ONTMOETING
Votum: P.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.33:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:12
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.89:1,6
Lees: Romeine 10:5-15
Kernverse: Rom.10:8-10
Tema: Die boodskap van redding deur geloof in Christus
Sang: Ps.33:1,2; Ps.71:12; Ps.86:6; Ps.89:1,6; Skb.5-4/10:1,2; Ps.119:7,39
Inleiding:
Ons weet almal die beriggewing oor Israel het byna heeltemal opgehou. Polities en militêr gaan dit beter. Daar is nou niks meer om oor te berig nie, in elk geval nie op die voorblad van die koerant of as ‘n hoofberig oor die radio of tv nie.
Maar… wat van Israel se ernstigste probleem? Wat daarvan dat hulle almal skuldig is tot die dood en dat net die mense in Israel wat in Christus glo, vrygespreek is van God se ewige oordeel? Anders gestel: Wat van almal in Israel wat ewig verlore is, omdat hulle nie in Christus glo nie?
Die vrae is ook vir die hele mensdom belangrik.
Vanoggend se preek gaan oor die boodskap van redding deur geloof in Christus en dat Christus nie ver is en nie Israel of enige volk ver na Hom hoef te gaan soek nie.
Tema: Die boodskap van redding deur geloof in Christus
Dit gaan in Romeine 9 – 11 oor die regsaak wat God teen die mensdom het. Hy is die ewige, almagtige en heilige God wat die ganse mensdom voor Hom daag in ‘n regsaak. Die regsaak het ‘n aanklag, ‘n uitspraak en ‘n vonnis. In Rom.9-11 gaan dit oor Israel as die verbondsvolk se posisie in hierdie regsaak. Maar dit gaan ook oor die ware volk van God se posisie in hierdie regsaak.
Die uitspraak in God se regspraak is: Die ganse mensdom, Israel en al die heidense volke is skuldig tot die dood.
Die vonnis is: Wie in Jesus Christus glo, is heeltemal vrygespreek van straf en oordeel.
Die probleem met Israel is dat hulle nie in Christus geglo het nie en daarom nie vrygespreek is van God se ewige oordeel nie.
In vanoggend se verse is die vraag: Die Jode het hulle eie manier van verlossing probeer. Is dit dan moeilik om by die boodskap van verlossing deur geloof in Christus uit te kom?
In sy antwoord het Paulus uit Deuteronomium 30 aangehaal. Om as verbondsvolk geloof in God te gehad het, en Hom met gelowige harte in die genadeverbond te leef en God te gehoorsaam is nie te moeilik nie – was nie te moeilik vir Israel nie en is nie te moeilik vir ons nie.
Israel hoef nie na die hemel op te klim of na die onderaardse diepte neer te daal om by God uit te kom om in Hom te glo nie. Vir ons wat die Nuwe Testament het, beteken dit dat ons nie ver na Christus te gaan soek om in Hom te kan glo nie. Ons hoef nie na die hemel op te klim nie. Ons hoef nie na die onderaardse diepe af te dwaal nie. Ons hier in Pretoria hoef ook nie 9000 km ver te gaan om Christus in Israel te gaan soek nie.
Ons het die boodskap van redding hier by ons. Wanneer ek die Bybel in my hand hou, het ek die boodskap van redding deur geloof alleen in Christus alleen hier in my hande. Dit maak van die Bybel die kosbaarste en die wonderlikste Boek!!! Maar…Christus en geloof in Hom is nog nader aan ons as in ons hande –
CHRISTUS IS IN ONS HARTE! Die Bybel is LEWEND en KRAGTIG. Die Heilige Gees, almagtige God dring met die Bybel in ons harte, ons diepste binneste in (Hebr.4:12).
Ons het die boodskap van redding deur geloof in Christus in die Bybel. Daarom: Elke dag doelbewus tyd inruim om Bybel te lees. Elke keer tyd maak om wat ons gelees het, in ons harte te bêre. Altyd bereidwillig te wees om oor ons geloof in Christus te praat. Want die Heilige Gees wat geloof in Christus in ons harte geplant het, lê ook die woorde in ons mond om te bely, dit om te oor Christus te sê wat in die Bybel oor Hom staan. Wanneer dit by Christus kom, gaan HART EN MOND altyd saam!
2. Die boodskap is: Vryspraak deur geloof in Christus
Wat presies is hierdie boodskap van redding deur geloof in Christus?
Ons kry in Romeine 10 die volgende antwoord:
Hierdie boodskap is nie ‘n algemene boodskap wat alle mense ken nie. O, ja, baie mense in die algemene lewe, in films en programme en onderhoude op televisie weet van die Name Jesus en Here en God. Sommer so, wanneer iemand skrik, of kwaad word of bly is, gooi hulle monde hierdie heilige Name sommer so in die lug uit asof dit gewone woorde is wat enigiemand so mag gebruik. Die onveranderlike God se gebod verander in ewigheid nie: Die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie (Eks.20:7). Dit is tragies om hierdie Name te ken, maar die boodskap van redding wat die Name bring, nie te ken rn te glo nie.
Ons kyk na die boodskap van redding in Rom.10.
JESUS IS HERE –
JESUS is die Seun van God wat deur ‘n almagtige wonder mens geword het. Hy het al ons sonde op Hom geneem. Hy met al ons skuld voor sy Vader, die heilige God, aan die kruis gehang. Hy het al ons straf en die donker wolk van God se ewige oordeel wat oor ons elkeen gehang het in ons plek verduur. Hy het alles vir ons volmaak verduur en gedra. Hy het in ons plek die wrede dood aan die kruis gesterf.
Hy is HERE. Deur vir ons aan die kruis te sterf het Jesus ons op ‘n almagtige manier uit die duistere mag van die duiwel losgeruk. Hy het ons syne gemaak. Hy ons deur sy kosbare bloed, dit is deur sy lewe te gee, syne gemaak. Ons behoort nou aan Jesus Christus. Hy is ons EIENAAR! Ons elkeen behoort met liggaam en siel aan ons Here Jesus. Ons behoort aan Hom in hierdie lewe op aarde. Ons behoort aan Hom in die lewe hierna in die hemel. As ons Eienaar regeer die Here Jesus ons deur sy Woord en sy Gees. Hy beskerm ons teen die bose, sodat niks en niemand ons ooit van Hom sal kan wegruk nie.
GOD HET JESUS UIT DIE DOOD OPGEWEK –
Die Sondagoggend toe eers die vroue en na hulle die dissipels by Jesus se graf gekom het, was die graf leeg. Die engele in wit klere het vir hulle gesê dat hulle Jesus nie by die dooies moes soek nie, want Hy het opgestaan.
Jesus Christus, ons Verlosser, het op die derde dag op ‘n almagtige manier uit die dood opgestaan. Opgewek of opgestaan uit die dood is dieselfde. Deur sy opstanding het die Here Jesus die dood oorwin. Die dood as straf op sonde het nou geen mag meer oor ons nie. Deur sy opstanding wek Jesus ons op om nuut te lewe. Hy gee ons ook die geestelike krag deur die Bybel en die Heilige Gees om nuut te kan leef. Deur die Here Jesus se opstanding het ons die waarborg, dit is die ewige vaste sekerheid dat ons liggame met Jesus se wederkoms opgewek sal word, sodat ons met liggaam en siel, ewig nuut en volmaak salig, by Hom in die hemel sal wees.
Dit is belangrik om altyd te besef en te glo dat die ons waarvan ek die heeltyd praat, almal is wat ‘n ware geloof in die Here Jesus by die Heilige Gees gekry het. Die Gees gee hierdie geloof net deur die Bybel.
Hierdie boodskap van die Here Jesus Christus wat aan die kruis gesterf het en uit die dood opgestaan het, is die boodskap van vryspraak deur geloof in Christus. Hier is ons by die uitspraak van die ewige, almagtige en heilige God in sy regspraak teen die mensdom:
ELKEEN WAT IN CHRISTUS GLO, WORD VRYGESPREEK!
3. Ons antwoord: Glo met ons hart en bely met ons mond
Wat wil God hê moet met hierdie boodskap van vryspraak deur geloof in Christus gebeur?
God stuur mense met hierdie boodskap. Hiervan lees ons in Rom.10:13-15.
Daarom behoort die voetstappe van die gestuurdes wat hierdie goeie boodskap bring, vir die Here se kinders wonderlik te klink.
Wat wil God hê moet met die mense wat die boodskap van vryspraak deur geloof in Christus gebeur? Van die ontvangers van hierdie boodskap lees ons in Romeine 10:9,10 – “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.”
Die Here vra ‘n antwoord op sy boodskap van vryspraak deur geloof in Christus. Daar is net een antwoord wat vir elkeen wat lees of hoor, die ware lewe, die ewige lewe gee. Hierdie antwoord is:
GLO IN DIE HERE JESUS CHRISTUS MET JOU HELE HART!
Elkeen wat in Christus glo, sal nie verlore gaan nie, maar het die ewige lewe.
Geloof wat die Heilige Gees in ons hart gee, kan nie net daar weggesteek bly nie. ‘n Hart wat glo en ‘n mond wat vertel gaan saam. Die Here sê so in die Bybel! Daarom:
Bely met jou mond, sê, vertel dat ander kan hoor:
JESUS IS ONS HERE, WANT HY HET VIR ONS GESTERF EN OPGESTAAN!
Hierdie is die boodskap wat Israel so nodig het, wat elke ander volk op aarde so nodig het.
Dit is die ENIGSTE BOODSKAP VAN REDDING!
ANTWOORD
Sing: Skb.5-4:1,2
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.119:7;39
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen