ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.47:1,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.31:15
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.130:2
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.33:2,3
Lees: Efesiërs 1:1-14
Kernverse: Ef.1:1,3
Tema: Deur die Heilige Gees het ek deel aan Christus en sy weldade
Sang: Ps.47:1,4; Ps.31:15; Ps.130:2; Ps.33:2,3; Skb.9-2/58:8,9; Skb.1-3/61:1,2,3
Inleiding:
Dit is wonderlike genade om die Heilige Gees in ons te hê. Die Heilige Gees bring baie groot en ewige verandering in ‘n mens se lewe. Hierdie geweldige verandering in ons lewe kan ons beskryf in die woorde van vanoggend se preek se tema:
Tema: Deur die Heilige Gees het ek deel aan Christus en sy weldade
1. Deur die Heilige Gees het ek ware geloof
Ons geloofsbelydenis het ‘n baie belangrike plek in ons lewe. Ons geloofsbelydenis is ons antwoord op wat God in die Bybel sê. Die Here Jesus Christus, die Hoof van sy kerk verwag van sy kerk ‘n geloofsbelydenis (Matt.16:15). Die antwoord kan nie ons eie wees nie, dan is dit net mense se idees en nie ‘n geloofsbelydenis nie en sonder enige betekenis.
Op die vraag in Sondag 20 van die Kategismus: “Wat glo jy van die Heilige Gees?” is ‘n deel van die antwoord dat die Heilige Gees “my deur ‘n ware geloof aan Christus en al sy weldade deel laat kry.”
Hierdie is baie belangrik: Dit is net deur ‘n WARE GELOOF dat ons elkeen deel aan Christus en al sy weldade het. Tydgeloof, noodgeloof, wondergeloof en al die ander vals gelowe laat ‘n mens nie deel aan Christus en al sy weldade kry nie. Hierdie gebeur net deur ‘n ware geloof.
Die volgende wat baie belangrik is, is die volgende: Ware geloof kry ons net by die Heilige Gees. Hierdie baie belangrike geestelike waarheid sal elke Gereformeerde gelowige se geloofsbelydenis moet wees. Oor die waarheid dat ons net by die Heilige Gees ware geloof kry, sal elkeen van ons met oortuiging moet bely: Ek het ware geloof by die Heilige Gees gekry.
Waar kry ons die grond om hierdie te bely?
Vir die antwoord kyk ons dieper na Efesiërs 1:1 en 3.
In Ef.1:1 skryf Paulus aan “almal in Efese wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.” Van homself en almal in Efese wat in Christus Jesus glo, skryf Paulus in Ef.1:3 dat God “ons in Christus geseën het met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.”
Die seëninge van die Gees wat in die hemel is, beteken die seëninge se oorsprong is in die hemel. Die seëninge kom van God af. Hierdie seëninge is geestelike seëninge, gegee aan almal in Efese wat in Christus Jesus glo. Die eerste hemelse seën van die Heilige Gees, dit is die eerste geestelike seën uit die hemel is geloof in Jesus Christus.
En Paulus en die Efesiërs het dus hulle geloof uit die hemel gekry. God die Heilige Gees het vir hulle hulle ware geloof in Christus gegee.
Dit is onder andere op grond van wat in Efesiërs 1:1 en 3 geskryf staan, kan Gereformeerde gelowiges, kan elkeen van ons bely: Ek het ware geloof BY DIE HEILIGE GEES gekry.
Om hierdie te kan bely, is baie groot genade in elkeen van ons se lewe.
2. My geloof laat my deel aan Christus kry
Hoe groot die genade van ware geloof is, word verder duidelike in die res van die antwoord in Sondag 20. Ons bely dat ware geloof ons deel aan Christus laat kry. Ware geloof wat die Heilige Gees gee, maak my deel van Christus.
Hierdie baie belangrike waarheid kry ons in die volgende woorde in Ef.1:3 dat God die Vader “ons in Christus geseën” het. Om in Christus te wees is om een met Hom te wees. Dit is wat die woorde in Sondag 20 om aan Christus deel te kry, beteken. Ware geloof maak my een met Christus. Hierdie ware geloof kry ons net by die Heilige Gees.
Ware geloof maak my een met Christus. Dit is in werklikheid geweldige woorde – om EEN MET CHRISTUS te wees!
Johannes het in sy Evangelie van Jesus Christus geskryf dat Christus die lig is wat in die duisternis skyn (Joh.1:5). Om een met Christus te wees, beteken dus ons is nie meer in die duisternis van die duiwel en sonde se mag nie, maar in die lig.
Johannes het in sy eerste brief geskryf dat Jesus Christus die lewe is. Om een met Christus te wees, beteken dus om nie meer in die mag van die ewige dood te wees nie, maar die lewe het. Die Here Jesus is die lewe. Om aan Ho gebind te wees, is om ware lewe, ewige lewe te hê.
Hierdie waarheid dat ware geloof my aan Christus bind en dat ware geloof net van die Heilige Gees af kom en dat ware geloof ‘n hemelse seën is, wys vir ons hoe belangrik en hoe kosbaar ware geloof is.
Dit behoort elkeen van ons by die vraag te bring: Wie is ek dat die Heilige Gees vir my ware geloof wat my aan Christus bind, gegee het? Paulus was ‘n nietige sondaarmens. Hy het homself gesien as die geringste van die apostels en nie werd om ‘n apostel genoem te word nie. Tog het hy deur sy geloof deel aan Christus gekry.
Ons elkeen is sondig. Ons is onwaardig. Tog kan ons uit ons hart die woorde van Sondag 20 bely: Die Heilige Gees laat my deel aan Christus kry. Ons het deur die Heilige Gees deel aan Christus hier op aarde. Ons het deur die Gees ook deel aan Christus waar Hy aan sy Vader se regterhand sit.
Christus is nie vir my vreemd en onbekend en ver nie!
Hy is nie Iemand waaroor ek onseker is of twyfel nie!
Ek het deur die Heilige Gees deel aan Christus.
Die Here Jesus Christus, die Seun van God, ken my.
Met die Heilige Gees in my ken ek Hom, Jesus Christus, die Hoof van die heelal en die Hoof van sy kerk.
3. Ek het ook deel aan al Christus se weldade
Elkeen wat deur die Heilige Gees deel aan Christus het, het ook deel aan sy weldade. So bely elke gereformeerde gelowige wat aan die Here Jesus behoort. Oor die weldade van Christus kan daar ‘n hele reeks preke wees. Vir vanoggend kyk ons na sy weldade waarvan ons in Ef.1:1-14 lees.
Vs 4 – God het ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. Die fondament, die grond waarop ons hele lewe berus, is Christus. Christus is die rede waarom God ons gekies het om aan Hom te behoort. Die ewige God het ook ‘n doel met ons uitverkiesing gehad. Hy het ons uitverkies om heilig, dit is vir Hom afgesonder, en onberispelik, dit is skoongewas van sonde deur Christus se offer aan die kruis, te wees.
Vs 5 – Ons is deur Jesus Christus kinders van God. Deur die sondeval van Adam en Eva en ons eie sonde is alle mense vyande van God. Maar...Christus het mens geword. Hy het ons sonde op Hom geneem, ook ons vyandskap teen God. Hy het in ons plek ons straf vir ons vyandskap teen God gedra, Hy wat sy Vader volmaak liefgehad het en sy Vader in alles volmaak gehoorsaam het.
Deur sy bitter lyding en wrede dood aan die kruis, het die Here Jesus ons vyandskap teen God heeltemal verander. Deur Hom, Christus wat vir ons gely, gesterf en opgestaan het, is almal wat in Hom glo, nou kinders van God. Hierdie is ‘n innige geestelike verhouding met God ons Vader en ons sy kinders. As kinders van die lewende God leef ons onder sy liefde, sy sorg en sy beskerming.
Vs 7 – Ons is verlos deur Christus se bloed en ons oortredinge is uit genade vergewe. Christus se bloed, is sy wrede dood aan die kruis waar Hy, die Seun van God vir ons in pyn, vernedering en eensaamheid gehang het, deur mense verwerp en deur sy Vader verlaat. Dit alles het Jesus verduur, sodat ons van al ons sondes verlos kan word en ons vir al ons oortredinge vergifnis by God kan kry.
Vs 11 – Ons is deur Christus deel van die volk van God. Die volk van God is sy verbondsvolk. Almal wat in Christus glo, is deur Hom deel van die verbondsvolk. God is ewig ons God en ons is ewig sy kinders en erfgename in sy genadeverbond.
Vs 13 – Ons behoort regtig in Christus aan God as sy ewige eiendom. Daar is net een van twee: Of ons behoort aan Satan in sy ryk van duisternis of aan God in sy ewige koninkryk van die lig. Deur Jesus Christus se dood en opstanding het Hy ons losgekoop van die heerskappy van die duiwel. Hy het ons losgeruk uit die ryk van die duisternis en ons oorgebring na die ryk van lig.
Al hierdie weldade het elkeen wat aan Christus behoort, in my lewe. Die Heilige Gees wat my deur geloof een met Christus maak, laat my deel aan hierdie wonderlike ewige geestelike weldade kry.
4. My lewe is nou dié van ‘n verloste nuwe mens
Wat kan ons nou van ons lewe op aarde sê? Ons leef in ‘n wêreld van oorlog waar duisende mense elke jaar doodgemaak word. Dit lyk of daar geen einde aan sal kom nie. Ons almal word deur die oorloë geraak. Ons leef in ‘n land van geweld, korrupsie, bedrog, wetteloosheid en agteruitgang. In ons persoonlike lewe kan daar ook omstandighede wees wat ons lewe moeilik, soms baie moeilik maak.
Ons het almal elke dag met die sondige en stukkende wêreld en land te doen.
Maar...daar is ‘n groter, ‘n baie GROTER WERKLIKHEID in ons lewe.
Paulus, ook onder moeilike omstandighede, lees maar 2 Kor.4:8-10 het sy brief aan die Efesiërs in werklikheid met ‘n lied, ‘n loflied begin. Luister weer:
Vs 3 – “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!”
Vs 6 – “Daarom moet ons God prys vir sy groot genade wat Hy sy grot genade wat Hy in sy geliefde Seun vrylik aan ons geskenk het.”
Vs 12 – “Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.”
Vs 14 – “Daarom moet ons sy grootheid prys.”
Die huidige omstandighede in die wêreld en in ons land en in baie van ons se lewe is dikwels baie moeilik...MAAR...ons elkeen wat deur die Heilige Gees een met Christus is, se lewe is nou dié van ‘n VERLOSTE NUWE MENS! Hierdie is die groter werklikheid, baie groter as al die moeilike omstandighede wat ons mag beleef.
Ons het die ewige allerhoogste God as ons liefdevolle Vader!
Ons het Jesus Christus, die Seun van God as ons Verlosser!
Ons het die Heilige Gees wat ons aan Christus en al sy weldade deel laat kry!
Ons kan ook met ‘n lied in ons harte leef en God prys. Al kom daar seer en swaar en trane, sal die loflied in ons harte kan bly, want met die Heilige Gees in ons, is ons elkeen se lewe is vas en seker by God ons Vader, Jesus Christus ons Verlosser!
ANTWOORD
Sing: Skb.9-2/58:8,9
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.1-3/61:1,2,3
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen