Home Preke Die volk van God Die geheim van die volk van God

Die geheim van die volk van God

Datum: 2026-04-19
|
Reeks: Die volk van God

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.105:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.25:2,3
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.105:3
Lees: Romeine 11:25-32
Kernverse: Rom.11:25-27
Tema: Die geheim van die volk van God
Sang: Ps.105:1,2; Ps.71:9; Ps.25:2,3; Ps.105:3; Ps.105:4,5; Ps.89:6,7

Inleiding:

Hierdie drie hoofstukke, 9 – 11, is deel van die brief aan die Romeine wat oor ons verlossing gaan. Ons verlossing bestaan daarin dat almal wat in Jesus Christus glo, vrygespreek is van oordeel en die ewige lewe het.

Die probleem wat Paulus in hierdie drie hoofstukke oor geskryf het, is: Wat van die baie in Israel wat nie in Christus geglo het nie? Wat het geword van God se verbond waar Hy vir Abraham gesê en eintlik beloof het: “Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ‘n blywende verbond. sal jou Gd wees en ook die God van jou nageslag” (Gen.17:7)?

In vanoggend se verse kry ons Paulus se samevatting oor alles wat hy tot by hierdie verse oor die volk van God geskryf het, dit is Israel as volk van God en die heidene as die volk van God.

Dan moet ons weet dat die volk van God vir Hom baie belangrik is. Ons kry hierdie belangrikheid van die volk in die Ou en die Nuwe Testament.
Jer.31:1 – “Daardie tyd, sê die Here, sal Ek die God van al die stamme van Israel wees, en hulle sal my volk wees.”
1 Pet.2:9 – “Julle, daarenteen, is die uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.”

Ons praat dalk in ons daaglikse gesprekke nie baie van volk nie, maar vir God is sy volk baie belangrik en die Bybel is vol van die uitdrukking: Die volk van God.

Vanoggend se verse is die samevatting van wat Paulus tot dusver deur die Heilige Gees oor Israel as die volk van God en ander heidense volke as die volk van God, geskryf het. Verder moet ons dit ook weet: Wie die volk van God is, is nie algemene kennis nie. Die volk van God is in werklikheid ‘n geheim, daarom lees ons in Rom.11:25 – “Ons staan hier voor ‘n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie…”

In die tweede laaste preek uit Romeine 9 tot 11 is die tema: Die geheim van die volk van God.

Tema: Die geheim van die volk van God

  1. Die geheim van Israel as volk van God

Wanneer ons alles in hierdie verse oor Israel lees, sal enige gelowige sekerlik besef dat ons hier ‘n geheim het waaroor ons dieper sal moet lees. Luister na wat Paulus alles geskryf het:
Vs 25 – “…die verharding het oor ‘n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het…”
Vs 26 – “…en op die manier sal die hele Israel gered word…”
Vs 27 – “Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande van God…maar kragtens die uitverkiesing is hulle geliefdes om die aartsvaders ontwil.”
Vs 31 – “Net so gaan dit ook met die Jode: Omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit  gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind.”

Wat ons in hierdie verse het, is die geheim van Israel as volk van God. Hierdie verse staan ook nie op hulle eie los van dit wat Paulus van die begin van hoofstuk 9 oor Israel geskryf het nie.

Kom ons kyk na die verse.

Ons lees in vs 25 van die verharding van Israel. Hieroor kan ons die volgende sê: ‘n Groot deel van Israel het hulle verhard. Die meeste in Israel het hulle teen die Here Jesus Christus verhard. Hulle het vyande van die evangelie geword (vs 27). Ons kry in die vorige hoofstukke twee redes vir hierdie verharding en vyandskap.

Die eerste rede – Die grootste deel van Israel het gedink en geglo, omdat hulle volgens geboorte natuurlike afstammelinge van Abraham was, hulle die volk van God, die verbondsvolk was en dat hulle gered was (Rom.9:6-13). Die meeste in Israel, onder leiding van al die skrifgeleerdes, het vas geglo dat hulle Christus as Verlosser nie nodig het nie, omdat hulle die nageslag van Abraham was.

Die tweede rede – Die meeste in Israel het op hulle eie manier vryspraak probeer kry en hulle nie gesteur aan hoe God vryspraak gee nie (Rom.10:3). Israel het onder leiding van die skrifgeleerdes vas geglo, hulle sal deur die nakom van God se wet, gered word en vryspraak van oordeel kry (Rom.9:31).

Hierdie beteken dat nie al die mense wat uit Israel gebore is, die ware Israel is nie. Dit bring ons by vs 28. God het vir Hom mense in Israel uit uitverkies is, omdat Hy barmhartig was en Hom oor hulle ontferm het (Rom.9:15). Hierdie mense deur God uitverkies, het in Hom geglo van die begin af. Abraham, Isak, Jakob, Juda en Josef was van die begin af sulke uitverkorenes wat die ware Israel, die ware volk van God was. Na hulle het Moses, Josua, Gideon, Samuel, Dawid en soveel ander gekom. Ook Petrus, Johannes, Paulus, Timoteus en nog ander.

Hierdie mense is van altyd af die werklike Israel. Die hele Israel wat gered word (vs 26), die werklike Israel, dit is Israel, die volk van God, is nog nie ten volle bekend nie. Daar sal nog uitverkorenes uit Israel kom wat barmhartigheid en ontferming by God sal kry, om deel van sy volk te wees.

Waar laat hierdie alles ons?

  • Wat ons, Christene in Suid-Afrika nie mag doen nie, is om bloot polities of ekonomies of militêr oor Israel te dink en te praat nie.
  • Ons moet ook by die Bybel bly en besef en glo dat nie elkeen in Israel die volk van God is nie. Almal in Israel wat in Jesus Christus as enigste Verlosser glo, is die volk van God.
  • Bid vir die uitverkorenes in Israel wat nog nie tot geloof in Jesus Christus en tot bekering gekom het nie, dat hierdie geweldige veranderinge in hulle lewe sal gebeur, sodat hulle as deel van die volk van God kan leef, in die koninkryk van die hemel, die ryk van die lig.

2. Die geheim van heidenvolke as volk van God

In hierdie deel van sy brief het Paulus die Christene in Rome wat uit die heidenvolke gekom het, aangespreek. Die woorde in hierdie verse is daarom juis vir Christene soos ons bedoel. Wat is die geheim van heidenvolke as volk van God?

Vs 25 – “…sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie…”
– Die verharding oor ‘n deel van Israel sal duur “totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het.”
Vs 30 – Mense uit heidenvolke is deel van die volk van God op grond daarvan dat God Hom oor ons ontferm het.
Vs 32 – God ontferm Hom oor almal, dat almal gered kan word.

Christene uit die heidendom, waarvan Christene onder die Afrikaners ook kom, moenie te selfversekerd wees nie. Ons moet daarteen waak dat ons nie ook soos Israel van ouds op ons afkoms, ons geskiedenis en ons kultuur staatmaak en dink dat ons op grond daarvan goeie mense is en daarom die volk van God is nie.

Die verharding oor ‘n deel van Israel en hulle vyandskap teen die Evangelie het tot gevolg gehad dat God die Evangelie van sy Seun, Jesus Christus, na die heidendom laat uitbrei het. Hieroor het Paulus in Rom.11:17-24 geskryf met die beeld van die mak olyf se takke wat uitgekap is, sodat die wilde olyf se takke op die mak olyf ingeënt kon word. Wanneer die volheid van die uitverkorenes onder die heidene tot geloof in Christus en bekering gekom het, sal ook al die uitverkorenes in Israel tot geloof en bekering gekom het (Rom.11:11,12,15). 

