Home Preke Die volk van God Die Here alleen is God

Die Here alleen is God

Datum: 2026-04-26
|
Reeks: Die volk van God
|
Kernverse: Rom.11:33-36

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het; en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.66:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3/72:1,2

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.32:1
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.45:1,6,16
Lees: Romeine 11:1-36
Kernverse: Rom.11:33-36
Tema: Die Here alleen is God
Sang: Ps.66:1,2; Skb.12-3/72:1,2; Ps.32:1; Ps.45:1,6,16; Ps.48:4,5; Ps.68:13,15

Inleiding:

Ons is by die laaste preek uit Romeine 9 tot 11 oor die volk van God. Hierdie hoofstukke gaan oor Israel as die volk van God en heidene as die volk van God. Uit Romeine 9 tot 11 weet ons dat nie almal in Israel die volk van God is nie, ook nie almal uit die heidense volke nie, ook nie almal wat Afrikaners is nie.

Die volk van God is almal in Israel met ‘n ware geloof en wat tot bekering gekom het. Net so is almal onder die ander volke, daarom ook alle Afrikaners wat ‘n ware geloof het en tot bekering gekom het, deel van die volk van God.

Om deel van die volk van God te wees en gered te wees, kom net van God af. Dit is deur die enigste ware God, deur Hom alleen dat enige mens deel van die volk van God is.

Tema: Die Here alleen is God

1.    Die onbegryplike wysheid en genade van God

Hoe word ‘n Israeliet deel van die volk van God? Hoe word iemand uit ‘n heidenvolk, iemand wat ‘n Afrikaner is deel van die volk van God? Hierdie vrae raak elkeen van ons se lewe. Hoe het elkeen van ons ware geloof in Christus gekry en daardeur deel van die volk van God geword?

Hierdie drie hoofstukke gaan oor wie die volk van God is en hoe iemand deel van sy volk word. Daar is soveel om hieroor te sê. Vir vanoggend die volgende:

  • God het sy volk uitverkies nog voor die skepping. Hy het Israel as sy verbondsvolk uitverkies. Hy het ook ander volke uitverkies, ook Afrikaners om sy volk te wees. Die eerste belangrike waarheid is: Om deel van die volk van God te wees, moet mens uitverkies wees.

  • Die volk van God is nie Israel volgens natuurlike geboorte nie, ook nie alle Afrikaners volgens natuurlike geboorte nie. Abraham het in God geglo (Gen.15) en almal wat in God geglo het, was van die begin af en is steeds deel van die volk van God. Ware geloof in God, en sy Seun wat Hy as Verlosser gestuur het, maak ‘n mens deel van die volk van God.

  • Ons is deur ons geloof in Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het, deel van Abraham se nageslag (Gal.3:29), dit is deel van die volk van God, die volk wat gered is en vir ewig aan die genadige en getroue God behoort.

Dat God Abraham uit Ur van die Galdeërs, dit is die hedendaagse Irak, waar hy en sy familie heidense afgode gedien het, geroep het en die ewige verbond met hom gesluit het, is ondeurgrondelik en onnaspeurlik. Net so ondeurgrondelik en onnaspeurlik is dit dat juis Isak uit Abraham en nie Ismael nie, en Jakob en almal na hulle ware geloof ontvang het en daardeur deel van die volk van God geword het. Dat ons vandag hier aan die suidpunt van Afrika, gelowiges in hierdie twee gemeentes van Christus, deel van die volk van God is, is eweneens ondeurgrondelik en onnaspeurlik.

God se volmaakte wysheid en kennis waardeur Hy alles oor sy volk besluit het, het soveel diepte dat ons met ons verstand nie antwoorde sal kan gee, oor waarom juis ons deel van die volk van God is nie.

Dan is daar soveel diepte in God se volmaakte genade waardeur Israel wat dit glad nie verdien het nie en ons almal wat dit ook nie verdien het of kon verdien het nie, sy volk geword het, dat ons nie woorde het wat die genade kan beskryf nie. Ons kan maar net met harte wat brand van liefde en dankbaarheid bely dat God se wysheid en sy genade onbegryplik is.

2.    Die verhewenheid van God bo alle mense

Abraham en sy familie het waar hulle in Ur van die Chaldeërs gebly het  heidense afgode gedien.
Israel was ‘n ou klein en onbelangrike volkie.
Die Afrikaners is ook nie ‘n groot en sterk en belangrike volk in die wêreld nie.
Ons twee gemeentes is ook nie indrukwekkende gemeentes wat groot dinge vermag nie.

Tog het God juis met Abraham die ewige genadeverbond gesluit. Hy het Israel, ten spyte daarvan dat hulle ‘n onbelangrike klein groepie mense in die begin was, sy verbondsvolk gemaak. Alhoewel Israel deur die eeue swaar teen God gesondig het, het die gelowiges in Israel steeds sy volk gebly.

God het self ‘n deel van Israel se harte verhard. Die verharding het gemaak dat die Evangelie van Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, na die heidense volke uitgebrei het.

Dit was deur ‘n gesig in ‘n droom in Troas dat Paulus in Masedonië uitgekom het en die Evangelie van Jesus Christus die eerste keer in Europa gepreek en geglo is, sodat daardie mense uit die heidendom deel van die volk van God geword het.

God self het dit so beskik dat die Evangelie ons vroegste voorouers bereik het, sodat ‘n deel van die volk van God ook hier na die suidpunt van Afrika gekom het. Hier is die Evangelie van Jesus Christus van geslag tot geslag oorgedra, sodat ons vandag in die Here Jesus wat vir ons gesterf en opgestaan het, kan glo en deur ons geloof deel van die volk van God kan wees.

Wanneer ons al hierdie dinge in Romeine 9 tot 11 lees, kan ons net verwonderd voor die allerhoogste God staan. Ons word klein voor die vrae wat Paulus deur die Heilige Gees in die laaste verse van Romeine 11 vra:

  • Wie ken die bedoeling van die Here? Ons kan net antwoord dat daar nie ‘n mens is wat die bedoeling van die Here ken nie. Hy is ver en hoog verhewe bo ons almal. Soos die heel onbereikbaar hoog bo die aarde is, so is God se bedoeling en sy optrede onbereikbaar hoog vir ons (Jes.55:8,9).

  • Wie gee vir die Here raad? Dit is raad oor die groot deel van Israel wat destyds nie in Christus geglo het nie en vandag steeds nie in Hom glo nie en die groot deel van die Afrikaners en ander volke wat steeds nie in Christus glo nie. Ons kan net antwoord dat daar geen mens is wat vir die Here raad kan gee nie. Hy is die allerhoogste, alwetende en ewige God en ons is sondig en nietig soos gras in die veld.

  • Wie bewys vir God ‘n guns dat Hy iets terug met doen? Alles is net genade. Dit is God wat ons die grootste guns bewys het om ons deel van sy volk te maak. Ons is ons lewe aan Hom verskuldig en te danke.

3.    Die heerlikheid behoort aan die allerhoogste God

Wanneer ons terugkyk na alles wat in Romeine 9 tot 11 staan, is dit duidelik dat om deel van die volk van God te wees, om gered te wees en die ewige lewe te kan hê, baie groot genade is.

Dit is net genade dat daar mense in Israel met ware geloof in Christus is en deur hulle geloof die volk van God is.
Dit is eweneens genade dat ander volke, ook Afrikaners met ware geloof in Christus en deur hulle geloof deel van die volk van God is.
Dit is net genade dat ons in hierdie twee gemeentes die Evangelie van Christus gehoor het, in Hom geglo het, deur ons geloof deel van die volk van God geword het en deur Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het, gered is en die ewige lewe het.

Waarby bring al hierdie dinge ons, al hierdie dinge wat so waar is, so kosbaar en so belangrik vir almal van ons is? In ons harte behoort die woorde van vs 36 ons lewe deur ons harte te maak vir die wondergenade van die allerhoogste God in ons lewe: “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge! Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen”

Ons sien en hoor soveel dinge oor Israel elke dag in die media.
Ons sien en hoor wat die Afrikaners sê en doen in ons land met soveel wat so ver van God af leef.
Ons sien hoe ons ons twee gemeentes al kleiner word en ons wonder oor die toekoms van ons gemeentes en die kerk van Christus.

Hierdie dinge kan ons moedeloos en onseker maak. Ons liefde vir God en ons dankbaarheid kan hierdeur geraak word en deur moedeloosheid en onsekerheid oorweldig word en selfs dalk minder word.

Die Heilige Gees leer ons in die laaste verse van Romeine 11 dat God se genade baie groter en baie meer is, as alles wat met sy volk, sy gelowiges hier op aarde kan gebeur. Met die Heilige Gees in ons, kan ons en moet ons as die volk van God wat soveel genade ontvang so dink en so praat en so optree, dat ons God in alles die heerlikheid en die eer ontvang.

ANTWOORD
Sing: Ps.48:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.68:13,15
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus; die liefde van God ons Vader; en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen