ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.98:1,2
Geloofsbelydenis: Nicea
Sing: Ps.71:12
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.130:1,2
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.130:3,4
Lees: Johannes 11:1-44 en Sondag 20
Kernverse: Joh.1:25-27
Tema: Die Heilige Gees troos ons met Jesus Christus, die Seun van God
Sang: Ps.98:1,2; Ps.71:12; Ps.130:1,2; Ps.130:3,4; Skb.12-2/27:4,5; Skb.15-1/75:1,2,3,4
Inleiding:
Vanoggend is ons in die reeks preke na Pinkster, toe die Heilige Gees uitgestort is, by die Johannes 11 en steeds by Sondag 20 van die Kategismus. Ons kry in Johannes 11 en in die deel van die Kategismus vir vanoggend se preek, die troos wat die Heilige Gees gee.
Tema: Die Heilige Gees troos ons met Jesus Christus, die Seun van God
1. Die Heilige Gees het as ons Trooster gekom
Die laaste aand voor sy kruisiging het Jesus vir sy dissipels die volgende gesê: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid...” (Joh.14:16,17).
In die 83-vertaling kry ons dat die Here Jesus sy Vader vir “’n ander Voorspraak” sal vra.
Die 53-vertaling het die woord “Trooster”. Jesus sal sy Vader vra om “‘n ander Trooster” te gee.
Die nuutste vertaling van die drie, die 2020-vertaling, het die Griekse woord behou. In die vertaling kry ons die woorde dat die Here Jesus die Vader sal vra om “’n ander Parakleet” te gee.
Om te verstaan wie die Heilige Gees is, sal ons na die Griekse woord “parakleet” moet kyk. Dit is die taal waarin die Heilige Gees Johannes gelei het om die Evangelie te skryf. Die Griekse woord beteken om te bemoedig, om te troos, om aan te moedig. Wanneer ons die woord verder opbreek in twee dele, kry ons die betekenis van nader kom tot by ‘n mens om uit te nooi of te bemoedig of te help.
Ons het nodig om so hierna te kyk, sodat ons sal weet wie die Heilige Gees is en wat Hy kom doen het. Ons kan sê dat die Heilige Gees gekom het om by ons en in ons te wees om ons te help in die sin dat Hy ons troos.
Die dissipels het troos nodig gehad, want hulle het gehoor dat Jesus binnekort weg sal gaan. Die dissipels het in die Here Jesus as die Seun van God, hulle Verlosser geglo. Hulle het alles agter gelaat om hulle Verlosser te volg. Vir drie jaar lank was hulle elke dag by Hom. Hulle het so baie gesien en gehoor. Hulle was dissipels in die ware sin van die woord, gelowiges wat Jesus gevolg het. Nadat Jesus weggegaan het, sal daar vir hulle vervolging voorlê, het Jesus hulle vertel. Hulle het ook daarvoor troos nodig gehad.
Nie net die dissipels het troos nodig gehad nie. Die kerk van Christus deur die eeue, ons vandag ook, het troos nodig. Die kerk in ons land, ons eie gemeente het dit tans moeilik. Luister ons na wat die Here Jesus oor die verdrukking en vervolg wat sal kom gesê het in Matteus 24 en 25 en ons lees Openbaring oor die moeilike tyd waardeur die kerk op aarde sal gaan, sal enige ware Christengelowige besef dat ons troos nodig het.
Om die Here Jesus Christus se gelowiges te troos, is waarvoor die Heilige Gees gekom het. Ons kan dus uit die Bybel vas en seker glo: Die Heilige Gees het op Pinkster as Trooster na Christus se gelowiges gekom. Hy is ewig by ons en in ons as ons Trooster.
2. Hy troos ons met die gekruisigde Christus wat opgestaan het
Noudat ons weer vasgemaak het, dat die Heilige Gees as Trooster gekom het, kom ons by die vraag: Hoe troos die Heilige Gees ons?
Die Heilige Gees is God. Hy is volmaak in sy troos. Hy is alwetend in sy troos. Vir vanoggend kyk ons na die troos van die Heilige Gees in Johannes 11.
In Johannes 11 kry ons ‘n gesin van drie, ‘n broer en sy twee susters. Ons ken hulle name. Lasarus die broer en Marta en Maria die twee susters. Hierdie gesin was baie naby aan die Here Jesus. Johannes het geskryf dat Jesus die susters en hulle broer liefgehad het (vs 5).
Die gesin het te doen gekry met ‘n situasie waar ons in hierdie lewe die meeste troos nodig het. Om hierdie rede kyk ons na die troos van die Heilige Gees in Johannes 11.
Die omstandigheid in die gesin was dat Lasarus siek geword het. Hy was ernstig siek. Hy het gesterf. Nadat die Here Jesus gehoor het dat Lasarus siek was, het Hy twee dae gebly waar Hy was. Daarna is hulle Judea toe, die gebied waar Lasarus, Marta en Maria in Betanië gebly het.
In Betanië aangekom het Jesus gevind dat Lasarus reeds vier dae in die graf was. Terwyl daar baie mense gekom het om die twee susters oor hulle broers te troos, het Marta uitgegaan om Jesus te ontmoet. Maria het in die huis gebly. Jesus en Marta het met mekaar oor Lasarus se dood gepraat.
Terwyl Jesus daar voor Marta gestaan het, het Hy vir haar gesê dat Lasarus uit die dood sal opstaan. Marta het gedink aan die opstanding die laaste dag, met Jesus se wederkoms. Jesus het baie meer gesê as wat Marta gedink het. Die diepte van sy woorde kry ons in vers 25 en 26 –
“Ek is die opstanding en die lewe” – Hierdie woorde beteken dat Jesus God is. Hy is lewe. Hy gee lewe. Die lewe wat die Here Jesus Christus gee, is die ewige lewe. Die Here Jesus is die opstanding. Hy is die Oorwinnaar oor die dood. Hy gee lewe uit die dood. Die ewige lewe wat Jesus gee, beteken dat Hy lewe uit die dood gee.
Dat Jesus die opstanding en die lewe is, het Hy in die volgende woorde verduidelik: “Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook.” Omdat die Here Jesus gekom het, het die dood nie meer mag oor Lasarus en sy susters gehad nie, ook nie oor elkeen van ons wat in Hom glo nie.
Jesus het sy oorwinning oor die dood gewys deur Lasarus op te wek. Sy oorwinning oor die dood is groter as die opwekking van Lasarus. Sy oorwinning oor die dood het Jesus Christus, die Seun van God die duidelikste gewys toe Hy na sy eie dood, op die derde dag self uit die dood opgestaan het.
Met hierdie eerste woorde het Jesus met Marta oor die dood op aarde gepraat. Maar...Hy het nog meer gesê: “En elkeen wat in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie...” Benewens om hier op aarde te sterf, is daar ook nog die ewige dood.
Die donker wolk van die ewige dood het oor elke enkele mens wat ooit op aarde geleef het en ook nog sal leef, gehang. Adam en Eva het hierdie ellende oor die ganse mensdom gebring.
Maar...Jesus Christus, die Seun van God, ons Verlosser het alles verander. Hy het gekom om sondaars te verlos van sonde. Hy het gekom om te sterf en op te staan. Dit het Hy volmaak gedoen. Hy het aan die kruis op Golgota ‘n wrede dood gesterf vir ons. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan vir ons.
Deur sy dood en opstanding is daar geen straf en oordeel meer nie. Hierdie wondergenade is vir elkeen wat in die Here Jesus glo. Elkeen wat in Jesus Christus glo is verlos, vergewe en vrygespreek...VIR EWIG!
Wat kry ons in Johannes 11? Ons lees van die troos wat die Heilige Gees gee. Ons kan sê Johannes 11 maak dit duidelik: DIE HEILIGE GEES TROOS ONS MET CHRISTUS!
3. Met die Gees in ons kan ons getroos lewe
Die Heilige Gees, ons Trooster, die Gees van die waarheid het Johannes gelei, geïnspireer om hierdie woorde toe die Here Jesus met Marta gepraat het en deur ‘n wonderteken haar broer uit die dood opgewek het, neer te skryf. Die Heilige Gees het die woorde in Johannes ingegee (2 Tim.3:16). Die Heilige Gees het Johannes meegevoer (83 vert) of gedrywe (53 vert) om te skryf (2 Pet.1:21).
Die Heilige Gees het die papirus en perkamente en later die manuskripte waarop die boeke van die Bybel, ook die Evangelie wat Johannes geskryf is, behoue laat bly.
Die Heilige Gees het die kerk van Christus gelei om in twee groot kerkvergaderings in 393 n.C en 397 n.C. saam met die ander 65 boeke ook hierdie Evangelie met hierdie hoofstuk in die Bybel, God se Heilige Skrif op te neem.
Deur die Heilige Gees is die Bybel in Afrikaans vertaal en die eerste keer in 1933 in Afrikaans uitgegee, op Sondag 27 Augustus daardie jaar. Ons kan die Bybel van kleins af in ons eie taal lees. Ons kan die Bybel ons lewe deur elke dag in ons eie taal lees.
Die Heilige Gees het vir ons die Bybel gegee. Die Heilige Gees leef in ons as ons Trooster. Hy troos ons in elke omstandigheid. Hy troos ons met die Bybel, met die Evangelie van Christus. In werklikheid troos Hy ons met Christus self.
Wanneer die ergste met ons op aarde gebeur, dit is wanneer iemand naby aan ons sterf of onsself sterf, het ons die troos wat die Heilige Gees gee: Elkeen wat in Christus glo, sal lewe al sterf hy ook hier op aarde. En elkeen wat in Christus glo, sal in ewigheid nie die ewige dood sterf nie.
Wanneer ons hier op aarde met die dood te doen kry, kan ons met die Heilige Gees in ons getroos leef. Omdat ons by die Heilige Gees ten tye van die ergste wat met ons op aarde kan gebeur, die dood, troos kry, het ons die sekerheid dat die Heilige Gees ons in elke ander omstandigheid ook sal troos. Hy het immers gekom om ewig by ons te bly en in ons te wees.
Daar is soveel troos in die Bybel wat die Heilige Gees gee. Ons luister vanoggend na 1 Pet.5:10: “God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.”
Met die Heilige Gees in ons, kan ons wat in Christus glo, getroos lewe, vandag, elke dag van ons lewe op aarde tot die Here Jesus weer kom.
ANTWOORD
Sing: Skb.12-2/27:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.15-1/75:1,2,3,4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen