ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.108:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.9:1,7,10
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.25:2,3
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.119:2,5
Lees: Romeine 10:16-21 (83 vertaling)
Kernvers: Rom.10:17
Tema: Geloof waardeur ons gered word kom deur die prediking van Christus
Sang: Ps.108:1,2; Ps.9:1,7,10; Ps.25:2,3; Ps.119:2,5; Ps.89:6; Ps.119:22,39
Inleiding:
CHRISTUS…REDDING…GELOOF…PREDIKING… kan nie van mekaar losgemaak word nie. So het Paulus aan die gemeente in Rome destyds, en aan elke gemeente van Christus vandag, ook ons gemeente geskryf.
Tema: Geloof waardeur ons gered word kom deur die prediking van Christus
Daar is net een manier om gered te word. Hierdie is ‘n baie belangrike waarheid waaroor nie genoeg gepreek, gedink en gepraat kan word nie. Redding is baie belangrik, want sonder om gered te word, is die ganse mensdom gedoem tot die grootste ellende: God se ewige oordeel in die hel saam met die duiwel en al sy bose magte en aanhangers.
Van die begin af, is sondaarmense deur geloof gered. In Hebr.11 lees ons van die heel vroegste mense –
Heb.11:4 – Omdat Abel geglo het, het hy getuienis van God ontvang dat hy regverdig was, dit is dat hy in die regte verhouding met God geleef het.
Heb.11:7 – Omdat Noag geglo het, is hy en sy gesin gered, want deur sy geloof was hy ‘n erfgenaam van God en is hy vrygespreek van oordeel oor sonde.
Hebr.11:8 – Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het en het hy en sy nageslag erfgename in die ewige genadeverbond geword.
Abel, Noag en Abraham was van die heel vroegste mense. Hulle het in God geglo. Hulle is gered en het deur hulle geloof kinders en erfgename van God geword.
God self het bepaal dat sondaars deur geloof gered word – net deur geloof…DEUR GELOOF ALLEEN!
God verander nie. Hy verander in ewigheid nie. Deur al die eeue het sy bepaling onveranderlik vas en seker bly staan: Sondaars word deur geloof gered.
Israel het bykans hulle hele lewe deur met hierdie geestelike waarheid gesukkel. Paulus het in sy brief aan die gemeente in Rome juis hieroor geskryf. Hy het veral in hoofstukke 9 tot 11 oor redding deur geloof en Israel se ongeloof geskryf. In die hoofstukke het Paulus deur die Heilige Gees oor vrae of God se beloftes aan Abraham, Isak en Jakob oor Israel as kinders en erfgename in die genadeverbond dan tot niet gegaan het. In Romeine 10 is die vrae of Israel die prediking gehoor het en of hulle dit verstaan het. Die antwoord is elke keer: Israel het gehoor en verstaan, maar dit was hulle wat nie hulle lewe op geloof in God gebou het nie. Israel het op hulle eie manier deur wette na te kom, probeer om gered te word en kinders en erfgename in die genadeverbond te wees.
Deur hulle eie manier van doen, het Israel wat nie in God geglo het nie, steeds skuldig en veroordeel voor God gestaan. Dit is tot vandag steeds so: Elkeen in Israel, maar ook elke enkele mens op aarde wat nie sy of haar lewe op geloof bou nie, staan skuldig en veroordeel voor die heilige God.
2. Hy het bepaal dat wie in Christus glo, gered sal word.
Dit is verder baie belangrik om meer oor geloof te sê waardeur sondaars gered word. In die eerste deel van Romeine 10 kry ons meer oor hierdie geloof, die enigste geloof waardeur en Israel destyds en ons vandag gered word.
Die geloof waardeur sondaars gered word, is geloof in Christus, net in Christus – CHRISTUS ALLEEN!
Wanneer ons hierdie woorde lees, moet ons weet en besef en glo dat die woorde soos die hele Bybel deur die spesiale leiding van die Heilige Gees geskryf is. Die Heilige Gees het Paulus oor Christus laat skryf. Juis die Naam Christus is belangrik. Christus is die Naam van God se Seun, ons Verlosser wat Gesalfde beteken. Gesalf beteken bestem, openlik aangewys en toegerus om ‘n bepaalde spesiale opdrag vir God te doen. Seker die bekendste gesalfde waarvan ons in die Bybel lees, is Dawid wat deur Samuel gesalf is om Israel se koning te wees (1 Sam.16).
God die Vader het sy Seun in die ewigheid bestem, Hom op die bepaalde tyd het Hy sy Seun na die aarde gestuur en deur die Heilige Gees openlik as die beloofde Verlosser aangewys. Dat Jesus, God se Seun, die Christus is, beteken sy Vader het Hom met die volgende geestelike verlossingsopdrag gestuur –
Hierdie Christus, is die Verlosser in wie ons moet glo om gered te word – Profeet, Hoëpriester en Koning. Tydens Jesus Christus se lewe op aarde het mense in Israel in Hom geglo, maar as Johannes die Doper, Elia, Jeremia of een van die profete (Matt.16:14). Daardie mense het in Jesus geglo, maar dit was nie ware geloof nie. Dit was verkeerd en vals.
Vandag is daar ook in ons land baie mense wat in Jesus glo, maar Jesus wat vir aardse voorspoed sorg, wat ‘n belangrike profeet en ‘n belangrike persoon wie se voorbeeld ons moet navolg. Al hierdie is eweneens soos destyds nie ware geloof nie, maar verkeerd en vals.
God het bepaal dat sondaars DEUR GELOOF ALLEEN gered word.
Hy het bepaal dat sondaars deur geloof IN CHRISTUS ALLEEN gered word.
Elke enkele mens op aarde se lewe hang hiervan af!
3. God het bepaal dat geloof deur prediking kom.
Nou kom ons by woorde in Rom.10 wat regtig so belangrik is, Rom.10:17:
“Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat wat ‘n mens hoor, is die verkondiging van Christus” (83 vert).
“Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (53 vert.).
“Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus” (2020 vert.).
Gereformeerde gelowiges deur die eeue en oor die hele aarde se antwoord op hierdie vers, klink so in ons geloofsbelydenis, in een van ons Belydenisskrifte: “Om mense tot die geloof te bring, stuur God uit genade verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? (Rom.10:14,15).” Hierdie antwoord, hierdie belydenis staan in die Dordtse Leerreëls, hoofstuk 1 onder 1.3.
God se boodskap dat sondaars alleen deur geloof in Christus alleen gered word, is ‘n VREUGDEVOLLE BOODSKAP! Vreugdevol, want dit is ‘n boodskap van lewe uit die dood, van lig in die donkerste duisternis!
Hierdie boodskap kom by mense deur predikers in Paulus se woorde of verkondigers in die Dordtse Leerreëls. Predikers is gestuurdes van God. Hy het bepaal dat geloof deur prediking kom. Hy voorsien predikers, predikante aan wie Hy wil. Hy stuur verkondigers uit genade. Dit is net deur God se genade dat daar predikers van die Evangelie van redding deur Christus is.
Die meeste mense in Israel destyds het gedink dat hulle nie God se genade van verkondigers van die Evangelie van redding deur Christus nodig het nie. Hulle het die volmaakte Verkondiger, Christus ons hoogste Profeet en Leraar verwerp, gehaat en uiteindelik doodgemaak.
Na Christus se kruisiging was die Jode nog nie klaar nie. Hulle het steeds nie die verkondigers van Christus wat God uit genade gestuur het, aanvaar nie, maar hulle ook verwerp en vervolg.
Is dit vandag anders onder die Afrikaners in ons land?
Dit is deur God se genade dat daar predikers van redding deur Christus is, genade nie net aan ander nie, maar ook hier in ons gemeente. Elke Sondag van die jaar is daar ‘n erediens waar redding deur Christus gepreek word.
Maar…Sondae word in ons land vir baie ander dinge gebruik, ook hier by ons.
Die genade van ‘n erediens met ‘n oop Bybel waaruit die Evangelie van Christus ‘n helder lig en boodskap van lewe is, word soveel keer verbygegaan. Dit lyk asof ons die genade nie baie nodig het nie. Dit is asof Afrikaners gewoond geraak het hieraan dat omtrent die helfte van ‘n gemeente Sondag nie by die prediking van Christus is nie.
Die genade van ‘n verkondiger deur God gestuur, word as vanselfsprekend aanvaar asof Afrikaners dink daar sal altyd predikers van Christus wees.
Verwerp Afrikaners nie vandag eintlik ook maar die predikers van Christus, die Evangelie van Christus en in werklikheid vir Christus self nie? Dit gebeur in ons land dalk nie met die geweld van destyds teen Christus, sy apostels en sy gelowiges nie, maar dit gebeur tog…
Hier is bekering nodig. Petrus se woorde aan die vervolgde Christene destyds is woorde vir Christene van alle tye oor die hele aarde, ook vir ons aan die suidpunt van Afrika: “Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en saligheid verkry” (1 Pet.2:2).
4. Predikers deur God gestuur, moet Christus as Redder van sondaars preek.
Die predikers van die vreugdevolle boodskap van verlosser, dit is wat die Woord “evangelie” beteken, is deur God gestuur. God stuur. Hy bepaal die opdrag. Hy bepaal wat gepreek moet word. God wil dat Christus as Redder van sondaars gepreek moet word.
Hoe preek ‘n gestuurde Christus as Redder?
Christusprediking moet uit die Bybel kom. Christusprediking moet wees hoe nodig ons Christus het, dat Hy vir ons sondes gesterf het en opgestaan dat ons nuut kan lewe en hoe ons deur die Heilige Gees vir God dankie moet sê vir hierdie verlossing uit genade.
Om Christus uit die Bybel te preek, werk soos ‘n sleutel. Trouens, Jesus self noem die Bybel, die Evangelie ‘n sleutel van die hemelryk. Vir die mens wat Christusprediking hoor en deur die Heilige Gees met ‘n opregte hart in Hom as ons enigste Verlosser glo, word die koninkryk van die hemel oopgesluit en bly die koninkryk oopgesluit. Wie hoor, maar nie met ‘n opregte hart glo nie, vir so iemand word die koninkryk van die hemel toegesluit en bly die hemelryk toegesluit. So iemand bly verlore onder God se oordeel.
Ons het verlede Sondag die genade van God ontvang om die Evangelie van Christus as ons LOSPRYS wat ons LOSGEKOOP het, te hoor. Ons het die genade gehad dat die Heilige Gees ons geloof in Christus met nagmaal dieper en sterker gemaak het.
Ons is ‘n antwoord aan God verskuldig. Hoe gaan ons antwoord? Wat ons gemeente, elkeen van ons met die erediens elke Sondag en die Christusprediking maak, sal vir God wys wat ons antwoord is.
Die genade van CHRISTUS ONS REDDER is baie kosbaar.
Ons mag hierdie genade nie as vanselfsprekend aanvaar en verby laat gaan nie.
Elkeen van ons kan en moet hierdie genade wondergenade van redding deur geloof in Christus in ons harte bewaar en daarvolgens lewe. Ons het die Heilige Gees om ons te help.
ANTWOORD
Sing: Ps.89:6
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.119:22,39
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen