Home Preke Oujaar / Nuwejaar God, die almagtige Skepper beskik tyd en ewigheid

God, die almagtige Skepper beskik tyd en ewigheid

Datum: 2026-01-18
|
Reeks: Oujaar / Nuwejaar

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.8:1,3,4,7
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps. 71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Skb.9-3:1
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.139:8,9
Lees: Prediker 3:1-17
Kernvers: Pred.3:11
Tema: God, die almagtige Skepper beskik tyd en ewigheid
Sang: Ps.8:1,3,4,7; Ps,71:9; Skb.9-3:1; Ps.139:8,9; Ps.90:1,9; Ps.145:1,2,4,12

Inleiding:

2026 is ‘n jaar wat God ons gegee het. Dit is nog ‘n jaar in ‘n gebroke en deurmekaar wêreld. Dit maak van 2026 ‘n jaar wat ons met opregte geloof sal moet aanpak. Die genade is dat ons dit so kan doen. God praat met ons hieroor in Prediker 3.

Tema: God, die almagtige Skepper beskik tyd en ewigheid

  1. God het alles gemaak

Hy is die almagtige skepper van hemel en aarde. Die Bybel begin met hierdie belangrike waarheid. Die heel eerste ding wat God wil hê ons moet weet, is dat Hy alles gemaak het: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Gen.1:1). Die eerste vers van die eerste boek van die Bybel, ‘n baie belangrike vers.

Ons weet hierdie almal. Maar…dat God alles gemaak het, is nie woorde wat mens net kan lees en dink dit is maklik om te weet en te onthou nie. Dat God die hemel en die aarde en alles wat daarin is, gemaak het, is ‘n geweldige waarheid wat ons almal se lewe baie diep raak.

Hy gee vir ons lewe. God het die eerste mens uit stof gemaak. Daarna het Hy die asem van die lewe in die mens se neus geblaas. Toe God dit gedoen het, het die eerste mens ‘n lewende wese geword. Daarna het die Here die eerste vrou uit die man se ribbebeen, wat ook maar van stof af kom, gemaak. Na die eerste twee mense, word elke enkele ander mens van twee stukkies stof wat die Here aan mekaar bind om een te word, gemaak. Soos elkeen van ons hier sit, het God ons lewe gemaak.

God het die aarde gemaak. Hy gee vir ons lewe op sy aarde en ruimte om op sy aarde te leef. Oral waar ons op hierdie aarde beweeg, beweeg ons op wat die Here gemaak het. Alles wat ons gebruik, kom uit die aarde Wat die Here gemaak het. Ons kan sê Thomas Edison het die gloeilamp uitgevind, Marconi die eerste radio, Bell, die eerste telefoon en Cooper die eerste selfoon. Maar… hulle het dit uitgevind met wat die Here reeds op aarde gemaak het en met ‘n verstand wat die Here gegee het. Dieselfde kan mens oor alles sê, die huise waarin ons bly, die karre waarmee en die paaie waarop ons ry, die rekenaars waarmee ons werk, die klere wat ons aantrek, die kos wat ons eet, alles.

Ons is in die jaar 2026. Hierdie jaar kry ons net van God af. Soos elkeen van ons vanoggend hier sit, is ons in ‘n jaar in hierdie lewe wat God ons gegee het.

Hierdie dag, is die dag van die Here. Hy het een dag in die week ingestel as ‘n spesiale rusdag. In die Ou Testament was dit die sewende dag wat ons as die sabbat kan. Met Jesus se koms het die sabbat verby gegaan. In die plek van die sewende dag as die Here se dag, het die dag van die Here Jesus se opstanding, die eerste dag van die week, Sondag gekom. Sondag is nou die dag van die Here, die spesiale rusdag in die week, wat God se Seun ingestel het. Sondag 18 Januarie het ons ook van die Here gekry. Hy gee elke uur, elke minuut, elke sekonde.

Ons kan sê: God het tyd gemaak. Hy gee vir ons tyd.

Die Prediker was ‘n gelowige met baie wysheid. Hy het alles ondersoek. Hy het daaroor nagedink. Hy het tot gevolgtrekkings gekom. Daarna het hy alles neergeskryf. Hy het deur die Heilige Gees geskryf. Ons het in Prediker dus ‘n baie wyse gelowige wat die woorde wat van God af kom, neergeskryf het. Hy het neergeskryf dat God alles gemaak het.

Die Prediker is nie die enigste gelowige wat deur die Heilige Gees geskryf het dat alles van God af kom nie. Dawid het in Ps.24 geskryf dat alles aan die Here behoort, omdat Hy alles gemaak het. In Hand.17 hoor ons nog ‘n gelowige, Paulus aan die mense in Athene verkondig dat God alles gemaak het.

2. Elke ding pas op sy bepaalde tyd

In die Hebreeus in Pred.3:11 staan God het alles “mooi gemaak op sy tyd”. Dit beteken goed gemaak. Die waarheid dat God alles mooi of goed gemaak het, beteken dat hy elke ding gemaak het dat dit pas in ‘n bepaalde tyd.

Die prediker wat alles ondersoek het en sy gevolgtrekkings neergeskryf het, het deur die Heilige Gees in hoofstuk drie veertien dinge wat gebeur teenoor mekaar gestel.  Hierdie woorde in Pred.3:1-8 raak elke mens, elke gelowige, elkeen van ons. Dit is nie woorde wat mens bloot kan lees en dink dit is darem so mooi gestel nie. Hierdie woorde gaan oor die sirkelgang van die lewe op aarde. Die swaar hiervan is dat ons as mense in hierdie lewe in hierdie sirkelgang vasgevang is.

Ons almal se lewe begin by ‘n tyd om gebore te word en vir ons almal is daar ‘n tyd om te sterf. Tussen ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterf, leef elkeen van ons hierdie lewe op hierdie aarde.

Die mens veroorsaak nie hierdie sirkelgang van sy lewe op aarde wat omraam word deur geboorte en sterwe nie. God beskik die lewe. Ons as mense het nie ‘n keuse nie, ons is noodgedwonge vasgevang in hierdie sirkelgang van die lewe.

Miskien is daar in ons familie ‘n swangerskap met 2026 die jaar, die bepaalde tyd waarin ‘n baba in ons familie gebore sal word. Ons is almal reeds gebore. Vir almal van ons is daar nou die tyd om te sterwe. Die Here het ook daardie tyd vir elkeen van ons gemaak dat dit pas in die bepaalde tyd – die bepaalde jaar, bepaalde dag, die bepaalde oomblik.

Die tyd om plante uit te trek wat geplant is, om te laat wegraak wat aangeskaf is, kan gebeur wanneer onsself of vriende of familie verhuis. Ander gesondheidsomstandighede of ‘n ander werk kan maak dat ‘n mens verhuis na ‘n ander omgewing. Dan is dit die bepaalde tyd om plante uit te trek en besittings weg te maak.

Daar kan dinge gebeur wat ons laat lag en bly maak, maar in hierdie gebroke wêreld kan daar ook hierdie jaar ‘n tyd wees om te huil en te treur.

Voor ons lê 2026, die bepaalde tyd wat God gemaak het. Ons weet nie wat die jaar vir ons inhou nie. Wat ons wel weet, is dat hierdie jaar ‘n bepaalde jaar, ‘n bepaalde tyd is wat God gemaak het. Alles wat hierdie jaar gebeur, sal in die tyd pas waarin God dit laat gebeur.

Wanneer mens al hierdie dinge in Prediker lees en daaroor nadink, kan sy woorde wat soveel keer in die boek voorkom en so bekend is, in ‘n mens se gedagtes en hart opkom, dat alles tevergeefs is of dat alles tot niks kom.

3. God het die onbepaalde tyd in die mens se hart gelê

Prediker is een van die wysheidsboeke in die Bybel. Die wysheidsboeke gaan oor ‘n lewe in verhouding met God waar die Here sy wil bekend maak en van ons vra om sy wil te ken en sy wil te doen.

Tot dusver het ons in Prediker 3 te doen gehad met God wat alles gemaak het en alles laat pas in ‘n bepaalde tyd. Die Here wil dat ons dit weet, besef, glo en so sal leef. Niks gebeur net nie. Die jaar 2026 het nie net gebeur, omdat ons by 31 Desember 2025 gekom het nie. Hierdie jaar pas in die bepaalde tyd wat God daarvoor gegee het. Dan wil die Here dat ons in 2026 sal leef soos Hy wil. Dit is: Dat ons sal glo en besef 2026 is God se tyd wat Hy vir ons gee en dat alles wat Hy gee, in ‘n bepaalde tyd pas. Wanneer ons lag of huil, bymekaarmaak of wegmaak, wil die Here dat ons sal glo en besef dat dit alles pas in die tyd wat Hy daarvoor gee.

Ons is vasgevang in hierdie sirkelgang van geboorte en sterwe as gevolg van sonde. Adam en Eva het en deur hulle die hele mensdom die ewige lewe met God verloor. Deur hulle sonde het die bepaalde tyd om te sterf in die lewe op aarde gekom. Sonde hou die mensdom gevange in die tyd om gebore te word en die tyd om te sterf

Maar…die Here is die GOD VAN GENADE EN LIEFDE! Deur die Heilige Gees kon die Prediker die volgende woorde skryf: ”Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd.” Hierdie besef van die onbepaalde tyd het God in die hart van die mens gelê. Die onbepaalde tyd gaan nie oor dae en jare nie, maar oor tyd in ‘n mens se hart.

Oor die onbepaalde tyd in die mens se hart gaan ons na die Nuwe Testament toe. In Gal.4:4,5 lees ons die woorde: “Maar op die tyd wat God daarvoor bepaal het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.

God het uit liefde sy Seun gestuur na ‘n mensdom verlore en vasgevang in die sirkelgang van geboorte en sterwe. Jesus, God se Seun is op ‘n bepaalde tyd, in ‘n bepaalde plek gebore vir ons. Jesus het op ‘n tyd deur God bepaal en ‘n plek deur God bepaal op ‘n manier deur God bepaal vir sondaars gesterf – aan die KRUIS OP GOLGOTA! Die Here Jesus het op die dag deur God bepaal, op die derde dag, uit die dood opgestaan. Deur sy dood en sy opstanding het Jesus Christus ons van sonde verlos en aan ons nuwe lewe, ewige lewe gegee. Jesus Christus het ons van die sirkelgang van die lewe wat begin met geboorte en eindig met ons sterwe, verlos!

Die ons wat verlos is, is elke mens in wie se hart ‘n wonderwerk gebeur het, die wonderwerk van wedergeboorte. Uit liefde en genade het God en Jesus sy Seun, die Heilige Gees gestuur. Die Gees, almagtige God, het in ons harte gekom met die Evangelie van die gekruisigde Jesus. Hy het lewe in dooie harte begin – WEDERGEBOORTE!

‘n Wedergebore hart, is ‘n hart wat in Jesus Christus glo wat vir ons gekruisig en vir ons opgestaan het. Elkeen met hierdie geloof, is nie meer vasgevang in sonde, in die sirkelgang van hierdie lewe wat by die dood eindig nie. Inteendeel! Elkeen wat in die Here Jesus glo, het die EWIGE LEWE! 

God se Seun, Jesus Christus, ons Verlosser, bring vir ons die bepaalde tyd en die onbepaalde tyd bymekaar. Deur die Here Jesus is ons nie meer vasgevang in hierdie tyd op aarde nie. Hy het in ons plek op ‘n bepaalde tyd gesterf, sodat ons na ons lewe in die bepaalde tyd, die onbepaalde tyd, die ewige lewe in die hemel kan leef. Daar sal ons onbepaald by God ons Vader en Jesus ons Verlosser leef – met geen dood, geen trane, niks om oor te treur, geen uittrek, geen afbreek, geen wegmaak meer nie…net EWIGE HEMELSE VREUGDE!

4. Die mens kan die werk wat God doen nie verstaan nie

God is ewig, volmaak, alwetend. Sy gedagtes is baie hoër as ons gedagtes en sy weë baie hoër as ons s’n. Ons is niks daarvan nie.

Ja, daar is belangrike dinge wat ons vir ons lewe in hierdie bepaalde tyd moet verstaan. Ons moet verstaan hoe ‘n alfabet werk om te kan lees en skryf. Ons moet verstaan hoe syfers werk dat ons kan tel. Ons moet verstaan hoe ‘n voertuig werk dat ons kan beweeg, hoe ‘n telefoon werk dat ons kan bel en baie ander dinge.

Maar…wanneer dit kom by wat God doen, sal ons nie kan verstaan nie. Ons kan God nie peil of deurgrond nie. Wanneer dit by die almagtige Skepper van hemel en aarde kom, is geloof nodig. Die Here leer ons hierdie belangrike waarheid: “Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebr.11:1).

In 2026 moet ons daarom nie op ons verstand wil staatmaak nie. Die jaar 2026 is veel eerder ‘n jaar vir wedergebore harte vol geloof. Met die Heilige Gees in ons kan ons die jaar aanpak met die sekerheid, wat ook al in hierdie bepaalde jaar gebeur, ons sal nie oorweldig word nie. Ons sal nie plat geslaan word nie. Ons sal nie op moedverloor se vlakte sonder hoop leef nie.

Groter en sterker as al die dinge wat in hierdie bepaalde tyd sal gebeur wat swaar mag wees, is die sekerheid van die onbepaalde tyd wat in ons harte leef. Die Heilige Gees gee ons nuwe moed en nuwe krag met die sekerheid dat die almagtige Skepper wat alles in sy bepaalde tyd laat pas, ons Vader in die hemel is. Hy lei ons in alles wat in 2026 met ons gebeur na ons bestemming in die onbepaalde tyd, die ewigheid, waar Hy met oop arms vir ons wag.

ANTWOORD
Sing: Ps.90:1,9
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.145:1,2,4,12
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen