ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir jule van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.146:1,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3/72:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19
Antwoord op die Wet: Ps.130:2,3
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.1-3:1,2,3
Lees: Matteus 4:12-17(83 vertaling)
Kernvers: Matt.4:17
Tema: ‘n Lewe naby God is ‘n lewe van bekering.
Sang: Ps.146:1,3; Skb.12-3/72:1,2; Ps.130:2,3; Skb.1-3/61:1,2,3; Ps.115:1,7,8; Skb.2-4/33:1,2,3
Inleiding:
Vanoggend kyk ons na die Here Jesus Christus se eerste woorde wat Hy gesê het toe Hy openlik vir die mense begin preek het. Dit is woorde wat ons almal se lewens diep raak.
Tema: ‘n Lewe naby God is ‘n lewe van bekering
God is die God wat naby ons kom. Dit was van die begin af so. Hy is alomteenwoordig; Hy is oral en tog het Hy elke dag teen skemer na Adam en Eva in die tuin van Eden gekom om op ‘n spesiale manier by hulle te wees.
Selfs na die verskriklike dag toe Adam en Eva heeltemal van God weggedraai het en die duiwel in hulle lewe genooi het en hom geglo het en gesondig het, het God daardie skemeraand steeds na hulle gekom en hulle na Hom toe geroep (Gen.3:9).
Abraham was in die land van die heidense Chaldeërs toe God na Hom toe gekom het en Hom weggestuur het na ‘n vreemde land. Daar in die vreemde land het God weer na Abraham toe gekom en die ewige genadeverbond met hom gesluit. God het op ‘n keer weer na Abraham en Sara toe gekom en ‘n seun aan hulle beloof.
Deur die lewe van sy verbondskinders het God baie keer na hulle toe gekom – Isak, Jakob by Betel en Pniël, Moses, Josua, Gideon, Daniël en Sadrag, Mesag en Abednego in die brandende oond en nog soveel meer.
Ons lees hiervan in die Nuwe Testament. In die brief aan die Hebreërs se heel eerste vers, staan hierdie woorde: “In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete” (Heb.1:1)
Baie van wat God gesê het, was beloftes, in werklikheid een belofte; die belofte dat Hy iemand sal stuur uit die nageslag van die eerste vrou om die duiwel te oorwin en sondaars te red. Ons kry die eerste belofte in Gen.3:15. Daarna in Gen.12:3, Jes.7:14; Miga 5:1 en deur eeu nog baie meer beloftes. Al hierdie kere dat God in die verlede na sy kinders in die Ou Testament gekom het, was sy koms en sy woorde vir al sy kinders van alle tye oor die hele aarde bedoel, dus OOK VIR ONS VANDAG!
Wanneer Jesus op aarde begin optree, is sy eerste woorde dat God na ons toe gekom het: “…want die koninkryk van God het naby gekom” (Matt.4:17).
Die koninkryk van God beteken dat Hy as die Almagtige in die harte van mense regeer. Hy het reeds in die Ou Testament mense se harte regeer. Abraham, Moses se ouers, Josua, Gideon en al die Here se gelowiges in die Ou Testament het in God geglo. Hulle kon net glo, omdat God hulle harte regeer het en hulle daarom in sy koninkryk was.
In die Nuwe Testament het God se koninkryk naby gekom. Sy regering deur die bose te oorwin en sondaars te red het naby gekom. Naby gekom beteken anders geword, nuwer geword, duideliker geword. Hoe het dit gebeur?
Dit bring ons by die tweede kerngedagte.
2. Hy is in sy Seun, Jesus by ons.
Jesus is in Matteus 4:17 aan die woord. Toe Hy in die openbaar tussen mense begin het om die verlossingswerk waarvoor sy Vader Hom gestuur het, te doen, was sy eerste woorde dat die koninkryk van God, dit is dat God se manier van regeer naby gekom het.
Hoe moet ons die woorde verstaan? Die Here was dan naby aan Moses in die brandende doringbos, Hy was by Sadrag, Mesag en Abednego in die brandende vuuroond!
Ons sal Jesus se woorde verstaan, wanneer ons besef wat verander het, wat nuut geword het, wat duideliker geword het tussen die tyd van die brandende doringbos en die Engel van die Here in die brandende oond.
Wat het verander?
Wat het nuut geword?
Wat het duideliker geword?
‘n Geweldige verandering het gebeur!
Jesus, die Christus, die Seun van God is gebore!
Die een uit die vrou se nageslag wat die slang se kop sal vermorsel, die een wat ‘n seën vir die nasies sal wees, die seun wat uit die maagd gebore sal word en Immanuel genoem sal word het gekom.
Hy is Jesus, die Christus, die Seun van die lewende God!
Hy het gekom om die bose – die duiwel, die wêreld en die sonde – te oorwin en sondaars wat verlore was te red.
Die belofte van die Verlosser het waar geword toe Jesus mens geword het. Al die seremonies en die offers was maar net die skaduwee van die werklikheid wat sou kom. Die werklikheid is Jesus ons Verlosser. God het in sy Seun na ons toe gekom en ons gered. Hierdie is die groot verandering wat gebeur het sedert die Ou Testament.
God het uit genade en liefde sy Seun na ons toe gestuur om ons te red. Jesus het gekom om ons sonde op Hom te neem. Hy het gekom om met ons sonde op Hom baie swaar te ly en die wreedste dood aan die kruis te sterf. Hy het gekom om vir ons uit die dood op te staan. Deur sy kruisiging en opstanding het die Here Jesus ons wat verlore was in die mag van die duiwel en die sonde verlos. Hy het ons as’t ware uit die mag van die bose geruk en ons gered, sodat ons van toe af onder sy sorg en sy liefde en sy beskerming sal leef.
Jesus het na sy opstanding na die hemel opgevaar om aan sy Vader se regterhand vir ons met sy gebede intree.
Maar…God het nie in sy Seun na ons toe gekom en met sy Seun se hemelvaart weer weggegaan nie. Die Heilige Gees het gekom om wig by ons te bly en in ons te wees. Almal wat deur die Gees wedergebore is en in die Here Jesus glo, het God by ons – oral en altyd!
3. Jesus roep ons om na God toe te kom.
God het in Jesus, sy Seun na ons toe gekom. Hy het ons gered. Hy het ons nuut gemaak, ewig nuut en vry van straf en oordeel. Dit is die een deel van Jesus se heel eerste sy eerste preek in die openbaar vir die mense.
Daar is ook ‘n ander deel van sy heel eerste preek, ‘n baie belangrike deel. Daardie deel klink so: “Bekeer julle” (Matt.4:17).
Bekeer beteken draai om. Om jou te bekeer, moet twee dinge gebeur. Die eerste is om op te hou met die rigting waarin jy beweeg. Draai om. Geestelik beteken bekering om op te hou, om te breek met alles wat verkeerd voor God is en nie in sy koninkryk hoort nie. Die tweede wat moet gebeur is beweeg in ‘n nuwe rigting, die teenoorgestelde rigting as voorheen. Geestelik beteken dit om nuut te leef, om in nuwe lewe te leef wat in die koninkryk van God pas.
‘n Lewe wat in die koninkryk van God pas, is ‘n lewe naby God en ‘n lewe vir Hom, ‘n lewe met liefde vir Hom en daarom gehoorsaam aan Hom.
Jesus het die Jode, die verbondsvolk met hierdie woorde geroep om na God toe te kom en naby Hom te leef. Die Jode het hierdie woorde so nodig gehad. Baie van hulle het deur wette te gehoorsaam gedink hulle sal gered word. Ons weet almal goed dat ‘n mens nie God se wet so kan gehoorsaam soos Hy wil hê nie. Die mense wat gedink het hulle lewe volgens die wet het neergesien op die ander. Dan was daar die tollenaars wat met bedrog en korrupsie die mense se geld gesteel het. Ons weet ook van die sonde van owerspel – die vrou wat die Fariseërs na Jesus gebring het (Joh.8) en die Samaritaanse vrou (Joh.4).
Al hierdie mense het weg van God af geleef. Jesus het hulle geroep om om te draai en na God toe terug te kom. Die Here het hierdie woorde behoue laat bly vir ons om te lees en te hoor. Jesus roep ons ook om ons te bekeer, om na God toe te kom, om nader aan Hom te leef.
Jesus het nie net van eenkeer se bekering gepraat nie. Die manier hoe Hy dit gesê het, het beteken die bekering moet aanhou. Bekering is om elke dag van ons lewe op te hou om gedagtes te dink, woorde te sê en dinge te doen wat nie in God se koninkryk pas nie. Dit is al die gedagtes en woorde en dade wat nie voor God reg is nie. Dit is die eerste deel.
Bekering is om elke dag nuut te leef, on nader en nader aan God te leef met gedagtes en woorde en dade wat in sy koninkryk pas en volgens sy wil en reg voor Hom is. So ‘n lewe is ‘n lewe met liefde vir God en gehoorsaamheid aan Hom.
4. Selfondersoek: Hoe naby is ons aan God?
Ons is in die tyd van voorbereiding vir eerskomende Sondag se nagmaal, as die Here wil. God het in sy Seun Jesus na ons toe gekom. Met nagmaal volgende Sondag, as die Here wil, vier ons juis Jesus se dood aan die kruis.
Ons het die Bybel. Die Bybel is vanoggend by Matteus 4 oop. Jesus roep ook almal van ons om na God toe te kom, om nader aan Hom te leef.
Om nagmaal te vier soos dit in die koninkryk van God pas, is dit nodig dat ons almal onsself sal ondersoek. Die vraag wat ons almal moet antwoord, is: Hoe naby is ons aan God? Is ons naby God en pas ons gedagtes en ons woorde en ons dade in God se koninkryk?
Al ons gedagtes en woorde en dade is oop en bloot voor God. Hy weet hoe elkeen van ons se lewe lyk. Hy weet of ons ons elke dag bekeer en of ons by ons gewoontes bly in hoe ons dink en praat en doen.
God wil ons naby Hom hê. Bekering bring ons by Hom. Ons het die Heilige Gees in ons. Hy gee ons die geestelike krag om om te draai en nader aan God te leef. Daarom behoort almal van ons hierdie week in die krag van die Heilige Gees elke dag ‘n ewe van bekering te leef – weg van die verkeerde en nader aan God. Vir elkeen wat deur die Heilige Gees ‘n lewe van bekering leef, is daar plek aan die Here se tafel tydens nagmaal.
ANTWOORD
Sing: Ps.115:1,7,8
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.2-4/33:1,2,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen