ONTMOETING
Votum: Psalm 121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.89:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.32:3
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.147:4,5
Lees: Deuteronomium 16:1-12; Hebreërs 11:1-3; Sondag 20
Kernverse: Deut.16:9-12; Heb.11:1
Tema: Wat glo jy van die Heilige Gees?
Sang: Ps.89:1,2; Ps.71:9; Ps.32:3; Ps.147:4,5; Ps.128:1,4; Skb.1-1:6,7
Inleiding:
Vandag is Pinkstersondag, die dag waarop die Heilige Gees uitgestort is. Die Heilige Gees het daardie dag eens en vir altyd na almal wat aan Christus behoort toe gekom. Hy het ook eens en vir altyd na ons toe gekom het.
In die volgende weke, as die Here wil, kyk ons in hierdie preekreeks na ons belydenis oor die Heilige Gees volgens die Heidelbergse Kategismus, Sondag 20.
Tema: Wat glo jy van die Heilige Gees?
1. Elkeen van ons staan voor God met ons geloof
Geloof is ‘n geskenk van die Allerhoogste God. Ware geloof. Daar is baie vals gelowe wat indien ‘n mens nie waaksaam is nie, goed en reg lyk, maar nie is nie. Van hierdie gelowe is:
§ Verstandgeloof waar iemand erken daar is net een God, maar net met sy verstand. So iemand se hart bly gesluit vir God. Die duiwel het so ‘n geloof (Jak.2:19).
§ Noodgeloof. Wanneer iemand swaar kry en in nood is, bid so iemand en lees weer Bybel en kom weer erediens toe. Maar, gaan dit beter, verflou alles weer.
§ Wondergeloof. Hierdie mens glo wanneer God so iemand uit ‘n ernstige motorongeluk lewendig anderkant laat uitkom of van ‘n ernstige siekte wonderbaarlik laat herstel. So iemand praat oor hoe goed God is. Maar...lê daardie genade terug in die verlede verdwyn die geloof ook.
§ Tydgeloof. So iemand lyk gelowig vir ‘n tyd. Hoe dikwels kry ons dit nie in ons kerke nie. Wanneer iemand belydenis van geloof wil doen of ‘n baba wil doop, is sulke lidmate gereeld by die katkisasie en in die erediens. Na belydenis en doop, is daardie lidmate wat sulke mooi en ernstige beloftes voor die gemeente aan God gedoen het, weer baie skaars.
Nie een van hierdie gelowe, en daar is selfs meer, is ware geloof nie.
Dit bring ons by die vraag in Sondag 20 van die Kategismus: “Wat glo jy van die Heilige Gees?”
‘n Mens kan ook ‘n vals geloof oor die Heilige Gees hê. Vir baie in ons land bestaan die Heilige Gees nie. Vir soveel is Hy nie God nie. Daar bestaan geloof dat die Heilige Gees ‘n krag is wat ons in ons het. Niks hiervan is ware geloof oor die Heilige Gees nie.
Wat enigiemand ook al van die Heilig Gees glo, almal staan voor God met ons geloof. Ons is Christengelowiges in ‘n Gereformeerde gemeente. Elkeen van ons staan ook voor die allerhoogste God met ons geloof.
2. Ware geloof behels sekerheid, oortuiging, kennis en vertroue
Ons het gekyk na vals gelowe in die algemeen en vals gelowe oor die Heilige Gees. Ons sal ook weer moet kyk na wat ware geloof is en opnuut seker maak ons weet wat ware geloof is en dat die geloof in ons hart ware geloof is.
Wat is ware geloof?
Hebr.11:1 – “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”
“...om seker te wees...” – Ware geloof is sekerheid. Hierdie preek met Pinkster is gerig op sekerheid oor die Heilige Gees. By ware geloof oor die Heilige Gees is daar nie onduidelikheid en verwarring en twyfel nie. Die Bybel is onduidelik nie, verwar ‘n mens nie en laat ons nie met twyfel nie. Die Bybel gee vir ons sekerheid oor die Heilige Gees.
“...van die dinge wat ons hoop...” – Wat hoop ons oor die Heilige Gees? Die Heilige Gees gee wedergeboorte. Hy gee geloof. Hoop in die Bybel is ‘n verwagting vir die toekoms, ‘n verwagting wat vas en seker is.
Die Heilige Gees verseker ons die dag wanneer ons gedoop word dat Hy in ons wil woon, dat Hy ons een met Christus wil maak en vir Christus wil afsonder deur vir ons geloof in Christus te gee, dat Hy ons elke dag nuwer wil maak tot ons saam met al die uitverkorenes volmaak gereinig en sonder enige sonde in die hemel sal wees.
Sonder die Heilige Gees gebeur niks hiervan nie. Daarom is hierdie dinge die wonderlike geestelike dinge wat ons mag hoop, wat ons mag en ook moet verwag van die Heilige Gees.
“...om oortuig te wees...” – Om oortuig te wees, is om ‘n vaste mening, ‘n vaste opinie te hê waarby ‘n mens onwankelbaar staan en waarvan jy nie beweeg nie.
“...van die dinge wat ons nie sien nie...” – Hierdie woorde wys ons dat geloof op ‘n diep geestelike vlak lê, waar dinge onsigbaar is. Ware geloof is geloof in die dinge wat ons nie sien nie. Ons kan die Heilige Gees nie sien nie, daarom sal ons gedagtes en ons woorde oor die Heilige Gees ook op ‘n diep geestelike vlak moet wees waar ons nie kan sien nie.
In die Heidelbergse Kategismus bely ons dat ware geloof ‘n vaste kennis en vertroue is. Dit bring ons by Deuteronomium 16:1-12. Om werklik kennis van die Heilige Gees te hê, sal ons die Bybel moet lees. Ons sal baie van die Heilige Gees in die Bybel kry.
‘n Deel wat belangrik is oor die uitstorting van die Heilige Gees is Deut.16:1-12 oor die Paasfees en die fees van die weke of die oesfees. Met die Paasfees of Pasga is die uittog uit Egipte gevier. Sewe weke daarna op die vyftigste dag, dit is waarvan die woord pinkster kom, is die oes van die weke, of die oesfees gevier.
Tydens die oesfees moes die volgende gebeur: Die eerste gerwe van die koringoes moes aan die Here afgestaan word. Die fees was ‘n geleentheid waarop Israel die Here gedank het vir die koring wat wasdom bereik het en ryp op die lande gestaan het, die oes gereed. Later het Pinkster ook die fees geword waarop Israel die dag toe die Here sy Wet op Sinaïberg gegee het herdenk.
Al hierdie was vir Israel nie so duidelik soos vir ons nie, want hulle het nog in die skadutyd voor Jesus Christus se koms, geleef. Ons wat in die tyd na Christus se koms leef, weet dat die oesfees op die koms van die Heilige Gees gewys het.
Met die koms van die Heilige Gees het die oesfees van die Ou Testament sy diepste betekenis gekry. Die Heilige Gees het op Pinkster, vyftig dae nadat Christus gesterf het, gekom (Hand.2:1). Met die Here Jesus Christus se verlossingswerk wat Hy volmaak op aarde voltooi het, het die Heilige Gees gekom om geloof in Christus wat gesterf en opgestaan het, in harte te plant. Deur die Heilige Gees sal die geloof groei en gelowiges sal vrug dra, tot die geestelike oes gereed sal wees wanneer Jesus Christus weer kom. Die Heilige Gees sal ons lei deur die Wet van die Here, dit is deur die Bybel, om uit liefde vir God aan Hom gehoorsaam te leef tot met Christus se wederkoms.
Hierdie staan alles in die Bybel. Ons kan alles lees. Ware geloof is kennis van al hierdie dinge en dit is kennis wat vas staan.
By kennis wat vas staan, kom nog ‘n vaste vertroue. Ware geloof is dat elkeen van ons ‘n vaste vertroue het dat alles wat in die Bybel oor die Heilige Gees geskryf is, vir elkeen van ons geskryf is. Ware geloof is verder die vaste vertroue dat die Heilige Gees ook na my toe gekom het, dat Hy in my hart geloof in Jesus Christus wat vir my gesterf en opgestaan het, geplant het, dat Hy my sal lei om geestelik te groei en vrug te dra, sodat ek saam met ander uitverkorenes gereed sal wees wanneer die Here Jesus Christus weer kom.
3. Ware geloof is ook geloof in die Heilige Gees
Ware geloof, is sekerheid van wat ons hoop, oortuiging van wat ons nie sien nie, kennis wat vasstaan van alles in die Bybel en ‘n vaste vertroue dat alles wat in die Bybel geskryf staan en beloof word vir my bedoel is. Hierdie kry ons in die Bybel en bely ons in een van ons belydenisskrifte, die Heidelbergse Kategismus.
Hierdie ware geloof, is ook geloof in die Heilige Gees.
Geloof in die Heilige Gees is om seker te wees van wie die Heilige Gees is en wat Hy vir ons gedoen het, steeds doen en in die toekoms sal doen. Geloof in die Heilige Gees is verder om ‘n vaste en onwankelbare oortuiging te hê van wie die Heilige Gees is en wat Hy doen, al kan ons Hom nie sien nie. Hierdie is die taal van Hebreërs 11.
Ons belydenis kom uit die Bybel uit. Ons belydenis is ons antwoord op die Bybel. Geloof in die Heilige Gees is daarom vasstaande kennis van alles wat in die Bybel oor die Heilige Gees staan. Geloof in die Heilige Gees is ook ‘n vaste vertroue in die Heilige Gees. Dit is ‘n vaste vertroue dat alles wat die Heilige Gees vir die verlossing en saligheid van gelowiges doen, Hy vir my doen. Hierdie is die taal van ons belydenis, die Heidelbergse Kategismus.
4. Ware geloof wys in ons belydenis oor die Heilige Gees
Ware geloof, is sekerheid van wat ons hoop, oortuiging van wat ons nie sien nie, kennis wat vasstaan van alles in die Bybel en ‘n vaste vertroue dat alles wat in die Bybel geskryf staan en beloof word vir my bedoel is. Hierdie kry ons in die Bybel en bely ons in een van ons belydenisskrifte, die Heidelbergse Kategismus.
Hierdie ware geloof, is ook geloof in die Heilige Gees.
Geloof in die Heilige Gees is om seker te wees van wie die Heilige Gees is en wat Hy vir ons gedoen het, steeds doen en in die toekoms sal doen. Geloof in die Heilige Gees is verder om ‘n vaste en onwankelbare oortuiging te hê van wie die Heilige Gees is en wat Hy doen, al kan ons Hom nie sien nie. Hierdie is die taal van Hebreërs 11.
Ons belydenis kom uit die Bybel uit. Ons belydenis is ons antwoord op die Bybel. Geloof in die Heilige Gees is daarom vasstaande kennis van alles wat in die Bybel oor die Heilige Gees staan. Geloof in die Heilige Gees is ook ‘n vaste vertroue in die Heilige Gees. Dit is ‘n vaste vertroue dat alles wat die Heilige Gees vir die verlossing en saligheid van gelowiges doen, Hy vir my doen. Hierdie is die taal van ons belydenis, die Heidelbergse Kategismus.
ANTWOORD
Sing: Ps.128:1,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.1-1:6,7
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen