan Hom (Ps.24:1,2). Hy vertrou sy besittings aan mense toe. Elke mens op aarde is ‘n rentmeester of dan ‘n bestuurder van God se eiendom (Mat.24:45,46 en 25:14).
  • Elkeen in Israel moes ‘n tiende aan die Here afstaan om daarmee te wys dat alles in werklikheid die Here s’n is.
  • Israel moes ‘n tiende aan die Here afstaan uit dankbaarheid dat Hy die Here hulle God was, aan Wie hulle behoort het as sy verbondsvolk (Eks.34:27).
  • Israel moes die tempeldiens wat die Leviete verrig het, onderhou deur tiendes te bring (Num.18:8-32, Deut.18:1-4).

Saamgevat is die beginsels vir die tiende in die Ou Testament die volgende:

  • Erkenning dat alles aan God behoort.
  • Dankbaarheid vir sy genade.
  • Die onderhoud van die tempeldiens.

3. Die tiende in die Nuwe Testament

Is die opdrag om ‘n tiende te gee opgehef in die Nuwe Testament?

Mat.5:17 “Moenie dink dat Ek gekom het om die Wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry”.

Wanneer die Ou Testament, Deut.16:17 “Elkeen moet ‘n geskenk bring in die mate waarin die Here jou God jou voorspoedig maak” met die Nuwe Testament,                 2 Kor.8:12 vergelyk word, “As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan”, sien ons dat die beginsel van dankoffer nie opgehef is nie, maar voortgaan.

Die beginsels in die Ou Testament vir die gee van dankoffers, naamlik (1) erkenning dat alles aan God behoort, (2) dankbaarheid vir God se genade, nou vir ons duidelik in Christus en (3) die onderhoud van die erediens, geld in die Nuwe Testament nog net so sterk as in die Ou Testament.

Dankoffers is nie vrywillig in die sin dat ‘n lidmaat ‘n keuse het om ‘n dankoffer te gee of om nie ‘n dankoffer te gee nie. Wanneer ‘n gelowige nie ‘n dankoffer gee nie, kom die vierde gebod in gedrang (HK, Sondag 38). Daarom is die woord “kerklike bydrae” nie die regte woord om te gebruik nie. Die Here wys ons in die Ou Testament en die Nuwe Testament dat ons van “dankoffers” of “dankbaarheidsoffers” moet praat. Hierdie gee van stoflike middele of geld is nie bloot ‘n bydrae aan die kerk waaraan ‘n mens behoort nie, nee die gawe is ‘n dankoffer aan die Here vir sy genade volgens die drie beginsels onder 2.2 genoem.

4. Die praktyk

  • In die lig van die beginsels en opdragte in die Bybel oor dankoffers, stel die Algemene Sinode elke drie jaar ramings vas en is elke gemeente verplig om die nodige ramings te betaal vir verpligtinge wat die kerkverband het. Die kerke oor die land, saam in die Sinode, besluit voor die Here dat daar uitgawes deur die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika aangegaan moet word. Elke gemeente kry dan opdrag om ramings vir die verpligte uitgawes te betaal. Die Klassis en die Streeksinode Pretoria doen dieselfde. Vir 2009 beloop die raming per belydende lidmaat ongeveer R 40 per maand per lidmaat. Vir elke belydende lidmaat, moet Akasia R 40 per maand betaal vir die kerkverband of ‘n ldimaat ‘n dankoffer gee of nie! Hierdie R40 per lidmaat is nie ‘n “vrywillige bydrae” nie, dit is ‘n verpligte dankoffer aan die Here! Dit is daarom nodig dat elke belydende lidmaat in Akasia die gereelde gee van dankoffers as ‘n opdrag van die Here en ‘n verpligting aan die Hom sien.
  • Die Kerkraad deur die Here geroep, het die taak om voor die Here te besluit oor die uitgawes vir die komende jaar en ‘n begroting daarvolgens op te stel, en die begroting op ‘n wettige Kerkraadsvergadering amptelik goed te keur. Hierdie begroting sluit die uitgawes vir die kerkverband en die uitgawes vir die gemeente plaaslik in. Hierdie goedgekeurde begroting behoort aan die gemeente deurgegee te word, sodat elke lidmaat bewus kan word van die gemeente se opdrag en verpligting teenoor God in die bepaalde jaar.
  • Die kerkraad, dit beteken die ouderlinge se roeping is om die gemeente te begelei om dankoffers aan die Here in die regte Bybelse lig te sien. Ouderlinge het die roeping om elke lidmaat te begelei om voor die Here die dankoffer vas te stel vir ‘n boekjaar en toe te sien dat lidmate die dankoffer aan die Here gereeld gee.
  • ‘n Gemeente se dankoffers moet met ‘n blymoedige en dankbare gesindheid gegee te word, want God se genade is oneidnig groot en Hy het ‘n blymoedige gewer lief (2 Kor.9:7).

jn