Dat God Hom oor almal ontferm, sodat almal gered kan word, beteken dat God Hom oor Israel en oor ander heidenvolke ontferm het. Die mense oor wie God Hom ontferm het, kom dus uit Israel en ook die ander volke uit die heidendom. Ook die Afrikaners wat in Christus glo, kom uit die heidene.

Saamgevat is die geheim van heidenvolke as die volk van God die volgende:

  • ‘n Deel van Israel het hulle verhard teen Jesus Christus en het vyandig teen die Evangelie geword, dat die Evangelie van Christus wat gekruisig is en opgestaan het, ook na die heidene uitgebrei het.
  • Mense uit die heidense volke het deel van die volk van God geword, omdat God hulle uitverkies het, hulle die Evangelie laat hoor het en hulle deur die Heilige Gees in Jesus Christus geglo het.
  • Heidenvolke is deel van God se volk, omdat God Hom oor die heidene ontferm het.
  • Geen volk uit die heidendom, ook die Afrikaners, het enige grond om op te roem nie. Die uitverkorenes onder die Afrikaners is deel van die volk van God, omdat Hy Hom oor ons ontferm het.
  • Elke Afrikaner se eie geloof en elke Afrikaner se eie gemeente is nie die enigste wat belangrik is nie. Om deel van die volk van God te wees, die verbondsvolk, is ook baie belangrik. Ons gedagtes en ons harte moet daarom wyer gaan as net ons eie geloof en ons eie gemeente.

3. Dit is net genade om volk van God te wees

Dit is opmerklik hoeveel keer die volgende twee woorde in Rom.11:25-32 voorkom: Ongehoorsaam en ontferm.

Rom.11:30 – Heidene was ongehoorsaam.
Rom.11:30,31 – Israel was ongehoorsaam.
Rom.11:32 – Almal was ongehoorsaam.

Ongehoorsaamheid aan God is sonde en verdien straf en oordeel. God se straf en oordeel is die ewige dood. Beide Israel en al die heidense volke het die ewige dood verdien.

MAAR…

Rom.11:30,31 – God het Hom oor die heidene ontferm.
Rom.11:31 – God het Hom oor Israel ontferm.
Rom.11:32 – God het Hom oor én Israel én die heidense volke ontferm.

  • Ontferm beteken dat sondaars in Israel en onder die heidenvolke genade by God gekry het. Hy het Israel en heidene uit genade uitverkies om sy volk te wees.
  • Hy het én Israel én heidene uit genade die Evangelie van Christus laat hoor.
  • Die Heilige Gees het aan al die uitverkorenes in Israel en in die heidenvolke uit genade geloof in Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, gegee.
  • Uit genade het almal in Israel en onder die heidene wat in Christus glo, deel van die volk an God geword. Elkeen, van watter volk ook al, wat in Christus glo, is deel van die nageslag van Abraham (Gal.3:29) en begenadig om deel van die volk van God te wees, dit is om in sy ewige genadeverbond te wees.

In Romeine 9 – 11 leer die Heilige Gees ons:

  • Hoe belangrik dit is om deel van die volk van God te wees.
  • Dat dit net genade is om deel van die volk van God te wees.
  • Om meer en dieper oor Israel as die volk van God te glo, te dink en te praat.
  • Om ook meer en dieper oor Afrikaners en alle ander volke as die volk van God te glo en te dink en te praat.
  • Om God gedurig te dank vir die genade om uitverkies te wees, vir die genade van geloof en bekering en vir die genade om deel van die volk van God te wees.
  • Om sonder ophou te bid dat die uitverkore Israeliete, Afrikaners en uitverkorenes onder alle volke wat nog nie as volk van God leef nie, tot geloof in Christus sal kom en tot bekering sal kom, sodat hulle deel van God se volk kan wees in sy ewige genadeverbond.

ANTWOORD
Sing: Ps.105:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.89:6,7
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen