Home Preke Voorbereiding Die wens om regtig een met Christus te wees en ware lewe te hê

Die wens om regtig een met Christus te wees en ware lewe te hê

Datum: 2026-05-10
|
Reeks: Voorbereiding
|
Kernverse: Fil.3:10-14

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Lied 464 O Heer my God
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19
Antwoord op die Wet: Ps.19:7
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Skb.5-4/10:1,2
Lees: Filippense 3:1-14
Kernverse: Fil.3:10-14
Tema: Die wens om regtig een met Christus te wees en ware lewe te hê
Sang: Lied 464:1,2,3; Ps.71:9; Ps.19:7; Skb.5-4/10:1,2; Skb.14-4:1,2,3,4; Skb.2-4/33:1,3

Inleiding:

Hierdie verse in Filippense waarby die Bybel vanoggend oop is, gaan oor die belangrike plek wat ons verhouding met Jesus Christus in ons lewe het. Die verse gaan ook oor die wens wat in elke Christengelowige se hart behoort te wees dat ons verhouding met Christus nog meer en dieper sal groei.

Tema: Die wens om regtig een met Christus te wees en ware lewe te hê

  1. ‘n Godsdienstige lewe sonder waarde

Paulus was van kleins af ‘n godsdienstige mens. Hy het in ‘n verbondsgesin groot geword. Sy ouers het die voorskrifte van die verbond nagekom. Hulle het hom op die agtste dag soos God beveel het, laat besny. Hulle het die Here se gebooie by hom ingeskerp. Paulus het in sy volwasse jare by die Fariseërs aangesluit. Sy lewe het gehoorsaamheid aan die Here bestaan, sodat hy die wet volgens sy getuienis onberispelik onderhou het.

Paulus se lewe het gewys dat hy baie ernstig oor sy godsdiens was. As Fariseër het hy die gelowiges wat begin glo het dat ‘n mens nie meer al die wette van die Ou Testament hoef te onderhou om gered te word nie, vervolg. Hy was oortuig dat die mense wat geloof bo die wet gekies het om vryspraak by God te kry, heeltemal verkeerd was. Hulle was volgens die Paulus so verkeerd en hulle oortreding so erg dat hulle in die gevangenis gegooi moes word.

Ons kan van Paulus sê dat hy iemand was wie se godsdiens baie belangrik was en sy lewe beheers het.

Maar...daar was ‘n leegheid in hom...’n leegheid waarvan hy nie eers geweet het nie.

Hy het die leegheid eers agtergekom toe Hy die lewende Here Jesus Christus ontmoet het. Ons lees in Handelinge 9 van wat die dag gebeur het, die dag waarop Paulus se lewe heeltemal verander het. Dit was die dag waarop sy godsdiens, meer nog, sy geloof heeltemal verander het.

Sy ontmoeting met die lewende Jesus Christus het hom die leegheid in sy godsdiens, in sy geloof laat besef. Sy ontmoeting met die Here Jesus Christus het hom vas laat glo, dat sy godsdienstige lewe tot op daardie dag sonder waarde was. Paulus getuig in sy brief aan die Filippense dat sy vorige godsdiens geen waarde gehad het nie. Alles wat hy van sy kinderjare saam met hom geneem het, het niks beteken nie. Sy lewe was sonder enige waarde. Sy lewe was leeg.

Is dit net Paulus wat hierdie leegheid in hom gehad het...’n leegheid in sy godsdiens wat hy nie eers besef het nie?
Is ons soveel beter as Paulus dat ons kan sê dat hy dalk ‘n leegheid in sy godsdiens mag gehad het, maar dat ons dit glad nie het?

  1. Jesus Christus het die ware lewe

Die Here God het Paulus nie so met sy godsdienstige leegheid gelos nie. Trouens, God het niemand so gelos nie. Johannes het in die Evangelie van Jesus Christus so geskryf:

  • Joh.3:16 - “God het die wêreld so lief gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”

  • Joh.20:31 – “Maar hierdie wondertekens is beskrywe, sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.”

Jesus Christus, die Seun van God, self ware ewige God. Hy het die ware lewe, die ewige lewe. God die Vader het sy Seun wat ware lewe, ewige lewe het na ons toe gestuur.

Jesus, die Christus, die Seun van God het na Paulus toe gekom. Hy het in Paulus se hart gekom, deur sy Heilige Gees.

Christus het Paulus se lewe verander. Paulus was ‘n godsdienstige mens, maar nie ‘n gelowige in Jesus Christus nie. Hy was ‘n godsdienstige mens, maar steeds in die mag van die duiwel en sonde en die ewige dood. Die lewende Jesus Christus wat ware ewige lewe het, omdat Hy die ewige God is, het aan Paulus die ware ewige lewe gegee.

Lewe deur die wet is vals lewe, al lyk dit uiterlik goed en mooi en voorbeeldig. Lewe deur geloof in Christus is ware lewe. Vals lewe eindig in die ewige dood van God se oordeel. Ware lewe gaan oor in lewe in die hemelse heerlikheid by God.

Ware lewe kry ‘n mens net by Jesus Christus ons Here wat ware ewige lewe het en ware ewige lewe gee.

  1. Die wens om Christus te ken

Wanneer ‘n sondige mens die Here Jesus Christus ontmoet en tot geloof in Hom en tot bekering kom, is die leegheid weg. Die Heilige Gees maak ‘n mens se hart vol van Jesus Christus wat vir ons sondes gesterf en opgestaan het.

Wanneer die Here Jesus Christus in ‘n mens se hart is, kan jy nie genoeg van Hom kry nie. Luister na Paulus, nadat hy die lewende Jesus ontmoet het, tot geloof in Jesus gekom het en hom bekeer het, sodat sy lewe heeltemal verander het: “Al wat ek wens is om Christus te ken...” (Fil.3:10). Hierdie is woorde van iemand wat deur die Heilige Gees ‘n verhouding met die Here Jesus Christus het.

“Ken” is in die Bybel baie meer as net “om te weet van”. Om Christus te ken, is om Hom met ons hart te ken. Dit is om Hom met ware geloof in ons hart te ken. Dit is om met ons hele hart te glo en te weet, Hy en net Hy is ons Verlosser en ons Here, want Hy het vir ons gesterf en opgestaan en vir ons die ware lewe gegee.

Om die Here Jesus Christus te ken, is om een te word met Hom in sy dood en een te word met Hom in sy opstanding. Om een met Jesus Christus in sy dood en sy opstanding te wees, beteken om verlos te wees van die mag van sonde en ‘n verloste nuwe mens te wees.

Wie hierdie hartsverhouding met Christus het, wil nog meer van Hom hê. Iemand wat ‘n ware geloof in die Here Jesus Christus het, smag na meer, smag na geloof wat dieper word, na geloof wat ‘n mens nog nader aan die Here Jesus bring.

Dit bring ons elkeen tydens hierdie tyd van voorbereiding voor die vrae:

Wat is my wens vir Nagmaal volgende Sondag, as die Here wil?
Of het ek geen wens nie, omdat ek heeltemal tevrede is met my godsdienstige lewe soos dit is?

  1. Die genade om een met Christus te kan wees

Met ‘n erediens waar ‘n gemeente nagmaal gebruik, is daar drie dinge wat ons sien en hoor. Daar is die Evangelie van Jesus Christus wat ons hoor. Daar is die tekens van die brood en die wyn wat ons sien en eet en drink.

Die Evangelie van Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het, sluit soos ‘n sleutel ore en harte oop, dat ons kan in Hom as ons Verlosser glo. Ons geloof kry ons van die Heilige Gees af. Ons geloof bind ons so innig aan Christus dat ons een met Jesus Christus word.

Die brood en wyn tydens nagmaal is soveel meer as net brood en net wyn wat ons sien en eet en drink. Die brood en wyn het ‘n veel dieper betekenis. Daar is ‘n baie groter werklikheid in die gebruik van nagmaal.

Die dieper betekenis en groter werklikheid is die volgende: So seker as wat ons die brood en wyn sien en die brood eet en die wyn drink, so seker vul die Heilige Gees ons hart met Jesus Christus. Die Heilige Gees verseker ons weer dat ons een met Christus in sy dood en sy opstanding is. Ons is so een met Christus dat dit is asof ons saam met Hom vir ons sondes gesterf het en saam met Hom in ‘n nuwe lewe van oorwinning oor die sonde en die dood opgestaan het (Rom.6:6-11).

Die vraag is: Wie is ons en wat het ons gedoen dat ons verdien om so een met Christus te kan wees?

Die eerlike antwoord met die Heilige Gees in ons is: Ons het niks verdien nie. Dit is net genade! Alles is net genade! En...dit is genade wat God vir ons gegee het.

Hier is die Evangelie van Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het, vanoggend oop voor ons. As die Here wil, sal dieselfde Evangelie met die woorde van die ewige lewe volgende Sondag weer oop voor ons wees. En...as die Here wil, sal ons die brood en die wyn volgende Sondag voor ons oë sien en met ons monde proe en inneem. Die Heilige Gees gee ons die geloof deur die Evangelie en versterk ons geloof met nagmaal dat ons een met Jesus Christus, ons Verlosser en Here is. En...dit is alles uit genade!

Die boodskap van die Evangelie en die nagmaal is een boodskap: GENADE VAN GOD af vir ons wat in die Here Jesus glo.

  1. Die inspanning om in ewige heerlikheid by Christus te wees

Dan vertel en leer die Heilige Gees ons verder in Filippense 3 dat ons nie by die wens in ons hart om een met Christus te wees, mag bly nie. Geloof in die Here Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het, is meer en moet meer wees.

Om een met Christus te wees is nie ‘n enkele gebeurtenis in ‘n mens se lewe nie. Ons mag nie dink, omdat ons gedoop is, omdat ons belydenis van geloof gedoen het, omdat ons erediens toe kom of omdat ons nagmaal gebruik, genoeg is om een met Christus te wees nie. Om net by uiterlike godsdiens te bly, is presies wat Paulus gedoen het voor Hy die Here Jesus ontmoet het en tot bekering gekom het.

 Om een met Christus te wees beteken ‘n lewe waar ons geloof in Christus groei, al meer, al dieper en al sekerder word. Die Heilige Gees maak ons een met Christus. Dieselfde Heilige Gees laat die verlange in ons harte brand om nog meer van Christus in ons lewe te wil hê.

 Met die Heilige Gees in ons, word ons lewe ‘n lewe van geestelike inspanning. Elkeen wat een met Christus is span hom of haar in om by die wenstreep te kom waar die hemelse prys wag. Hierdie is ‘n beeld van Christengelowiges se lewe as ‘n geestelike wedloop.

 Die begin van die wedloop op aarde is ‘n wedergebore hart en geloof in Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het. Die einde van hierdie geestelike wedloop is wanneer die Here Jesus weer kom en vir almal wat in Hom geglo het, die volgende woorde sê “Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit” (Matt.25:34).

Die geestelike inspanning is om te groei in liefde vir Christus en te groei in gehoorsaamheid aan Hom. Hier kom ons by die plek van Here se Wet in ons lewe, soos ons die wet kry in die Tien Gebooie (Eks.20), die Here Jesus se Bergrede (Matt.5-7) en die brief van Jakobus om net ‘n paar dele in die Bybel te noem. Hierby kom ook die verklaring van die Here se Wet in Sondag 34 – 44 in die Heidelbergse Kategismus.

Ons behoort ons met die Heilige Gees in ons geestelik in te span om hierdie dele van die Bybel en ons belydenis, die Kategismus in ons gedagtes en ons harte te laat groei. Die Christengelowige wat met hierdie inspanning besig is, sal die Here Jesus Christus in al sy liefde en sy vriendelikheid sien en hoor wanneer Hy weer kom.

ANTWOORD
Sing: Skb.14-4:1,2,3,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.2-4/33:1,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen