ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.33:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sing:Ps.33:6
Lees: 1 Petrus 1:13-25
Kernvers: 1 Pet.1:19
Tema: Nagmaal se boodskap: Ons is LOSGEKOOP!
Sang: Ps.33:1,2; Ps.71:9; Ps.86:6; Ps.33:6; Ps.23:3 – voorbereiding van die tafel; Ps.105:1,2,3,4,5 – aan tafel; Ps.130:3,4
Inleiding:
Daar is woorde in die Bybel wat elke gelowige behoort te ken. Nie net met ons verstand nie, maar met ons hart. Sonder dat ons daardie woorde ken, is ons geestelik baie arm. Om geestelik arm te wees en niks daaraan te doen nie beteken ‘n mens word al armer. Die een groot probleem om geestelik armer te word, is om voor Jesus Christus te staan en te weet dat ons niks gedoen het om geestelik te groei nie. Nee, ons het soos die slaaf in die gelykenis die talent in die grond gaan begrawe en niks gedoen om geestelik ryker te word nie. Die slaaf wat so gedoen het, se lewe het baie geëindig.
Om geestelike armoede te keer, is twee belangrike woorde om te ken “losprys” in Markus 10:45 en “losgekoop” in 1 Pet.1:18,19. LOSPRYS en LOSGEKOOP raak almal van ons se lewe op die diepste manier waaraan ‘n mens kan dink.
Tema: Nagmaal se boodskap: Ons is LOSGEKOOP!
Vir LOSPRYS gaan ons na Mark.10:45 – “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.” Christus het sy heerlikheid in die hemel prysgegee en mens geword. Die Seun van God het die Seun van die mens geword.
Om “losprys” te verstaan, is dit nodig om na die Ou Testament te gaan.
Ons kyk na Eksodus 30:12 – versoeningsoffer aan die Here vir lewe en na Levitikus 16:15,16 – Op die groot Versoendag moes Aäron die bokram slag as sondeoffer vir die volk om hulle te reinig van al hulle sondes. Die offerdier het gesterf, in die plek van die Israeliet wat geoffer het. Ons kan sê die offerdier het gesterf in die plek van die mens wat die offer gebring het. Die offerdier het gesterf, sodat die gelowige in Israel kon lewe. Die offer was nodig, want sonder die offer van ‘n lewe, was elke gelowige in Israel en elke mens in die mag van die duiwel en die sonde en die dood en onder God se oordeel. Die offerdier was die LOSPRYS wat met sy lewe die Israeliet losgekoop het.
Jesaja 53:5 help ons om die dieper betekenis van die offerdier as losprys in die Ou Testament te verstaan. Die offerdier het in werklikheid gewys op die Kneg van die Here. So het Jesaja geprofeteer: “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.”
Hierdie profesie vertel ook dat die Kneg van die Here sou sterf, sodat die gelowige in die genadeverbond kon leef.
Die offerdier in die Ou Testament en die profesie in die Ou Testament het vooruit gewys na die werklike Verlosser wat sou kom om sondaars te verlos. Die offerdier was net die teken, die skaduwee, en die profesie was ook net die skaduwee, het Paulus in Kolossense geskryf. Die werklikheid is Christus.
Christus het die sonde van die mensdom op Hom geneem. Hy het die toorn van die heilige God oor sonde verduur met sy bittere lyding en wrede dood. Hy het alles gely en verduur om sondaars los te ruk uit die mag van die duisternis (Kol.1:13). Hy het sy lewe uit liefde gegee (Joh.15:13). Hy moes ly en sterf, sodat sondaars verlos kan word.
In alles wat Hy gely het en in sy dood aan die kruis, was Jesus die LOSPRYS wat in ons plek gesterf het. Deur in ons plek vir ons sonde aan die kruis te sterf, het Jesus Christus ons LOSGEKOOP uit die mag van duiwel en die sonde en die ewige dood. Deur sy opstanding het Hy aan ons die nuwe lewe as losgekooptes gegee.
2. Losgekoopte gelowiges lewe heilig
Petrus skryf: ”Inteendeel, julle is losgekoop…” Wie is losgekoop? Hierdie vraag bly altyd belangrik. Wie losgekoop is, het deur die eeue belangrik gebly en is tot vandag toe belangrik.
Die losgekooptes is die uitverkorenes van God (1 Pet.1:1). God het mense uitverkies en deur die Gees afgesonder om deur Jesus Christus verlos te word en as gelowiges deur die Gees aan God gehoorsaam te wees.
Losgekooptes is dus mense deur God uitverkies en wat deur die Heilige Gees in Jesus Christus glo.
Dat Christus ons LOSPRYS is wat ons LOSGEKOOP het, is wonderlike genade wat ons lewe heeltemal verander het. Twee veranderings is baie belangrik:
Die eerste – Ons is LOSGEKOOP! Ons is nie meer in die mag van die duiwel en die sonde nie!
Die tweede – Losgekooptes het die Heilige Gees wat ons lei om as losgekooptes te lewe. Om soos losgekooptes te lewe, is nie ‘n vrywillige keuse of ‘n gelowige kan besluit ja of nee nie. Die Here wil dit hê. Hy gee ‘n duidelike opdrag aan losgekooptes: “…soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet.1:15,16).
Om heilige te leef, kry ons in verskillende verse in hierdie hoofstuk:
Vandag in ons land is dit krities belangrik dat ons lewenswandel, met ander woorde ons hele lewe oral, heilig moet wees…ORAL en nie net wanneer ons by ander mense of hier by die kerk is nie.
Ons is LOSGEKOOP deur die kosbare bloed van Jesus Christus. God se gelowiges is vir Hom kosbaar. Kosbare gelowiges vir God leef soos kosbare gelowiges en dit is leef HEILIG.
3. Die Heilige Gees help ons deur nagmaal hiermee
Dit is nodig dat ons met ons hele hart sal glo en met ons hele verstand sal besef dat Christus ons LOSGEKOOP het.
Nie elke mens besef hierdie groot genade nie. Hoeveel mense in ons land leef nie sonder Christus nie! Om deur Christus losgekoop te wees, om ‘n verloste gelowige te wees, is ‘n BAIE GROOT GENADE wat niemand vanself van weet nie. Niemand besef hierdie genade vanself nie. Niemand glo ook vanself nie.
Ons het die Heilige Gees nodig. Die Heilige Gees help ons met nagmaal om met ons hele hart te glo en met ons hele verstand te besef dat Jesus Christus ons met sy kosbare lewe LOSGEKOOP het!
Omdat so min mense in ons land in Christus glo, is so min losgekoop en sien en hoor ons so min van ‘n heilige lewe. Selfs nie losgekoopte gelowiges sal vanself in eie krag heilig kan leef nie. Ons het die Heilige Gees nodig om ons te lei en te help om heilig te leef. Hy help ons met nagmaal om ons geloof sterker te maak, sodat ons sterker weerstand teen die verkeerde kan bied en ons sterker en meer kan inspan om soos losgekoopte gelowiges heilig te leef.
Die sakrament van nagmaal saam met 1 Petrus 1 het ‘n duidelike en sterk boodskap: Christus het ons LOSGEKOOP! Dit is wonderlike genade. Met die krag van die Gees moet ons nou vir die Here wys hoe bly en dankbaar ons vir hierdie genade is, deur soos losgekoopte gelowiges HEILIG te leef!
Nagmaalformulier
Sing ter voorbereiding van die tafel: Ps.23:3
Sing aan tafel: Ps.105:1,2,3,4,5
Voltooiing van die Nagmaalformulier
ANTWOORD
Diens van barmhartigheid
Sing: Ps.130:3,4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen