ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Skb.1-2/60:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:1
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.59:1,5,10
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.12-3/72:1,2
Lees: Johannes 14:15-31 en Sondag 20
Doop
Sing: Ps.33:6
Kernverse: Joh.14:16,17
Tema: Die Heilige Gees het na elkeen toe gekom wat aan Jesus Christus behoort
Sang: Skb.1-2/60:1,2,3; Ps.71:1; Ps.59:1,5,10; Skb.12-3/72:1,2; Ps.33:6; Skb.15-1/75:1,2,3,4; Ps.105:1,5
Inleiding:
Ons is in die preekreeks besig met die vraag: Wat glo jy van die Heilige Gees? Tot dusver het ons gelees en gehoor dat die Heilige Gees saam met God die Vader en God die Seun ware ewige God is. Vanoggend gaan die preek daaroor dat die Heilige Gees na elkeen toe gekom het wat aan Jesus Christus behoort.
Tema: Die Heilige Gees het na elkeen toe gekom wat aan Jesus Christus behoort
1. Jesus en sy Vader het die Heilige Gees gestuur
Wanneer ons die Bybel lees, is dit die heeltyd nodig dat ons regtig sal besef die Ou Testament en die Nuwe Testament is saam ‘n hegte eenheid van die een Woord van God, die een Bybel.
Ons lees in die Nuwe Testament, Handelinge 2, dat die Heilige Gees op Pinkster gekom het. Maar...die Heilige Gees het nie sommer net op Pinkster gekom nie.
Die godsdienstige fees in die Ou Testament, die Oesfees, was reeds ‘n fees wat gewys het dat die Heilige Gees op die vyftigste dag na Pasga sou kom. Israel het dit nie geweet nie, want hulle het nog in die tyd geleef toe alles nog die skaduwee was. Ons wat in die tyd leef na Christus gekom het en wat die hele Bybel het om te lees, ons weet dat die Pasga en die Oesfees vyftig dae later, in werklikheid gewys het op Jesus Christus wat tydens Pasga aan die kruis gesterf het en die Heilige Gees wat op Pinkster gekom het.
Daar was ook die profesie oor die koms van die Heilige Gees. Die profeet was Joël. Sy profesie oor die koms van die Heilige Gees het so geklink: “Wanneer dit ales gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle ou mense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien. In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat geen aansien het nie” (Joël 2:28,29).
Dan het die Here Jesus die laaste aand voor sy kruisiging die volgende dag lank en baie diep met sy dissipels gepraat. Hy het ook oor die Heilige Gees met hulle gepraat. Hy het in werklikheid baie oor die Heilige Gees gesê. Ons kry een van die baie kere dat die Here Jesus oor die Heilige Gees gepraat het, in Johannes 14:16,17. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
Jesus het sy Vader gevra om die Heilige Gees na die dissipels te stuur. Jesus het nie net vir die koms van die Heilige Gees na sy dissipels gevra nie. Hy het gevra vir al die gelowiges wat aan Hom behoort. Uit die Nuwe Testament weet ons en glo ons dat Jesus en sy Vader die Heilige Gees gestuur het.
Ons sien dus in die Ou en die Nuwe Testament dat die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster nie net gebeur het nie. Die almagtige en alwetende God, wat self volmaak is en alles volmaak doen, het alles op die tyd wat Hy bepaal het, laat gebeur. Sy Seun het mens geword en na die wêreld toe gekom op die bepaalde tyd. Die Heilige Gees is uitgestort op die bepaalde tyd. Die tyd wat God bepaal het, was elke keer die volmaakte tyd.
Met die uitstorting van die Heilige Gees is die Oesfees van die Ou Testament vervul. Ons wat in die kerk van die Nuwe Testament is, vier daarom nie meer die Oesfees nie. Lukas, wat Handelinge met die hulp en leiding van die Heilige Gees geskryf het, het ook geskryf dat die profesie van Joël vervul is met die koms van die Heilige Gees. Hierin sien ons die eenheid tussen die Ou en die Nuwe Testament.
2. Elke Christengelowige het die Heilige Gees ewig by en in ons
Die Heilige Gees het gekom op die tyd wat God het bepaal het. Hy het op Pinkster gekom. Die honderd en twintig gelowiges wat in Jesus Christus geglo het, was op een plek bymekaar om die Oesfees te vier. Die Heilige Gees is op hulle uitgestort.
Maar...die honderd en twintig gelowiges in Jerusalem was in werklikheid die eerste gemeente van Christus. Ons kan daarom sê dat die Heilige Gees op die kerk van Jesus Christus uitgestort is. Ons weet dat Christus se kerk ook elke gemeente is wat deur al die eeue en oor die hele aarde in Hom as ons Verlosser wat vir ons gesterf en opgestaan het, glo.
Die Heilige Gees het dus na almal wat aan die Here Jesus Christus behoort gekom. Hy het na elke enkele gelowige wat aan die Here Jesus behoort, gekom.
Daarom klink die tweede deel van die antwoord op die vraag “Wat glo jy van die Heilige Gees?” so: “Ten tweede is Hy ook aan my gegee...”
Hierdie woorde is deel van ons geloofsbelydenis. Ons geloofsbelydenis is ons antwoord op wat God vir ons in die Bybel sê. Daarom is dit baie belangrik om te weet en te verstaan en te glo wat ons bely.
Ons geloofsbelydenis is nie die belydenis van die kerk asof die kerk iets of iemand ver van ons elkeen af is nie. Ons geloofsbelydenis is elke gereformeerde gelowige se belydenis. Elkeen van ons se antwoord op die vraag wat ons van die Heilige Gees glo, is dat die Heilige Gees ook aan my gegee is.
Toe die Here Jesus sy Vader gevra het om die Heilige Gees vir ons te gee, het Hy vir al sy gelowiges deur al die eeue oor die hele aarde gevra. En...Hy het vir elkeen van ons afsonderlik gevra. Dit beteken Hy het oor elkeen van ons, hy het oor my, met sy Vader gepraat. Jesus en sy Vader het die Heilige Gees ook na my toe gestuur, aan my gegee.
Die Heilige Gees het gekom om ewig by elkeen van ons, dit is by my te bly en in my te wees. Dit is wonderlike genade dat ek wat aan Christus behoort, seker kan weet en vas kan glo dat ek God die Heilige Gees altyd by my en in my het.
Om hierdie wonderlike genade vas en seker in ons verstand en in ons harte te maak, het die Here Jesus vir elkeen wat aan Hom behoort, ‘n teken gegee. Die teken is die doop.
Wanneer ons gedoop word, word ons in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees gedoop. Ons het dit vanoggend gesien en gehoor. Vir vanoggend se preek is om in die Naam van die Heilige Gees gedoop te word belangrik.
Met ons doop gee die Heilige Gees vir ons, vir my die sekerheid dat Hy in my wil woon.
Hy gee my die sekerheid dat Hy my vir Christus afsonder, sodat ek nie meer aan die wêreld en aan die duiwel behoort nie, maar aan Hom.
Hy gee my met my doop die sekerheid dat Hy my vir die Here Jesus Christus uit die wêreld afsonder, deur my een met Christus te maak. Hy maak my een met Christus deur vir my geloof in die Here Jesus te gee, geloof dat Jesus deur sy liggaam en bloed al my sondes afgewas het.
Die Heilige Gees verseker my deur my doop dat Hy my lewe, dit is my innerlike lewe, my geestelike lewe elke dag nuwer maak.
Dan verseker die Gees my met my doop dat Hy my in hierdie nuwe lewe sal lei, tot ek saam met almal wat God gekies het om aan Hom te behoort, in die hemel vir ewig volmaak rein voor God sal staan.
Hierdie versekering is wonderlike genade vir elkeen wat gedoop word. Vanoggend het ons die genade duidelik gesien. Die Heilige Gees gee aan ‘n babadogtertjie hierdie sekerheid terwyl sy nog niks vir God kan doen nie. Sy sal, soos ons almal nooit iets kan doen om hierdie sekerheid wat die Heilige Gees gee, te verdien nie. Sy hoef nie en nie een van ons hoef hierdie versekering deur die Heilige Gees te verdien nie. Sy en elkeen van ons wat aan Christus behoort, kry die Heilige Gees net uit genade. Die Heilige Gees gee aan ons geestelike sekerheid net uit genade.
3. Elkeen wat aan Christus behoort kan die Heilige Gees ken
In sy belofte dat Hy sy Vader sal vra om die Heilige Gees te stuur, skei die Here Jesus al die mense op aarde in twee groepe. Ons kry hierdie skeiding van die mensdom in twee groepe soveel keer in die Bybel. In die Here Jesus se woorde is daar “die wêreld” en daar is die dissipels en al die gelowiges wat aan Hom behoort. Hom glo.
Die wêreld waarvan die Here Jesus Christus praat, is elke mens wat nie in Hom glo nie en nie aan Hom behoort nie. Die wêreld kan die Heilige Gees nie ontvang nie. Wie nie in Jesus Christus glo nie, kyk nie met geloof op ‘n geestelike manier na die lewe nie. So iemand sien nie die Heilige Gees nie, dit is, neem nie die werk van die Heilige Gees waar nie. So iemand ken nie die Heilige Gees nie, dit is, het nie ‘n verhouding met die Heilige Gees nie.
Dan is daar elkeen wat aan die Here Jesus Christus behoort en in Hom glo. Die Heilige Gees leef in elkeen wat aan Christus behoort. Ek wat aan Christus behoort, kan die Heilige Gees ken. Ek kan in ‘n verhouding met Hom leef.
Al kan ek Hom nie sien nie, glo ek vas en seker dat Hy in my leef. Ek ken die Heilige Gees as die Een by wie ek geloof in die Here Jesus Christus gekry het, sodat ek nie meer verlore gaan nie, maar aan Christus gebind is en die ewige lewe het. Ek leef in ‘n hegte verhouding met die Heilige Gees, want Hy maak my binnekant elke dag nuwer. En...Hy is met my op pad na die hemel waar ek saam met al die ander gelowiges wat aan Christus behoort, eendag die volmaakte ewige lewe sal erf.
Dit is baie belangrik om te besef en te glo dat die mensdom uit hierdie twee groepe bestaan. Daar is nie iewers tussen die twee groepe plek nie.
Die mense van die wêreld wat nie in Christus glo nie en die Heilige Gees nie ken nie, het terwyl hulle leef reeds ‘n baie ernstige probleem. Sonder Christus en die Gees hou die toekoms die grootste ellende onder God se oordeel in.
Aan die anderkant leef die mense wat deur die Heilige Gees in Christus glo, nou reeds met sekerheid van verlossing en sekerheid van ‘n ewige toekoms wat in die hemel by God ons Vader en Christus ons Verlosser wag. Die Heilige Gees gee daardie sekerheid die dag van ons doop.
My doop is die teken wat ek my hele lewe saam met my dra. My doop herinner my aan die sekerheid wat die Heilige Gees aan my gegee het. Omdat ek gedoop is, leef ek met ‘n hart vol liefde vir die Heilige Gees en saam met Hom liefde vir God die Vader en Jesus Christus my Verlosser.
ANTWOORD
Sing: Skb.15-1/75:1,2,3,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.105:1,5
Amen