Home Preke Nagmaal preke Nagmaal se boodskap - Ons is gereinig om in die lig te lewe

Nagmaal se boodskap - Ons is gereinig om in die lig te lewe

Datum: 2026-05-17
|
Reeks: Nagmaal preke
|
Kernverse: 1 Johannes 1-2:2

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.8:1,3,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.19:4
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.43:3,4
Lees: 1 Johannes 1:1 – 2:2 (2020 vertaling)
Kernvers: 1 Joh.1:6-9
Tema: Nagmaal se boodskap – Ons is gereinig om in die lig te leef.
Sang: Ps.8:1,3,4; Skb.12-3:1,2; Ps.19:7; Ps.43:3,4; Ps.145:9 ter voorbereiding van die tafel; Ps.116:1,4,5,7 – aan tafel; Ps.36:2,3;

Inleiding:

Verlede Sondag met ons voorbereidingsdiens het die preek gegaan oor die wens om een met Christus te kan wees en ware lewe te kan hê. Vanoggend se preek vir ons nagmaaldiens uit 1 Johannes 1 bring ons by die antwoord op ons wens.

Tema: Nagmaal se boodskap – Ons is gereinig om in die lig te leef.

1.    Jesus Christus het ons van sonde gereinig

Lewe in sonde – Johannes het op meer as een manier oor sonde geskryf. Sonde verskyn in hierdie lewe op baie maniere. In vers 5 skryf Johannes op die eerste manier oor sonde. Hy skryf dat ‘n mens in die duisternis, dit is in sonde kan leef. In die 53 vertaling kry ons die woord wandel.

Wat bedoel Johannes daarmee dat ‘n mens in sonde lewe? Hy bedoel dat sonde meer is as om net verkeerd te doen. Sonde kan ‘n manier an lewe wees. Wanneer iemand aanhou om humeurig te wees, aanhou leuens vertel of aanhou om van mense te skinder, is dit meer as om net verkeerd te doen. So iemand doen verkeerd, vra dalk vergifnis en doen dan weer verkeerd, vra weer vergifnis, maar doen dieselfde verkeerde ding weer. Wie aanhou dieselfde sonde doen, doen nie net sonde nie, maar lewe in sonde.

Ontkenning van sonde – Die tweede manier waarop Johannes oor sonde skryf, is wanneer ‘n mens sonde ontken. Daar was destyds mense wat as Christene bekend was, wat geglo het en openlik gesê het dat al hulle van al hulle sondes verlos is en nie meer sonde het nie.

In ons tyd bestaan die ontkenning van sonde steeds –

  • Wanneer ons dink en sê dat ons sonde nie so erg is nie, ontken ons in werklikheid ons sonde.

  • Wanneer ons maklik in ‘n gesprek sê dat ons weet tog almal is sondig en die besef van hoe erg sonde is, is nie daar nie, dan ontken ons sonde.

  • Die derde manier van ontkenning van sonde is om nie met alles wat ons het, ten bloede toe, soos die Here in Hebreërs 12:4 sê, teen sonde weerstand te bied en daarmee te breek nie.

  • ‘n Vierde manier om sonde te ontken, is om sonde af te maak deur te sê dat ons almal maar net mense is of dat dit net menslik is wanneer iemand sondig.

Wie so leef, leef, wandel in duisternis. Om aan te hou sonde doen of om sonde te ontken is om verkeerd te doen, maar dit is meer, dit is erger. Johannes skryf dat ‘n mens wat so met sonde maak, in die duisternis leef.

Om in die duisternis te leef, is om in die ryk van die duisternis te leef. Dit is baie erg. Trouens, dit is verskriklik om in die ryk van die duisternis te leef. In die ryk van die duisternis is om in die mag van sonde en in die mag van die owerste van die ryk, dit is die duiwel te wees. Vir elkeen in sonde se mag en in die duiwel se mag, elkeen wat nog in duisternis leef, wag die ewige dood.

MAAR...

God is lig – Johannes, en die ander apostels saam met hom, het ‘n boodskap by God se Seun, Jesus Christus gekry. Hulle moes die boodskap uitdra, bekend maak tot aan die uithoeke van die aarde. Die boodskap is: God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie.

Teenoor die ryk van die duisternis, staan die ewige koninkryk van die lig. God is lig. Hy is ewig lig. Hy is die almagtige Regeerder van sy koninkryk van die lig. Johannes skryf en hy beklemtoon: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie” (vs 5).

Alle mense is deur Adam en Eva se sondeval in die ryk van die duisternis. God wil nie dat alles duisternis sal wees nie, daarom was die eerste wat Hy gedoen het toe Hy in die begin alles geskep het, om lig te skep.

God wil nie dat alle mense in die ryk van die duisternis onder sy oordeel bly nie. Hy wil nie dat ons in die ryk van die duisternis sal wees en in die duisternis sal leef nie. Daarom stuur Hy sy Seun na die wêreld. Hy stuur sy Seun vir ons.

Hy red ons deur Christus – God stuur sy Seun om lig vir die wêreld te wees. Jesus, God se Seun, is lig deur vir ons aan die kruis te sterf en vir ons uit die dood op te staan. Hy het vir ons sonde gesterf. Deur vir ons te sterf en op te staan, het Jesus Christus ons uit die mag van die duisternis gered en ons na die ryk van die lig oorgebring! (Kol.1:13).

Johannes skryf dat die bloed van Jesus ons van elke sonde reinig (vs 7). Deur sy dood en sy opstanding het die Here Jesus ons gereinig van die vuil van al ons sondes toe ons in die ryk van die duisternis geleef het.

2.    Ons kan deur die Heilige Gees in die lig leef

Geloof in Jesus Christus – ‘n Mens kom net van die ryk van die duisternis oor in die koninkryk van die lig deur Jesus Christus. ‘n Mens kom in die koninkryk van die lig deur geloof in Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het. Geloof in die Here Jesus kry ‘n mens net by die Heilige Gees. Geloof wat die Heilige Gees gee, bind ons aan Christus en bind ons deur Hom aan God ons Vader.

Belydenis van sonde – In die koninkryk van die lig is ons nie meer in die mag van die sonde en die duiwel nie, maar die duiwel met sy boosheid, die wêreld met sy verleidelikheid en ons eie swakheid laat ons nog sonde doen. Die groot verskil is dat ons wat in Jesus Christus glo en in die koninkryk van die lig leef, nie aanhou om in sonde te leef nie. Met die Heilige Gees in ons kan ons en moet ons besef hoe erg ons sonde voor God is en ons sonde opreg bely.

Wanneer ons ons sonde opreg voor God bely, vergewe Hy ons ons sondes en reinig Hy ons van alle kwaad (vs 9).

Bekering  - In die koninkryk van die lig is ons die sondelose mense nie. Maar...ons bly nie in sonde leef nie. Ons ontken ook nie sonde nie. Ons veg met alles wat ons het teen sonde. Ons veg in die krag van die Heilige Gees in ons. Ons veg teen sonde deur bekering.

Ons bekeer ons op die volgende manier: Ons het diep in ons hart opreg berou oor ons sonde, oor elke sonde. Ons haat sonde met ons hele wese. Ons vlug van sonde weg. Terselfdertyd leef ons met harte wat bly is en juig van vreugde omdat God ons deur Christus na sy koninkryk van die lig oorgebring het. Ons harte brand ook van liefde vir God. Met die Gees in ons het ons God lief met ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en al ons krag (Mark.12:30). Omdat ons God met ons hele lewe liefhet, leef ons aan Hom gehoorsaam. Ons span ons in om volgens sy wil die lewe te leef wat goed en reg in sy oë is.

Gebind aan Christus en aan mekaar – Lewe in die koninkryk van die lig is ten diepste lewe aan Christus gebind. Ons geloof bind ons aan Hom. Maar nie net elkeen van ons is op ons eie aan Christus gebind nie. Elke gelowige wat aan Christus gebind is, is ook aan ander gelowiges gebind. Hy is ons Hoof en ons is sy liggaam, saamgebind tot ‘n geestelike eenheid. Hierdie eenheid kan en moet ons uitbou deur elkeen ons geestelike werk te doen, tot opbou van die gemeente, sodat ons almal saam na Christus toe sal groei.

Hierdie is lewe in die lig – Hierdie lewe deur die Heilige Gees, ‘n lewe van ware geloof, ‘n lewe van bekering en ‘n lewe aan Christus en aan mekaar gebind, is lewe in die koninkryk van die lig.

Hoe sal ons dit regkry om nie aan te hou om sondig te leef nie, maar om in die koninkryk van die lig aan God gebind te leef? Die Heilige Gees help ons.

  • Hy leer ons van God se koninkryk van die lig.

  • Hy gee ons geloof in Christus wat ons van die mag van die duisternis verlos het.

  • Die Gees lei ons deur die Evangelie van Christus om in die lig te lewe.

  • Met nagmaal gee die Heilige Gees ons die sekerheid dat ons deur Christus gereinig is en oorgebring is na die ewige koninkryk van die lig.

  • Die Heilige Gees maak ons geloof in Jesus Christus met Nagmaal sterker, sodat ons met alles wat ons het weerstand teen die duisternis bied en ons met al ons geloofskrag inspan om aan God gebind in sy ewige koninkryk van die lig te lewe.

Nagmaalformulier
Sing ter voorbereiding van die tafel: Ps.145:9
Sing aan tafel: Ps.116:1,4,5,7
Voltooiing van die Nagmaalformulier

ANTWOORD
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.36:2;3
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen