Home Preke Oujaar / Nuwejaar Ons verhouding met Christus wys in ons gehoorsaamheid aan ons Vader in die hemel

Ons verhouding met Christus wys in ons gehoorsaamheid aan ons Vader in die hemel

Datum: 2026-01-04
|
Reeks: Oujaar / Nuwejaar

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Skb.12-3/72:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.9:1,7,10

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.25:4,6
Lees: Matteus 7:13-23
Kernverse: Matt.7:23
Tema:
Sang: Skb.12-3/72:1,2; Ps.9:1,7,10; Ps.86:6; Ps.25:4,6; Ps.119:1,2; Ps.105:2,3,4

Inleiding:

Die Here het ons die jaar 2026 laat ingaan. Dit is ‘n nuwe jaar. Dit is veral ‘n jaar wat ons nader aan die Here Jesus Christus se wederkoms bring. Dit is belangrik dat ons by al die vreugde en vrolikheid oor die nuwe jaar, diep in ons harte ook bly sal wees dat ons Verlosser se wederkoms besig is om nader te kom.

Ons is vanoggend by ‘n deel van Jesus Christus se preek teen een van die berge naby Kapernaum. Teen die einde het die Here Jesus oor sy wederkoms gepraat. Hy het veral geleer dat ons verhouding met Hom ons ewige toekoms sal bepaal die dag wanneer Hy as Hemelregter oordeel. Dan het Jesus ook geleer dat ons verhouding met Hom alles te doen het met ons gehoorsaamheid aan sy Vader se wil.

Tema: Ons verhouding met Christus wys in ons gehoorsaamheid aan ons Vader in die hemel

  1. Ons Here Jesus Christus kom weer om te oordeel

Ons hele lewe staan onder hierdie baie groot en baie belangrike waarheid: God se Seun kom om as Hemelregter elke mens te oordeel. Die hele hoofstuk 7 het te doen met God wat aan die einde deur Jesus Christus sy Seun oordeel. Ons sal dit besef wanneer ons die Bybel dieper lees. Die eerste deel in Matteus 7 gaan daaroor dat ons nie veroordelend en krities teenoor ander mense sal wees, terwyl ons ons eie sonde verskoon nie. Die oordeel waarmee ons ander oordeel, sal ons mee geoordeel word wanneer Christus weer kom. Die deel van die hoofstuk waarmee ons vanoggend besig is, gaan ook oor oordeel wanneer Jesus Christus weer kom. Net so die ander dele in Matteus 7.

Die baie belangrike waarheid is: Jesus Christus kom weer om te oordeel. Wanneer Hy weer kom, is Hy die LEEU van Juda, die OORWINNAAR van die duiwel, die wêreld en sonde, die HOOF van die heelal en sy kerk, die ALFA EN OMEGA, die HEMELREGTER!

Hy, en HY ALLEEN bepaal waar ons gaan wees – weg van Hom in die buitenste duisternis of by Hom waar Hyself die ewige Lig is. Elke enkele mens sal uit die mond van Jesus, die Seun van God hoor wat elkeen se finale bestemming sal wees. Daardie dag dat Jesus weer kom om te oordeel, sal die finale dag wees van die heelal soos ons dit geken het.

Die seun van God sal met sy wederkoms oordeel. Niks wat enigiemand nog wil sê of wil doen, sal enigiets verander aan wat die Here Jesus in sy oordeel gaan sê nie.

Dat Jesus Christus weer kom, is ‘n werklikheid. Hierdie werklikheid kom met elke nuwe jaar nader. Ons weet Jesus se wederkoms sal soos ‘n dief in die nag wees. In Lukas 21 lees ons ‘n waarskuwing van Jesus dat wie nie op sy hoede is en waak en bid met die oog op die Here Jesus se wederkoms nie, skielik deur die dag oorval sal word.

Wie waaksaam is en bid, sal nie skielik oorval word nie.

En Jesus en sy dissipels het gelowiges baie oor sy wederkoms geleer en onderrig, oor die skielikheid daarvan en hoe om vir Hom te wag tot Hy weer kom.

Deel van hierdie onderrig kry ons in Matteus 7 waarmee ons vanoggend besig is. Omdat hierdie woorde uit die mond van Jesus, die Christus, die Seun van die lewende God kom, is dit woorde om vas te gryp in ons gedagtes en ons harte, woorde om elke dag hierdie jaar en vir die res van ons lewe mee saam te leef in ons gedagtes en in ons harte en in ons doen en late.

2. Christus onderrig ons oor ons verhouding met Hom

Ons is met vanoggend se verse by die onderrig van die Here Jesus oor ons verhouding met Hom, met die oog op sy wederkoms.

Die eerste onderrig is oor twee poorte en twee paaie. Daar is twee poorte en twee paaie in hierdie lewe tydens die aardse bedeling. Daar is die breë pad wat lei na die poort van die verderf.  Daar is die smal pad en die nou poort wat na die lewe lei. Baie is op die breë pad na die verderf. Min is op die smal pad na die lewe.

Hierdie gelykenis oor die nou poort, is in werklikheid ‘n gelykenis met die oog op die Here Jesus Christus se wederkoms. Die nou poort is ‘n beeld van geloof alleen in Christus alleen, Hy wat gekruisig is en opgestaan het dat ons gered kan word en in die koninkryk van die hemel kan wees. Die smal pad is die lewe deur die Heilige Gees. Lewe deur die Gees is ‘n heilige lewe van selfverloëning, oorgawe aan Christus en gehoorsaamheid aan Hom en deur Hom, gehoorsaamheid aan sy Vader. Min mense leef hierdie lewe deur geloof alleen in Christus alleen.

Die poort wat na die verderf lei, is ‘n beeld van ‘n wêreldse lewe, soms het hierdie lewe ‘n skyn van geloof, soms wys hierdie lewe geen geloof nie. Die poort van die verderf is wyd en die pad van die verderf is breed. Dit beteken daar is baie ruimte om enigiets te dink en te sê en te doen, sonder om regtig deur geloof alleen in Christus alleen te leef. Baie leef hierdie lewe. Ons sien en hoor dit in ons land.

In Christus se onderrig het Hy ook gewaarsku oor vals profete en vals innerlike vrede en geestelike oorgerustheid.

Die eerste waarskuwing is teen vals profete. Hulle is verskeurende wolwe in skaapsklere. Aan hulle vrugte sal hulle geken word. Jesus beklemtoon hierdie vrugte deur aan die begin en die einde daarvan te praat. Wat is die vrugte? Die vals profete plaas die mens en die mens se behoeftes in die middelpunt en preek weinig oor Jesus wat vir ons sonde gesterf en opgestaan het. Die preke oor die mens se behoeftes as die belangrikste, maak die vals profete aanloklik. Die vals profete praat oor Christus, maar wys nie Christus met hulle lewe nie. Deur die woorde van die vals profete word baie mense mislei, ook in ons land.

Die Here Jesus se tweede waarskuwing is teen innerlike vals vrede. Nie elkeen wat sê Here, Here sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, net die mens wat die wil van die Vader doen.

Mense met innerlike vals vrede is mense wat oor die Here praat. Hulle praat selfs met emosie wat lyk of hulle oortuig is. Hulle sê: Here, Here!

Wat meer is, hierdie mense praat nie net nie. Hulle doen ook. Hulle preek in Jesus se Naam. Dit is moontlik. Saul het saam met die Here se profete geprofeteer (1 Sam.10:11). Hulle dryf duiwels uit in sy Naam. Die sewe seuns van Skeva, ‘n een van die Jode se priesterhoofde het in Jesus se Naam duiwels probeer uitdryf (Hand.10:11-16). Hulle doen wonders. Die towenaars van die Farao in Egipte het ook dieselfde wonders as Aäron kon doen (Eks.7:11,12).

Hoe maklik word ook ons nie deur mense beïndruk nie! Iemand moet net van die Here praat, dan is ons gerus. Ons neem so iemand op in die gemeente. So iemand kan Nagmaal gebruik. Kort voor lank word aan so iemand gedink as ouderling of diaken.

Om nie te praat van duiwels uitdryf en wonders doen nie! Ons ken dit nie, maar sal ons nie nog meer beïndruk wees en selfs aangegryp word, wanneer iemand duiwels uitdryf en wonders doen nie?

Mense kan beïndruk en gebluf word, maar nie Christus nie. Met sy wederkoms sal Hy, die almagtige en alwetende Hemelregter elkeen wat in sy Naam gepreek, duiwels uitgedryf het en wonders gedoen het, maar sonder ‘n lewende en innige verhouding met Hom nie in alles aan sy Vader gehoorsaam was nie, vir altyd, dit is ewig, van Hom af wegstuur. Hierdie woorde van Christus beteken die ewige oordeel in die hel.

3. Gehoorsaamheid aan ons Vader, is wat Christus verwag

Met hierdie woorde in Matteus 7 verwag die Here Jesus van ons om onsself te ondersoek, ‘n lewe van bekering te leef en met ‘n heilige lewe ons Vader in alles te gehoorsaam.

Waarom is selfondersoek nodig? Die Here Jesus gee ‘n ernstige waarskuwing: Baie sal sê! BAIE! Eerlike selfondersoek met die Heilige Gees se hulp en leiding is nodig, sodat ons nie deel van die baie sal wees wat net praat nie.

Toe Jesus sy dissipels die aand voor sy gevangeneming vertel het dat een van hulle Hom sou verraai, het hulle een na die ander gevra: “Dit is tog nie ek nie Here?” (Matt.26:22). Judas Iskariot het ook gevra (Matt.26:25). Judas kon dit vir die dissipels wegsteek, maar nie vir Jesus, die Christus, die Seun van die lewende God nie. 

Jesus het daardie aand ook gesê dat al die dissipels Hom daardie nag in die steek sou laat. Dit het gebeur (Mark.14:50). Petrus wat gesê het dat al sou al die ander Jesus verlaat, hy nie sou nie, maar dat hy sy lewe vir Jesus sou gee, was juis die dissipel wat Jesus verloën het, drie keer. Die derde keer toe iemand gesê het dat hy ook een van Jesus se volgelinge was, het hy gevloek en gesweer dat hy Jesus nie geken het nie (Matt.26:69-75).

Wie van ons gaan dit waag om te dink ons is glad nie soos Judas Iskariot nie en ons sal ook nie doen wat Petrus gedoen het nie? Die gevaarlikste is om te dink dat ons nie soos hulle is nie. Indien ons dink ons is nie so sondig soos die dissipels nie, en ons het nie selfondersoek nodig nie, leef ons met vals innerlike vrede. Lewe met vals vrede is ‘n lewe wat op die ewige dood afstuur.

Selfondersoek deur die Heilige Gees, eerlik voor die heilige God van hemel en aarde, behoort elke gelowige met skaamte te laat besef en bely: My gehoorsaamheid skiet ver te kort. Ek is baie meer ongehoorsaam as wat ek gehoorsaam is.

Maar…om in ons selfondersoek weer net te sê Here, Here, is NIE GENOEG NIE! Bloot belydenis met woorde laat ons nog net so op dieselfde plek met meer ongehoorsaamheid as gehoorsaamheid! Die Heilige Gees is die volmaak ewige God. Hy sal nie halwe werk in ons doen nie. Die Gees sal ons nie net tot by woorde lei nie. Wie net praat en niks doen nie, is presies die mens waarvan Jesus gepraat het, toe Hy gesê het: Nie elkeen wat sê Here, Here sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie.

Die Gees wat ons tot besef van ons sonde bring, is die Heilige Gees wat ons tot belydenis van ons sonde bring en is dieselfde Heilige Gees wat ons tot bekering bring. Die Heilige Gees gee ons die geestelike krag dat ons sal omdraai op die pad van net woorde en emosie oor Christus waarop ons is. Die Gees gee ons die krag om terug te keer op die pad van heiligmaking waar ons God bo alles en ten alle koste gehoorsaam. God wil ‘n heilige lewe, dit is ‘n lewe aan Hom gehoorsaam, want sonder ‘n heilige lewe sal niemand God sien nie (Hebr.12:14). Om hierdie rede is bekering so nodig!

Gehoorsaamheid aan God is verder nie net bolangs nie. Dit is gehoorsaamheid uit geloof en met liefde. Dit is gehoorsaamheid wat ons oral en altyd openlik met ons hele lewe sal moet wys. Dit is gehoorsaamheid waarmee die Here Jesus Christus ons besig wil kry wanneer Hy weer kom. Wanneer Hy ons so besig met gehoorsaamheid aan sy Vader se wil kry, sal Hy nie vir ons, wanneer Hy almal oordeel, sê: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” nie (Matt.7:23). Inteendeel! Sy woorde sal so klink: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit” (Matt.25:34).

Die Here Jesus se wederkoms is besig om nader en nader te kom. Maak hierdie jaar baie meer erns met hierdie geweldige gebeurtenis as verlede jaar. Wys jou erns deur nie net te praat en te sê: Here, Here nie! Wys jou geloof en jou liefde vir God deur hierdie jaar ‘n jaar van heiligmaking te maak en in die krag van die Heilige Gees, die wil van God ons Vader oral en altyd met alles wat jy het, te doen!

ANTWOORD
Sing: Ps.119:1,2
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.105:2,3,4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen

Klankbaan

Luister na die preek.