ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Skb.1-2/60:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.18:14
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.1-1/24:1,2
Lees: Romeine 11:1-10
Kernverse: Rom.11:5,6
Tema: Die oorblyfsel deur God uitverkies net uit genade
Sang: Skb.1-2/60:1,2,3; Ps.71:9; Ps.18:14; Skb.1-1/24:1,2; Skb.1-1/24:3,4; Ps.89:1,2
Inleiding:
Daar is woorde in die Bybel wat vir elke gelowige baie belangrik is. In vanoggend se preek is oorblyfsel, uitverkies en genade sulke belangrike woorde.
Tema: Die oorblyfsel deur God uitverkies net uit genade
Romeine 9-11 gaan oor die volgende baie belangrike saak:
God het ‘n ewige genadeverbond met Abraham en sy nageslag gesluit dat Hy ewig hulle God sal wees. Maar Abraham en sy nageslag en alle mense het swaar teen God gesondig. Die heilige God het daarom ‘n regsaak teen die hele mensdom.
Die regsaak lyk so:
Die aanklag is dat alle mense swaar gesondig het.
Die uitspraak is dat alle mense die ewige dood verdien as straf op sonde.
Die vonnis is dat elkeen wat in Christus glo, vrygespreek is van alle straf en oordeel en die ewige lewe het.
Die ernstige saak waaroor Paulus in Romeine 9-11 skryf is dat Israel nie in Christus geglo het nie, nie vrygespreek is nie en dus nie die ewige lewe het nie.
Hierdie ernstige probleem bring verskillende vrae na vore. Een van die vrae kry ons in Rom.11:1: “Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?” Die vraag vra of God dan verander het. Dit is ‘n baie belangrike vraag want deur die hele Bybel kry ons die belangrike waarheid dat God van ewigheid tot ewigheid die onveranderlike genadige en getroue God is.
Die Heilige Gees het Paulus gelei om hierdie vraag in verskillende dele te antwoord:
Die eerste deel: “Beslis nie!” God het beslis nie sy verbondsvolk verstoot nie. Dit beteken God het beslis nie verander nie. Hy is en bly van ewigheid tot ewigheid die onveranderlike genadige en getroue God.
Die tweede deel: Paulus gee twee sterk voorbeelde dat God Israel, sy verbondsvolk nie verstoot het nie.
Die eerste voorbeeld is Paulus self. Hy is ‘n Israeliet. Hy is ‘n afstammeling van Abraham. Hy is gebore uit die stam van Benjamin. Hy glo vas en seker in Jesus Christus sy Verlosser. Paulus se lewe waarvan ons in Handelinge lees en al sy briewe is deurtrek van sy vaste geloof in Jesus Christus, God se Seun ons Verlosser. Hy wat Paulus is, is die eerste duidelike voorbeeld dat God Israel nie verstoot het nie.
Die tweede voorbeeld kom uit die openbaringsgeskiedenis in die Ou Testament. Elia het, toe hy swaar vervolg is deur koning Agab en sy goddelose vrou, Isébel gedink dat net hy in Israel oorgebly het. Terwyl hy moedverlore onder die besembos gaan lê het en nie meer wou lewe nie, het God hom geantwoord dat daar nog sewe duisend gelowiges in Israel oorgebly het.
Hierdie twee voorbeelde bring ons by ‘n belangrike woord in die Bybel: OORBLYFSEL.
Oorblyfsel beteken dat God getrou is. Hy het Israel nie verstoot nie. Daar was ‘n oorblyfsel. Daar was Israeliete wat in Christus geglo het. Daar was Israeliete wat gered is deur hulle geloof in die Here Jesus Christus. Paulus was deel van die oorblyfsel. Die dissipels, die vroue en die drieduisend uit Israel wat op Pinkster in Christus geglo het en tot bekering gekom het, was ook deel van die oorblyfsel, dit is die gelowiges wat oorgebly het uit al die ander.
Oorblyfsel beteken verder dat nie almal gered word nie. Net die in Israel met ‘n ware geloof in Christus, word gered. Daar was baie mense in Israel. Daar is vandag meer as 7 miljoen Jode in Israel. ‘n Artikel in ‘n tydskrif van 12 Februarie 2026 beweer dat daar tans 188 000 Christene in Israel is. Hierdie mense wat in Christus glo, is die oorblyfsel wat gered is.
Hierdie is ‘n baie belangrike waarheid: Net die oorblyfsel word gered. Dit is so met Israel. Dit is so met die Afrikaners. Dit is so met elke volk oor die hele aarde. Nie almal nie, net die oorblyfsel word gered. God is getrou. Hy red sy verbondsvolk, maar net die oorblyfsel, dit is hulle wat in Christus glo.
2. Dit is hulle wat deur God uitverkies is.
WIE is die oorblyfsel in Israel?
KAN mense uit ander volke ook deel van die oorblyfsel wees?
HOE word ‘n mens deel van die oorblyfsel?
Die Here is ‘n wonderlike God. Hy laat sy kinders nooit net met vrae nie. Dawid het deur die Heilige Gees geskryf: “In u lig sien ons die lig” (Ps.36:10). Uit Ps.119:105 weet ons wat die Here se lig is: “U Woord is die lamp wat vir my die weg wys, die lig op my pad.”
Hier is Rom.11:5 sien ons die lig van die Here se Woord, die Bybel: “Net so is dit ook vandag: Daar is ‘n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is.”
Die oorblyfsel in Israel is hulle wat deur God uitverkies is. Die ware Israel, die ware verbondsvolk, dié in Israel wat gered is, is hulle wat deur God UITVERKIES is.
Dan die tweede vraag of mense uit ander volke ook deel van die oorblyfsel kan wees. Die antwoord is: Ja. Elkeen uit elke volk oor die hele aarde wat deur God uitverkies is, is deel van die oorblyfsel en is gered. Die genadeverbond en die verlossing deur Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, het nooit oor natuurlike geboorte as Israeliet gegaan nie. Net so is dit met die Afrikaners en elke ander volk. Bloot omdat iemand ‘n Israeliet of Afrikaner van geboorte is, maak nie dat so ‘n mens gered is en vrygespreek is en die ewige lewe het nie. Iets heeltemal anders is nodig om deel van die oorblyfsel te wees.
Dit bring ons by die antwoord op die derde vraag oor hoe ‘n mens deel van die oorblyfsel word. Die antwoord is deur God wat ‘n mens uitverkies. Ons weet uit Ef.1 dat God voor die skepping van die wêreld vir Hom mense in Christus uitverkies om sy verbondskinders te wees. God kies ons dus in die ewigheid uit. Dit beteken niemand kan enigiets doen om uitverkies te word nie. Die uitverkiesing is God se besluit alleen.
God verkies sy kinders om deur Christus gered te word. Aan elkeen wat Hy uitverkies het, gee Hy ware geloof in Christus. Elkeen wat uitverkies is, kry geloof in Christus van die Heilige Gees. Die Gees gee geloof deur die Evangelie van Jesus Christus wat gesterf en opgestaan het. Dit leer die Heilige Gees ons in Ef.1:13 – “Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het.”
Ons geestelike werk is nie om oor die uitverkiesing te raai of te argumenteer nie. Ons geestelike werk, of jy ‘n Israeliet of ‘n Afrikaner is, is om met ons hele hart vir die Here dankie te sê dat ons in Christus kan glo, want ons geloof is die bewys dat God ons reeds in die ewigheid uitverkies het om in Christus te glo en gered te word. Deur God se uitverkiesing is daar in Israel en in Suid-Afrika ‘n oorblyfsel wat gered word.
3. Uitverkiesing en redding is net uit genade.
Hierdie woorde uitverkies en redding is sulke kosbare en belangrike woorde. Elke Israeliet, elke Afrikaner en elkeen van elke ander volk op die hele aarde se lewe hang van hierdie twee woorde af: Uitverkies en gered.
By verre die meeste Jode het tydens Jesus se omwandelinge op aarde die belangrikheid en die kosbaarheid van hierdie twee woorde nie besef en aanvaar nie. Hulle het vas geglo dat hulleself deur al die wette in die Ou Testament te gehoorsaam, kan sorg dat hulle gered word. Hulle geloof was ‘n geloof van verdienste. Dit is ‘n geloof wat oortuig is en sê: Ek kan sorg dat ek gered word. My lewe verdien redding.
Met hierdie geloof, gaan elkeen in Israel, elkeen in Suid-Afrika en elkeen in al die ander volke van die wêreld vir ewig verlore.
Is daar Afrikaners, is daar iemand in ons gemeente wat dalk ook dink dat ‘n lewe van katkisasie en belydenis aflê en erediens toe kom en nagmaal gebruik en nie lelike goed doen nie, sal sorg dat so iemand gered is? Is daar iemand in hierdie land en in ons gemeente wat glo: My lewe verdien redding?
Hierdie is ‘n verskriklike geloof! Dit is ‘n vals geloof wat die dood vir so iemand bring in Israel, In Suid-Afrika en in ons gemeente.
Waarom so?
Uitverkiesing en redding is NIE UIT VERDIENSTE NIE!!!
Niks wat enigeen in Israel of enigeen in Suid-Afrika of enigeen in ons gemeente kan doen, verdien enigiets nie!
Uitverkiesing en redding IS NET UIT GENADE!!!
God se genade is sy goedgesindheid en liefde vir ons sondaarmense sonder dat ons enigiets daarvan verdien. Genade beteken God doen alles en ons doen niks. Hy het ons uit genade uitverkies voor die skepping van die wêreld. Hy het ons deur sy Seun gered twee duisend jaar gelede nege duisend kilometer van Pretoria af, toe sy Seun, Jesus Christus vir ons aan die krus gesterf het en op die derde dag uit die dood opgestaan het. Ons uitverkiesing en ons redding is genade, net genade, altyd net genade.
Wanneer die Heilige Gees elkeen van ons hierdie woorde laat hoor, steek dieselfde Heilige Gees ‘n gebed in ons harte aan die brand, ‘n gebed wat so klink: Dankie Here dat U ons uit genade uitverkies het om deel van u oorblyfsel te wees wat gered is. Dankie Here! Dankie Here!
ANTWOORD
Sing: Skb.1-1/24:3,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.89:1,2
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wee
Amen