Home Gesonde Leer Die groot gebod

Die groot gebod

Datum: 2025-01-19

Matteus 22:37-40 – “ (37)Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. (38) Dit is die grootste en die eerste gebod. (39) En die tweede, wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat” (83 vert.)

Markus 12:28-30“Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ‘n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?” Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ 31Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

Wat is die heel belangrikste wat God van enige mens vra?

Die Fariseërs en skrifgeleerdes wat gereeld oor die gebooie, 613 van hulle, gestry het (248 wat gebied en 365 wat verbied), het besluit om Jesus in ‘n valstrik te lok (Mt.22:15.) Die Fariseërs het uit hulle eie die gebooie ingedeel in ligter of kleiner gebooie en ernstiger of groter gebooie.

Nadat hulle eerste poging oor die belasting misluk het, het hulle later met die vraag na die grootste, dit is die belangrikste gebod gekom.

Jesus, die Seun van die lewende God het hulle geantwoord:

Jy – die Here praat in sy Wet altyd persoonlik met ‘n individuele mens. Wanneer die Here praat, staan jy voor Hom. Hy praat net met jou!

Moet – hierdie is ‘n opdrag. Die woorde is nie ‘n vrywillige saak waaroor mens kan redeneer of self besluit nie. Die lewende God verwag dit van jou!

Die Here jou God – Hy is die Verbondsgod. Daar is ‘n besondere band tussen jou en Hom. Jesus Christus het die band moontlik gemaak. Jy moet jou verhouding met Hom op ‘n bepaalde manier uitleef.

Liefhê…… – Die heel belangrikste wat die Here wil hê, is dat jy Hom sal liefhê. Liefhê beteken hier dat jy jouself sal opoffer, dat jy jouself sal gee. Hierdie offer beteken dat jy sal voel dat jy van jouself gee.

Liefde beteken opoffer. Liefde is aktief. Liefde doen.

Met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en al jou krag – Jou hele menswees en elke aspek daarvan.

Dit is die grootste en die eerste gebod – Die Here, jou Verbondsgod wil jou liefde hê! Dit is die heel belangrikste. Die Here vra dus jou hele binnekant en Hy vra jou hele buitekant.

En die tweede, wat hiermee gelykstaan, is: – Die antwoord op die Fariseërs se vraag was nie so eenvoudig en oppervlakkig as wat hulle gedink het nie. Daar is ‘n verdere gebod, tweede in rangorde, maar tog gelyk aan die eerste.

Jy – Die individu word weereens aangespreek. Jy!

Moet – ‘n Tweede opdrag van die Here af. Dus geen willekeurige of vrywillige saak, of indien dit moontlik is en tyd en energie mens toelaat nie.

Jou naaste – Die mens wat die Here op jou pad bring vir wie jy iets blywends kan beteken. Let Wel: Dis nie in die eerste plek familie nie!

Liefhê – Weereens, jy moet offer, jy moet gee, al voel jy dit en is dit nie maklik nie.

Soos jouself – Plaas jouself in daardie persoon se skoene en doen dan wat jy dan sou doen.

Alhoewel hierdie so duidelik in ons eie taal vir soveel jare al in die Bybel staan as die groot opdrag aan ons, en daar so baie oor gepraat word, is dit seker een van die dele wat die meeste verwaarloos en geïgnoreer word.

Hierdie opdrag is ook eintlik maklik meetbaar.

Wat en hoeveel het elkeen van ons  die afgelope week, maand, verlede jaar vir die Here opgeoffer – hart, siel, verstand en krag?

Wat en hoeveel het elkeen van ons vir ons naaste opgeoffer?

Ons ken nie eintlik die begrip offer nie. Ons besef nie dat offer beteken om iets, die beste af te staan nie. Dit is waarskynlik die rede waarom ons so sukkel met ons liefde vir God en vir ons naaste.

Die antwoord: Bekering. Terug na die Bybel! Nie meer lippetaal nie, maar dade, werklik doen!