ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.115:1,8
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.9:1,7
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.119:1,2
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.8-1/14:1,2
Lees: Handelinge 4:23-5:11 en Sondag 20
Kernverse: Hand.5:3-11
Tema: Die Heilige Gees is God vir wie ons die diepste ontsag moet hê
Sang: Ps.115:1,8; Ps.9:1,7; Ps.119:1,2; Skb.8-1/14:1,2; Skb.9-1/26:1,10; Skb.12-2/27:4,5
Inleiding:
Tema: Die Heilige Gees is God vir wie ons die diepste ontsag moet hê
1. Die koms van die Heilige Gees
Daar was ‘n dag toe God die wêreld DIE EERSTE KEER verander het. Die eerste boek van die Bybel, Genesis 1:3 vertel ons daarvan: “En God het gesê: ‘Laat daar lig wees. En daar was lig’” Van daardie dag af was die die wêreld nooit weer net donker en sonder lewe nie.
God het die wêreld DIE TWEEDE KEER verander. Hy het ‘n geweldige verandering in die wêreld gebring toe Hy sy Seun gestuur het om die mensdom wat in sonde verlore was, te red. God het sy Seun op ‘n almagtige manier mens laat word. Jesus Christus, God se Seun het op ‘n almagtige manier deur die ergste lyding te verduur, die wreedste dood te sterf en uit die dood op te staan. Deur Christus se dood en opstanding het almal wat in Hom glo nie meer verlore gegaan nie, maar die ewige lewe ontvang. Deur Jesus Christus, sy Seun het God ‘n nuwe mensdom geskep.
Kom ons maak seker ons verstaan Jesus se koms na die wêreld reg. God se Seun was van die begin af in die wêreld. Alles het deur Hom ontstaan, het Johannes in sy Evangelie geskryf (Joh.1:3). Elke keer dat ons van die Engel van die Here lees, lees ons in werklikheid van God se Seun. Dit was God se Seun wat Hagar by ‘n fontein in die woestyn ontmoet het (Gen.16:7), aan Moses in die brandende doringbos verskyn het (Eks.3:2) en aan ook Gideon toe hy koring uitgeslaan het in ‘n parskuip waar hy weggekruip het vir die Midianiete (Rigt.6:11,12).
God se Seun was reeds in die Ou Testament in die wêreld, MAAR...Hy was nog nie in die wêreld as Jesus wat gekom het om sy volk van hulle sondes te verlos, soos die engel in ‘n droom aan Josef nadat God se Seun mens geword het, gesê het nie (Matt.1:21).
God het nie die wêreld die tweede keer verander deur sy Seun se verskyning in die Ou Testament nie. Dit het eers gebeur toe God, op die tyd wat Hy bepaal het, sy Seun gestuur het om mens te word (Gal.4:4).
Dan was daar DIE DERDE KEER toe God die derde baie groot verandering in die wêreld gebring het. Dit het gebeur die dag in Jerusalem toe die Heilige Gees op Pinkster uitgestort het.
Oor die koms van die Heilige Gees kan ons dieselfde as oor die koms van die Here Jesus Christus se koms na die wêreld sê. Die Heilige Gees kry ons ook reeds in die Ou Testament. Die Heilige Gees het op die sewentig leiers wat Moses aangestel het gekom, sodat hulle as profete opgetree het (Num.11:25). Nadat Dawid as koning gesalf is, het die Heilige Gees kragtig in hom begin werk (1 Sam.16:13).
Die Heilige Gees was reeds in die Ou Testament in die wêreld, MAAR...Hy was nog nie deur God die Vader en Jesus, God se Seun gestuur om te kom om ewig by en in die gelowiges te wees nie (Joh.14:16,17). Die Heilige Gees het as Gawe van die eindtyd gekom om mense se in die gekruisigde Jesus Christus te laat glo, eers nadat die Here Jesus sy verlossingswerk deur te sterf en op te staan, op aarde afgehandel het.
Die Heilige Gees het daarom op Pinkster gekom. Hy het gekom, Hy is uitgestort om, in die taal van die Oesfees in die Ou Testament, die saad wat die Here Jesus deur sy dood en opstanding geplant het, in mense se harte te laat groei, sodat die oes van gelowiges gereed sal wees wanneer die Here Jesus op die wolke weer kom om die oes in te samel en al die gelowiges by Hom te neem.
Die koms van die Heilige Gees is daarom die derde geweldige groot en belangrike gebeurtenis waardeur God die wêreld heeltemal verander het.
2. Die Persoon van die Heilige Gees
Wie is die Heilige Gees wat op Pinkster uitgestort is? Die vraag in Sondag 20 van die Kategismus klink so: “Wat glo jy van die Heilige Gees?”
Ons kry die antwoord in die Bybel. Wie die vraag reg wil antwoord, sal moet weet en dan antwoord wat in die Bybel oor die Heilige Gees geskryf staan. Verder is die Heidelbergse Kategismus een van ons belydenisskrifte, ons geloofsbelydenisse wat neergeskryf is. Ons belydenis, daarom ook die Kategismus, is elke gereformeerde gelowige oor die wêreld se antwoord op wat God in sy Woord sê. Die Kategismus is ook elkeen van ons se antwoord op die Bybel, daarom is dit nodig om te weet wat in die Kategismus staan en dit te glo en uit die hart uit daarmee saam te stem.
Ons kyk eers in die Bybel wat God oor die Heilige Gees sê.
In Handelinge 5 kry ons Petrus wat met Ananias oor die Heilige Gees gepraat het. Petrus het vir hom gesê: “Ananias, hoekom het jy jou deur Satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg en van die verkoopprys vir jouself te hou? Die grond was mos joune, en toe dit verkoop is, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God” (Hand.5:3,4).
Toe Ananias vir die Heilige Gees gelieg het, het Hy vir God gelieg. Waarom so?
DIE HEILIGE GEES IS GOD!
Saam met Handelinge 5 kan ons ook ander dele in die Bybel soos Jesaja 48:16; Matteus 28:19; Handelinge 13:2 en 1 Korintiërs 3:16,17 lees. In daardie dele in die Bybel sal ons ook kan lees dat die Heilige Gees God is.
Saam met die lees van al hierdie verse, is dit nodig dat ons met ons HELE HART SAL GLO dat die Heilige Gees self ook ware ewige God is.
Wanneer ons met ons hele hart glo dat die Heilige Gees God is, sal ons die woorde kan bely soos dit in die Kategismus Sondag 20, staan. Die vraag is: “Wat glo jy van die Heilige Gees?”
Die antwoord begin so: “Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God.”
In een van ons ander belydenisse klink ons antwoord oor die Heilige Gees so: “Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik” (Geloofsbelydenis van Nicea).
Oor die Persoon van die Heilige Gees kan ons en moet ons met ons hele hart vas en seker glo dat...
DIE HEILIGE GEES DIE EWIGE, WARE, LEWENDE GOD IS!
3. Ons verhouding met die Heilige Gees
Op daardie Pinkster in Jerusalem is God die Heilige Gees uitgestort. Sy uitstorting beteken dat Hy na Christus se gelowiges toe gekom het, na elkeen afsonderlik en na almal saam.
Sondige mense destyds en vandag het die genade dat God die Heilige Gees na ons gekom het om in ons harte geloof in Jesus Christus te begin. Almal van ons kan net in die Here Jesus glo, wanneer die Heilige Gees vir ons geloof gee. Geloof wat die Heilige Gees gee, is geloof in Jesus Christus wat vir ons sondes gesterf en opgestaan het. Elkeen met hierdie geloof, is nie meer verlore nie, maar het die ewige lewe in God se ewige koninkryk.
Dit is WONDERLIKE GENADE!
As gelowige wat nie meer verlore gaan nie, maar die ewige lewe het, sal dit nie anders kan as dat elkeen van ons se hart vol liefde en dankbaarheid sal wees nie. Elkeen van ons se verhouding met die Heilige Gees sal ‘n verhouding van liefde en dankbaarheid moet wees.
Dan is die Heilige Gees die Gees van die waarheid. Hy het ook gekom om almal wat in Christus glo, in die hele waarheid te lei (Joh.16:13). Die waarheid is die waarheid van God se Woord. Die Heilige Gees het gekom om ons as verloste gelowiges in die koninkryk van God met die Bybel te lei.
As gelowige wat deur die Gees van die waarheid met die Woord van God in die waarheid gelei word, behoort elkeen van ons die Heilige Gees te gehoorsaam en volg waar Hy ons lei. Enige ander manier van leef is ‘n lewe in die duisternis waar die leuen van die duiwel en sonde heers. Elkeen van ons se verhouding met die Heilige Gees sal ook ‘n verhouding van gehoorsaamheid moet wees waar ek my aan Hom onderwerp en my deur Hom laat beheers
Deur die Heilige Gees gelei, was die gelowiges in Jerusalem een van hart en siel. Die een Heilige Gees het hulle in die een Jesus Christus laat glo en hulle almal in die een waarheid van God se Woord gelei. Die gelowiges het alles met mekaar gedeel, sodat niemand gebrek gely het nie.
Dit bring ons by Ananias en Safira. Hulle was ook gelowiges in die eerste gemeente van Christus in Jerusalem na die uitstorting van die Heilige Gees. Wat was hulle verhouding met die Heilige Gees? Was dit ‘n verhouding van liefde en dankbaarheid en gehoorsaamheid aan die Gees om te gaan waar Hy lei? Wat daardie dag in Jerusalem gebeur het, het hulle verhouding met die Heilige Gees duidelik gemaak.
Ananias en Safira het ‘n eiendom verkoop. Hulle het ooreengekom om ‘n deel van die verkoopprys vir hulleself te hou en voor te gee dat hulle die hele verkoopprys gegee het om ander gelowiges te help.
Petrus het dit agtergekom. Hy het Ananias ernstig aangespreek en hom daarop gewys dat hy nie vir mense nie, maar vir God gelieg het. Ananias het daar neergeval en gesterf. Toe Safira later daar aankom en soos Ananias ook die leuen dat hulle die hele verkoopprys gebring het, vertel het, het ook sy dood neergeval.
Wat het gebeur? Baie meer as net die leuen wat twee gelowiges in ‘n gemeente vertel het.
Ananias en Safira het in die gemeente gesê dat hulle hulle deur die Gees van die waarheid laat lei het. Maar in hulle harte het hulle hulle deur die vader van die leuen, die duiwel laat lei. Hulle sonde was nie bloot vals getuienis teen hulle naaste nie. Hulle eintlike sonde was vals getuienis teenoor God die Heilige Gees.
Vir Ananias en Safira was die verhouding met die ander gelowiges in die gemeente en wat mense van hulle gesê het, die belangrikste. Aansien onder die mense was vir hulle belangriker as hulle liefde, dankbaarheid en gehoorsaamheid aan die Heilige Gees. In plaas daarvan dat hulle die Heilige Gees geëer en aanbid het, wou hulle eer in die gemeente vir hulleself hê.
Ons kan sê dat Ananias en Safira, lidmate van die eerste gemeente, se verhouding met die Heilige Gees alles was behalwe wat dit moes wees. Dit was ‘n verhouding waar die mens eerste was en God die Heilige Gees tweede.
Dit bring ons by elkeen van ons se verhouding met die Heilige Gees. Die vraag in Sondag 20 is: “Wat glo jy van die Heilige Gees?” Ons kan sê dat ons glo dat Hy saam met die Vader en die Seun die ware en ewige God is. MAAR...Ananias en Safira het ook gesê. Daarom: WOORDE IS NIE GENOEG NIE.
Ananias en Safira het geld teruggehou, maar nog meer as dit, hulle het hulle harte teruggehou en in werklikheid hulle harte vir die vader van die leuen, die duiwel gegee.
Die vraag vir elkeen van ons is: Hoeveel hou ek terug? Hoeveel van my hart gee ek nie regtig vir die Heilige Gees nie, terwyl ek ander in die gemeente laat dink ek gee my hele hart?
Ons het nog genadetyd. Die Heilige Gees is uitgestort. Hy het na ons toe gekom. Hy, die ewige ware God, leef in ons elkeen se hart. Hy lei ons in die hele waarheid van die Woord van God. Luister dan na die Heilige Gees. Volg Hom soos Hy elkeen van ons met die Bybel lei.
Ons elkeen se lewe van LIEFDE vir, DANKBAARHEID teenoor en GEHOORSAAMHEID aan die Heilige Gees sal wys of ons elkeen ‘n opregte verhouding met Hom het.
‘n Opregte verhouding met God die Heilige Gees is so belangrik. WANT...dit is net die Gees wat ons lei en help om gereed te wees vir die dag dat God die hele wêreld vir die VIERDE KEER verander. Dit sal die finale verandering wees, want op daardie dag kom Jesus Christus om alles vir ewig nuut te maak!
ANTWOORD
Sing: Skb.9-1/26:1,10
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.12-2/27:4,5
Seën: Die Here sal jou seën en jou beskerm; Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; Die Here sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees
Amen