Home Preke Die volk van God Die goedheid en die strengheid van God

Die goedheid en die strengheid van God

Datum: 2026-03-29
|
Reeks: Die volk van God

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.118:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.103:9,11
Lees: Romeine 11:11-24
Kernvers: Rom.11:22
Tema: Die goedheid en die strengheid van God.
Sang: Ps.118:1,2; Ps.71:9; Ps.86:6; Ps.103:9,11; Ps.105:3,4,5; Ps.33:5,6

Inleiding:

Die Here is goed. Psalm 107:1 vertel ns van sy goedheid: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Die Here is streng. Hebreërs 10:31 vertel ons daarvan: “Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.”

In Rom.11:11-24 lees ons van die goedheid en die strengheid van God.

Tema: Die goedheid en strengheid van God

  1. Die mak olyf – die uitverkore Israel

In die regsaak wat God met die mensdom het, waaroor die brief aan die Romeine gaan, het daar baie vrae oor Israel na vore gekom. Die vrae het gegaan oor God wat sondaars vryspreek op grond van hulle geloof in Jesus Christus, met Israel, die verbondsvolk wat nie geglo het nie en dus nie vrygespreek is nie. Paulus het deur die Heilige Gees hierdie vrae in Romeine 9 tot 11 gevra en geantwoord.

In hierdie verse van Romeine 11 kry ons die laaste vraag oor Israel: “Het Israel se struikeling hulle finale val beteken?” (Rom.11:11). Hierdie is ‘n baie belangrike vraag vir Israel en ook vir ons vandag.

Die Heilige Gees het Paulus gelei om ‘n baie duidelike antwoord op hierdie vraag te gee: “Beslis nie!” Paulus het hierdie duidelike antwoord met twee voorbeelde verduidelik, die van die oorblyfsel en die van die olyfboom.

In die eerste deel van Romeine 11 het Paulus oor die oorblyfsel in Israel wat die ware Israel, die ware verbondsvolk, die ware volk van God is. Die oorblyfsel is hulle wat deur God uitverkies is. Die oorblyfsel in die Afrikaners en elke ander volk in die wêreld wat uit verkies is, is saam met die oorblyfsel in Israel die ware verbondsvolk wat gered is en sal lewe.

In hierdie tweede deel van Romeine 11 kry ons die beeld van die mak olyf en die wilde olyf. ‘n Olyfboom was ‘n baie bekende boom in Israel.

Die mak olyf is die beeld van die uitverkore Israel. Die uitverkorenes in Israel het in Jesus Christus geglo. Hierdie gelowiges is die mak olyf wat in God gewortel is en aan Hom gewy is. Die takke van die mak olyf wat vrugte dra, bly aan die boom. Hierdie beeld kry ons ook op ander plekke in die Bybel. Johannes die Doper het van die byl teen die wortel van die boom gepraat wat uitgekap sal word indien die boom nie vrugte dra nie (Matt.3:10).

Die uitverkorenes in Israel wat in Jesus Christus geglo het, is die takke wat aan die mak olyfboom gebly het en nie uitgekap is nie.

In Israel wat in Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser geglo het, sien ons die goedheid van God. Sy goedheid is sy liefde en sy trou in sy genadeverbond. Van die begin af was die uitverkore gelowiges in Israel die ware verbondsvolk, die oorblyfsel, die mak olyf. Die dissipels, die vroue en ander wat in Jesus geglo het, die drieduisend wat op Pinkster deur Petrus se preek in die hart getref is, in Jesus Christus geglo het en tot bekering gekom het en Paulus is deel van die mak olyf, die uitverkore gelowiges, die ware verbondsvolk.

Die baie in Israel wat destyds nie in Jesus geglo het nie en vandag steeds nie in Hom glo nie, beteken dus dat Israel se struikeling nie hulle finale val beteken het nie.

By verre die minderheid in Israel is vandag Christene, maar dit beteken nie dat daar nie nog uitverkorenes is wat deur die Evangelie van Christus wat gekruisig is en opgestaan het tot geloof en bekering moet kom nie. God alleen weet dit. Hy is goed. Hy is die Verbondsgod wat barmhartig, genadig, lankmoedig, vol liefde en trou is (Ps.103:8). Hy sal nie een wat Hy uitverkies het, verlore laat gaan nie. Elkeen in Israel wat deel van die mak olyf is, sal gered word en deel van die skare voor sy troon wees wat niemand kon tal nie (Openb.7:9,10).

2. Die wilde olyf – die uitverkorenes uit alle ander volke

Party van die takke van die mak olyf is uitgekap. Dit is die beeld van hulle in Israel wat nie in die Here Jesus Christus geglo het nie. Die takke van die mak olyf is uitgekap, sodat daar plek was om takke van die wilde olyf in te ent. Die takke van die wilde olyf is tussen die takke van die mak olyf op die mak olyf ingeënt om deel van die mak olyfboom te word. Die takke van die wilde olyf wat ingeënt is, word deur die wortel gedra en kry lewenssap van die mak olyf se wortel.

Die wilde olyf wat op die mak olyf ingeënt is, is die beeld van almal uit die heidennasies wat deur God uitverkies is en deel van die verbondsvolk is.

Hierdie vroegste geskiedenis van die wilde olyftakke wat ingeënt is, kry ons in Handelinge. In Paulus se sendingreise het hy die Evangelie van Christus wat gekruisig is en opgestaan het eers in Asië, daarna in Masedonië en tot in die destydse Agaje, vandag Griekeland, gepreek.

Die Heilige Gees het Paulus Masedonië toe gedwing. Ons kry daardie openbaringsgeskiedenis in Handelinge 16:6-10. Die heidene wat in Filippi in Masedonië die Evangelie gehoor het, in Christus geglo en tot bekering gekom het, was die wilde olyftakke wat in die mak olyf ingeënt is. Die eerste wilde olyftak wat in die mak olyfboom ingeënt is, was Lidia, die puperverkoopster. Sy het in pers wolmateriaal handel gedryf. Die Here het haar ingeënt, toe Hy haar hart vir die Evangelie van Christus oopgemaak het (Hand.16:14).

Van daar af het die Evangelie van Christus na die res van die heidene in Europa uitgebrei. Baie wilde olyftakke is ingeënt, ook ons vroegste voorouers.

Dit is wie ons, die Afrikaners is, wilde olyftakke. Ons is in die mak olyf ingeënt. Ons het deel van die mak olyf geword. Ons kry deel van die lewenssap van die mak olyf se wortel. Hierdie is die beeld.

Die werklikheid is, daar is ook uitverkorenes onder die Afrikaners. Ons vroegste voorouers was heidene in Europa. Die Here God het die Evangelie van die gekruisigde Christus wat uit die dood opgestaan het na Europa laat uitbrei. Ons voorouers het die Evangelie gehoor. Hulle het geglo. Hulle kon glo, omdat God hulle uitverkies het om deel van sy verbondsvolk te wees.

Van Europa af het gelowiges in Christus na die suidpunt van Afrika gekom. Gelowiges in Christus het in 1652 hier geland. In die loop van tans amper vier eeue het die Evangelie meer mense bereik, sodat meer uitverkorenes gehoor en geglo het en deel van die verbondsvolk geword het.

Vandag kan Christengelowige Afrikaners sê, ons was wilde olyftakke, maar ons is ingeënt, sodat ons nou deel van die mak olyfboom van God is. Ons was ver van God af in die duisternis van sonde, maar God het ons deur Jesus Christus uit die duisternis geruk (Kol.1:13). Hy het ons die evangelie van Christus laat hoor. Die Heilige Gees het ons geloof in Christus gegee. Ons is deur Christus deel van die verbondsvolk en kinders en erfgename in die ewige genadeverbond. Ons is deur ons geloof in Christus vrygespreek om die ewige lewe te kan hê. Dit het gebeur, omdat God ons uitverkies het. Ons uitverkiesing is deur die goedheid van God.

3. Uitverkore gelowiges se lewe uit God se goedheid

Wide olyftakke wat op die mak olyfboom ingeënt is, het net om een rede gebeur: God se goedheid. Sy goedheid is die goedheid van die Verbondsgod. Ons kry ‘n beskrywing van die Here se goedheid as Verbondsgod in Eks.34:6 – “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.”

Dit is hierdie goedheid waardeur ook Afrikaners uit die heidendom Christene geword het. God het ons uitverkies. Hy het ons die Evangelie van Christus laat hoor. Hy het aan ons deur sy Heilige Gees geloof in Christus gegee. Op grond van ons geloof in Christus, is ons vrygespreek in sy regsaak en het ons die ewige lewe. So is die uitverkore Afrikaners in die ewige genadeverbond opgeneem.

As Christengelowige Afrikaners het ons ‘n opdrag van God gekry. Die opdrag klink so: Let op die goedheid en die strengheid van God (Rom.11:22).

Wanneer ons let op die goedheid en strengheid van die Here, sal ons op ‘n sekere manier moet leef. In Rom.9-11 vra die Here van ons die volgende lewe:

  • Rom.11: 18 – Die Here wil dat ons ons nie bo ander takke sal verhef nie of ons sal verbeel nie. Hierdie opdrag kry ons ook in Rom.12:3 – Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.” Beskeidenheid en nederigheid voor die Here, is wat Hy van ons vra.
  • Rom.11:22 – Ons moet uit die Here se goedheid lewe. Ons is uitverkies. Ons het geloof. Ons het die Bybel. Ons het die Heilige Gees. Ons het alles wat ons nodig het om goeie vrugte te dra, vrugte wat by ons uitverkiesing, verlossing en geloof pas.
  • Wat Israel betref, moet ons besef dat hulle die mak olyf is. Hulle is die eerste uitverkore verbondsvolk. Daar was destyds en is vandag steeds uitverkorenes in Israel. Ons behoort vir hulle te bid waar hulle in die midde-ooste omring van nie-Christene en ander vyandigheid moet leef.
  • Ons behoort soos Paulus hartseer te wees oor almal in Israel wat nie in Christus glo nie (Rom.9:2). Ons behoort vir hulle te bid dat hulle jaloers op ons en ander Christene sal word, sodat hulle die Evangelie wil hoor en kan glo om gered te word (Rom.11:14). Dit sal ‘n wonder wees, van lewe uit die dood, niks minder nie! (Rom.11:15).

4. Afvallige ongelowiges se lewe onder God se strengheid

Dan wil die Here dat ons ook op sy strengheid sal let. Die Heilige Gees het Paulus hieroor laat skryf.

Die strengheid van die Here het ons reeds in die lewe van baie in Israel gesien. Almal wat nie destyds in Jesus Christus geglo het nie, het verlore gegaan. Ons lees van daardie strengheid in Rom.11 in die beeld van die takke van die mak olyf wat uitgekap is.

Ons sien God se strengheid in die lewe van heidene. Dink aan Koning Belsasar in Daniël 5. Omdat hy nie in God geglo het nie, is hy geweeg en te lig bevind. Die nag nadat hy hierdie boodskap van die Here gekry het, is hy vermoor.

Ons sien die strengheid van die Here in Jesus se woorde oor sy wederkoms om te oordeel. Die ongelowiges sal onder die streng oordeel van God huil en op hulle tande kners van ellende (Matt.24:51).

God maak sy strengheid veral in Openbaring bekend. In Openb.6 kry ons die vuurrooi perd wat op bloedvergieting en geweld met oorloë wys, die swart perd wat op hongersnood wys en die vaal perd wat die dood beteken. In soveel ander gesigte het die Heilige Gees vir Johannes die strengheid van God oor ongelowiges gewys. Hierdie strengheid sal uiteindelik voltrek word wanneer die gekruisigde Christus as Hemelregter al die ongelowiges finaal oordeel en hulle in die poel van vuur, die tweede dood gooi (Openb.20:14).

Dan behoort ons wat op die Here se strengheid oor die afvalliges let, die volgende ook te besef: Wanneer Iran as ‘n hoofsaaklike moslem-land openlik aan die mense van die land die boodskap gee dat Israel gedood moet word, wil Iran nie net ‘n land se mense doodmaak nie. Dit is baie ernstiger. Iran wil die uitverkorenes van God in Israel ook doodmaak. Dit is duidelike afvalligheid van die Here en sonde teen die sesde gebod.

Verder, wanneer die ANC-regering van Suid-Afrika hom by Israel se ongelowige moslem-vyande skaar en in woord en daad openlik teen Israel optree, is die regering nie bloot teen Israel as land nie. Die regering van Suid-Afrika tree ook op saam met die vyande van die Here se verbondsvolk, teen sy uitverkorenes op. Wie teen die Here se uitverkorenes optree, tree ook teen Hom op. Die regering van hierdie land wys hierin ook hulle afvalligheid van die Here en hulle sonde teen Hom.

Wanneer ons dan deur die media al hierdie sien en hoor, mag ons as uitverkore gelowiges nie ook afvallig word en net polities na alles kyk en luister nie. Ons moet met die Heilige Gees in ons op God se strengheid let en waar ons kan, ander daarop wys en hulle bemoedig om in hierdie tyd die Here te soek terwyl Hy nog te vinde is en Hom aan te roep, terwyl Hy nog naby is (Jes.55:6).

Dit moet ons doen vir onsself. Dit moet ons ook vir ander doen. Ons behoort daarvoor bid dat al die Here se uitverkorenes in Suid-Afrika en al die uitverkorenes in Israel en elke ander volk op aarde Ho sal soek en aanroep, sodat al die takke wat aan die mak olyfboom hoort, op hom ingeënt sal word.

ANTWOORD
Sing: Ps.105:3,4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.33:5,6
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen